STUDIEARTIKEL 24
Jehovah – Die beste voorbeeld van vergifnis
“U, o Jehovah, is goed en vergewe vryelik. U is vol lojale liefde vir almal wat u aanroep.” – PS. 86:5.
LIED 42 Die gebed van God se kneg
IN HIERDIE ARTIKELa
1. Wat het koning Salomo ons in Prediker 7:20 geleer?
KONING Salomo het geskryf: “Daar is geen regverdige mens op die aarde wat altyd doen wat goed is en nooit sondig nie” (Pred. 7:20). Dit is so waar! Ons is almal sondaars (1 Joh. 1:8). So ons het almal vergifnis van God en van ander mense nodig.
2. Hoe voel jy wanneer ’n goeie vriend jou vergewe?
2 Dalk kan jy aan ’n tyd dink toe jy ’n goeie vriend seergemaak het. Jy wou dinge regmaak en julle vriendskap herstel, en daarom het jy uit die hart uit jammer gesê. Hoe het jy gevoel toe jou vriend jou vryelik vergewe het? Verlig? Ja, en ook gelukkig.
3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
3 Ons wil hê dat Jehovah ons beste Vriend moet wees, maar soms sal ons dinge sê of doen wat hom seermaak. Maar hoekom kan ons seker wees dat Jehovah ons graag wil vergewe? Hoe verskil dit wanneer Jehovah iemand vergewe en wanneer ons iemand vergewe? En laastens, wie kan God se vergifnis verkry?
JEHOVAH IS GEREED OM TE VERGEWE
4. Hoekom kan ons seker wees dat Jehovah gereed is om te vergewe?
4 God se Woord verseker ons dat Jehovah gereed is om te vergewe. Toe Jehovah homself aan Moses by die berg Sinai beskryf het, het hy deur middel van ’n engel gesê: “Jehovah, Jehovah, ’n God wat genadig is en medelye betoon, wat nie gou kwaad word nie en vol lojale liefde en waarheid is, wat lojale liefde aan duisende betoon, wat ongehoorsaamheid en oortreding en sonde vergewe” (Eks. 34:6, 7). Jehovah is ’n liefdevolle en genadige God wat altyd gereed is om berouvolle sondaars te vergewe. – Neh. 9:17; Ps. 86:15.
Jehovah weet wat alles in ons lewe gebeur het wat ons die soort mense gemaak het wat ons is (Sien paragraaf 5)
5. Volgens Psalm 103:13, 14, wat motiveer Jehovah se kennis oor mense hom om te doen?
5 As ons Skepper weet Jehovah alles omtrent ons. Dink net! Hy ken elke liewe detail oor elke persoon op hierdie aarde (Ps. 139:15-17). So hy kan al die onvolmaakthede sien wat ons by ons ouers geërf het. Hy weet selfs wat in ons lewe gebeur het wat ons die soort mense gemaak het wat ons is. Wat motiveer Jehovah se kennis oor mense hom om te doen? Dit motiveer hom om genadig teenoor ons te wees. – Ps. 78:39; lees Psalm 103:13, 14.
6. Hoe het Jehovah gewys dat hy ons graag wil vergewe?
6 Jehovah het gewys dat hy ons graag wil vergewe. Hy verstaan dat ons almal sondaars is en uiteindelik sal sterf as gevolg van die dinge wat die eerste mens, Adam, gedoen het (Rom. 5:12). Ons kan niks doen om te keer dat ons of enige ander persoon sondig en sterf nie (Ps. 49:7-9). Maar ons liefdevolle God het meegevoel betoon en iets gedoen om ons te bevry. Wat het hy gedoen? Soos Johannes 3:16 wys, het Jehovah sy eniggebore Seun gestuur om vir ons te sterf (Matt. 20:28; Rom. 5:19). Jesus het ons plek ingeneem – Hy het gesterf sodat alle mense wat geloof in hom het, bevry kan word (Heb. 2:9). Dit was baie moeilik vir Jehovah om te sien hoe sy geliefde Seun op ’n pynlike en vernederende manier sterf! Jehovah sou beslis nie toegelaat het dat sy Seun sterf as Hy ons nie wou vergewe nie.
