Laat “die vrede van God” jou hart bewaar
“Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.”—NUMERI 6:26.
1. Wat het Paulus kort voor sy dood aan Timotheüs geskryf, en wat het dit getoon?
IN DIE jaar 65 G.J. was die apostel Paulus ’n gevangene in Rome. Al sou hy kort daarna gewelddadig aan die hand van ’n Romeinse laksman sterf, het Paulus vrede in homself gehad. Dit blyk uit die woorde wat hy vir sy jonger vriend Timotheüs geskryf het toe hy gesê het: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee.”—2 Timotheüs 4:7, 8.
2. Wat het Paulus se hart dwarsdeur sy merkwaardige lewe, tot met sy dood, bewaar?
2 Hoe kon Paulus so kalm wees terwyl hy voor die dood gestaan het? Dit was omdat “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan” sy hart bewaar het (Filippense 4:7). Hierdie selfde vrede het hom beskerm deur al die aksiebelaaide jare sedert hy hom vroeër tot die Christelike godsdiens bekeer het. Dit het hom onderskraag ondanks gepeupelgeweld, gevangenskap, slae en steniging. Dit het hom versterk terwyl hy ’n stryd gevoer het teen afvalligheid en Judaïserende invloede. En dit het hom gehelp om teen onsigbare demoniese magte te stry. Dit het hom klaarblyklik tot aan die einde versterk.—2 Korinthiërs 10:4, 5; 11:21-27; Efesiërs 6:11, 12.
3. Watter vrae word oor die vrede van God geopper?
3 Wat ’n sterk krag het Paulus hierdie vrede tog gevind! Kan ons vandag leer wat dit is? Sal dit ons help om ons hart te bewaar en ons versterk terwyl ons gedurende hierdie moeilike, “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” “die goeie stryd van die geloof” stry?—1 Timotheüs 6:12; 2 Timotheüs 3:1, NW.
Vrede met God—Hoe dit verloor is
4. Wat is ’n paar betekenisse van die woord “vrede” in die Bybel?
4 In die Bybel het die woord “vrede” baie betekenisse. Hier volg ’n paar wat in The New International Dictionary of New Testament Theology aangegee word: “Dwarsdeur die O[u] T[estament] sluit [sja·loomʹ] (vrede) welsyn in die algemeenste sin van die woord in (Rigt. 19:20); voorspoed (Ps. 73:3), selfs wanneer dit van goddelose mense praat; liggaamlike gesondheid (Jes. 57:18[, 19]; Ps. 38:4); tevredenheid . . . (Gen. 15:15 ens.); goeie verhoudinge tussen nasies en mense ( . . . Rigt. 4:17; 1 Kron. 12:17, 18); redding ( . . . Jer. 29:11; vgl. Jer. 14:13).” ’n Vreedsame verhouding met Jehovah is die belangrikste, want daarsonder is enige ander vrede ten beste maar tydelik en beperk.—2 Korinthiërs 13:11.
5. Hoe is die vrede van God se skepping oorspronklik versteur?
5 Die hele skepping was aanvanklik in volkome vrede met Jehovah. God het met goeie rede gesê dat al sy skeppingswerke baie goed was. Trouens, die hemelse engele het gejuig toe hulle dit gesien het (Genesis 1:31; Job 38:4-7). Daardie universele vrede het ongelukkig nie voortgeduur nie. Dit is verbreek toe die geesskepsel wat nou as Satan bekend staan die jongste van God se intelligente skepsele, Eva, verlei het om ongehoorsaam aan God te wees. Eva se man, Adam, het haar gevolg, en noudat daar drie opstandelinge was, was daar onenigheid in die heelal.—Genesis 3:1-6.
6. Wat het ’n verlies aan vrede met God vir die mensdom beteken?
6 Die verlies van vrede met God was rampspoedig vir Adam en Eva, wat nou stadig fisies begin agteruitgaan het tot hulle gesterf het. Pleks dat Adam vrede in die Paradys geniet het, moes hy met moeite vir sy groeiende gesin voedsel produseer in die onvoorbereide grond buite Eden. In plaas van ’n volmaakte menseras in tevredenheid voort te bring, het Eva met pyn en lyding die lewe aan onvolmaakte kinders geskenk. ’n Verlies aan vrede met God het tot jaloesie en geweld onder mense gelei. Kain het sy broer Abel doodgemaak, en teen die tyd van die Vloed was die hele aarde vol geweld (Genesis 3:7–4:16; 5:5; 6:11, 12). Toe ons eerste ouers gesterf het, het hulle beslis nie tevrede, “in vrede”, na hulle grafte gegaan, soos Abraham baie eeue later nie.—Genesis 15:15.
