Koninkryksverkondigers berig
‘Julle weet soveel omtrent die Bybel’
TOE die 12-jarige Jesus moedig met die godsdiensleiers in Jerusalem gepraat het, ‘was almal wat na hom geluister het die hele tyd verbaas oor sy begrip en sy antwoorde’ (Lukas 2:47). Net so skraap talle jong knegte van Jehovah vandag die moed bymekaar om met hulle onderwysers en skoolmaats oor God en die Bybel te praat, en dikwels het hulle net sulke bemoedigende resultate.
Tiffany, wat 14 jaar oud is, was in ’n klas waar die Bybelprofesie in Daniël 9:24-27 oor die 70 weke van jare bespreek is. Die onderwyser het ’n paar feite oor die verse gegee en toe die onderwerp vinnig afgehandel.
Tiffany was eers huiwerig om haar hand op te steek. “Maar om die een of ander rede”, sê sy, “het dit my werklik gepla dat die verse nie heeltemal verduidelik is nie. Toe ek my kom kry, was my hand op.” Die onderwyser was verbaas dat iemand iets te sê gehad het oor die onderwerp, aangesien die meeste leerlinge gesukkel het om dit te verstaan.
Toe Tiffany die geleentheid gegee is om die profesie te verduidelik, het sy opgestaan en uit die vuis uit gepraat. Toe sy klaar was, was daar ’n doodse stilte in die klaskamer. Tiffany was ’n bietjie senuweeagtig. Skielik het die klas entoesiasties begin hande klap.
“Dit was baie goed, Tiffany, dit was regtig baie goed”, het die onderwyser oor en oor gesê. Hy het erken dat hy geweet het hierdie verse moet ’n dieper betekenis hê, maar Tiffany was die heel eerste persoon wat dit so goed aan hom verduidelik het. Aan die einde van die periode het hy vir Tiffany gevra hoe sy soveel omtrent die Bybel weet.
“Dit is omdat ek een van Jehovah se Getuies is”, het sy geantwoord. “My ouers moes daardie profesie ’n hele paar keer aan my verduidelik voordat ek dit verstaan het.”
Haar klasmaats was ook verbaas oor haar kennis van die Bybel. Een leerling het vir Tiffany gesê: “Nou weet ek waarom Jehovah se Getuies van deur tot deur gaan; dis omdat julle soveel omtrent die Bybel weet.” Ander het belowe dat hulle haar nooit weer sou terg oor haar godsdiensopvattings nie.
Toe Tiffany haar ouers vertel wat gebeur het, het hulle voorgestel dat sy die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei vir haar onderwyser aanbied. Toe sy dit doen en die onderwyser die gedeelte wys wat Daniël se profesie verduidelik, het hy die boek geredelik geneem en haar daarvoor bedank.
Wanneer Christenjongmense moedig praat oor wat hulle ouers hulle aangaande God en die Bybel geleer het, bring hulle waarlik lof en eer aan Jehovah en bring hulle seëninge vir hulleself mee.—Matteus 21:15, 16.