Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • bt hfst. 11 bl. 85-92
  • “Met vreugde en heilige gees gevul”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Met vreugde en heilige gees gevul”
  • ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Afgesonder om “die werk [te] doen” (Handelinge 13:1-12)
  • ‘Woorde om aan te moedig’ (Handelinge 13:13-43)
  • ‘Ons gaan na die nasies’ (Handelinge 13:44-52)
  • Barnabas—die “Seun van Vertroosting”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • ’n Besielende voorbeeld van Christelike sendingwerk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Jehovah se volk word in die geloof versterk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Hulle het “moedig gepreek omdat Jehovah hulle die gesag gegee het”
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
Sien nog
‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
bt hfst. 11 bl. 85-92

HOOFSTUK 11

“Met vreugde en heilige gees gevul”

Paulus se voorbeeld van hoe om vyandige, onontvanklike mense te behandel

Gebaseer op Handelinge 13:1-52

1, 2. Wat is uniek aan die reis wat Barnabas en Saulus binnekort gaan aanpak, en hoe sal hulle werk tot die vervulling van Handelinge 1:8 bydra?

DIT is ’n opwindende dag vir die gemeente in Antiogië. Van al die profete en onderrigters hier is Barnabas en Saulus deur die heilige gees gekies om die goeie nuus na verafgeleë plekke te neem (Hand. 13:1, 2).a Bekwame manne is weliswaar al voorheen uitgestuur. Maar in die verlede het sendelinge na plekke gereis waar die Christelike godsdiens reeds gevestig was (Hand. 8:14; 11:22). Hierdie keer sal Barnabas en Saulus – saam met Johannes Markus, wat ’n helper vir hulle sal wees – na lande gestuur word waar die meeste mense nog nooit van die goeie nuus gehoor het nie.

2 Sowat 14 jaar vroeër het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Julle sal getuies van my wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Hand. 1:8). Die aanstelling van Barnabas en Saulus om as sendelinge te dien, sal bydra tot die vervulling van Jesus se profetiese woorde!b

Afgesonder om “die werk [te] doen” (Handelinge 13:1-12)

3. Wat het lang reise in die eerste eeu moeilik gemaak?

3 Danksy uitvindings soos die motor en die vliegtuig kan mense vandag binne ’n uur of twee ver reis. Maar dit was nie die geval in die eerste eeu HJ nie. Wanneer mense destyds oor land gereis het, het hulle geloop, dikwels oor ruwe terrein. ’n Dag se reis, moontlik net 30 kilometer, was uitputtend!c Hoewel Barnabas en Saulus dus ongetwyfeld gretig uitgesien het na hulle toewysing, het hulle sekerlik besef dat dit groot inspanning en selfopoffering sou verg. – Matt. 16:24.

OP DIE PAD

In die antieke wêreld was reise oor land stadiger, uitputtender en waarskynlik duurder as skeepsreise. Maar die enigste manier om by baie plekke uit te kom, was te voet.

’n Reisiger kon omtrent 30 kilometer per dag loop. Hy was blootgestel aan die elemente – die son, reën, hitte en koue – asook aan die gevaar van diewe. Die apostel Paulus het gesê dat hy “dikwels op reis en in gevaar . . . van riviere, [en] van rowers” was. – 2 Kor. 11:26.

’n Uitgebreide netwerk van geplaveide paaie het die Romeinse Ryk deurkruis. Langs die hoofpaaie kon reisigers herberge ’n dagreis uitmekaar vind. Tussen die herberge was tavernes waar mense basiese benodigdhede kon kry. Skrywers uit daardie tyd beskryf die herberge en tavernes as vuil, oorvol, bedompige plekke vol vlooie. Hulle was berugte plekke, waar die swakste elemente uit die samelewing bymekaargekom het. Herbergiers het reisigers dikwels beroof en het prostitusie ingesluit by die dienste wat aangebied is.

Christene het sulke plekke ongetwyfeld sover moontlik vermy. Wanneer hulle egter in lande gereis het waar hulle geen familie of vriende gehad het nie, het hulle waarskynlik nie veel van ’n keuse gehad nie.

