“Vertrou dit aan getroue mense toe”
“Vertrou [hierdie dinge] aan getroue mense toe, wat op hulle beurt voldoende bekwaam sal wees om ander te leer.”—2 TIM. 2:2.
1, 2. Watter beskouing het baie mense van hulle werk?
’N PERSOON se beskouing van homself word dikwels beïnvloed deur die werk wat hy doen. Baie mense glo dat hulle eiewaarde bepaal word deur hulle werk of posisie. In sommige kulture is een van die eerste vrae wat mense vra wanneer hulle iemand ontmoet: “Watter werk doen jy?”
2 Die Bybel verbind soms mense se name met die soort werk wat hulle gedoen het. Dit praat van “Matteus, die belastinggaarder”; “Simon, ’n leerlooier”; en “Lukas, die geliefde geneesheer” (Matt. 10:3; Hand. 10:6; Kol. 4:14). Die geestelike toewysings of voorregte wat mense gehad het, word soms ook saam met hulle naam genoem. Ons lees van koning Dawid, die profeet Elia en die apostel Paulus. Hierdie manne se godgegewe toewysings was vir hulle iets kosbaars. Ons moet ook ons diensvoorregte as kosbaar beskou.
3. Waarom moet ouer persone die jonges oplei? (Sien prent aan begin van artikel.)
3 Baie van ons geniet ons werk en sal dit graag so lank as moontlik wil doen. Maar ongelukkig word elke geslag oud en deur ’n nuwe geslag vervang (Pred. 1:4). Vandag skep dit unieke uitdagings vir ware Christene. Die werk van Jehovah se volk het uitgebrei en meer gekompliseerd geraak. Wanneer ons nuwe projekte aanpak, word nuwe metodes daarvoor gebruik—en dikwels maak ons gebruik van nuwe tegnologie. Party ouer broers en susters vind dit dalk moeilik om by te hou met hierdie vooruitgang (Luk. 5:39). Soms kan hulle daarmee byhou, maar jongmense het dalk meer krag en energie as hulle (Spr. 20:29). Dit is dus liefdevol en prakties as ouer persone die jonges leer om groter verantwoordelikheid te aanvaar.—Lees Psalm 71:18.
4. Waarom vind party dit moeilik om verantwoordelikheid te delegeer? (Sien die venster “Waarom party nie verantwoordelikheid delegeer nie”.)
4 Dit is nie altyd maklik vir broers wat die leiding neem om verantwoordelikheid aan jonger broers te delegeer nie. Party is bang dat hulle ’n toewysing wat vir hulle kosbaar is, sal verloor. Ander is oortuig dat hulle die leiding moet neem omdat jonges die werk nie so goed sal kan doen nie. Party meen dat hulle nie die tyd het om iemand anders op te lei nie. Jonger broers daarenteen moet nie ongeduldig raak as hulle nie meer verantwoordelikheid gegee word nie.
5. Watter vrae sal ons in hierdie artikel bespreek?
5 Kom ons bespreek twee kante van die saak. Eerstens, hoe kan ouer broers die jonges help om meer verantwoordelikheid te aanvaar, en waarom is dit belangrik? (2 Tim. 2:2). Tweedens, waarom is dit belangrik dat jonger broers die regte gesindheid behou terwyl hulle meer ervare broers help en by hulle leer? Kom ons begin deur te kyk na hoe koning Dawid sy seun gehelp het om ’n belangrike verantwoordelikheid te aanvaar.
DAWID HET SALOMO ONDERSTEUN
6. Wat wou koning Dawid doen, maar wat was Jehovah se reaksie?
6 Dawid het jare lank van die een plek na die ander gevlug. Later het hy koning geword en in ’n gerieflike huis gewoon. Dit het hom bekommer dat daar nie ’n “huis”, of tempel, was wat aan Jehovah toegewy is nie, en hy wou een bou. Daarom het hy vir Natan die profeet gesê: “Ek woon in ’n huis van sederhout, maar die ark van die verbond van Jehovah is onder tentdoeke.” Natan het geantwoord: “Doen alles wat in u hart is, want die ware God is met u.” Maar dit is nie wat Jehovah wou hê nie. Hy het vir Natan gesê om vir Dawid te sê: “Jý sal nie vir my die huis bou om in te woon nie.” Al het Jehovah Dawid liefdevol van Sy voortdurende seën verseker, het God gesê dat Dawid se seun Salomo die tempel sal bou. Hoe het Dawid gereageer?—1 Kron. 17:1-4, 8, 11, 12; 29:1.
