Het jy God se beskouing van gewelddadige mense?
Magtiges, diegene met groot fisiese krag en heldemoed, word lank reeds bewonder en vereer. Een hiervan was ’n mitologiese held van antieke Griekeland, Herakles, of Herkules soos die Romeine hom geken het.
HERAKLES was ’n beroemde superheld, die magtigste vegter. Volgens legende was hy ’n halfgod, die kind van Zeus, die Griekse god, en Alkmene, sy moeder, wat ’n mens was. Sy heldedade het begin toe hy nog ’n baba in die wiegie was. Toe ’n jaloerse godin twee groot slange gestuur het om hom dood te maak, het Herakles hulle doodgewurg. Later in sy lewe het hy aan gevegte deelgeneem, monsters verslaan en met die dood geworstel om ’n vriend te red. Hy het ook stede vernietig, vroue verkrag, ’n seuntjie van ’n toring af gegooi en sy eie vrou en kinders doodgemaak.
Hoewel die mitiese Herakles nie ’n werklike persoon is nie, word hy al van vervloë tye af uitgebeeld in verhale van die antieke lande wat aan die Grieke bekend was. Die Romeine het hom as ’n god aanbid; handelaars en reisigers het tot hom gebid vir voorspoed en beskerming teen gevaar. Verhale oor sy heldedade fassineer mense al duisende jare lank.
Die oorsprong van die legende
Is die verhale van Herakles en ander mitologiese helde op werklikheid gegrond? Dalk in sekere sin. Die Bybel beskryf ’n tyd, vroeg in die mens se geskiedenis, toe daar werklik “gode” en “halfgode” op die aarde was.
Moses het daardie tydperk beskryf en gesê: “Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.”—Genesis 6:1, 2.
Daardie “seuns van God” was nie mense nie; hulle was engeleseuns van God. (Vergelyk Job 1:6; 2:1; 38:4, 7.) Die Bybelskrywer Judas vertel dat sekere engele “nie hulle oorspronklike posisie behou het nie, maar hulle eie gepaste woonplek verlaat het” (Judas 6). Met ander woorde, hulle het hulle toegewese plek in God se hemelse organisasie verlaat omdat hulle verkies het om saam met mooi vroue op aarde te lewe. Judas voeg by dat hierdie opstandige engele soos die mense van Sodom en Gomorra was, wat “uitermate hoerery gepleeg en vir onnatuurlike gebruik agter vlees aan geloop het”.—Judas 7.
Die Bybel gee nie volle besonderhede oor die bedrywighede van hierdie ongehoorsame engele nie. Maar antieke legendes van Griekeland en ander lande skilder ’n beeld van tallose gode en godinne wat saam met die mensdom gelewe het, sigbaar of onsigbaar. Wanneer hulle die gestalte van mense aangeneem het, was hulle baie aantreklik. Hulle het geëet, gedrink, geslaap en geslagsomgang met mekaar en met mense gehad. Hoewel hulle oënskynlik heilig en onsterflik was, het hulle gelieg en bedrieg, gestry en baklei, verlei en verkrag. Al het sulke mitologiese verhale die feite oordryf en verdraai, weerspieël dit dalk die werklike toestande voor die Vloed wat in die Bybelboek Genesis gemeld word.
Die magtiges uit die ou tyd, die manne van naam
Die ongehoorsame gematerialiseerde engele het geslagsomgang met vroue gehad, en die vroue het kinders gebaar. Dit was nie gewone kinders nie. Hulle was die Nefilim, halfmens en halfengel. Die Bybelverslag sê: “Die Nefilim was in daardie dae op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van die ware God aangehou het om met die dogters van die mense gemeenskap te hê en dié vir hulle seuns gebaar het; hulle was die magtiges uit die ou tyd, die manne van naam.”—Genesis 6:4, NW.
Die Hebreeuse woord “nefilim” beteken letterlik “neervellers”, diegene wat ander neervel of laat val deur gewelddade. Dit is dus geen wonder nie dat die Bybelverslag byvoeg: “Die aarde was vol geweld” (Genesis 6:11). Die mitologiese halfgode, soos Herakles en die Babiloniese held Gilgamesj, kom grootliks met die Nefilim ooreen.
Let op dat die Nefilim “magtiges” en “manne van naam” genoem is. Anders as die regverdige man Noag, wat in dieselfde tydperk gelewe het, het die Nefilim nie daarin belanggestel om Jehovah se naam te verheerlik nie. Hulle het in hulle eie roem, heerlikheid en naam belanggestel. Deur magtige dade, wat ongetwyfeld met geweld en bloedvergieting gepaardgegaan het, het hulle naam gemaak in die goddelose wêreld om hulle, iets wat hulle vurig begeer het. Hulle was die superhelde van hulle tyd—gevrees, hooggeag en skynbaar onoorwinlik.
Al het die Nefilim en hulle verdorwe engelevaders dalk naam gemaak onder hulle tydgenote, het hulle beslis nie ’n goeie naam by God gehad nie. Hulle lewenswyse was veragtelik. Daarom het God teen die gevalle engele opgetree. Die apostel Petrus het geskryf: ‘God het hom nie daarvan weerhou om die engele te straf wat gesondig het nie, maar hulle, deur hulle in Tartarus te werp, aan kuile van dik duisternis oorgelewer om vir die oordeel bewaar te word; en hy het hom nie daarvan weerhou om ’n eertydse wêreld te straf nie, maar Noag, ’n prediker van regverdigheid, met sewe ander veilig bewaar toe hy ’n sondvloed oor ’n wêreld van goddelose mense gebring het.’—2 Petrus 2:4, 5.