4. (a) Wat het die uitkiesing van Barnabas en Saulus gerig, en hoe het medegelowiges op die aanstelling gereageer? (b) Hoe kan ons dié wat teokratiese toewysings ontvang, ondersteun?

4 Maar waarom het die heilige gees spesifiek beveel dat Barnabas en Saulus afgesonder moet word om “die werk [te] doen”? (Hand. 13:2). Die Bybel sê nie. Ons weet wel dat die heilige gees die uitkiesing van hierdie manne gerig het. Daar is geen aanduiding dat die profete en onderrigters in Antiogië beswaar gemaak het teen die besluit nie. Hulle het eerder die aanstelling ten volle ondersteun. Stel jou voor hoe Barnabas en Saulus moes gevoel het toe hulle geestelike broers, sonder om afgunstig te wees, ‘gevas en gebid het en hulle hande op hulle gelê en hulle weggestuur het’ (Hand. 13:3). Ons moet ook diegene ondersteun wat teokratiese toewysings ontvang, insluitende manne wat as gemeentelike opsieners aangestel word. Eerder as om afgunstig te wees op diegene wat sulke voorregte ontvang, moet ons “buitengewone waardering en liefde vir hulle . . . hê as gevolg van hulle werk”. – 1 Tess. 5:13.

5. Beskryf wat dit behels het om op die eiland Siprus te getuig.

5 Nadat Barnabas en Saulus tot by Seleukië, ’n hawe naby Antiogië, geloop het, het hulle na die eiland Siprus gevaar, ’n reis van omtrent 200 kilometer.d Aangesien Barnabas van Siprus af gekom het, was hy ongetwyfeld gretig om die goeie nuus aan diegene in sy tuisgebied te verkondig. Toe hierdie manne in Salamis, ’n stad aan die ooskus van die eiland, aankom, het hulle geen tyd verspil nie. Hulle het onmiddellik “die woord van God in die sinagoges van die Jode begin verkondig” (Hand. 13:5).e Barnabas en Saulus het van die een kant van Siprus na die ander kant gegaan en het waarskynlik in belangrike stede langs die pad getuig. Afhangende van die roete wat hulle gevolg het, het hierdie sendelinge moontlik sowat 160 kilometer ver geloop!

IN DIE SINAGOGES VAN DIE JODE

“Sinagoge” beteken letterlik “’n byeenbringing”. Dit het verwys na ’n vergadering of samekoms van Jode en het uiteindelik die betekenis aangeneem van die plek of gebou waar die vergadering gehou is.

Daar word geglo dat sinagoges gedurende of net ná die Jode se ballingskap van 70 jaar in Babilon ingestel is. Sinagoges het gedien as plekke vir onderrigting, aanbidding, Skriflesing en geestelike vermaning. In die eerste eeu HJ het elke dorp in Palestina sy eie sinagoge gehad. Groter stede het meer as een gehad, en Jerusalem het baie gehad.

Maar ná die ballingskap in Babilon het nie al die Jode na Palestina teruggekeer nie. Baie het om besigheidsredes na die buiteland gereis. Reeds in die vyfde eeu VHJ was daar Joodse gemeenskappe oral in die 127 regsgebiede van die Persiese Ryk (Est. 1:1; 3:8). Mettertyd het Joodse gemeenskappe ook in stede om die Middellandse See ontwikkel. Hierdie verspreide Jode het bekend geword as die Diaspora, of Verstrooiing, en hulle het ook sinagoges opgerig oral waar hulle hulle gevestig het.

In die sinagoges is die Wet elke Sabbat gelees en verduidelik. Voorlesings is vanaf ’n verhoog gedoen, wat sitplekke aan drie kante gehad het. Enige vroom Joodse man kon aan die voorlesing, prediking en vermaning deelneem.

6, 7. (a) Wie was Sergius Paulus, en waarom het Bar-Jesus hom probeer keer om die goeie nuus te aanvaar? (b) Hoe het Saulus die teenstand deur Bar-Jesus teëgewerk?

