Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt Eksodus 1:1-40:38
  • Eksodus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Eksodus
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Eksodus

EKSODUS

1 En dít is die name van Israel se seuns wat saam met Jakob na Egipte gekom het, elke man wat saam met sy huisgesin gekom het:+ 2 Ruben, Siʹmeon, Levi, Juda,+ 3 Isʹsaskar, Seʹbulon, Benjamin, 4 Dan, Nafʹtali, Gad en Aser.+ 5 Jakob het altesaam 70 nakomelinge gehad, maar Josef was reeds in Egipte.+ 6 Uiteindelik het Josef gesterf,+ en al sy broers en daardie hele geslag het ook gesterf. 7 En die Israeliete het kinders gehad en baie vermeerder, en hulle het baie geword en buitengewoon vinnig magtiger geword, en die land het vol van hulle geword.+

8 Ná verloop van tyd het ’n nuwe koning oor Egipte begin regeer, wat niks van Josef geweet het nie. 9 Toe het hy vir sy volk gesê: “Die volk Israel is groter en magtiger as ons.+ 10 Ons moet verstandig wees en iets doen, want anders sal hulle aanhou vermeerder. As daar oorlog uitbreek, sal hulle by ons vyande aansluit en teen ons veg en die land verlaat.”

11 Toe het hulle toesighouers* oor hulle aangestel om hulle te onderdruk deur hulle baie hard te laat werk.+ En hulle het stede vir Farao gebou waar hy voorraad kon stoor, naamlik Pitom en Raämses.+ 12 Maar hoe meer hulle hulle onderdruk het, hoe meer het hulle vermeerder en hoe meer het hulle versprei. Daarom het die Egiptenare baie bang geword as gevolg van die Israeliete.+ 13 Die Egiptenare het die Israeliete dus gedwing om harde slawewerk+ te doen. 14 Hulle het hulle lewe moeilik gemaak deur hulle baie hard te laat werk. Hulle het hulle messelklei en stene laat maak en het hulle baie hard in die veld laat werk. Die Egiptenare het hulle mishandel en het hulle allerhande slawewerk+ laat doen.

15 Later het die koning van Egipte met die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua gepraat 16 en vir hulle gesê: “Wanneer julle die Hebreeuse vrouens help om geboorte te gee+ en julle sien dat dit ’n seuntjie is, moet julle hom doodmaak, maar as dit ’n dogtertjie is, moet julle haar laat lewe.” 17 Maar die vroedvroue het die ware God gevrees, en hulle het nie gedoen wat die koning van Egipte vir hulle gesê het om te doen nie. Hulle het die seuntjies laat lewe.+ 18 Ná verloop van tyd het die koning van Egipte die vroedvroue geroep en vir hulle gevra: “Hoekom het julle die seuntjies laat lewe?” 19 Die vroedvroue het vir Farao gesê: “Die Hebreeuse vrouens is nie soos die Egiptiese vrouens nie. Hulle is so sterk dat hulle al klaar geboorte gegee het nog voordat die vroedvrou by hulle kom.”

20 Daarom het God dit goed laat gaan met die vroedvroue, en die volk het aangehou om te vermeerder en het baie magtig geword. 21 En omdat die vroedvroue die ware God gevrees het, het hy later vir hulle gesinne gegee. 22 Uiteindelik het Farao sy hele volk beveel: “Julle moet al die pasgebore seuntjies van die Hebreërs in die Nylrivier gooi, maar julle moet al die dogtertjies laat lewe.”+

2 In daardie tyd het ’n man van die huis van Levi met ’n dogter van Levi getrou.+ 2 En die vrou het swanger geword en aan ’n seun geboorte gegee. Toe sy sien hoe mooi hy is, het sy hom drie maande lank weggesteek.+ 3 Toe sy hom nie langer kon wegsteek nie,+ het sy ’n mandjie* van papirus geneem en dit met asfalt en pik bedek en die kind daarin gesit, en sy het dit tussen die riete aan die oewer van die Nylrivier gesit. 4 Sy suster+ het op ’n afstand gestaan om te sien wat met hom sou gebeur.

5 Toe Farao se dogter afgekom het om in die Nylrivier te bad, het haar diensmeisies langs die Nylrivier geloop. Sy het die mandjie tussen die riete gesien en haar slavin onmiddellik gestuur om dit te gaan haal.+ 6 Toe sy dit oopmaak, het sy die kind gesien. Die seuntjie het gehuil, en sy het vir hom jammer gevoel, maar sy het gesê: “Dit is een van die Hebreërs se kinders.” 7 Toe het sy suster vir Farao se dogter gevra: “Moet ek ’n Hebreeuse vrou gaan roep om die kind vir u te borsvoed en te versorg?” 8 Farao se dogter het vir haar gesê: “Gaan!” Die meisie het dadelik die kind se ma+ gaan roep. 9 Farao se dogter het toe vir haar gesê: “Neem hierdie kind saam met jou en borsvoed hom vir my, en ek sal jou betaal.” Die vrou het die kind dus geneem en hom geborsvoed. 10 Toe die kind ouer geword het, het sy hom na Farao se dogter gebring, en hy het vir haar ’n seun geword.+ Sy het hom Moses* genoem en gesê: “Dit is omdat ek hom uit die water getrek het.”+

11 Toe Moses groot was, het hy op ’n dag na sy Hebreeuse broers gegaan. Hy het gesien hoe hard hulle moes werk,+ en hy het ook gesien hoe ’n Egiptenaar een van sy Hebreeuse broers slaan. 12 Hy het rondgekyk, en toe hy niemand sien nie, het hy die Egiptenaar doodgemaak en hom in die sand weggesteek.+

13 Toe hy die volgende dag uitgegaan het, het hy twee Hebreeuse mans met mekaar sien baklei. Hy het vir die een wat verkeerd was, gevra: “Hoekom slaan jy jou vriend?”+ 14 Die man het geantwoord: “Wie het jou as leier en regter oor ons aangestel? Is jy van plan om my dood te maak, net soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?”+ Moses het toe bang geword en gesê: “Die saak het beslis bekend geword!”

15 Later het Farao hiervan gehoor, en hy het Moses probeer doodmaak, maar Moses het van Farao af na die land Miʹdian+ gevlug om daar te gaan woon. Daar het hy by ’n put gaan sit. 16 En die priester van Miʹdian+ het sewe dogters gehad. Hulle het gekom om water te skep en om die drinkbakke vol te maak sodat hulle hulle pa se kleinvee water kon gee. 17 Maar soos gewoonlik het die herders gekom en hulle weggejaag. Moses het opgestaan en die vrouens gehelp* en hulle kleinvee water gegee. 18 Toe hulle by die huis kom by hulle pa, Reʹhuel,*+ het hy verbaas gevra: “Hoe het julle vandag so gou huis toe gekom?” 19 Hulle het geantwoord: “’n Egiptenaar+ het ons van die herders gered, en hy het selfs vir ons water geskep en die kleinvee water gegee.” 20 Hy het vir sy dogters gesê: “Maar waar is hy? Hoekom het julle die man nie saamgebring nie? Roep hom sodat hy saam met ons kan eet.” 21 Daarna het Moses ingestem om by die man te woon, en hy het sy dogter Sippoʹra+ aan Moses as vrou gegee. 22 Later het sy aan ’n seun geboorte gegee, en hy het hom Gersom*+ genoem, want hy het gesê: “Ek het ’n uitlander in ’n vreemde land geword.”+

23 Ná ’n lang tyd het die koning van Egipte gesterf,+ maar die Israeliete was nog steeds slawe en het gesug en gekla as gevolg van die slawerny, en hulle geroep om hulp het tot die ware God bly opgaan.+ 24 Met verloop van tyd het God gehoor hoe hulle sug,+ en God het aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink.+ 25 God het gesien hoe die Israeliete ly en het aandag geskenk aan hulle situasie.

