Hoofstuk 37
Waarom laat my ouers my nie toe om pret te hê nie?
Vir Allison, ’n tiener in Australië, is Maandagoggende by die skool stresvol, maar ook voorspelbaar.
“Almal praat oor wat hulle die naweek gedoen het”, sê sy. “Hulle vertel stories wat so opwindend klink, soos na hoeveel partytjies hulle gegaan het en hoeveel seuns hulle gesoen het—selfs hoe hulle van die polisie af weggehardloop het . . . Dit klink so waaghalsig, maar na groot pret! Hulle kom vyfuur die oggend by die huis, en hulle ouers gee nie om nie. Ek moet in die bed wees nog voordat hulle aand begin het!
“Nou ja, nadat hulle my van hulle aksiebelaaide naweek vertel het, vra my klasmaats my wat ek gedoen het. . . . Ek het Christelike vergaderinge bygewoon. Ek het die predikingswerk gedoen. Dit voel regtig asof ek al die pret gemis het. En daarom sê ek gewoonlik vir hulle dat ek niks gedoen het nie. Dan vra hulle my hoekom ek nie saam met hulle gekom het nie.
“’n Mens sou dink dat dit makliker sal wees wanneer Maandag eers verby is. Maar dit is nie. Teen Dinsdag praat almal van die naweek wat voorlê! Ek sit gewoonlik net en luister terwyl hulle praat. Ek voel so uitgesluit!”
KLINK dit soos jou Maandagoggend by die skool? Jy voel dalk dat ’n wêreld vol pret daarbuite op jou wag, maar dat jou ouers die deur toegesluit het—of asof jy by ’n pretpark is, maar nie op enige van die ritte toegelaat word nie. Dit is nie dat jy alles wil doen wat jou skoolmaats doen nie. Jy wil net nou en dan so ’n bietjie pret hê! Watter een van die volgende dinge sal jy byvoorbeeld baie graag hierdie naweek wil doen?
□ dans
□ ’n musiekkonsert bywoon
□ partytjie hou
□ gaan fliek
□ ander ․․․․․
Jy het ontspanning nodig. Trouens, jou Skepper wil hê dat jy jou jeug moet geniet (Prediker 3:1, 4). En al voel dit soms nie so nie, wil jou ouers ook hê dat jy die lewe moet geniet. Maar daar is waarskynlik twee dinge waaroor jou ouers tereg bekommerd is: (1) wat gaan jy doen en (2) wie gaan saam.
Maar sê nou jou vriende nooi jou om saam met hulle uit te gaan, maar jy is nie seker wat jou ouers gaan sê nie? Kyk na drie opsies en die gevolge daarvan.
OPSIE A MOENIE VRA NIE—GAAN NET
Waarom jy dalk hierdie opsie oorweeg: Jy wil jou vriende beïndruk deur vir hulle te wys hoe onafhanklik jy is. Jy voel dat jy beter weet as jou ouers, of jy respekteer nie juis hulle oordeel nie.—Spreuke 14:18.
Die gevolge: Jou vriende sal dalk beïndruk wees, maar hulle sal ook iets omtrent jou leer—dat jy bedrieglik is. As jy bereid was om jou ouers te bedrieg, sal jy dalk bereid wees om jou vriende te bedrieg. As jou ouers uitvind, sal hulle seergemaak voel en meen dat jy hulle vertroue misbruik het, en jy sal waarskynlik gehok word! Om ongehoorsaam te wees aan jou ouers en sonder toestemming uit te gaan, is ’n dwase besluit.—Spreuke 12:15.
OPSIE B MOENIE VRA NIE—MOENIE GAAN NIE
Waarom jy dalk hierdie opsie oorweeg: Jy dink aan die uitnodiging en besluit dat die aktiwiteit teen jou beginsels is of dat party wat genooi is, nie goeie assosiasie sal wees nie (1 Korintiërs 15:33; Filippense 4:8). Aan die ander kant wil jy miskien gaan, maar het jy nie die moed om jou ouers te vra nie.
Die gevolge: As jy nie gaan nie omdat jy weet dat dit ’n slegte idee is, sal jy met groter selfvertroue vir jou vriende kan sê waarom jy nie gaan nie. Maar as jy nie gaan nie net omdat jy nie die moed het om jou ouers te vra nie, sal jy dalk op die ou end by die huis sit en tob en voel dat jy die enigste een is wat nie pret het nie.
OPSIE C VRA—EN KYK WAT GEBEUR
Waarom jy dalk hierdie opsie oorweeg: Jy erken jou ouers se gesag oor jou en jy respekteer hulle oordeel (Kolossense 3:20). Jy is lief vir jou ouers en wil hulle nie seermaak deur skelm by die huis uit te sluip nie (Spreuke 10:1). Jy het ook die geleentheid om jou saak te stel.
Die gevolge: Jou ouers voel dat jy hulle liefhet en respekteer. En as hulle dink dat jou versoek redelik is, sal hulle miskien ja sê.
Waarom ouers moontlik nee sal sê
Maar sê nou jou ouers sê nee? Dit kan frustrerend wees. As jy egter hulle siening verstaan, kan dit jou help om hulle besluit te aanvaar. Dalk sal hulle byvoorbeeld om een of meer van die volgende redes nee sê.
Meer kennis en ondervinding. As jy ’n keuse het, sal jy waarskynlik verkies om by ’n strand te swem waar daar lewensredders is. Waarom? Want terwyl jy in die water baljaar, is jy nie juis van gevaar bewus nie. Maar die lewensredders kan gevare beter van hulle uitkykplek af sien.
Net so is jou ouers, omdat hulle meer kennis en ondervinding het, moontlik bewus van gevare wat jy nie sien nie. Soos die lewensredders op die strand, is dit nie jou ouers se doel om jou pret te bederf nie, maar om jou te help om gevare te vermy wat jou van vreugde in die lewe kan beroof.
Liefde vir jou. Jou ouers wil jou baie graag beskerm. Liefde beweeg hulle om ja te sê wanneer hulle kan, maar nee te sê wanneer hulle moet. Wanneer jy hulle toestemming vra om iets te doen, vra hulle hulle af of hulle ja kan sê en dan met die gevolge kan saamlewe. Hulle sal slegs vir hulleself—en vir jou—ja sê as hulle tot ’n redelike mate oortuig is dat jy niks sal oorkom nie.
Hoe om jou kanse op ’n ja te vergroot
Daar is vier faktore wat ’n rol speel.
Eerlikheid: Eers moet jy jou eerlik afvra: ‘Waarom wil ek nou eintlik gaan? Is dit omdat ek die aktiwiteit geniet, of is dit omdat ek by my portuurs wil inpas? Is dit omdat iemand tot wie ek aangetrokke voel, daar gaan wees?’ Wees dan eerlik met jou ouers. Hulle was ook jonk, en hulle ken jou goed. Hulle sal waarskynlik in elk geval weet wat jou ware beweegredes is. Hulle sal jou eerlikheid waardeer, en jy sal by hulle wysheid baat vind (Spreuke 7:1, 2). Maar as jy nie eerlik is nie, breek jy hulle vertroue in jou af en sal jou kanse om ’n ja te hoor, al hoe kleiner word.
Tydsberekening: Moenie jou ouers met versoeke bombardeer wanneer hulle net van die werk af by die huis kom of terwyl hulle op ander dinge konsentreer nie. Praat met hulle wanneer hulle meer ontspanne is. Maar moenie tot die laaste minuut wag en dan druk op hulle probeer uitoefen vir ’n antwoord nie. Jou ouers sal nie daarvan hou as hulle oorhaastig oor iets moet besluit nie. As jy vroegtydig vra en hulle tyd gee om daaroor te dink, sal jou ouers jou bedagsaamheid waardeer.
Inhoud: Moenie vaag wees nie. Verduidelik presies wat jy wil doen. Ouers voel onrustig as hulle ’n antwoord hoor soos “Ek weet nie”, veral wanneer hulle gevra het: “Wie gaan daar wees?” “Sal ’n verantwoordelike volwassene daar wees?” of “Hoe laat hou dit op?”
Gesindheid: Moenie jou ouers as vyande beskou nie. Beskou hulle as deel van jou span—want dit is tog wat hulle is. As jy jou ouers as vriende beskou, sal jy waarskynlik nie stryerig klink nie en sal hulle heel moontlik meer tegemoetkomend wees. Vermy stellings soos: “Julle vertrou my nie”, “Almal gaan daar wees” of “My vriende se ouers laat hulle toe om te gaan!” Wys vir jou ouers dat jy volwasse genoeg is om hulle besluit te aanvaar en te respekteer. As jy dit doen, sal hulle jou respekteer. En die volgende keer sal hulle dalk meer geneig wees om te kyk of hulle ja kan sê.
LEES MEER OOR HIERDIE ONDERWERP IN DEEL 2, HOOFSTUK 32
SLEUTELTEKSTE
“Wees wys, my seun, en maak my hart bly.”—Spreuke 27:11.
WENK
Wanneer jy na ’n partytjie toe gaan, moet jy ’n aksieplan hê ingeval jy huis toe wil gaan. Besluit vooraf wat jy gaan doen of sê sodat jy die partytjie met ’n goeie gewete kan verlaat, indien nodig.
HET JY GEWEET . . . ?
Liefdevolle ouers sal eerder te versigtig wees. As hulle nie verstaan waarvoor jy vra nie of as hulle voel dat jy belangrike inligting van hulle weerhou, sal hulle waarskynlik nee sê.
AKSIEPLAN!
As iets wat ek by ’n fliek of ’n partytjie sien of hoor, my gewete pla, sal ek ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Waarom wil jy dalk nie vir jou ouers al die inligting gee wat hulle nodig het om ’n besluit te maak nie?
● Wat sal moontlik die gevolge wees as jou ouers vir iets ja sê omdat jy belangrike feite van hulle weerhou het?
[Lokteks op bladsy 268]
Ek was so dom toe ek jonger was. Dikwels was die ‘pret’ wat ek gehad het, op die lange duur nie regtig pret nie. Jou dade sal jou inhaal. Ek is spyt dat ek nie na my ouers geluister het nie.’’—Brian
[Prent op bladsy 269]
Soos lewensredders op ’n strand, kan jou ouers gevare beter van hulle ‘uitkykplek’ af sien