6 Valse aanbidding het eerste-eeuse Siprus oorheers. Dit het baie duidelik geword toe Barnabas en Saulus by Pafos, aan die weskus van die eiland, gekom het. Daar het hulle “Bar-Jesus ontmoet. Hy was ’n towenaar en ’n valse profeet.” En “hy was by die prokonsul Sergius Paulus, ’n intelligente man”.f In die eerste eeu het talle gesofistikeerde Romeine – selfs “’n intelligente man”, soos Sergius Paulus – dikwels ’n towenaar of sterrewiggelaar geraadpleeg wanneer hulle belangrike besluite moes neem. Sergius Paulus was nietemin gefassineer deur die Koninkryksboodskap en ‘hy was gretig om die woord van God te hoor’. Bar-Jesus, wat ook bekend was onder sy professionele titel Elimas, wat “Towenaar” beteken, was glad nie gediend hiermee nie. – Hand. 13:6-8.

7 Bar-Jesus het die Koninkryksboodskap teëgestaan. Trouens, die enigste manier waarop hy sy invloedryke posisie as raadgewer van Sergius Paulus kon beskerm, was deur te “keer dat die prokonsul geloof in die Here stel” (Hand. 13:8). Maar Saulus was nie bereid om net toe te kyk terwyl ’n hoftowenaar die belangstelling van Sergius Paulus aflei nie. Wat het Saulus dus gedoen? Die verslag sê: “Toe het heilige gees oor Saulus, wat ook Paulus genoem is, gekom, en hy het reguit na Elimas [Bar-Jesus] gekyk en gesê: ‘O man wat vol allerhande bedrog en allerhande slegtheid is, jou kind van die Duiwel, jou vyand van alles wat regverdig is, hou op om die regte weë van Jehovah te verdraai. Kyk! Jehovah se hand is op jou, en jy sal blind word en die sonlig ’n tyd lank nie sien nie.’ Onmiddellik het ’n dik mis en duisternis oor hom gekom, en hy het rondgegaan en na iemand gesoek om hom aan die hand te lei.”g Wat was die gevolg van hierdie wonderdadige gebeurtenis? “Toe die prokonsul sien wat gebeur het, het hy ’n gelowige geword, want hy was verstom oor wat hy omtrent Jehovah geleer het.” – Hand. 13:9-12.

’n Broer, wat ’n oop Bybel vashou, verdedig die waarheid in ’n hof voor ’n regter.

Soos Paulus, verdedig ons moedig die waarheid wanneer ons teenstand ondervind

8. Hoe kan ons vandag Paulus se moedigheid navolg?

8 Paulus is nie deur Bar-Jesus geïntimideer nie. Ons moet ook nie terugdeins wanneer teenstanders die geloof probeer ondermyn van diegene wat belangstelling in die Koninkryksboodskap toon nie. Ons moet natuurlik sorg dat ons woorde “altyd aangenaam [is], smaaklik gemaak met sout” (Kol. 4:6). Terselfdertyd wil ons nie die geestelike welsyn van ’n belangstellende in gevaar stel net om ’n konfrontasie te vermy nie. En ons moet ook nie uit vrees aarsel om valse godsdiens bloot te lê, wat steeds “die regte weë van Jehovah . . . verdraai”, soos Bar-Jesus gedoen het nie (Hand. 13:10). Mag ons, soos Paulus, die waarheid moedig verkondig en opregtes van hart aantrek. En al is God se ondersteuning dalk nie so ooglopend soos dit in Paulus se geval was nie, kan ons seker wees dat Jehovah sy heilige gees sal gebruik om verdienstelikes na die waarheid te trek. – Joh. 6:44.

‘Woorde om aan te moedig’ (Handelinge 13:13-43)

9. Hoe het Paulus en Barnabas ’n uitstekende voorbeeld gestel vir dié wat vandag die leiding neem in die gemeente?

9 ’n Verandering het blykbaar plaasgevind toe die manne uit Pafos weggeseil het op pad na Perge, aan die kus van Klein-Asië, omtrent 250 kilometer per skip daarvandaan. In Handelinge 13:13 word die groep geïdentifiseer as “Paulus en sy metgeselle”. Die bewoording gee te kenne dat Paulus nou die leiding geneem het in die groep se bedrywighede. Daar is egter geen aanduiding dat Barnabas afgunstig geraak het op Paulus nie. Inteendeel, hierdie twee manne het aangehou om saam te werk om God se wil uit te voer. Paulus en Barnabas het ’n uitstekende voorbeeld gestel vir dié wat vandag die leiding neem in die gemeente. Christene ding nie mee om vernaamheid nie, maar onthou eerder Jesus se woorde: “Julle [is] almal broers.” Hy het bygevoeg: “Elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.” – Matt. 23:8, 12.