7. Hoe het Dawid op Jehovah se leiding gereageer?
7 Dawid het die projek ondersteun. Hy het nie getob oor die feit dat hy nie bekend sou wees as die een wat die tempel gebou het nie. Om die waarheid te sê, die gebou is later Salomo se tempel genoem, nie Dawid s’n nie. Al was Dawid miskien teleurgesteld omdat hy nie die tempel kon bou nie, het hy die projek ten volle ondersteun. Hy het ywerig groepe werkers georganiseer en yster, koper, silwer en goud sowel as sederhout bymekaargemaak. Hy het Salomo ook aangemoedig deur te sê: “En nou, my seun, mag Jehovah met jou wees, en jy sal suksesvol wees en die huis van Jehovah jou God bou, net soos hy oor jou gespreek het.”—1 Kron. 22:11, 14-16.
8. Waarom het Dawid dalk gedink dat Salomo nie ervare genoeg is nie, maar wat het hy gedoen?
8 Lees 1 Kronieke 22:5. Dawid het dalk gedink dat Salomo nie ervare genoeg is om oor so ’n belangrike projek toesig te hou nie. Die tempel sou immers “alles in luisterrykheid oortref”, en Salomo was nog jonk en onervare. Maar Dawid het geweet dat Jehovah Salomo die vermoë sou gee om die werk te doen. Dawid het dus gekonsentreer op wat hy kon doen om te help en het groot hoeveelhede boumateriaal bymekaargemaak.
ERVAAR DIE VREUGDE OM ANDER OP TE LEI
Dit is goed om te sien dat jonger manne groter verantwoordelikheid aanvaar (Sien paragraaf 9)
9. Waarom moet ouer broers bly wees as jonger broers hulle verantwoordelikhede kan oorneem? Gee ’n voorbeeld.
9 Ouer broers moenie mismoedig voel wanneer jonger broers hulle toewysings moet oorneem nie. Jehovah se werk is van groot belang en jonger manne moet opgelei word om verantwoordelikheid te dra. Aangestelde manne moet bly wees wanneer jonger manne wat deur hulle opgelei is, bekwaam genoeg is om die werk te doen. Dink byvoorbeeld aan ’n pa wat sy seun leer om kar te bestuur. Wanneer die seun nog klein is, hou hy sy pa net dop. Wanneer hy ouer word, verduidelik die pa aan hom wat hy doen. Wanneer die seun oud genoeg is om ’n lisensie te kry, begin hy die kar self bestuur terwyl sy pa hom verder leer. Soms maak hulle beurte om te bestuur, maar uiteindelik sal die seun moontlik die meeste van die bestuurwerk vir sy bejaarde pa doen. Die pa is bly dat sy seun dit vir hom kan doen en voel nie dat hy in beheer moet wees nie. Net so voel ouer broers trots as hulle jonger broers opgelei het om teokratiese verantwoordelikhede te dra.
10. Hoe het Moses oor eer en gesag gevoel?
10 Ouer broers moet waak teen jaloesie. Let op hoe Moses gereageer het toe sekere manne in die kamp van Israel as profete begin optree het. (Lees Numeri 11:24-29.) Josua, Moses se dienaar, wou hulle keer. Hy het gedink dat dit Moses onbelangrik sal laat lyk en sy gesag sal ondermyn. Maar Moses het gesê: “Is jy jaloers oor my? Nee, ek wens dat Jehovah se hele volk profete was, want Jehovah sou sy gees op hulle plaas!” Moses het Jehovah se hand in die saak gesien. Moses wou nie al die eer hê nie en het sy begeerte uitgespreek dat al Jehovah se knegte hierdie geestelike gawes moes hê. Soos Moses is ons baie bly wanneer ander voorregte ontvang wat ons andersins sou gekry het.
11. Wat het ’n broer gesê toe hy sy toewysing aan iemand anders moes oorgee?
11 Daar is vandag baie broers wat dekades lank hard gewerk het en ander opgelei het om groter verantwoordelikheid te aanvaar. Byvoorbeeld, ’n broer met die naam Peter wat meer as 74 jaar lank in die voltydse diens was, het 35 jaar by ’n takkantoor in Europa gedien. Hy was tot onlangs die opsiener van die Diensafdeling. Paul, ’n jonger man wat ’n hele paar jaar sy aan sy met Peter gewerk het, sien nou om na hierdie toewysing. Toe Peter gevra is hoe hy oor hierdie verandering voel, het hy gesê: “Ek is so bly dat daar broers is wat opgelei is om groter verantwoordelikheid te aanvaar en wat die werk so goed kan doen.”
WAARDEER OUER BROERS
12. Wat leer ons uit die Bybelverslag van Rehabeam?
12 Nadat Salomo gesterf het, het sy seun Rehabeam koning geword. Toe Rehabeam raad nodig gehad het, het hy ouer manne eerste geraadpleeg. Maar hy het hulle raad verwerp! Hy het eerder die raad gevolg van jonger manne saam met wie hy grootgeword het en wat nou sy dienaars was. Dit het rampspoedige gevolge gehad (2 Kron. 10:6-11, 19). Wat leer ons hieruit? Dit is verstandig om ouer, ervare broers se raad te vra en dit goed te oorweeg. Jonger broers moenie voel dat hulle verplig is om dinge te doen soos dit in die verlede gedoen is nie, maar hulle moet ook nie gou wees om die raad van ouer broers te verwerp nie.
