Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • be bl. 47-bl. 51
  • Hoe om toesprake vir die gemeente voor te berei

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om toesprake vir die gemeente voor te berei
  • Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Glanspunte uit die Bybelleesgedeelte
  • Instruksietoespraak
  • Diensvergadering
  • Byeenkomste
  • Moenie uitstel nie
  • Hoe om studentetoesprake vir die skool voor te berei
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Gebruik van toegewese materiaal
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Hoe om ’n skets op te stel
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Hoe om openbare toesprake voor te berei
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
Sien nog
Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
be bl. 47-bl. 51

Hoe om toesprake vir die gemeente voor te berei

DIE program van die Teokratiese Bedieningskool word voorberei sodat die hele gemeente daarby baat kan vind. Waardevolle inligting word ook by ander gemeentelike vergaderinge sowel as by byeenkomste aangebied. As jy ’n deel op een van hierdie programme moet aanbied, het jy ’n groot verantwoordelikheid ontvang. Die apostel Paulus het die Christenopsiener Timoteus aangespoor om voortdurend op sy onderrigting te let (1 Tim. 4:16). Diegene wat Christelike samekomste bywoon, het kosbare tyd opsy gesit—en sommige het baie moeite gedoen—om teenwoordig te wees waar onderrigting gegee word oor sake wat hulle verhouding met God raak. Dit is inderdaad ’n ontsagwekkende voorreg om daar onderrigting te gee! Hoe kan jy jou goed van jou taak kwyt?

Glanspunte uit die Bybelleesgedeelte

Hierdie deel van die program is gebaseer op die toegewese Bybelleesgedeelte vir die week. Vestig die aandag op hoe die materiaal ons vandag raak. Soos Nehemia 8:8 sê, het Esra en sy metgeselle in die openbaar uit God se Woord gelees, dit verduidelik, ‘betekenis daaraan gegee’ en dit verstaanbaar gemaak. Jy het ook die geleentheid om dit te doen wanneer jy die Bybelglanspunte behartig.

Hoe moet jy so ’n toewysing voorberei? Lees die toegewese deel van die Bybel, indien moontlik, ’n week of meer voor die tyd. Dink dan aan julle gemeente en die behoeftes daarvan. Bid daaroor. Watter raad, watter voorbeelde, watter beginsels in hierdie deel van God se Woord voorsien in daardie behoeftes?

Navorsing is noodsaaklik. Het jy die Watchtower Library op CD-ROM of die Watch Tower Publications Index? Maak dan goed gebruik daarvan. As jy in die publikasies navorsing doen oor die verse wat jy gekies het om te bespreek, sal jy dalk insiggewende agtergrondinligting, verduidelikings van die vervulling van profesieë, uiteensettings van wat sekere tekste omtrent Jehovah openbaar of besprekings oor beginsels vind. Moenie te veel punte probeer dek nie. Bespreek net ’n paar uitgesoekte verse. Dit is beter om ’n paar verse deeglik te dek.

Jou toewysing kan ook insluit dat jy die gehoor nooi om kommentaar te lewer oor hoe hulle by die week se Bybelleesgedeelte baat gevind het. Wat het hulle gevind wat vir hulle van nut sal wees in hulle persoonlike en gesinstudie of in hulle bediening of daaglikse lewe? Watter eienskappe van Jehovah kan gesien word in sy handelinge met mense en nasies? Wat het die gehoor geleer wat hulle geloof versterk en hulle waardering vir Jehovah vergroot het? Moenie oor tegniese punte uitwei nie. Beklemtoon die betekenis en praktiese waarde van die punte wat gekies is.

Instruksietoespraak

Dit is gebaseer op gepubliseerde materiaal, soos ’n artikel in Die Wagtoring of Ontwaak! of moontlik ’n deel van ’n boek. In die meeste gevalle is daar oorgenoeg materiaal vir die toegewese tyd. Hoe moet jy die toewysing behartig? As ’n onderrigter, nie net as iemand wat materiaal dek nie. ’n Opsiener moet “bekwaam [wees] om te onderrig”.—1 Tim. 3:2.