10. Beskryf die reis van Perge na Pisidiese Antiogië.

10 Toe hulle by Perge aankom, het Johannes Markus van Paulus en Barnabas weggegaan en na Jerusalem teruggekeer. Die rede vir sy skielike vertrek word nie genoem nie. Paulus en Barnabas het hulle reis voortgesit en van Perge na Antiogië in Pisidië, ’n stad in die provinsie Galasië, gegaan. Dit was glad nie ’n maklike reis nie, aangesien Pisidiese Antiogië ongeveer 1 100 meter bo seespieël is. Die verraderlike bergpasse was ook berug weens al die rowers wat daar was. Asof dit nie genoeg was nie, het Paulus heel moontlik op hierdie stadium gesondheidsprobleme gehad.h

11, 12. Hoe het Paulus die harte van dié in sy gehoor probeer bereik toe hy in die sinagoge in Antiogië van Pisidië gepraat het?

11 In Antiogië van Pisidië het Paulus en Barnabas op die Sabbat in die sinagoge ingegaan. Die verslag sê: “Nadat daar uit die Wet en die boeke van die profete voorgelees is, het die hoofbeamptes van die sinagoge vir hulle die volgende boodskap gestuur: ‘Manne, broers, as julle enige woorde kan sê om die volk aan te moedig, sê dit’” (Hand. 13:15). Paulus het opgestaan om te praat.

12 Paulus het begin deur sy gehoor aan te spreek: “Manne, Israeliete en die res van julle wat God vrees” (Hand. 13:16). Paulus se gehoor het uit Jode en proseliete bestaan. Hoe het Paulus die harte van hierdie toehoorders, wat nie Jesus se rol in God se voorneme erken het nie, probeer bereik? Eerstens het Paulus die geskiedenis van die Joodse nasie opgesom. Hy het verduidelik hoe Jehovah “die volk ’n kragtige nasie gemaak [het] toe hulle as vreemdelinge in Egipte gewoon het” en hoe God ná hulle bevryding 40 jaar lank “hulle . . . in die wildernis verdra” het. Paulus het ook vertel hoe die Israeliete in staat was om die Beloofde Land in besit te neem en hoe Jehovah “hulle land as ’n erfdeel aan [hulle] gegee” het (Hand. 13:17-19). Daar is aangevoer dat Paulus moontlik na sekere Skrifgedeeltes verwys het wat oomblikke vroeër as deel van die Sabbatsviering voorgelees is. As dit so is, is dit nog ’n voorbeeld wat toon dat Paulus geweet het hoe om “alles vir alle soorte mense” te word. – 1 Kor. 9:22.

13. Hoe kan ons die harte van ons toehoorders probeer bereik?

13 Ons moet ook die harte van diegene vir wie ons preek, probeer bereik. Byvoorbeeld, as ons iemand se godsdiensagtergrond ken, kan dit ons help om onderwerpe te kies waarin hy sal belangstel. Ons kan ook uit dele van die Bybel aanhaal wat moontlik vir die persoon bekend sal wees. Dit sal dalk goed wees om hom uit sy eie Bybel te laat lees. Wees op die uitkyk na maniere waarop jy die harte van jou toehoorders kan bereik.

14. (a) Hoe het Paulus die goeie nuus oor Jesus ingelei, en waarvan het hy gewaarsku? (b) Hoe het die skare op Paulus se toespraak gereageer?