3 Moses het ’n herder geword en die kleinvee van sy skoonpa Jetro,+ die priester van Miʹdian, opgepas. Op ’n dag het hy die kleinvee na die westekant van die wildernis gelei en gekom by die berg van die ware God, by Horeb.+ 2 Toe het Jehovah se engel in ’n vuurvlam in ’n doringbos aan hom verskyn.+ Terwyl hy bly kyk het, het hy gesien dat die doringbos aan die brand is, en tog het die doringbos nie uitgebrand nie. 3 Moses het toe gesê: “Dit is vreemd dat die doringbos nie uitbrand nie. Ek wil gaan kyk wat daar aangaan.” 4 Toe Jehovah sien dat hy nader kom om te kyk, het God vanuit die doringbos na hom geroep en gesê: “Moses! Moses!” En hy het gesê: “Hier is ek.” 5 Toe het hy gesê: “Moenie nog nader kom nie. Trek jou sandale uit, want jy staan op heilige grond.”

6 Hy het verder gesê: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham,+ die God van Isak+ en die God van Jakob.”+ Toe het Moses sy gesig toegemaak, want hy was bang om na die ware God te kyk. 7 Jehovah het bygevoeg: “Ek het gesien hoe swaar my volk in Egipte kry, en ek het gehoor hoe hulle uitroep as gevolg van dié wat hulle dwing om te werk. Ek is bewus van hoe hulle ly.+ 8 Ek sal neerdaal om hulle uit die hand van die Egiptenare te red+ en om hulle uit daardie land te lei na ’n goeie en uitgestrekte land, ’n land wat oorloop van melk en heuning,+ die gebied van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Perissiete, die Hewiete en die Jebusiete.+ 9 Kyk, ek het die uitroepe van die Israeliete gehoor, en ek het ook gesien hoe die Egiptenare hulle onderdruk.+ 10 Daarom sal ek jou na Farao toe stuur, en jy sal my volk, die Israeliete, uit Egipte uitlei.”+

11 Maar Moses het vir die ware God gesê: “Wie is ek om na Farao toe te gaan en die Israeliete uit Egipte uit te lei?” 12 Hy het gesê: “Ek sal met jou wees,+ en dít sal vir jou die teken wees dat ek jou gestuur het: Nadat jy die volk uit Egipte uitgelei het, sal julle die ware God op hierdie berg+ dien.”*

13 Maar Moses het vir die ware God gesê: “Sê nou ek gaan na die Israeliete en sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra my: ‘Wat is sy naam?’+ Wat moet ek vir hulle sê?” 14 God het vir Moses gesê: “Ek sal word wat ek besluit om te word.”*+ En hy het bygevoeg: “Dít is wat jy vir die Israeliete moet sê: ‘“Ek sal word” het my na julle toe gestuur.’”+ 15 Toe het God verder vir Moses gesê:

“Dít is wat jy vir die Israeliete moet sê: ‘Jehovah, die God van julle voorvaders, die God van Abraham,+ die God van Isak+ en die God van Jakob,+ het my na julle toe gestuur.’ Dit is my naam vir ewig,+ en dit is hoe ek van geslag tot geslag onthou moet word. 16 Gaan nou en roep die ouermanne van Israel bymekaar en sê vir hulle: ‘Jehovah, die God van julle voorvaders, het aan my verskyn, die God van Abraham, Isak en Jakob, en hy het gesê: “Ek het aandag geskenk aan julle+ en aan wat in Egipte aan julle gedoen word. 17 Daarom sê ek vir julle: Ek sal julle verlos van die lyding+ wat die Egiptenare oor julle bring en julle lei na die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete,+ die Perissiete, die Hewiete en die Jebusiete,+ na ’n land wat oorloop van melk en heuning.”’+

18 “Hulle sal beslis na jou stem luister,+ en jy en die ouermanne van Israel moet na die koning van Egipte toe gaan en vir hom sê: ‘Jehovah, die God van die Hebreërs,+ het met ons gekommunikeer. Laat ons dus asseblief toe om drie dagreise ver in die wildernis in te gaan, sodat ons offerandes aan Jehovah ons God kan bring.’+ 19 Maar ek weet goed dat die koning van Egipte julle nie toestemming sal gee om te gaan nie, tensy hy deur ’n magtige hand gedwing word.+ 20 Ek sal dus my hand moet uitstrek en Egipte moet tref met al my buitengewone dade wat ek daarin sal doen, en daarna sal hy julle uitstuur.+ 21 Ek sal sorg dat die Egiptenare goed is vir hierdie volk, en wanneer julle gaan, sal julle beslis nie met leë hande gaan nie.+ 22 Elke vrou moet haar buurvrou en die vrou wat in haar huis woon vir silwervoorwerpe en goue voorwerpe sowel as klere vra, en julle moet julle seuns en julle dogters dit laat dra. So sal julle die Egiptenare stroop.”+

4 Moses het geantwoord: “Maar sê nou hulle glo my nie en luister nie na my nie?+ Want hulle sal sê: ‘Jehovah het nie aan jou verskyn nie.’” 2 Toe het Jehovah vir hom gesê: “Wat is dit in jou hand?” Moses het geantwoord: “’n Staf.” 3 Hy het gesê: “Gooi dit op die grond.” Toe Moses dit op die grond gooi, het dit ’n slang geword,+ en Moses het weggehardloop van die slang af. 4 Jehovah het vir Moses gesê: “Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert.” Toe het hy sy hand uitgesteek en dit gegryp, en dit het ’n staf in sy hand geword. 5 God het toe gesê: “Doen dit sodat hulle kan glo dat Jehovah, die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob,+ aan jou verskyn het.”+

6 Jehovah het verder vir hom gesê: “Sit asseblief jou hand in die boonste vou van jou kleed.” Moses het toe sy hand in die vou van sy kleed gesit. Toe hy dit uittrek, was sy hand vol melaatsheid, so wit soos sneeu!+ 7 Daarna het hy gesê: “Sit jou hand weer in die boonste vou van jou kleed.” Moses het sy hand weer in sy kleed gesit, en toe hy sy hand uittrek, was dit weer gesond soos die res van sy liggaam! 8 Hy het gesê: “As hulle jou nie wil glo nie en die eerste teken nie vir hulle genoeg is nie, sal die tweede teken+ hulle beslis oortuig. 9 Maar as hulle nie hierdie twee tekens glo nie en hulle weier om na jou stem te luister, moet jy ’n bietjie water uit die Nylrivier neem en dit op die droë grond uitgooi, en die water wat jy uit die Nylrivier neem, sal op die droë grond in bloed verander.”+

10 Moses het toe vir Jehovah gesê: “Verskoon my, Jehovah, maar ek was nog nooit ’n goeie spreker nie, nie in die verlede nie en ook nie nou, nadat u met u kneg gepraat het nie. Want ek kan nie vlot praat nie, en my tong sukkel om te praat.”*+ 11 Jehovah het vir hom gesê: “Wie het vir die mens ’n mond gemaak, of wie maak hom stom, doof, skerpsiende of blind? Is dit nie ek, Jehovah, nie? 12 Gaan dan nou, en ek sal met jou wees terwyl jy praat,* en ek sal jou vertel wat jy moet sê.”+ 13 Maar hy het gesê: “Verskoon my, Jehovah, stuur asseblief iemand anders, net wie u wil.” 14 Toe het Jehovah kwaad geword vir Moses, en hy het gesê: “Wat van jou broer Aäron,+ die Leviet? Ek weet dat hy ’n goeie spreker is. Hy is nou op pad hierheen om jou te ontmoet, en hy sal bly wees om jou te sien.+ 15 Praat met hom en sê vir hom wat hy moet sê,+ en ek sal met jou en met hom wees terwyl julle praat,+ en ek sal julle vertel wat julle moet doen. 16 Hy sal namens jou met die volk praat. Hy sal jou woordvoerder wees, en jy sal vir hom as God dien.*+ 17 En jy moet hierdie staf in jou hand neem en die tekens daarmee doen.”+