7. (a) Watter profesie het God geuiter wat gewys het op ’n herstelling van algehele vrede? (b) Hoe invloedryk het God se vyand Satan geword?
7 Nadat Adam en Eva hulle vrede verloor het, vind ons die eerste melding van vyandskap in die Bybel. God het met Satan gepraat en gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:15). Met verloop van tyd het Satan se invloed dermate gegroei dat die apostel Johannes kon sê: “Die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose” (1 Johannes 5:19). ’n Wêreld onder Satan het beslis nie ’n vreedsame verhouding met God nie. Dit is dus gepas dat die dissipel Jakobus Christene gewaarsku het: “Weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie?”—Jakobus 4:4.
Vrede in ’n vyandige wêreld
8, 9. Hoe kon mense in vrede met God wees ná Adam gesondig het?
8 Daar in Eden, toe God die woord “vyandskap” die eerste keer gebruik het, het hy ook voorspel hoe algehele vrede in die skepping herstel sal word. Die beloofde saad van God se vrou sou die kop van die oorspronklike vredesverstoorder vermorsel. Sedert Eden het diegene wat geloof in daardie belofte beoefen ’n vreedsame verhouding met God geniet. In Abraham se geval het hierdie verhouding in vriendskap ontwikkel.—2 Kronieke 20:7; Jakobus 2:23.
9 In Moses se tyd het Jehovah die kinders van Israel, Abraham se kleinseun, as ’n nasie georganiseer. Hy het hierdie nasie sy vrede aangebied, soos gesien kan word in ’n seën wat Aäron, die hoëpriester, oor hulle uitgespreek het: “Die HERE sal jou seën en jou behoed; die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee” (Numeri 6:24-26). Jehovah se vrede sou ryk belonings meebring, maar dit is voorwaardelik aangebied.
10, 11. Waarvan het vrede met God vir Israel afgehang, en wat sou die gevolg daarvan wees?
10 Jehovah het vir die nasie gesê: “As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen, sal Ek julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee. Ook sal Ek vrede gee in die land, sodat julle sal lê en rus sonder dat iemand julle skrikmaak; en Ek sal die wilde diere uit die land laat verdwyn, en geen swaard sal deur julle land trek nie. En Ek sal in jul midde wandel en vir julle ’n God wees, en júlle sal vir My ’n volk wees” (Levitikus 26: 3, 4, 6, 12). Israel kon vrede geniet omdat hulle teen hul vyande beskerm is, omdat hulle materieel ’n oorvloed gehad het en omdat hulle ’n hegte verhouding met Jehovah geniet het. Maar dit het afgehang van hulle gehoorsaamheid aan Jehovah se Wet.—Psalm 119:165.
11 Dwarsdeur die nasie se geskiedenis het Israeliete wat getrou probeer het om Jehovah se wette te gehoorsaam wel vrede met hom geniet, en dit het dikwels baie ander seëninge tot gevolg gehad. Gedurende die vroeë jare van koning Salomo se heerskappy het vrede met God materiële voorspoed sowel as rus van die oorloë met Israel se bure meegebring. Die Bybel beskryf daardie tyd en sê: “Juda en Israel [het] veilig gewoon . . . , elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan tot Berseba, al die dae van Salomo” (1 Konings 4:25). Selfs wanneer hulle teen buurlande geveg het, het getroue Israeliete steeds die vrede wat werklik belangrik is, naamlik vrede met God, geniet. Koning Dawid, ’n beroemde krygsman, het gevolglik geskryf: “Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o HERE, alleen laat my in veiligheid woon.”—Psalm 4:9.