14 Paulus het vervolgens bespreek hoe die lyn van Israelitiese konings na “’n redder . . . , Jesus,” gelei het, wie se voorloper Johannes die Doper was. Daarna het Paulus beskryf hoe Jesus doodgemaak is en uit die dood opgewek is (Hand. 13:20-37). “Laat dit dus aan julle bekend wees”, het Paulus gesê, “dat vergifnis van sondes deur middel van hierdie een aan julle verkondig word. Deur hom word almal wat glo, onskuldig verklaar.” Toe het die apostel hierdie waarskuwing tot sy toehoorders gerig: “Sorg dus dat wat in die boeke van die profete gesê word, nie met julle gebeur nie: ‘Kyk daarna, julle spotters, en wees verbaas daaroor en sterf, want ek doen ’n werk in julle dae, ’n werk wat julle nooit sal glo nie, al vertel iemand julle alles daaromtrent.’” Die reaksie op Paulus se toespraak was verbasend. “Die mense [het] hulle gesmeek om die volgende Sabbat weer oor hierdie dinge te praat”, sê die Bybel. Daarbenewens, ná die vergadering in die sinagoge, “het baie van die Jode en proseliete wat God aanbid het, Paulus en Barnabas gevolg”. – Hand. 13:38-43.

‘Ons gaan na die nasies’ (Handelinge 13:44-52)

15. Wat het op die Sabbat ná Paulus se toespraak gebeur?

15 Op die volgende Sabbat het “byna die hele stad” bymekaargekom om na Paulus te luister. Dit het sekere Jode ontstel, en hulle het “Paulus weerspreek en sleg gepraat oor die dinge wat hy gesê het”. Hy en Barnabas het moedig vir hulle gesê: “Die woord van God moes eers aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en dink dat julle nie waardig is om die ewige lewe te ontvang nie, gaan ons nou na die nasies. Want Jehovah het vir ons gesê: ‘Ek het jou as ’n lig vir die nasies aangestel sodat jy tot aan die eindes van die aarde ’n redding sal wees.’” – Hand. 13:44-47; Jes. 49:6.

Paulus en Barnabas word deur vyandige teenstanders uit Pisidiese Antiogië gegooi.

“Hulle het veroorsaak dat Paulus en Barnabas vervolg word . . . En die dissipels is voortdurend met vreugde en heilige gees gevul.” – Handelinge 13:50-52

16. Wat het die Jode gedoen in reaksie op die sterk woorde van die sendelinge, en hoe het Paulus en Barnabas op die teenstand gereageer?

16 Nie-Joodse toehoorders was verheug, en “almal wat die regte gesindheid vir die ewige lewe gehad het, het gelowiges geword” (Hand. 13:48). Die woord van Jehovah het spoedig deur die hele land versprei. Die reaksie van die Jode was heeltemal anders. Die sendelinge het in werklikheid vir hulle gesê dat hulle, al was hulle die eerste persone tot wie God se woord gespreek is, self gekies het om die Messias te verwerp, en dat hulle derhalwe deur God veroordeel sou word. Die Jode het die belangrike vrouens en die manne van die stad opgesteek, en “hulle het veroorsaak dat Paulus en Barnabas vervolg word, en hulle het hulle uit hulle gebied gejaag”. Hoe het Paulus en Barnabas gereageer? Hulle het “die stof van hulle voete teen hulle afgeskud en na Ikonium gegaan”. Was dit die einde van die Christelike godsdiens in Pisidiese Antiogië? Beslis nie! Die dissipels wat agtergebly het, “is voortdurend met vreugde en heilige gees gevul”. – Hand. 13:50-52.

17-19. Hoe kan ons Paulus en Barnabas se uitstekende voorbeeld volg, en hoe sal dit tot ons vreugde bydra as ons dit doen?

17 Ons leer ’n waardevolle les uit die manier waarop hierdie getroue manne op teenstand gereageer het. Ons hou nie op met preek nie, al probeer vername mense van die wêreld ons oorhaal om nie ons boodskap te verkondig nie. Let ook daarop dat Paulus en Barnabas, toe die mense van Antiogië hulle boodskap verwerp het, “die stof van hulle voete . . . afgeskud” het – ’n gebaar wat nie getuig het van woede nie, maar van ’n weiering om verantwoordelikheid te aanvaar. Hierdie sendelinge het besef dat hulle nie kon beheer hoe ander sou reageer nie. Wat hulle kon beheer, was of hulle sou aanhou preek. En dít het hulle gedoen toe hulle na Ikonium gegaan het!