18 Toe het Moses na sy skoonpa, Jetro,+ teruggegaan en vir hom gesê: “Ek wil asseblief na my broers in Egipte teruggaan om te sien of hulle nog lewe.” Jetro het vir Moses gesê: “Gaan in vrede.” 19 Daarna het Jehovah vir Moses in Miʹdian gesê: “Gaan, keer terug na Egipte, want al die manne wat jou wou doodmaak,* het gesterf.”+

20 Toe het Moses sy vrou en sy seuns op ’n donkie gesit en na Egipte teruggekeer. Hy het ook die staf van die ware God in sy hand geneem. 21 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Nadat jy na Egipte teruggekeer het, moet jy sorg dat jy al die wonderwerke voor Farao doen wat ek jou die krag gegee het om te doen.+ Maar ek sal toelaat dat hy hardkoppig word,*+ en hy sal die volk nie wegstuur nie.+ 22 Jy moet vir Farao sê: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Israel is my seun, my eersgeborene.+ 23 Ek sê vir jou: Stuur my seun weg sodat hy my kan dien. Maar as jy weier om hom weg te stuur, gaan ek jou seun, jou eersgeborene, doodmaak.”’”+

24 Terwyl hulle op pad oornag het, het Jehovah+ na hom toe gekom en hom probeer doodmaak.+ 25 Uiteindelik het Sippoʹra+ ’n mes van vuurklip geneem en haar seun besny en sy voorhuid aan sy voete laat raak en gesê: “Dit is omdat jy vir my ’n bloedbruidegom is.” 26 Daarom het Hy hom laat gaan. Sy het “’n bloedbruidegom” gesê as gevolg van die besnydenis.

27 Jehovah het vir Aäron gesê: “Gaan in die wildernis in om Moses te ontmoet.”+ Hy het toe gegaan en hom by die berg van die ware God ontmoet+ en hom met ’n soen gegroet. 28 En Moses het vir Aäron vertel wat Jehovah alles gesê het+ en van al die tekens wat Hy hom beveel het om te doen.+ 29 Daarna het Moses en Aäron gegaan en al die ouermanne van die Israeliete bymekaar laat kom.+ 30 Aäron het hulle vertel wat Jehovah alles vir Moses gesê het, en hy het die tekens+ voor die oë van die volk gedoen. 31 Daarna het die volk geglo.+ Toe hulle hoor dat Jehovah aan die Israeliete gedink het+ en dat hy hulle lyding gesien het,+ het hulle op hulle knieë gegaan en neergebuig.

5 Daarna het Moses en Aäron na Farao gegaan en vir hom gesê: “Dít is wat Jehovah, die God van Israel, sê: ‘Stuur my volk weg sodat hulle in die wildernis vir my ’n fees kan vier.’” 2 Maar Farao het gesê: “Wie is Jehovah+ dat ek sy stem moet gehoorsaam en Israel moet wegstuur?+ Ek ken Jehovah glad nie, en wat meer is, ek sal Israel nie wegstuur nie.”+ 3 Hulle het gesê: “Die God van die Hebreërs het met ons gekommunikeer. Ons wil asseblief drie dagreise ver in die wildernis in gaan en offerandes bring aan Jehovah ons God.+ Anders sal hy ons met siekte of met die swaard tref.” 4 Die koning van Egipte het hulle geantwoord: “Moses en Aäron, hoekom hou julle die volk uit die werk? Gaan terug na julle werk toe!”+ 5 Farao het verder gesê: “Kyk hoe groot is die volk,* en nou wil julle hê dat hulle moet ophou werk!”

6 Daardie selfde dag het Farao die taakgewers en hulle voormanne beveel: 7 “Julle moenie meer vir die volk strooi gee om stene te maak nie.+ Laat hulle self vir hulle strooi gaan bymekaarmaak. 8 Maar hulle moet nog steeds dieselfde hoeveelheid stene maak as voorheen. Moet dit nie vir hulle verminder nie, want hulle is lui. Daarom roep hulle uit: ‘Ons wil gaan, ons wil aan ons God offerandes bring!’ 9 Laat hulle harder werk en hou hulle besig, sodat hulle nie aandag sal skenk aan leuens nie.”

10 Toe het die taakgewers+ en hulle voormanne uitgegaan en vir die volk gesê: “Dít is wat Farao gesê het: ‘Ek gaan nie meer vir julle strooi gee nie. 11 Gaan kry julle eie strooi waar julle dit ook al kan vind, maar julle werk sal glad nie verminder word nie.’” 12 Toe het die volk oor die hele Egipte uitgegaan om stoppels in die plek van strooi bymekaar te maak. 13 En die taakgewers het vir hulle bly sê: “Julle moet elke dag julle werk klaarmaak, net soos toe daar nog vir julle strooi gegee is.” 14 En die voormanne van die Israeliete, wat deur Farao se taakgewers oor hulle aangestel is, is geslaan.+ Hulle het vir hulle gevra: “Hoekom het julle gister en vandag nie soveel stene gemaak as wat julle gewoonlik maak nie?”

15 Die voormanne van die Israeliete het dus ingegaan en by Farao gekla: “Hoekom behandel u u knegte so? 16 Geen strooi word aan u knegte gegee nie, en tog sê hulle vir ons: ‘Maak stene!’ U knegte word geslaan, maar die skuld lê by u volk.” 17 Maar hy het gesê: “Julle is lui, julle is lui!+ Daarom sê julle: ‘Ons wil gaan, ons wil aan Jehovah offerandes bring.’+ 18 Gaan werk nou! Geen strooi sal vir julle gegee word nie, maar julle moet nog steeds dieselfde hoeveelheid stene maak.”

19 Die voormanne van die Israeliete het besef dat hulle in groot moeilikheid is omdat hulle beveel is om elke dag net soveel stene as voorheen te maak. 20 Toe hulle van Farao af weggegaan het, het hulle Moses en Aäron teëgekom, wat vir hulle gestaan en wag het. 21 Hulle het dadelik vir hulle gesê: “Mag Jehovah sien wat julle gedoen het en julle oordeel. Dit is julle skuld dat Farao en sy knegte ons haat,* en julle het ’n swaard in hulle hand gesit om ons dood te maak.”+ 22 Toe het Moses vir Jehovah gevra: “Jehovah, hoekom het u hierdie volk laat ly? Hoekom het u my gestuur? 23 Vandat ek na Farao gegaan het om in u naam te praat,+ het hy hierdie volk nog erger behandel,+ en u het niks gedoen om u volk te red nie.”+

6 Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Nou sal jy sien wat ek aan Farao sal doen.+ ’n Magtige hand sal hom dwing om hulle weg te stuur, en ’n magtige hand sal hom dwing om hulle uit sy land uit te dryf.”+