7. Wat is party Bybelvoorbeelde van mense wat vryelik deur Jehovah vergewe is?
7 Die Bybel is vol voorbeelde van mense wat vryelik deur Jehovah vergewe is (Ef. 4:32). Aan wie dink jy? Dalk dink jy aan koning Manasse. Daardie goddelose man het op verskriklike maniere teen Jehovah gesondig. Hy het die leiding geneem in valse aanbidding. Hy het sy eie kinders doodgemaak en hulle as offerandes aan valse gode geoffer. Hy het selfs sover gegaan as om ’n beeld van ’n valse god in Jehovah se heilige tempel te sit. Die Bybel sê die volgende oor hom: “Hy het baie dinge gedoen wat sleg is in Jehovah se oë en hom aanstoot gegee” (2 Kron. 33:2-7). Maar toe Manasse opreg berou getoon het, het Jehovah hom vryelik vergewe. God het hom selfs toegelaat om weer as koning te dien (2 Kron. 33:12, 13). Dalk dink jy ook aan koning Dawid, wat ernstige sondes teen Jehovah gepleeg het, insluitende egbreuk en moord. Maar toe Dawid opreg berou getoon het en sy fout erken het, het Jehovah hom ook vergewe (2 Sam. 12:9, 10, 13, 14). Ja, ons kan seker wees dat Jehovah ons graag wil vergewe. En soos ons sal sien, is die manier waarop Jehovah vergewe anders as die manier waarop mense vergewe.
DIE UNIEKE MANIER WAAROP JEHOVAH VERGEWE
8. Watter uitwerking het die feit dat Jehovah die beste Regter is op die manier waarop hy vergewe?
8 Jehovah is “die Regter van die hele aarde” (Gen. 18:25). ’n Goeie regter moet die wet baie goed verstaan. Dit is beslis so in Jehovah se geval, want hy is nie net ons Regter nie, maar hy is ook ons Wetgewer (Jes. 33:22). Niemand behalwe Jehovah het so ’n diep en sterk gevoel vir wat reg en verkeerd is nie. Wat moet ’n goeie regter nog doen? Hy moet eers seker maak van al die feite van ’n saak voordat hy sy besluit maak. So Jehovah is die beste Regter omdat hy altyd al die feite het.
9. Wat weet Jehovah wanneer hy besluit om iemand te vergewe of nie?
9 Anders as menseregters verstaan Jehovah altyd al die feite van enige saak (Gen. 18:20, 21; Ps. 90:8). Hy is nie beperk deur wat mense sien of hoor nie. Hy verstaan heeltemal hoe die dinge wat ’n persoon doen, beïnvloed word deur die eienskappe wat hy by sy ouers geërf het, sy opvoeding, waar hy bly en ook sy emosionele en verstandelike gesondheid. Jehovah lees ook die hart. Hy verstaan elke persoon se beweegredes, bedoelings en begeertes ten volle. Niks kan vir Jehovah weggesteek word nie (Heb. 4:13). So wanneer Jehovah ’n persoon vergewe, is dit omdat hy al die feite van ’n situasie ken.
Jehovah is regverdig en onpartydig. Hy kan nie omgekoop word nie (Sien paragraaf 10)
10. Hoekom kan ons sê dat die manier waarop Jehovah oordeel altyd regverdig is? (Deuteronomium 32:4)
10 Die manier waarop Jehovah oordeel, is altyd regverdig. Hy is heeltemal onpartydig. Jehovah vergewe nooit iemand omdat hy mooi, ryk of belangrik is of baie talente het nie (1 Sam. 16:7; Jak. 2:1-4). Niemand kan druk op Jehovah plaas of hom omkoop om iets te doen nie (2 Kron. 19:7). Hy neem nooit besluite omdat hy gefrustreerd of sentimenteel is nie (Eks. 34:7). Jehovah is beslis die beste Regter omdat hy alles omtrent ons en ons situasie verstaan. – Lees Deuteronomium 32:4.