13. Hoe moet jonger broers met ouer broers saamwerk?
13 Party jonger broers hou dalk nou toesig oor die werk van ouer broers. Al het hulle hierdie toewysing, sal dit goed wees as hulle die ouer broers, wat wysheid en ondervinding het, raadpleeg voordat hulle besluite neem. Paul, wat vroeër genoem is en Peter vervang het as die opsiener van ’n Betheldepartement, het gesê: “Ek het ’n punt daarvan gemaak om Peter se raad te vra, en ek het ander in die departement aangespoor om dieselfde te doen.”
14. Wat leer ons uit die goeie samewerking tussen Timoteus en die apostel Paulus?
14 Timoteus, ’n jonger man, het jare lank saam met die apostel Paulus gedien. (Lees Filippense 2:20-22.) Paulus het aan die Korintiërs geskryf: “Ek [stuur] Timoteus na julle toe, aangesien hy my geliefde en getroue kind in die Here is; en hy sal julle herinner aan my metodes in verband met Christus Jesus, net soos ek oral in elke gemeente leer” (1 Kor. 4:17). Hierdie woorde toon dat Paulus en Timoteus goed saamgewerk het. Paulus het tyd ingeruim om Timoteus sy “metodes in verband met Christus” te leer. Timoteus was ’n goeie leerling, en Paulus het baie lief vir hom geword. Paulus was vol vertroue dat Timoteus kon omsien na die geestelike behoeftes van die gemeente in Korinte. Ouer manne kan gerus hierdie goeie voorbeeld navolg terwyl hulle ander manne oplei om die leiding in die gemeente te neem.
ELKEEN VAN ONS SPEEL ’N BELANGRIKE ROL
15. Hoe kan Paulus se raad aan Christene in Rome ons help as ons deur veranderinge geraak word?
15 Ons lewe in opwindende tye. Die aardse deel van Jehovah se organisasie brei uit, maar uitbreiding bring veranderinge mee. Wanneer veranderinge ons persoonlik raak, moet ons nederig bly en Jehovah se belange eerste stel, nie ons eie nie. Dit sal eenheid bevorder. Paulus het aan Christene in Rome geskryf: “Ek [sê] vir elkeen daar onder julle om nie meer van homself te dink as wat dit nodig is om te dink nie, maar om só te dink dat hy ’n gesonde verstand het, elkeen na die maat van geloof wat God aan hom toebedeel het. Want net soos ons in een liggaam baie lede het, maar die lede nie almal dieselfde funksie het nie, so is ons, hoewel baie, een liggaam in eenheid met Christus.”—Rom. 12:3-5.
16. Wat kan elke Christen doen om vrede en eenheid in Jehovah se organisasie te bevorder?
16 Laat ons almal die belange van Jehovah se Koninkryk bevorder, ongeag ons omstandighede. Ouer broers, doen julle bes om jonger broers op te lei. Jonger broers, aanvaar verantwoordelikheid, wees beskeie en bly respekvol teenoor ouer broers. Vrouens, volg die voorbeeld van Aquila se vrou, Priscilla. Sy het Aquila getrou ondersteun toe hulle omstandighede verander het.—Hand. 18:2.
17. Watter vertroue het Jesus in sy dissipels gestel, en waarvoor het hy hulle opgelei?
17 Jesus het die beste voorbeeld daarin gestel om ander op te lei om meer verantwoordelikheid te aanvaar. Hy het geweet dat sy aardse bediening tot ’n einde sou kom en dat ander sy werk sou voortsit. Al was sy dissipels onvolmaak, het hy vertroue in hulle gestel en vir hulle gesê dat hulle groter werke as hy sou doen (Joh. 14:12). Hy het hulle deeglik opgelei, en hulle het die goeie nuus regoor die destyds bekende wêreld verkondig.—Kol. 1:23.
18. Wat lê in die toekoms voor, en wat kan ons nou doen?
18 Ná Jesus se offerdood is hy tot hemelse lewe opgewek en het hy meer werk ontvang, sowel as gesag “ver bo elke regering en gesag en mag en heerskappy” (Ef. 1:19-21). As ons voor Armageddon getrou sterf, sal ons ’n opstanding in die regverdige nuwe wêreld ontvang, waar daar oorgenoeg bevredigende werk sal wees om te doen. Maar ’n lewensbelangrike werk word nou gedoen en ons almal kan daaraan deelneem—die werk om die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak. Mag ons almal, jonk en oud, sorg dat ons “altyd baie het om in die werk van die Here te doen”.—1 Kor. 15:58.