Tydens die wêreldvloed het die opstandige engele hulle menseliggame afgelê en in oneer na die geesteryk teruggekeer. God het hulle gestraf deur hulle te verbied om weer menseliggame aan te neem. Die Nefilim, die bomenslike nageslag van die ongehoorsame engele, het almal vergaan. Net Noag en sy klein gesin het die Vloed oorleef.
Manne van naam vandag
Vandag is daar nie meer gode en halfgode op die aarde nie. Nietemin is geweld aan die orde van die dag. Vandag se manne van naam word in boeke, rolprente, televisieprogramme en musiek verheerlik. Hulle sal beslis nie die ander wang draai, hulle vyande liefhê, vrede nastreef, vergewe of geweld vermy nie (Matteus 5:39, 44; Romeine 12:17; Efesiërs 4:32; 1 Petrus 3:11). Hedendaagse magtiges word eerder bewonder vir hulle krag en hulle vermoë om te veg, wraak te neem en geweld met meer geweld te vergeld.a
God se beskouing van sulke soort mense het nie sedert die dae van Noag verander nie. Jehovah bewonder nie liefhebbers van geweld nie, en hy word ook nie deur hulle heldedade vermaak nie. Die psalmis het gesing: “Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.”—Psalm 11:5.
’n Ander soort krag
In skerp teenstelling met die magtige geweldenaars is die beroemdste mens wat nog gelewe het, Jesus Christus, ’n man van vrede. Terwyl hy op aarde was, het hy “geen geweld” gepleeg nie (Jesaja 53:9, NW). Toe sy vyande gekom het om hom in die tuin van Getsemane gevange te neem, het van sy volgelinge swaarde gehad (Lukas 22:38, 47-51). Hulle kon as ’n groep geveg het om te probeer keer dat hy aan die Jode oorgelewer word.—Johannes 18:36.
Trouens, die apostel Petrus het sy swaard uitgetrek om Jesus te beskerm, maar Jesus het vir hom gesê: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matteus 26:51, 52). Ja, geweld bring geweld voort, soos die mensegeskiedenis al herhaaldelik getoon het. Benewens die geleentheid om hom met wapens te verdedig, het Jesus ’n ander verdedigingsmiddel gehad. Hy het vervolgens vir Petrus gesê: “Dink jy dat ek nie ’n beroep op my Vader kan doen om op hierdie oomblik meer as twaalf legioene engele aan my beskikbaar te stel nie?”—Matteus 26:53.
Jesus het nie van geweld of die beskerming van engele gebruik gemaak nie, maar hom eerder oorgegee aan diegene wat hom doodgemaak het. Waarom? Een rede was dat hy geweet het dat die tyd nog nie aangebreek het vir sy hemelse Vader om ’n einde aan sonde op aarde te maak nie. Jesus het nie sake op sy eie manier probeer hanteer nie, maar het op Jehovah vertrou.
Dit was nie ’n teken van swakheid nie, maar van groot innerlike krag. Jesus het sterk geloof geopenbaar dat Jehovah sake sou regstel op Sy tyd en op Sy manier. Weens sy gehoorsaamheid is Jesus tot ’n posisie van heerlikheid verhef, die hoogste posisie naas Jehovah. Die apostel Paulus het aangaande Jesus geskryf: “Hy [het] homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal. Juis om dié rede het God hom ook tot ’n hoër posisie verhef en hom goedgunstig die naam gegee wat bo elke ander naam is, sodat in die naam van Jesus elke knie sou buig van dié in die hemel en dié op die aarde en dié onder die grond, en elke tong openlik sou erken dat Jesus Christus Here is tot die heerlikheid van God die Vader.”—Filippense 2:8-11.
God se belofte om ’n einde te maak aan geweld
Ware Christene vorm hulle lewe na die voorbeeld en leringe van Jesus. Hulle bewonder of volg nie die wêreld se manne van naam en gewelddadige mense na nie. Hulle weet dat hierdie mense op God se bestemde tyd vir ewig vernietig gaan word, net so seker as wat goddeloses in die dae van Noag vernietig is.
God is die Skepper van die aarde en die mensdom. Hy is ook die regmatige Soewerein (Openbaring 4:11). As ’n menseregter wetlike gesag het om regterlike uitsprake te lewer, het God selfs meer gesag om dit te doen. Sy eerbied vir sy eie regverdige beginsels, sowel as sy liefde vir diegene wat hom liefhet, sal hom dring om ’n einde te maak aan alle goddeloosheid en diegene wat dit beoefen.—Matteus 13:41, 42; Lukas 17:26-30.
Dit sal tot blywende vrede op aarde lei, vrede wat stewig gegrond is op geregtigheid en regverdigheid. Dit is in die welbekende profesie aangaande Jesus Christus voorspel: “’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.”—Jesaja 9:5, 6.
Christene het dus gegronde redes om ag te slaan op die geïnspireerde raad wat lank gelede gegee is: “Wees nie afgunstig op ’n man van geweld en verkies geeneen van sy weë nie. Want die verkeerde is vir die HERE ’n gruwel, maar sy verborgenheid is met die opregtes.”—Spreuke 3:31, 32.
[Voetnoot]
a Die gewelddadige karakters in baie van die videospeletjies en wetenskapfiksierolprente weerspieël dikwels hierdie slegte, gewelddadige karaktertrekke in groter mate.
[Lokteks op bladsy 29]
HEDENDAAGSE MAGTIGES WORD BEWONDER VIR HULLE KRAG EN HULLE VERMOË OM GEWELD MET MEER GEWELD TE VERGELD
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Alinari/Art Resource, NY