2 Toe het God vir Moses gesê: “Ek is Jehovah. 3 Ek het altyd aan Abraham, Isak en Jakob verskyn as God die Almagtige,+ maar wat my naam Jehovah+ betref, ek het my nie deur middel daarvan aan hulle geopenbaar nie.+ 4 Ek het ook ’n verbond met hulle gemaak om die land Kanaän aan hulle te gee, die land waar hulle as uitlanders gewoon het.+ 5 En ek het die gekreun van die Israeliete gehoor, wat deur die Egiptenare in slawerny gehou word, en ek het nie my verbond vergeet nie.+

6 “Daarom moet jy vir die Israeliete sê: ‘Ek is Jehovah, en ek sal julle bevry van die onderdrukking van die Egiptenare en van julle slawerny aan hulle,+ en ek sal julle met ’n uitgestrekte* arm en met groot oordele verlos.+ 7 Ek sal julle as my volk neem, en ek sal julle God wees,+ en julle sal beslis weet dat ek Jehovah is, julle God wat julle bevry van die onderdrukking van Egipte. 8 Ek sal julle in die land inbring wat ek met ’n eed belowe het* om aan Abraham, Isak en Jakob te gee, en ek sal dit aan julle as ’n besitting gee.+ Ek is Jehovah.’”+

9 Later het Moses hierdie boodskap aan die Israeliete gegee, maar hulle het nie na Moses geluister nie omdat hulle ontmoedig was en hard moes werk as slawe.+

10 Toe het Jehovah vir Moses gesê: 11 “Gaan sê vir Farao, die koning van Egipte, dat hy die Israeliete uit sy land moet wegstuur.” 12 Maar Moses het vir Jehovah gesê: “Nie eers die Israeliete het na my geluister nie.+ Hoe sal Farao ooit na my luister? Ek sukkel om te praat.”*+ 13 Maar Jehovah het weer vir Moses en Aäron gesê watter bevele hulle vir die Israeliete en vir Farao, die koning van Egipte, moet gee, sodat die Israeliete uit Egipte uitgelei kan word.

14 Dít is die hoofde van die vaderhuise: Die seuns van Ruben, Israel se eersgeborene,+ was Hanog, Pallu, Hesron en Karmi.+ Dit is die families van Ruben.

15 Die seuns van Siʹmeon was Jeʹmuel, Jamin, Ohad, Jagin, Sohar en Saul, die seun van ’n Kanaänitiese vrou.+ Dit is die families van Siʹmeon.

16 Dít is die name van die seuns van Levi,+ volgens hulle geslagslyne: Gerson, Kehat en Meraʹri.+ Levi het 137 jaar oud geword.

17 Die seuns van Gerson was Libni en Siʹmeï, volgens hulle families.+

18 Die seuns van Kehat was Amram, Jishar, Heʹbron en Usʹsiël.+ Kehat het 133 jaar oud geword.

19 Die seuns van Meraʹri was Magli en Musi.

Dit was die families van die Leviete, volgens hulle geslagslyne.+

20 En Amram het Joʹgebed, sy pa se suster, as vrou geneem.+ Sy het geboorte gegee aan Aäron en Moses.+ Amram het 137 jaar oud geword.

21 Die seuns van Jishar was Korag,+ Nefeg en Sigri.

22 Die seuns van Usʹsiël was Miʹsael, Elʹsafan+ en Sitri.

23 En Aäron het Eliseʹba, Amminaʹdab se dogter, die suster van Nagson,+ as vrou geneem. Sy het geboorte gegee aan Nadab, Abiʹhu, Eleaʹsar en Iʹtamar.+

24 Die seuns van Korag was Assir, Elkaʹna en Abiʹasaf.+ Dit was die families van die Koragiete.+

25 Eleaʹsar,+ Aäron se seun, het een van die dogters van Puʹtiël as vrou geneem. Sy het geboorte gegee aan Piʹnehas.+

Dit is die hoofde van die vaderhuise van die Leviete, volgens hulle families.+

26 Dit is die Aäron en Moses vir wie Jehovah gesê het: “Lei die Israeliete uit Egipte uit, afdeling vir afdeling.”*+ 27 Dit is hulle, Moses en Aäron,+ wat met Farao, die koning van Egipte, gepraat het om die Israeliete uit Egipte uit te lei.

28 Op daardie dag, toe Jehovah met Moses in Egipte gepraat het, 29 het Jehovah vir Moses gesê: “Ek is Jehovah. Sê vir Farao, die koning van Egipte, alles wat ek vir jou sê.” 30 Toe het Moses voor Jehovah gesê: “Ek sukkel om te praat.* Hoe sal Farao dan ooit na my luister?”+

7 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Kyk, ek het jou soos God gemaak* vir Farao, en jou eie broer Aäron sal jou profeet word.+ 2 Jy moet alles herhaal wat ek jou sal beveel, en jou broer Aäron sal met Farao praat, en hy sal die Israeliete uit sy land wegstuur. 3 Maar ek sal toelaat dat Farao hardkoppig word,*+ en ek sal baie tekens en wonderwerke in Egipte doen.+ 4 Maar Farao sal nie na julle luister nie, en ek sal my hand teen Egipte moet oplig en my menigtes,* my volk, die Israeliete, met groot oordele uit Egipte moet uitlei.+ 5 En die Egiptenare sal beslis weet dat ek Jehovah is+ wanneer ek my hand teen Egipte uitstrek en die Israeliete onder hulle uitlei.” 6 Moses en Aäron het gedoen wat Jehovah hulle beveel het. Hulle het net so gedoen. 7 Moses was 80 jaar oud en Aäron 83 jaar oud toe hulle met Farao gepraat het.+

8 Jehovah het toe vir Moses en Aäron gesê: 9 “As Farao vir julle sê: ‘Doen ’n wonderwerk,’ dan moet jy vir Aäron sê: ‘Neem jou staf en gooi dit voor Farao neer.’ Dit sal dan ’n groot slang word.”+ 10 Toe het Moses en Aäron na Farao toe gegaan en gedoen presies soos Jehovah beveel het. Aäron het sy staf voor Farao en sy knegte neergegooi, en dit het ’n groot slang geword. 11 Maar Farao het die wyse manne en die towenaars laat roep, en die towerpriesters van Egipte+ het dieselfde met hulle toorkuns gedoen.+ 12 Elkeen het sy staf neergegooi, en die stawwe het groot slange geword, maar Aäron se staf het hulle stawwe ingesluk. 13 Tog het Farao hardkoppig geword,*+ en hy het nie na hulle geluister nie, net soos Jehovah gesê het.

14 Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Farao is hardkoppig,+ en hy weier om die volk weg te stuur. 15 Gaan môreoggend na Farao toe. Wanneer hy na die water uitgaan, moet jy langs die Nylrivier gaan staan om hom te ontmoet. Vat die staf saam wat in ’n slang verander het.+ 16 Sê vir hom: ‘Jehovah, die God van die Hebreërs, het my na u toe gestuur,+ en hy sê: “Stuur my volk weg sodat hulle my in die wildernis kan dien.” Maar tot nou toe het u nie geluister nie. 17 Dít is wat Jehovah sê: “Hierdeur sal jy weet dat ek Jehovah is.+ Kyk, ek slaan die water in die Nylrivier met die staf wat in my hand is, en dit sal in bloed verander. 18 En die visse in die Nylrivier sal doodgaan, en die Nylrivier sal stink, en dit sal vir die Egiptenare onmoontlik wees om water uit die Nylrivier te drink.”’”