’n Beter grondslag vir vrede
12. Hoe het Israel vrede met God finaal verwerp?
12 Uiteindelik het die Saad wat algehele vrede sou herstel in die persoon van Jesus verskyn, en met sy geboorte het engele gesing: “Glorie in die hoogtes daar bo aan God, en op aarde vrede onder mense van welwillendheid” (Lukas 2:14, NW). Jesus het in Israel verskyn, maar ondanks die feit dat hulle onder God se verbond was, het daardie nasie as geheel hom verwerp en hom aan die Romeine oorgelewer om doodgemaak te word. Kort voor sy dood het Jesus oor Jerusalem geween en gesê: “As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek” (Lukas 19:42; Johannes 1:11). Omdat hulle Jesus verwerp het, het Israel sy vrede met God geheel en al verloor.
13. Watter nuwe manier het Jehovah ingestel waarop mense met hom vrede kon kry?
13 God se doel is nietemin nie gedwarsboom nie. Jesus is uit die dood opgewek, en hy het die waarde van sy volmaakte lewe as ’n losprys vir regskape mense aan Jehovah geoffer (Hebreërs 9:11-14). Jesus se offerande het ’n nuwe en beter weg gebied vir mense—vir natuurlike Israeliete sowel as nie-Jode—om vrede met God te vind. Paulus het in sy brief aan die Christene in Rome gesê: “Terwyl ons nog vyande was, [is ons] met God versoen . . . deur die dood van sy Seun” (Romeine 5:10). In die eerste eeu is diegene wat op hierdie manier vrede gemaak het met heilige gees gesalf om aangenome seuns van God en lede van ’n nuwe geestelike nasie te wees wat “die Israel van God” genoem is.—Galasiërs 6:16; Johannes 1:12, 13; 2 Korinthiërs 1:21, 22; 1 Petrus 2:9.
14, 15. Beskryf die vrede van God, en verduidelik hoe dit Christene beskerm selfs wanneer hulle die teiken van Satan se vyandigheid is.
14 Hierdie nuwe geestelike Israeliete sou die teiken wees van vyandigheid van Satan en sy wêreld (Johannes 17:14). Maar hulle sou “vrede van God die Vader en Christus Jesus, onse Here” hê (2 Timotheüs 1:2). Jesus het vir hulle gesê: “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”—Johannes 16:33.
15 Dit is hierdie vrede wat Paulus en sy mede-Christene gehelp het om te volhard ondanks al die beproewinge waarvoor hulle te staan gekom het. Dit weerspieël ’n kalm, harmonieuse verhouding met God wat deur Jesus se offerande moontlik gemaak is. Dit gee die persoon wat dit besit ’n onverstoorbare gemoedsrus wanneer hy van Jehovah se besorgdheid bewus word. ’n Kind wat in ’n liefdevolle vader se arms lê, het ’n soortgelyke gevoel van vrede, ’n onbetwyfelde sekerheid dat iemand wat vir hom omgee oor hom waak. Paulus het die Filippense aangespoor: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”—Filippense 4:6, 7.
16. Hoe het vrede met God die verhouding van eerste-eeuse Christene met mekaar geraak?
16 Een gevolg van die mensdom se verlies van vrede met God was haat en verdeeldheid. Vir die eerste-eeuse Christene het vrede met God presies die teenoorgestelde tot gevolg gehad: vrede en eenheid onder mekaar, wat Paulus “die verenigende band van vrede” genoem het (Efesiërs 4:3, NW). Hulle ‘was eensgesind en het vrede gehou, en die God van liefde en vrede was met hulle’. Daarbenewens het hulle “die evangelie van vrede” verkondig, wat in wese die goeie nuus van redding is vir ‘vriende van vrede’, diegene wat op die goeie nuus reageer.—2 Korinthiërs 13:11; Handelinge 10:36; Lukas 10:5, 6, NW.
’n Verbond van vrede
17. Wat het God met sy volk in ons dag gedoen?
17 Kan sulke vrede vandag gevind word? Ja, dit kan. Sedert die oprigting van God se Koninkryk onder die verheerlikte Jesus Christus in 1914 het Jehovah die oorblywende lede van die Israel van God uit hierdie wêreld versamel en ’n verbond van vrede met hulle gesluit. Sodoende het hy sy belofte vervul wat deur middel van die profeet Esegiël gemaak is: “Ek sal ’n verbond van vrede met hulle sluit, dit sal ’n ewige verbond met hulle wees; en Ek sal hulle daar bring en hulle vermenigvuldig; en Ek sal my heiligdom in hulle midde vestig vir ewig” (Esegiël 37:26). Jehovah het hierdie verbond met gesalfde Christene gesluit wat, soos hulle broers in die eerste eeu, geloof in Jesus se offer beoefen. Hulle is gereinig van geestelike besoedeling en het hulle aan hul hemelse Vader toegewy en strewe daarna om sy gebooie te hou, hoofsaaklik deur die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk wêreldwyd te verkondig.—Mattheüs 24:14.