11. Hoe is die manier waarop Jehovah vergewe anders as die manier waarop mense vergewe?
11 Die skrywers van die Hebreeuse Geskrifte het erken dat die manier waarop Jehovah vergewe, anders is as die manier waarop mense vergewe. In party gevalle het hulle ’n Hebreeuse woord gebruik wat volgens een naslaanwerk “net gebruik word om te beskryf hoe God sondaars vergewe. Daardie woord beskryf nooit die beperkte manier waarop een mens ’n ander mens vergewe nie.” Net Jehovah het die vermoë om ’n berouvolle sondaar heeltemal te vergewe. Wat gebeur wanneer Jehovah ons vergewe?
12-13. (a) Wat geniet ’n persoon wanneer hy deur Jehovah vergewe word? (b) Hoe lank hou die voordele van Jehovah se vergifnis?
12 Wanneer ons aanvaar dat Jehovah ons vergewe het, geniet ons “tye van verfrissing”, insluitende innerlike vrede en ’n skoon gewete. Sulke vergifnis kan nie van mense af kom nie, maar moet van “Jehovah self” af kom (Hand. 3:19). Wanneer Jehovah ons vergewe, herstel hy sy verhouding met ons in so ’n mate dat dit is asof ons nooit gesondig het nie.
13 Wanneer Jehovah ons vergewe, sal hy ons nooit weer beskuldig of weer vir daardie sonde straf nie (Jes. 43:25; Jer. 31:34). Jehovah verwyder ons sondes “so ver as wat die sonsopkoms van die sonsondergang is” (Ps. 103:12).b Ons is so beïndruk en dankbaar wanneer ons nadink oor hoe groot Jehovah se vergifnis is (Ps. 130:4). Maar wie kan deur Jehovah vergewe word?
WIE SAL DEUR JEHOVAH VERGEWE WORD?
14. Wat het ons sover geleer oor hoekom Jehovah ’n persoon sal vergewe of nie?
14 Soos ons gesien het, hang Jehovah se besluit om iemand te vergewe nie af van hoe groot of klein die sonde was nie. Ons het ook geleer dat Jehovah sy kennis as ons Skepper, Wetgewer en Regter gebruik wanneer hy besluit of hy iemand sal vergewe of nie. Aan watter dinge dink Jehovah voordat hy besluit of hy iemand sal vergewe of nie?
15. Volgens Lukas 12:47, 48, wat is een faktor waaraan Jehovah dink?
15 Een faktor waaraan Jehovah dink, is of die sondaar geweet het dat die dinge wat hy doen, verkeerd is. Jesus het dit duidelik gemaak soos ons kan sien in Lukas 12:47, 48. (Lees.) ’n Persoon wat beplan om iets goddeloos te doen en wat weet dat hy iets doen wat Jehovah sal seermaak, pleeg ’n ernstige sonde. Jehovah kan besluit dat hy daardie persoon nie sal vergewe nie (Mark. 3:29; Joh. 9:41). Maar ons moet erken dat ons soms weet dat die dinge wat ons gedoen het, verkeerd is. Is daar enige hoop vir ons in daardie geval? Ja, want daar is nog iets waaraan Jehovah dink wanneer hy besluit om ons te vergewe of nie.
Ons kan vertrou dat Jehovah ons sal vergewe as ons regtig berouvol is (Sien paragraaf 16-17)
16. Wat is berou, en hoekom is dit baie belangrik as ons wil hê dat Jehovah ons moet vergewe?
16 Nog iets waaraan Jehovah dink, is of die sondaar regtig berouvol is. Wat beteken dit om berou te toon? Om berou te toon, beteken “om jou gedagtes, gesindheid of doelwit te verander”. Dit sluit die idee in dat ’n persoon spyt en baie jammer is oor die slegte dinge wat hy gedoen het of omdat hy nie die dinge gedoen het wat hy moes doen nie. ’n Berouvolle persoon is nie net hartseer oor die slegte dinge wat hy gedoen het nie, maar ook oor sy swak geestelike toestand, wat veroorsaak het dat hy daardie slegte dinge doen. Onthou dat koning Manasse en koning Dawid ernstige sondes gepleeg het, en tog het Jehovah hulle vergewe omdat hulle regtig berouvol was (1 Kon. 14:8). Ja, Jehovah vergewe ons net as hy sien dat ons berouvol is. Maar dit is nie genoeg vir ons om jammer te voel oor die sondes wat ons gepleeg het nie. Ons moet gereed wees om iets te doen.c Dit bring ons by nog iets waaraan Jehovah dink.
17. Wat is bekering, en hoekom is dit baie belangrik as ons nie weer vorige sondes wil pleeg nie? (Jesaja 55:7)
17 Bekering is nog iets belangriks waaraan Jehovah dink. Bekering beteken om “om te draai”. Met ander woorde, ’n persoon moet ophou om slegte dinge te doen en op ’n manier begin lewe waarop Jehovah wil hê mense moet lewe. (Lees Jesaja 55:7.) Die persoon moet sy denkwyse verander sodat hy gelei kan word deur die denkwyse van Jehovah (Rom. 12:2; Ef. 4:23). Hy moet vasbeslote wees om sy slegte gedagtes en dade agter te laat (Kol. 3:7-10). Dit is natuurlik ons geloof in die offerande van Christus wat die ware rede is hoekom Jehovah ons vergewe en ons van sondes reinig. Jehovah sal ons op grond van daardie offerande vergewe wanneer hy sien dat ons regtig hard probeer om ons gedrag te verander. – 1 Joh. 1:7.
VERTROU DAT JEHOVAH JOU SAL VERGEWE
18. Wat het ons bespreek oor die manier waarop Jehovah vergewe?
18 Kom ons hersien kortliks ’n paar van die belangrike punte wat ons bespreek het. Jehovah is regtig die beste voorbeeld van vergifnis in die heelal. Hoekom kan ons dit sê? Eerstens, hy is altyd gereed om te vergewe. Tweedens, hy ken ons deur en deur. Hy weet alles omtrent ons, en hy is in die beste posisie om te bepaal of ons regtig berouvol is. En derdens, wanneer Jehovah ons vergewe, gee hy ons so te sê ’n nuwe blaadjie. Dit laat ons toe om ’n skoon gewete te hê en om sy goedkeuring te geniet.
19. Hoekom kan ons vreugdevol wees, al is ons onvolmaak en sal ons aanhou sondig?
19 Solank as wat ons onvolmaak is, sal ons natuurlik aanhou sondig. Maar die woorde in Insight on the Scriptures, deel 2, bladsy 771, kan ons vertroos. Dit sê: “Jehovah is genadig en hy weet dat sy knegte swak is. So hulle hoef nie hulleself heeltyd te verwyt omdat hulle onvolmaak is en foute maak nie (Ps. 103:8-14; 130:3). As hulle hulle bes doen om volgens God se wette te lewe, kan hulle vreugdevol wees (Fil. 4:4-6; 1 Joh. 3:19-22).” Dit is ’n baie aanmoedigende gedagte!
20. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
20 Ons is dankbaar dat Jehovah gereed is om ons te vergewe wanneer ons regtig jammer is oor die sondes wat ons gepleeg het. Maar hoe kan ons die manier waarop Jehovah vergewe, navolg? Hoe is die manier waarop ons vergewe, dieselfde as die manier waarop Jehovah vergewe, maar hoe is dit anders? Hoekom is dit belangrik dat ons daardie verskil moet verstaan? Die volgende artikel sal hierdie vrae beantwoord.
LIED 45 Die bepeinsing van my hart
a In sy Woord verseker Jehovah ons dat hy bereid is om berouvolle sondaars te vergewe. Maar soms voel ons dalk dat ons nie sy vergifnis verdien nie. In hierdie artikel sal ons bespreek hoekom ons seker kan wees dat ons God altyd gereed is om ons te vergewe wanneer ons regtig jammer is oor die sondes wat ons gepleeg het.
b Sien die boek Kom nader aan Jehovah, hfst. 26, par. 9.
c WAT DIT BETEKEN: “Berou” verwys na ’n verandering van denke wat gepaardgaan met opregte spyt oor ’n vorige lewenswyse, oor verkeerde dade of oor iets wat ’n mens moes doen, maar nie gedoen het nie. Opregte berou bring vrugte voort, naamlik ’n verandering in gedrag.