19 Daarna het Jehovah vir Moses gesê: “Sê vir Aäron: ‘Neem jou staf en steek jou hand uit oor die waters van Egipte,+ oor sy riviere, oor sy kanale,* oor sy vleie+ en oor al sy damme sodat dit bloed kan word.’ Daar sal bloed wees in die hele Egipte, selfs in die houers van hout en klip.” 20 Onmiddellik het Moses en Aäron gedoen net soos Jehovah beveel het. Hy het die staf opgelig en die water in die Nylrivier voor die oë van Farao en sy knegte geslaan, en al die water in die rivier is in bloed verander.+ 21 En die visse in die rivier het doodgegaan,+ en die rivier het begin stink, en die Egiptenare kon nie water uit die Nylrivier drink nie,+ en daar was bloed in die hele Egipte.

22 Maar die towerpriesters van Egipte het dieselfde met hulle geheime kunste gedoen,+ en Farao het hardkoppig gebly,* en hy het nie na hulle geluister nie, net soos Jehovah gesê het.+ 23 Farao het toe na sy huis teruggekeer, en hy het hom nie gesteur aan die dinge wat hy gesien het nie. 24 En al die Egiptenare het rondom die Nylrivier na drinkwater gegrawe, want hulle kon nie die water uit die Nylrivier drink nie. 25 En sewe volle dae het verbygegaan nadat Jehovah die Nylrivier getref het.

8 Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Gaan na Farao toe en sê vir hom: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Stuur my volk weg sodat hulle my kan dien.+ 2 As jy bly weier om hulle weg te stuur, sal ek paddas oor jou hele gebied laat kom.+ 3 Die Nylrivier sal wemel van paddas. Hulle sal uit die water kom en in jou huis en in jou slaapkamer inkom, en hulle sal op jou bed, in die huise van jou knegte, op jou volk, in jou oonde en in jou knieskottels wees.+ 4 Die paddas sal oor jou, oor jou volk en oor al jou knegte kom.”’”

5 Later het Jehovah vir Moses gesê: “Sê vir Aäron: ‘Steek jou hand, met jou staf, uit oor die riviere, die Nylkanale en die vleie, en laat die paddas oor Egipte kom.’” 6 Toe het Aäron sy hand oor die waters van Egipte uitgesteek, en die paddas het begin opkom en die land bedek. 7 Maar die towerpriesters het dieselfde deur hulle geheime kunste gedoen, en hulle het ook paddas oor Egipte laat kom.+ 8 Farao het Moses en Aäron toe geroep en gesê: “Smeek Jehovah om die paddas van my en my volk te verwyder,+ want ek wil die volk wegstuur sodat hulle aan Jehovah offerandes kan bring.” 9 Toe het Moses vir Farao gesê: “Sê u vir my wanneer ek moet smeek dat die paddas van u, u knegte, u volk en u huise verwyder moet word. Net in die Nylrivier sal daar paddas oorbly.” 10 En Farao het gesê: “Môre.” Toe het Moses gesê: “Dit sal gebeur soos u gesê het, sodat u kan weet dat daar niemand soos Jehovah ons God is nie.+ 11 U en u huise en u knegte en u volk sal ontslae wees van die paddas. Hulle sal net in die Nylrivier oorbly.”+

12 Toe het Moses en Aäron van Farao af weggegaan, en Moses het tot Jehovah gebid oor die paddas wat Hy oor Farao gebring het.+ 13 Toe het Jehovah gedoen wat Moses gevra het, en die paddas het in die huise, die binnehowe en die veld begin doodgaan. 14 Hulle het die paddas oral in hope bymekaargemaak, en die land het begin stink. 15 Toe Farao sien dat daar verligting is, het hy sy hart verhard,+ en hy het geweier om na hulle te luister, net soos Jehovah gesê het.

16 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Sê vir Aäron: ‘Steek jou staf uit en slaan die stof van die aarde, en dit sal muggies word in die hele Egipte.’” 17 En hulle het dit gedoen. Aäron het sy hand, met sy staf, uitgesteek en die stof van die grond geslaan, en daar het muggies op mens en dier gekom. In die hele Egipte het al die stof van die grond muggies geword.+ 18 Die towerpriesters het dieselfde probeer doen en muggies deur hulle geheime kunste probeer voortbring,+ maar hulle kon dit nie doen nie. En die muggies het op mens en dier gekom. 19 Die towerpriesters het dus vir Farao gesê: “Dit is die vinger van God!”+ Maar Farao het hardkoppig gebly,* en hy het nie na hulle geluister nie, net soos Jehovah gesê het.

20 Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en gaan staan voor Farao wanneer hy na die water toe kom. Sê dan vir hom: ‘Dít is wat Jehovah gesê het: “Stuur my volk weg sodat hulle my kan dien. 21 Maar as jy nie my volk wegstuur nie, sal ek steekvlieë na jou, jou knegte, jou volk en jou huise stuur. Die huise van Egipte sal vol steekvlieë wees, en hulle sal selfs die grond bedek waarop die Egiptenare staan. 22 Op daardie dag sal ek beslis die land Gosen, waar my volk woon, afgeskeie hou. Geen steekvlieë sal daar wees nie,+ en hierdeur sal jy weet dat ek, Jehovah, hier in die land is.+ 23 En ek sal ’n onderskeid maak tussen my volk en jou volk. Môre sal hierdie teken plaasvind.”’”

24 En Jehovah het dit gedoen, en digte swerms steekvlieë het die huis van Farao en die huise van sy knegte en die hele Egipte begin binnedring.+ Die land is deur die steekvlieë verwoes.+ 25 Uiteindelik het Farao vir Moses en Aäron geroep en gesê: “Gaan, bring offerandes aan julle God in die land.” 26 Maar Moses het gesê: “Dit is nie gepas om dit te doen nie, want die offerandes wat ons aan Jehovah ons God sal offer, sal vir die Egiptenare iets afstootliks wees.+ As ons ’n offerande reg voor die Egiptenare offer wat hulle as iets afstootliks beskou, sal hulle ons sekerlik met klippe doodgooi. 27 Ons sal drie dagreise ver in die wildernis in gaan, en daar sal ons offerandes bring aan Jehovah ons God net soos hy vir ons gesê het.”+

28 Farao het toe gesê: “Ek sal julle wegstuur om in die wildernis aan Jehovah julle God offerandes te bring. Moet net nie so ver weg gaan nie. En bid vir my.”+ 29 Toe het Moses gesê: “Kyk, ek gaan van u af weg, en ek sal Jehovah ter wille van u smeek, en die steekvlieë sal môre van Farao, sy knegte en sy volk weggaan. Maar Farao moet ophou om ons vir die gek te hou deur te weier om die volk weg te stuur om offerandes aan Jehovah te bring.”+ 30 Moses het toe van Farao af weggegaan en tot Jehovah gebid.+ 31 Toe het Jehovah gedoen wat Moses gevra het, en die steekvlieë het van Farao, sy knegte en sy volk weggegaan. Nie een het oorgebly nie. 32 Maar Farao het sy hart weer verhard en die volk nie weggestuur nie.

9 Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Gaan na Farao toe en sê vir hom: ‘Dít is wat Jehovah, die God van die Hebreërs, gesê het: “Stuur my volk weg sodat hulle my kan dien.+ 2 Maar as jy weier om hulle weg te stuur en jy hulle nog langer hou, 3 dan sal Jehovah se hand+ oor jou vee in die veld kom. ’n Verwoestende plaag+ sal oor die perde, die donkies, die kamele, die beeste en die kleinvee kom. 4 En Jehovah sal beslis ’n onderskeid maak tussen die vee van Israel en die vee van Egipte, en niks wat aan die Israeliete behoort, sal doodgaan nie.”’”+ 5 Jehovah het ook ’n tyd vasgestel en gesê: “Môre sal Jehovah dit in die land doen.”

6 Die volgende dag het Jehovah dit gedoen, en alle soorte vee van Egipte het begin doodgaan,+ maar nie een van die vee van Israel het doodgegaan nie. 7 Toe Farao ondersoek ingestel het, het hy uitgevind dat nie eers een van die Israeliete se vee doodgegaan het nie. Maar Farao het hardkoppig gebly, en hy het die volk nie weggestuur nie.+

8 Jehovah het toe vir Moses en Aäron gesê: “Neem twee hande vol roet uit ’n oond, en Moses moet dit voor Farao in die lug gooi. 9 En dit sal ’n fyn stof oor die hele Egipte word, en dit sal etterende swere word op mens sowel as dier in die hele Egipte.”

10 Toe het hulle die roet uit ’n oond geneem en voor Farao gaan staan, en Moses het dit in die lug gegooi, en dit het etterende swere geword wat op mens en dier uitgebreek het. 11 Die towerpriesters kon as gevolg van die swere nie voor Moses verskyn nie, want die towerpriesters en al die Egiptenare+ was vol swere. 12 Maar Jehovah het toegelaat dat Farao hardkoppig word,* en Farao het nie na hulle geluister nie, net soos Jehovah vir Moses gesê het.+

13 Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en gaan staan voor Farao, en sê vir hom: ‘Dít is wat Jehovah, die God van die Hebreërs, gesê het: “Stuur my volk weg sodat hulle my kan dien. 14 Want nou stuur ek al my plae teen jou,* teen jou knegte en teen jou volk, sodat jy kan weet dat daar in die hele aarde niemand soos ek is nie.+ 15 Want ek kon my hand nou al uitgesteek het om jou en jou volk met ’n verwoestende plaag te tref, en jy sou van die aarde af uitgewis gewees het. 16 Maar om dié rede het ek jou nog laat bestaan: sodat ek jou my krag kan wys en sodat my naam oor die hele aarde bekend gemaak kan word.+ 17 Hou jy jou nog steeds hoogmoedig teenoor my volk deur hulle nie weg te stuur nie? 18 Kyk, môre omtrent hierdie tyd sal ek ’n baie groot haelstorm bring, soos wat nog nooit in Egipte plaasgevind het tot nou toe nie. 19 Beveel dus dat al jou vee en alles wat jy in die veld het, onder dak gebring word. Elke mens en dier wat nog in die veld is en nie na binne gebring is nie, sal sterf wanneer die hael op hulle val.”’”

20 Al Farao se knegte wat Jehovah se woord gevrees het, het hulle knegte en hulle vee dadelik in die huise ingebring, 21 maar almal wat hulle nie aan Jehovah se woord gesteur het nie, het hulle knegte en hulle vee in die veld gelos.

22 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Steek jou hand na die hemel toe uit sodat hael oor die hele Egipte kom,+ oor mens en dier en al die plante van die veld in Egipte.”+ 23 Toe het Moses sy staf na die hemel toe uitgesteek, en Jehovah het donderslae en hael gestuur, en hy het vuur* op die aarde laat val, en Jehovah het aanhoudend hael op Egipte laat val. 24 Daar was hael, en daar was vuur wat tussen die hael deur geflits het. Dit was baie erg. Daar was nog nooit so ’n haelstorm in die land vandat Egipte ’n nasie geword het nie.+ 25 Regoor Egipte het die hael alles in die veld getref, mens sowel as dier, en dit het al die plante en al die bome van die veld verwoes.+ 26 Net in die land Gosen, waar die Israeliete was, was daar geen hael nie.+

27 Farao het Moses en Aäron dus laat roep en vir hulle gesê: “Ek het hierdie keer gesondig. Jehovah is regverdig, en ek en my volk is verkeerd. 28 Smeek Jehovah dat daar ’n einde kan wees aan God se donderslae en hael. Dan sal ek bereid wees om julle weg te stuur, en julle hoef nie langer te bly nie.” 29 Toe het Moses vir hom gesê: “Sodra ek uit die stad uitgaan, sal ek my hande voor Jehovah uitstrek. Die donderslae sal ophou en die hael sal nie meer val nie, sodat u kan weet dat die aarde aan Jehovah behoort.+ 30 Maar ek weet reeds dat u en u knegte nie eers dan Jehovah God sal vrees nie.”

31 En die vlas en die gars is verwoes, want die gars was amper ryp en die vlas het blomknoppe gehad. 32 Maar die koring en die spelt is nie verwoes nie, want dit kom eers later op.* 33 Moses het toe van Farao af weggegaan uit die stad uit en sy hande voor Jehovah uitgestrek, en die donderslae en die hael en die reën het opgehou.+ 34 Toe Farao sien dat die reën, die hael en die donderslae opgehou het, het hy weer gesondig en sy hart verhard,+ hy sowel as sy knegte. 35 En Farao het hardkoppig gebly,* en hy het nie die Israeliete weggestuur nie, net soos Jehovah deur Moses gesê het.+

10 Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Gaan na Farao toe, want ek het toegelaat dat hy en sy knegte hardkoppig word,+ sodat ek hierdie tekens van my reg voor hom kan doen.+ 2 Dan kan jy vir jou kinders en jou kleinkinders vertel hoe swaar ek Egipte gestraf het en watter tekens ek onder hulle gedoen het,+ en julle sal beslis weet dat ek Jehovah is.”

3 Moses en Aäron het na Farao toe gegaan en vir hom gesê: “Dít is wat Jehovah, die God van die Hebreërs, gesê het: ‘Hoe lank gaan jy weier om jou aan my te onderwerp?+ Stuur my volk weg sodat hulle my kan dien. 4 Want as jy bly weier om my volk weg te stuur, sal ek môre sprinkane oor jou land laat kom. 5 Hulle sal die oppervlak van die aarde bedek, en dit sal nie moontlik wees om die grond te sien nie. Hulle sal alles opeet wat ná die hael vir julle oorgebly het, en hulle sal al julle bome eet wat in die veld groei.+ 6 Jou huise, die huise van al jou knegte en die huise van die hele Egipte sal vol sprinkane wees, soos julle pa’s en julle oupas nog nooit gesien het nie.’”+ Toe het hy omgedraai en van Farao af weggegaan.

7 Daarna het Farao se knegte vir hom gesê: “Hoe lank sal hierdie man vir ons moeilikheid maak?* Stuur die manne weg sodat hulle Jehovah hulle God kan dien. Besef u nog nie dat Egipte verwoes is nie?” 8 Moses en Aäron is toe na Farao teruggebring, en hy het vir hulle gesê: “Gaan, dien Jehovah julle God. Maar wie is dit nou eintlik wat saamgaan?” 9 Toe het Moses gesê: “Ons sal gaan met ons jongmense, ons oumense, ons seuns, ons dogters, ons skape en ons beeste,+ want ons sal ’n fees vir Jehovah hou.”+ 10 Hy het vir hulle gesê: “As ek julle en julle kinders ooit wegstuur, is Jehovah werklik met julle!+ Dit is duidelik dat julle van plan is om iets slegs te doen. 11 Nee! Net die mans mag Jehovah gaan dien, want dit is wat julle gevra het.” Toe is hulle van Farao af weggejaag.

12 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor Egipte, sodat die sprinkane oor Egipte kan kom en al die plante van die land kan opeet, alles wat die hael laat oorbly het.” 13 Dadelik het Moses sy staf oor Egipte uitgesteek, en Jehovah het daardie hele dag en hele nag ’n oostewind oor die land laat waai. Toe dit oggend word, het die oostewind die sprinkane gebring. 14 Die sprinkane het op die hele Egipte toegesak en het oral in die gebied van Egipte gaan sit.+ Die plaag was verskriklik erg.+ Daar was nog nooit voorheen soveel sprinkane nie, en daar sal nooit weer soveel wees nie. 15 Hulle het die oppervlak van die hele land bedek, en die land het donker geword as gevolg van hulle. Hulle het al die plante van die land verslind, sowel as al die vrugte van die bome wat die hael laat oorbly het. Daar het geen groenigheid aan die bome of aan die plante van die veld in die hele Egipte oorgebly nie.

16 Farao het Moses en Aäron dadelik laat roep en gesê: “Ek het teen Jehovah julle God en teen julle gesondig. 17 Vergewe my sonde net hierdie een keer, asseblief, en smeek Jehovah julle God om hierdie dodelike plaag van my af weg te neem.” 18 Daarna het hy* van Farao af weggegaan en tot Jehovah gebid.+ 19 Toe het Jehovah die wind van rigting laat verander, en dit het ’n baie sterk westewind geword en het die sprinkane in die Rooisee ingewaai. Nie ’n enkele sprinkaan het in die hele Egipte oorgebly nie. 20 Maar Jehovah het toegelaat dat Farao hardkoppig word,*+ en hy het die Israeliete nie weggestuur nie.

21 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Steek jou hand na die hemel toe uit, sodat daar duisternis oor Egipte kan wees. Dit sal so donker wees dat ’n mens amper daaraan sal kan vat.” 22 Moses het onmiddellik sy hand na die hemel toe uitgesteek, en daar was drie dae lank dik duisternis oor die hele Egipte.+ 23 Hulle kon mekaar nie sien nie, en hulle almal het drie dae lank nêrens heen gegaan nie, maar waar die Israeliete gewoon het, was daar lig.+ 24 Farao het Moses toe geroep en gesê: “Gaan, dien Jehovah.+ Net julle skape en julle beeste moet agterbly. Selfs julle kinders mag saam met julle gaan.” 25 Maar Moses het gesê: “U moet ook vir ons offerandes en brandoffers gee,* en ons sal dit aan Jehovah ons God offer.+ 26 Ons vee sal ook saam met ons gaan. Nie ’n dier mag agterbly nie, want ons sal van die diere gebruik om Jehovah ons God te aanbid, en ons weet nie wat ons in aanbidding aan Jehovah sal offer totdat ons daar aankom nie.” 27 Maar Jehovah het toegelaat dat Farao hardkoppig word,* en hy wou hulle nie wegstuur nie.+ 28 Farao het vir hom gesê: “Maak dat jy wegkom! Moet dit nie waag om weer voor my te verskyn nie, want die dag dat jy weer hiernatoe kom, sal jy sterf.” 29 Toe het Moses gesê: “Nou goed dan. Ek sal nie weer voor u verskyn nie.”

11 Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Ek gaan nog een plaag oor Farao en Egipte bring. Daarna sal hy julle hiervandaan wegstuur.+ Wanneer hy julle wegstuur, sal hy julle letterlik uit die land uit jaag.+ 2 Sê dan nou vir die volk dat al die mans en vrouens hulle bure vir silwervoorwerpe en goue voorwerpe moet vra.”+ 3 En Jehovah het seker gemaak dat die Egiptenare ’n goeie gesindheid teenoor die volk het. Wat meer is, Moses het ’n hoogs gerespekteerde man in Egipte geword onder Farao se knegte en onder die volk.

4 Moses het toe gesê: “Dít is wat Jehovah gesê het: ‘Omtrent middernag sal ek deur Egipte gaan,+ 5 en elke eersgeborene in Egipte sal sterf,+ van die eersgeborene van Farao wat op sy troon sit tot die eersgeborene van die slavin wat by die handmeul werk, en elke eersgeborene van die vee.+ 6 Regoor Egipte sal daar ’n groot gehuil wees, soos daar nog nooit vantevore was nie en nooit weer sal wees nie.+ 7 Maar nie eers ’n hond sal vir die Israeliete of hulle vee blaf nie,* sodat julle kan weet dat Jehovah ’n onderskeid kan maak tussen die Egiptenare en die Israeliete.’+ 8 En al u knegte sal beslis na my toe kom en voor my neerbuig en sê: ‘Gaan, jy en almal wat jou volg.’+ En daarna sal ek vertrek.” Toe het hy woedend van Farao af weggegaan.

9 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Farao sal nie na julle luister nie.+ So sal my wonderwerke in Egipte nog meer word.”+ 10 Moses en Aäron het al hierdie wonderwerke voor Farao gedoen,+ maar Jehovah het toegelaat dat Farao hardkoppig word,* en hy het die Israeliete nie uit sy land weggestuur nie.+

12 Jehovah het toe vir Moses en Aäron in Egipte gesê: 2 “Hierdie maand sal vir julle die begin van die maande wees, die eerste maand van die jaar.+ 3 Praat met die hele gemeenskap van Israel en sê: ‘Op die tiende dag van hierdie maand moet elkeen ’n lam neem+ vir sy familie, ’n lam per huis. 4 Maar as die familie te klein is vir die lam, moet hulle* dit in hulle* huis met hulle* naaste bure deel. Hulle moet uitwerk hoeveel mense daarvan kan eet en dit dan tussen hulle verdeel. 5 Die dier moet sonder gebrek+ wees, ’n rammetjie van ’n jaar oud. Julle mag ’n skaap of ’n bok kies. 6 Julle moet vir die dier sorg tot die 14de dag van hierdie maand,+ en dan moet die hele gemeente van Israel dit slag wanneer dit skemer word.*+ 7 Hulle moet van die bloed neem en dit spat op die twee deurposte en die boonste deel van die deuropening van die huise waarin hulle dit eet.+

8 “‘Hulle moet die vleis op hierdie nag eet.+ Hulle moet dit oor die vuur braai en dit saam met ongesuurde brood+ en bitter kruie+ eet. 9 Moet niks daarvan rou eet of in water kook nie, maar braai dit oor die vuur, sy kop saam met sy pootjies en sy binnegoed. 10 Julle moet niks daarvan tot die oggend toe laat oorbly nie, maar wat daarvan tot die oggend toe oorbly, moet julle met vuur verbrand.+ 11 En dít is hoe julle dit moet eet: met julle lyfband om julle heupe vasgemaak,* met sandale aan julle voete en met julle staf in julle hand. Julle moet dit vinnig eet. Dit is Jehovah se Pasga. 12 Want ek sal in hierdie nag deur Egipte gaan en elke eersgeborene in Egipte doodmaak, mens sowel as dier.+ Ek sal al die gode van Egipte oordeel en straf.+ Ek is Jehovah. 13 Die bloed sal dien as julle teken op die huise waarin julle is, en ek sal die bloed sien en by julle verbygaan, en die plaag sal nie oor julle kom om julle te vernietig wanneer ek Egipte tref nie.+

14 “‘Julle moet hierdie dag herdenk, en julle moet in al julle geslagte ’n fees vir Jehovah vier op hierdie dag. Dit is ’n permanente wetsbepaling dat julle hierdie dag vier. 15 Sewe dae moet julle ongesuurde brood eet.+ Ja, op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder, want elkeen wat van die eerste dag af tot die sewende dag toe iets eet wat met suurdeeg gemaak is, moet doodgemaak word en so uit Israel verwyder word. 16 Op die eerste dag sal julle ’n heilige byeenkoms hou, en op die sewende dag nog ’n heilige byeenkoms. Geen werk moet op hierdie dae gedoen word nie.+ Julle mag net die kos voorberei wat elkeen nodig het.