18 Wat van die dissipels wat in Antiogië agtergebly het? Hulle was weliswaar in vyandelike gebied. Maar hulle vreugde was nie afhanklik van ’n positiewe reaksie nie. Jesus het gesê: “Gelukkig is dié wat die woord van God hoor en dit gehoorsaam!” (Luk. 11:28). En dit is presies wat die dissipels in Pisidiese Antiogië hulle voorgeneem het om te doen.

19 Mag ons, soos Paulus en Barnabas, altyd onthou dat dit ons verantwoordelikheid is om die goeie nuus te verkondig. Ons toehoorders moet besluit of hulle na die boodskap sal luister of dit sal verwerp. As dit lyk of diegene vir wie ons preek, onontvanklik is, kan ons ’n les by die eerste-eeuse dissipels leer. As ons die waarheid waardeer en toelaat dat die heilige gees ons lei, kan ons ook vreugdevol wees, selfs wanneer ons teenstand ondervind. – Gal. 5:18, 22.

BARNABAS – “SEUN VAN VERTROOSTING”

’n Prominente lid van die vroeë gemeente in Jerusalem was Josef, ’n Leviet en ’n boorling van Siprus. Die apostels het hom ook ’n ander naam gegee, wat by sy persoonlikheid gepas het – Barnabas, wat “seun van vertroosting” beteken (Hand. 4:36). Wanneer Barnabas bewus geword het van ’n behoefte onder sy medegelowiges, het hy gou opgetree om daarin te voorsien.

Barnabas gee twee sakke muntstukke as ’n bydrae.

Op Pinkster 33 HJ is 3 000 nuwe dissipels gedoop. Baie van hulle het waarskynlik vir die fees na Jerusalem gekom en het nie beplan om lank in die stad te bly nie. Die gemeente het middele nodig gehad om na hierdie skare om te sien. Weens sy vrygewigheid het Barnabas dus ’n stuk grond verkoop en die geld as ’n bydrae na die apostels gebring. – Hand. 4:32-37.

As ’n ryp Christenopsiener was Barnabas gretig om ander te help. Dit was hy wat die pas bekeerde Saulus van Tarsus te hulp gekom het toe al die ander dissipels vir hom bang was weens sy reputasie as ’n vervolger (Hand. 9:26, 27). Barnabas het nederig gereageer toe Paulus vir hom en Petrus streng raad gegee het oor die gepaste verhouding tussen Joodse en nie-Joodse Christene (Gal. 2:9, 11-14). Hierdie paar voorbeelde toon dat Barnabas werklik sy naam – “seun van vertroosting” – gestand gedoen het.

a Sien die venster “Barnabas – ‘Seun van vertroosting’”.

b Op hierdie stadium is daar reeds gemeentes tot in Siriese Antiogië – sowat 550 kilometer noord van Jerusalem.

c Sien die venster “Op die pad”.

d In die eerste eeu kon ’n skip in een dag omtrent 160 kilometer aflê as die winde gunstig was. In ongunstige toestande kon so ’n reis veel langer duur.

e Sien die venster“In die sinagoges van die Jode”.

f Siprus was onder die heerskappy van die Romeinse Senaat. Die hoofadministrateur van die eiland was ’n provinsiale goewerneur met die rang van prokonsul.

g Van hierdie punt af word Saulus Paulus genoem. Party het aan die hand gedoen dat hy die Romeinse naam aangeneem het ter ere van Sergius Paulus. Maar die feit dat hy die naam Paulus behou het selfs nadat hulle Siprus verlaat het, dui op ’n ander verklaring – dat Paulus, “’n apostel vir die nasies”, besluit het om van daardie tyd af sy Romeinse naam te gebruik. Hy het ook moontlik die naam Paulus gebruik omdat die Griekse uitspraak van sy Hebreeuse naam, Saulus, baie soortgelyk is aan ’n Griekse woord wat ’n slegte konnotasie het. – Rom. 11:13.

h Paulus se brief aan die Galasiërs is etlike jare later geskryf. In daardie brief het Paulus geskryf: “Dit [was] as gevolg van ’n fisiese siekte . . . dat ek die eerste geleentheid gekry het om die goeie nuus aan julle bekend te maak.” – Gal. 4:13.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel