’n Brief uit Nicaragua
“Draai regs by die Cocorivier”
“JY SAL ’n vierwielaangedrewe voertuig, ’n wenas en ekstra kanne brandstof nodig hê. Wees voorbereid om deur kniediep modder te ry. Draai regs by die Cocorivier.”
Ek moet erken dat hierdie woorde van ’n medesendeling my nie veel selfvertroue gegee het nie. Nogtans het ek een Dinsdagoggend die reis aangepak na ’n Christelike byeenkoms in Wamblán, ’n dorpie in die noorde van Nicaragua.
Met dagbreek het ek in my ou maar sterk vragmotor vertrek en met die mooi Pan-Amerikaanse Hoofpad langs gery. By Jinotega het ek die grondpad geneem wat die plaaslike mense feo, of lelik, noem. Voordat ek die dorp verlaat het, het ek twee winkeltjies opgemerk; die een is Wonderwerk van God genoem en die ander een Die Opstanding.
Die pad was vol kronkels en draaie sowel as op- en afdraandes. Ek het met ’n slakkegang deur die klowe en slote beweeg. My roete het my verby ’n lang meer in ’n vallei hoog op ’n wolkbedekte berg geneem. Deur die mis het ek bome bedek met orgideë en Spaanse mos gesien.
By ’n skerp draai het ek ’n aankomende bus wat in die middel van die pad gery het, rakelings gemis. Dit het swart rook uitgeblaas, en sy wiele het klippe opgeskiet terwyl dit by my verbygery het. Hier in Nicaragua kan jy die bynaam van die aggressiewe bestuurder duidelik op die bus se voorruit sien: Veroweraar, Skerpioen, Luislang of Jagter.
Teen die middag het ek oor die Pantasmavlakte gery. Daar het ek by ’n houthuis verbygery op ’n werf waar die grond skoongevee was. Die toneel het soos ’n prent uit ’n ou boek gelyk: ’n Bejaarde man het op ’n bankie gesit, ’n hond het onder ’n boom geslaap en twee osse was voor ’n wa met houtwiele ingespan. In een dorpie het ek ’n klomp skoolkinders uit ’n skool sien stroom. In hulle vlootblou uniforms het hulle die hoofstraat gevul soos ’n brander wat op ’n oop strand breek.
Die son het op die aarde neergeskroei toe ek naby Wiwilí kom en die Cocorivier vir die eerste keer sien. Die magtige rivier, met sy waters wat sonder ophou stroomaf beweeg, het die dorp oorheers. Ek het die aanwysings onthou, regs gedraai en die gevreesde 37 kilometer lange paadjie na Wamblán geneem.
Ek het oor rotse, diep wielspore en riwwe sowel as deur agt of nege strome gery. Terwyl ek die slote in die droë modder probeer vermy het, het ek ’n klein stofstorm veroorsaak. Ja, “ek het die stof geëet”, soos die plaaslike mense sou sê. Uiteindelik het die paadjie geëindig, en daar, in die diep skaduwee in ’n beboste vallei, was Wamblán, my bestemming.
Dit het gelyk of almal die volgende oggend teen halfvyf op was. Omdat ek vroeër deur die aanhoudende hanegekraai wakker gemaak is, het ek opgestaan en in die hoofstraat afgeloop. Die berglug was gevul met die reuk van tortillas wat in klipoonde bak.
Kleurvolle paradystonele wat deur ’n plaaslike kunstenaar geskilder is, was hier en daar teen mure te sien. Tekens teen die pulperías, of hoekwinkeltjies, het die een of ander koladrank geadverteer. Plakkate het mense aan die beloftes van die vorige drie regerings herinner. Sinkplaatkleinhuisies het op betonblaaie gestaan.
Ek het eerste gepraat en die Nicaraguaanse groet Adiós gebruik. Mense het geglimlag en vriendelik met my gepraat. Ons het gesels bo die geraas van die plaaslike verkeer—die geklikklak van perde en muile.
Teen Vrydagaand het gesinne begin opdaag vir die tweedaagse byeenkoms. Hulle het te voet, te perd en per vragmotor gekom. Party seuntjies en dogtertjies het ses uur lank in plastieksandale geloop. Hulle het landmyne getrotseer waar hulle die rivier moes oorsteek, asook bloedsuiers in die kalm waters. Sommige uit afgeleë gemeenskappe het net ’n bietjie kos saamgebring—rys gegeur met varkvet. Waarom het hulle almal gekom?
Hulle het gekom om hulle hoop op ’n beter toekoms te versterk. Hulle het gekom om te hoor hoe die Bybel aan hulle verduidelik word. Hulle het gekom om God te behaag.
Saterdag het aangebreek. Die gehoor van oor die 300 het onder ’n sinkdak op houtbanke en plastiekstoele gesit. Moeders het hulle babas gevoed. Op die plaas langsaan het varke gesnork en hane gekraai.
Die temperatuur het gestyg, en weldra was die hitte byna ondraaglik. Nogtans het die gehoor aandagtig geluister na die raad en leiding wat gegee is. Hulle het in hulle Bybel gevolg terwyl die sprekers tekste gelees het, hulle het die liedere gesing wat op Bybeltemas gebaseer is en hulle het eerbiedig geluister na die gebede wat namens hulle gedoen is.
Ná die sessies het ek en ander saam met die kinders aan-aan gespeel. Daarna het ons die kinders se aantekeninge hersien. Ek het vir hulle prente van sterre en sterrestelsels op my rekenaar gewys. Die kinders het geglimlag, en hulle ouers was bly.
Die byeenkoms het alte gou tot ’n einde gekom, en almal moes huis toe gaan. Ek het die volgende oggend vertrek, met wonderlike herinneringe en ’n hart vol liefde vir my nuwe vriende. Ek is vasbeslote om hulle na te volg en te leer hoe om vergenoegd te wees en hoe om op God te wag.
[Prente op bladsy 17]
Gesinne het baie kilometers ver gereis om die byeenkoms in Wamblán by te woon