Begin jou voorbereiding deur die toegewese materiaal te bestudeer. Slaan die tekste na. Peins daaroor. Probeer dit lank voor die dag van jou toespraak doen. Hou in gedagte dat die broers aangemoedig word om die gepubliseerde materiaal waarop die toespraak gebaseer is, vooraf deur te lees. Jou toewysing is nie net om die materiaal te hersien of saam te vat nie, maar om te toon hoe dit toegepas kan word. Gebruik gepaste dele van die materiaal op so ’n wyse dat die gemeente werklik daarby baat sal vind.

Net soos elke kind sy eie persoonlikheid het, het elke gemeente unieke kenmerke. ’n Ouer wat ’n bekwame onderrigter is, gee nie net vir sy kind sedereëls nie. Hy redeneer met die kind. Hy neem die kind se persoonlikheid in ag sowel as die probleme wat die kind moeilik vind om te oorkom. Net so probeer onderrigters in die gemeente in die behoeftes van die groep voorsien met wie hulle praat. Maar ’n onderrigter met onderskeidingsvermoë sal nie voorbeelde gebruik wat iemand in die gehoor in die verleentheid kan stel nie. Hy sal verduidelik hoe ons reeds daarby baat vind omdat ons in Jehovah se weg wandel en sal raad uit die Skrif beklemtoon wat die gemeente sal help om hulle probleme suksesvol die hoof te bied.

Goeie onderrigting raak die hart van dié in die gehoor. Dit verg dat jy nie net feite meld nie, maar ook dat jy waardering opbou vir wat daaruit geleer kan word. Dit verg opregte besorgdheid oor diegene wat onderrig word. Geestelike herders moet die kudde ken. As hulle die probleme wat verskillende persone ondervind, liefdevol in gedagte hou, sal hulle woorde aanmoedigend wees en sal hulle begrip, medelye en empatie aan die dag kan lê.

Soos bekwame onderrigters weet, moet ’n toespraak ’n duidelik identifiseerbare doel hê. Die materiaal moet op so ’n wyse aangebied word dat sleutelgedagtes sal uitstaan en onthou sal word. Die gehoor moet praktiese gedagtes wat hulle lewe sal raak, kan onthou.

Diensvergadering

Wanneer jy ’n toespraak hou wat op ’n artikel in Ons Koninkryksbediening gebaseer is, is die uitdaging dalk ietwat anders. Hier word dikwels van jou verwag om al die materiaal wat voorsien is, met die gehoor te bespreek en nie net die geskikste punte te kies nie. Help die gehoor om oor die tekste te redeneer wat as grondslag dien van enige raad wat gegee word (Tit. 1:9). Omdat die tyd beperk is, sal jy in die meeste gevalle nie bykomende materiaal kan insluit nie.

Aan die ander kant moet jy dalk materiaal aanbied wat nie as ’n artikel in Ons Koninkryksbediening verskyn nie. Daar word moontlik na ’n Wagtoring-artikel verwys, of die toewysing kan uit ’n paar kort aangestipte punte bestaan. Dit hang van jou as ’n onderrigter af om die behoeftes van die gemeente in ag te neem, met die toegewese materiaal in gedagte. Jy sal dalk ’n kort, geskikte illustrasie moet gebruik of ’n gepaste ondervinding moet vertel. Onthou, jou toewysing behels nie net dat jy oor die onderwerp gesels nie, maar dat jy dit so behartig dat die gemeente gehelp word om die werk te doen wat in God se Woord uiteengesit word en om vreugde daarin te vind.—Hand. 20:20, 21.

Dink aan die omstandighede van die mense in die gemeente terwyl jy jou toespraak voorberei. Prys hulle vir wat hulle reeds doen. Hoe kan die wenke in die toegewese materiaal hulle help om bekwamer in die bediening te word en groter vreugde daaruit te put?

Sluit jou toewysing ’n demonstrasie of ’n onderhoud in? Indien wel, moet dit lank voor die tyd voorberei word. Jy oorweeg dit dalk om iemand anders eenvoudig te vra om dit te reël, maar dit lewer nie altyd die beste resultate nie. Indien dit hoegenaamd moontlik is, moet jy die demonstrasie of onderhoud voor die dag van die vergadering oefen. Maak seker dat hierdie deel van jou aanbieding op ’n manier behartig word wat werklik krag verleen aan die onderrigting.

Byeenkomste

Broers wat voortreflike geestelike eienskappe aangekweek en bekwame openbare sprekers en onderrigters geword het, sal moontlik mettertyd gevra word om aan die program by ’n byeenkoms deel te neem. Dit is werklik spesiale geleenthede vir teokratiese onderrigting. So ’n toewysing is dalk in die vorm van ’n manuskrip, ’n skets, instruksies vir ’n Bybeldrama met ’n hedendaagse toepassing of ’n paragraaf met instruksies. As jy bevoorreg is om ’n deel op so ’n program te hê, moet jy die materiaal wat voorsien word, noukeurig bestudeer. Werk daaraan totdat jy die waarde daarvan verstaan.

Diegene wat ’n manuskriptoespraak moet hou, moet die materiaal woord vir woord lees. Hulle verander nie die bewoording of herrangskik nie die materiaal nie. Hulle bestudeer dit sodat hulle presies weet wat die hoofgedagtes is en hoe dit ontwikkel word. Hulle oefen deur hardop te lees totdat hulle die toespraak met die regte beklemtoning, entoesiasme, hartlikheid, gevoel, erns en oortuiging kan lees, sowel as met voldoende stemsterkte en krag vir ’n groot gehoor.

Broers wat ’n toespraak van ’n skets af moet hou, moet getrou by die skets bly wanneer hulle hulle materiaal ontwikkel. Pleks van tydens die toespraak van die skets af te lees of dit as ’n manuskrip voor te berei, moet die spreker die materiaal ekstemporêr, uit die hart, voordra. Dit is belangrik om by die tydsbepaling op die skets te bly sodat elke hoofpunt duidelik uitgebring kan word. Die spreker moet goed gebruik maak van die gedagtes en tekste wat onder die hoofpunte aangegee word. Hy moenie gedagtes in die skets uitlaat sodat hy bykomende punte waarvan hy hou, kan insluit nie. Die grondslag van die onderrigting is natuurlik God se Woord. Die verantwoordelikheid van Christen- ouer manne is om ‘die woord te verkondig’ (2 Tim. 4:1, 2). ’n Spreker moet dus spesiale aandag aan die tekste in die skets gee deur daaroor te redeneer en dit toe te pas.

Moenie uitstel nie

Dien jy in ’n gemeente waar jy baie geleenthede het om toesprake te hou? Hoe kan jy aan al jou toesprake reg laat geskied? Moenie tot op die nippertjie wag voordat jy jou dele voorberei nie.

Toesprake waarby die gemeente werklik baat vind, verg voldoende voorbereiding. Maak dus ’n gewoonte daarvan om die materiaal te lees sodra jy ’n toewysing ontvang. Jy sal dan daaroor kan dink terwyl jy met ander dinge besig is. Gedurende die dae of weke voor jy jou toespraak hou, hoor jy dalk kommentare wat jou help om te sien wat die beste manier sal wees om die materiaal toe te pas. Situasies kan ontstaan wat toon hoe tydig dit is. Dit neem wel tyd om deur die toegewese materiaal te lees en daaroor na te dink sodra jy jou toewysing ontvang, maar dit is tyd wat goed benut is. Wanneer jy uiteindelik gaan sit om die skets uit te werk, sal jy die vrugte daarvan pluk as jy lank voor die tyd daaroor gedink het. As jy toewysings so hanteer, sal dit die spanning aansienlik verminder en sal dit jou help om materiaal op ’n manier aan te bied wat prakties is en die harte van diegene in die gemeente bereik.

Die mate waarin jy Jehovah sal eer en ’n seën sal wees vir diegene wat hom liefhet, sal bepaal word deur die waardering wat jy het vir jou voorreg om betrokke te wees by Jehovah se onderrigtingsprogram vir sy volk.—Jes. 54:13; Rom. 12:6-8.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel