Hoe om openbare toesprake voor te berei
ELKE week reël die meeste gemeentes van Jehovah se Getuies dat ’n openbare toespraak oor ’n skriftuurlike onderwerp gehou word. Toon jy, indien jy ’n ouer man of ’n bedieningskneg is, dat jy ’n bekwame openbare spreker, ’n onderrigter, is? Dan sal jy dalk gevra word om ’n openbare toespraak te hou. Die Teokratiese Bedieningskool het al tienduisende broers gehelp om vir hierdie diensvoorreg te kwalifiseer. Waar moet jy begin wanneer jy ’n openbare toespraak kry?
Bestudeer die skets
Voordat jy enige navorsing doen, moet jy die skets lees en daaroor peins totdat jy dit verstaan. Kry ’n duidelike beeld van die tema, wat ook die titel van die toespraak is. Wat moet jy jou gehoor leer? Wat is jou doel?
Raak vertroud met die hoofopskrifte. Ontleed daardie hoofpunte. Hoe hou elkeen met die tema verband? Onder elke hoofpunt verskyn ’n aantal ondergeskikte punte. Gedagtes wat die ondergeskikte punte staaf, verskyn onder hierdie punte. Kyk hoe elke deel van die skets op die vorige deel voortbou, die volgende een inlei en help om die doel van die toespraak te bereik. Wanneer jy die tema en die doel van die toespraak verstaan en kan sien hoe die hoofpunte daardie doel bereik, dan is jy gereed om die materiaal te begin ontwikkel.
Aan die begin sal jy dit miskien nuttig vind om aan jou toespraak as vier of vyf kort toesprake te dink, elk met ’n hoofpunt. Berei hulle een vir een voor.
Die skets word voorsien om jou met jou voorbereiding te help. Dit is nie bedoel om die aantekeninge vir jou toespraak te wees nie. Dit is soos ’n raamwerk. Jy moet verder daaraan bou, dit goed afrond en kleur daaraan gee.
Die gebruik van tekste
Jesus Christus en sy dissipels het hulle onderrigting op die Skrif gegrond (Luk. 4:16-21; 24:27; Hand. 17:2, 3). Jy kan dieselfde doen. Die Skrif moet die grondslag van jou toespraak wees. Moenie net die verklarings in die skets verduidelik en toepas nie, maar stel vas hoe daardie verklarings deur die Skrif gestaaf word en onderrig dan uit die Skrif.
Ondersoek elke vers in die skets terwyl jy jou toespraak voorberei. Neem die konteks in ag. Party tekste verstrek dalk net nuttige agtergrondinligting. Jy hoef nie elke teks tydens jou toespraak te lees of te bespreek nie. Kies dié waarby jou gehoor die meeste baat sal vind. As jy goed van die teksverwysings in die gedrukte skets gebruik maak, sal jy waarskynlik nie bykomende teksverwysings hoef te gebruik nie.
Die sukses van jou toespraak hang nie af van die aantal tekste wat jy gebruik nie, maar van die gehalte van die onderrigting. Wanneer jy tekste inlei, moet jy verduidelik waarom jy dit gebruik. Laat tyd toe om die tekste toe te pas. Nadat jy ’n vers gelees het, moet jy jou Bybel oophou terwyl jy die teks bespreek. Jou gehoor sal waarskynlik dieselfde doen. Hoe kan jy die belangstelling van jou gehoor wek en hulle help om groter voordeel uit God se Woord te trek? (Neh. 8:8, 12). Jy kan dit deur verduidelikings, illustrasies en toepassings doen.
Verduideliking. Wanneer jy voorberei om ’n sleutelteks te verduidelik, moet jy jou afvra: ‘Wat beteken dit? Waarom gebruik ek dit in my toespraak? Watter vrae sal diegene in die gehoor hulle moontlik oor hierdie vers afvra?’ Jy sal dalk die konteks, die agtergrond, die omstandighede, die betekenis van die woorde, die doel van die geïnspireerde skrywer moet ontleed. Dit verg navorsing. Jy sal volop waardevolle inligting in die publikasies vind wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word (Matt. 24:45-47). Moenie alles omtrent die vers probeer verduidelik nie, maar verduidelik waarom jy jou gehoor dit laat lees het en hoe dit met die punt onder bespreking verband hou.
Illustrasies. Die doel van illustrasies is om jou gehoor ’n dieper begrip van iets te gee of hulle te help om ’n punt of beginsel wat jy bespreek het, te onthou. Illustrasies help mense om te verstaan wat jy vir hulle gesê het en dit met iets te assosieer wat hulle reeds weet. Dit is wat Jesus gedoen het toe hy sy beroemde Bergpredikasie gelewer het. “Voëls van die hemel”, “lelies van die veld”, ’n “nou poort”, ’n “huis op die rots”, en baie soortgelyke uitdrukkings het sy onderrigting kragtig, duidelik en onvergeetlik gemaak.—Matt., hfst. 5–7.
Toepassing. As jy ’n teks verduidelik en illustreer, sal jy kennis oordra, maar die toepassing van daardie kennis is wat resultate oplewer. Dit is weliswaar die verantwoordelikheid van diegene in jou gehoor om op die Bybel se boodskap te reageer, maar jy kan hulle help om te sien wat hulle moet doen. Wanneer jy seker is dat jou gehoor die vers onder bespreking verstaan en sien hoe dit verband hou met die punt wat gemaak word, moet jy die tyd neem om vir hulle te wys watter uitwerking dit op ons geloof en gedrag behoort te hê. Beklemtoon die voordele wat dit inhou as ons verkeerde idees of gedrag verwerp wat in stryd is met die waarheid wat bespreek word.
Terwyl jy nadink oor hoe om tekste toe te pas, moet jy onthou dat die mense in jou gehoor uit baie agtergronde kom en met uiteenlopende omstandighede te kampe het. Daar is dalk nuwe belangstellendes, jongmense, bejaardes en diegene wat met verskeie persoonlike probleme worstel. Maak jou toespraak prakties en realisties. Moenie raad gee wat dit laat klink of jy net ’n paar individue in gedagte het nie.
Besluite wat die spreker neem
Party besluite in verband met jou toespraak is reeds vir jou geneem. Die hoofpunte is duidelik gemerk, en die tyd wat jy aan die bespreking van elke hoofopskrif moet wy, word duidelik aangegee. Die ander besluite moet jy self neem. Jy kan besluit om meer tyd aan sekere ondergeskikte punte en minder aan ander te bestee. Moenie dink dat jy elke ondergeskikte punt in dieselfde mate moet ontwikkel nie. Dit kan maak dat jy deur die materiaal jaag en jou gehoor oorweldig. Hoe kan jy bepaal watter punte jy vollediger moet ontwikkel en watter jy net kortliks, of terloops, moet meld? Vra jou af: ‘Watter punte sal my help om die toespraak se kerngedagte oor te dra? Watter punte sal vir my gehoor van die grootste nut wees? Sal die bewysvoering verswak word as ’n sekere teksverwysing of ’n verwante punt weggelaat word?’
Vermy spekulasie of persoonlike opinies ten alle koste. Selfs God se Seun, Jesus Christus, het nie ‘uit homself’ gespreek nie (Joh. 14:10). Onthou dat mense na die vergaderinge van Jehovah se Getuies kom om te hoor hoe die Bybel bespreek word. As mense jou as ’n goeie spreker beskou, is dit waarskynlik omdat dit jou gewoonte is om die aandag op God se Woord te vestig, nie op jouself nie. Dit is waarom jou toesprake waardeer word.—Fil. 1:10, 11.
Noudat jy van ’n eenvoudige skets ’n insiggewende verduideliking van die Skrif gemaak het, moet jy jou toespraak oefen. Dit is nuttig om hardop te oefen. Wat belangrik is, is om seker te maak dat jy al die punte goed in gedagte het. Jy moet met oortuiging kan praat, die materiaal kan laat lewe en die waarheid entoesiasties kan aanbied. Voordat jy jou toespraak hou, moet jy jou afvra: ‘Wat wil ek bereik? Staan die hoofpunte uit? Het ek werklik die Skrif die grondslag van my toespraak gemaak? Lei elke hoofpunt op ’n natuurlike wyse na die volgende? Bou die toespraak waardering op vir Jehovah en sy voorsienings? Hou die slot direk met die tema verband, toon dit vir die gehoor wat om te doen en motiveer dit hulle om dit te doen?’ As jy ja op hierdie vrae kan antwoord, dan sal jy ‘goed kan doen met kennis’, tot voordeel van die gemeente en tot lof van Jehovah!—Spr. 15:2.