18. Hoe het party uit die nasies gereageer toe hulle besef dat God se naam op die Israel van God is?
18 Die profesie gaan voort: “En my tabernakel sal oor hulle wees, en Ek sal vir hulle ’n God wees en hulle vir my ’n volk wees. En die nasies sal weet dat Ek die HERE is wat Israel heilig as my heiligdom vir ewig in hulle midde sal wees” (Esegiël 37:27, 28). In harmonie hiermee het honderdduisende, ja, miljoene, uit “die nasies” erken dat Jehovah se naam op die Israel van God is (Sagaria 8:23). Hulle het uit al die nasies gestroom om Jehovah saam met daardie geestelike nasie te dien en het die “groot menigte” gevorm wat in Openbaring voorspel is. Aangesien hulle “hul klere gewas en hul klere wit gemaak [het] in die bloed van die Lam” sal hulle deur die groot verdrukking en tot in ’n vreedsame nuwe wêreld behoue bly.—Openbaring 7:9, 14.
19. Watter vrede geniet God se volk vandag?
19 Die Israel van God en die groot menigte geniet saam geestelike vrede wat vergelyk kan word met die vrede wat Israel onder koning Salomo geniet het. Miga het van hulle geprofeteer: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik” (Miga 4:3, 4; Jesaja 2:2-4). In ooreenstemming hiermee het hulle oorlog en onenigheid die rug toegekeer, en in simboliese sin van hulle swaarde pikke gesmee en van hulle spiese snoeimesse. Daarom geniet hulle ’n vreedsame broederskap dwarsdeur hulle internasionale gemeenskap, ongeag hulle nasionaliteit, taal, ras of sosiale agtergrond. En hulle verheug hulle in die sekerheid van Jehovah se beskermende, waaksame sorg oor hulle. ‘Niemand verskrik hulle nie.’ Ja, ‘die HERE het sy volk sterkte gegee, die HERE het sy volk geseën met vrede’.—Psalm 29:11.
20, 21. (a) Waarom moet ons daaraan werk om ons vrede met God te behou? (b) Wat kan ons sê oor Satan se pogings om die vrede van God se volk te vernietig?
20 Die vrede van God se knegte het egter, net soos in die eerste eeu G.J., gemaak dat Satan hulle vyandiggesind is. Vandat hy in 1914, ná die oprigting van God se Koninkryk, uit die hemel gewerp is, voer Satan oorlog “teen die oorblywendes van [die vrou] se saad” (Openbaring 12:17, NW). Paulus het selfs in sy dag gewaarsku: “Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen . . . die bose geeste in die lug” (Efesiërs 6:12). Noudat Satan tot die omgewing van die aarde beperk is, is daardie waarskuwing dringend.
21 Satan het elke taktiek gebruik wat hy tot sy beskikking het in sy poging om die vrede van God se volk te vernietig, maar sy pogings het misluk. Destyds in 1919 was daar nie eers 10 000 wat God getrou probeer dien het nie. Vandag is daar meer as viermiljoen wat die wêreld deur hulle geloof oorwin (1 Johannes 5:4). Vir hulle is vrede met God en vrede met mekaar ’n werklikheid, selfs terwyl hulle die vyandigheid van Satan en sy saad verduur. Maar met die oog op hierdie vyandigheid sowel as ons eie onvolmaaktheid en die “swaar tye” waarin ons lewe, moet ons hard daaraan werk om ons vrede te behou (2 Timotheüs 3:1). In die volgende artikel sal ons sien wat dit behels.
Kan jy verduidelik?
◻ Waarom het die mens oorspronklik sy vrede met God verloor?
◻ Waarvan het vrede met God vir Israel afgehang?
◻ Wat is vandag die grondslag van vrede met God?
◻ Wat is “die vrede van God” wat ons harte bewaar?
◻ Watter verdere seëninge geniet ons as ons vrede met God het?