17 “‘En julle moet die Fees van die Ongesuurde Brode+ hou, want op dié dag sal ek julle as ’n groot menigte* uit Egipte uitlei. En julle moet hierdie dag in al julle geslagte vier. Dit is ’n permanente wetsbepaling. 18 Vanaf die aand van die 14de dag van die eerste maand tot op die aand van die 21ste dag van die maand moet julle ongesuurde brood eet.+ 19 Sewe dae lank mag geen suurdeeg in julle huise gevind word nie. As enigiemand iets eet wat met suurdeeg gemaak is, of hy nou ’n uitlander of ’n gebore Israeliet is,+ moet daardie persoon doodgemaak word en so uit die gemeenskap van Israel verwyder word.+ 20 Julle moet niks eet wat met suurdeeg gemaak is nie. In al julle huise moet julle ongesuurde brood eet.’”

21 Moses het dadelik al die ouermanne van Israel geroep+ en vir hulle gesê: “Gaan en kies jong diere* vir julle families, en slag die Pasga-offer. 22 Julle moet dan ’n bossie hisop in die bloed doop wat in ’n kom is en die bloed teen die boonste deel van die deuropening en teen die twee deurposte spat. Niemand van julle mag tot die oggend toe by sy huis uitgaan nie. 23 Wanneer Jehovah dan kom om die Egiptenare met die plaag te tref en hy die bloed aan die boonste deel van die deuropening en aan die twee deurposte sien, sal Jehovah beslis by die ingang verbygaan, en hy sal nie toelaat dat die dodelike plaag* in julle huise ingaan nie.+

24 “Julle moet hierdie geleentheid herdenk. Dit is ’n permanente wetsvoorskrif vir julle en julle kinders.+ 25 En wanneer julle in die land kom wat Jehovah aan julle sal gee, soos hy gesê het, moet julle aanhou om hierdie fees te vier.+ 26 En as julle kinders vir julle vra: ‘Wat beteken hierdie viering?’+ 27 dan moet julle sê: ‘Dit is die offerande van die Pasga aan Jehovah, wat by die huise van die Israeliete in Egipte verbygegaan het toe hy die Egiptenare met die plaag getref het, maar hy het ons huise gespaar.’”

Toe het die volk op hulle knieë gegaan en neergebuig. 28 Die Israeliete het toe gegaan en gedoen net soos Jehovah Moses en Aäron beveel het.+ Hulle het net so gedoen.

29 En om middernag het Jehovah elke eersgeborene in Egipte doodgemaak,+ van die eersgeborene van Farao wat op sy troon gesit het tot die eersgeborene van die gevangene wat in die tronk* was, en elke eersgeborene van die diere.+ 30 Farao het daardie nag opgestaan, hy en al sy knegte en al die ander Egiptenare, en daar was ’n groot gehuil onder die Egiptenare, want daar was nie ’n huis waar daar nie iemand dood was nie.+ 31 Nog daardie selfde nag het hy Moses en Aäron laat roep+ en gesê: “Staan op, gee pad onder my volk uit, julle en die ander Israeliete! Gaan dien Jehovah, net soos julle gesê het.+ 32 Vat ook julle kleinvee sowel as julle beeste, en gaan, net soos julle gesê het.+ Maar julle moet my ook seën.”

33 Die Egiptenare het die volk begin smeek om gou+ uit die land te trek, want hulle het gesê: “Ons is almal so goed as dood!”+ 34 Toe het die volk hulle ongesuurde deeg geneem, en hulle het hulle knieskottels in hulle klere toegedraai en op hulle skouers gedra. 35 Die Israeliete het gedoen wat Moses vir hulle gesê het, en hulle het die Egiptenare vir silwervoorwerpe en goue voorwerpe sowel as klere gevra.+ 36 Jehovah het gesorg dat die Egiptenare goed is vir die volk, en hulle het die volk gegee waarvoor hulle gevra het, en hulle het die Egiptenare gestroop.+

37 Die Israeliete het toe uit Ramses+ na Sukkot+ vertrek, ongeveer 600 000 mans te voet, buiten die kinders.+ 38 ’n Groot gemengde skare*+ het ook saamgegaan, asook kleinvee en beeste, ’n baie groot hoeveelheid vee. 39 Hulle het ronde, ongesuurde brode begin bak van die deeg wat hulle uit Egipte gebring het. Dit was nie met suurdeeg gemaak nie, want hulle is so skielik uit Egipte uitgedryf dat hulle geen padkos vir hulle gemaak het nie.+

40 Die Israeliete, wat in Egipte gewoon het,+ het 430 jaar lank+ as uitlanders gewoon. 41 Toe die 430 jaar geëindig het, op presies dieselfde dag, het Jehovah se hele volk* Egipte verlaat. 42 Dit is ’n nag waarop ’n viering sal plaasvind omdat Jehovah hulle uit Egipte uitgelei het. Hierdie nag moet deur al die Israeliete in al hulle geslagte ter ere van Jehovah herdenk word.+

43 Toe het Jehovah vir Moses en Aäron gesê: “Die volgende wetsbepaling geld in verband met die Pasga: Geen uitlander mag daarvan eet nie.+ 44 Maar as iemand ’n slaaf het wat met geld gekoop is, moet die slaaf besny word.+ Eers dan mag hy daarvan eet. 45 ’n Tydelike inwoner en ’n gehuurde werker mag nie daarvan eet nie. 46 Dit moet in een huis geëet word. Julle mag nie van die vleis uit die huis neem nie, en julle mag geen been daarvan breek nie.+ 47 Die hele gemeenskap van Israel moet dit vier. 48 As ’n uitlander by julle woon en hy die Pasga vir Jehovah wil vier, moet almal by hom wat manlik is, besny word. Dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos ’n gebore Israeliet word. Maar ’n man wat nie besny is nie, mag nie daarvan eet nie.+ 49 Daar moet net een wet wees vir die gebore Israeliet en vir die uitlander wat by julle woon.”+

50 Toe het al die Israeliete gedoen net soos Jehovah Moses en Aäron beveel het. Hulle het net so gedoen. 51 Op daardie selfde dag het Jehovah die Israeliete saam met hulle menigtes* uit Egipte uitgelei.

13 Jehovah het verder met Moses gepraat en gesê: 2 “Heilig vir my elke manlike eersgeborene* onder die Israeliete. Elke manlike eersgeborene behoort aan my, of dit nou ’n mens of ’n dier is.”+

3 Toe het Moses vir die volk gesê: “Onthou hierdie dag waarop julle uit Egipte,+ uit die huis van slawerny, uitgegaan het, want Jehovah het julle met ’n magtige hand hiervandaan uitgelei.+ Daarom mag niks geëet word wat met suurdeeg gemaak is nie. 4 Julle vertrek op hierdie dag, in die maand Abib.*+ 5 Wanneer Jehovah julle in die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Hewiete en die Jebusiete+ gebring het, wat hy aan julle voorvaders met ’n eed belowe het om aan julle te gee,+ ’n land wat oorloop van melk en heuning,+ dan moet julle hierdie fees in hierdie maand vier. 6 Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet,+ en op die sewende dag sal daar ’n fees vir Jehovah wees. 7 Ongesuurde brood moet gedurende die sewe dae geëet word,+ en niks wat met suurdeeg gemaak is, mag by julle gevind word nie,+ en geen suurdeeg mag in julle hele gebied by julle gevind word nie. 8 En julle moet vir julle seuns op daardie dag sê: ‘Dit is as gevolg van wat Jehovah vir ons gedoen het toe ons uit Egipte getrek het.’+ 9 Hierdie fees sal vir julle dien as ’n teken op julle hand en as ’n herinnering* op julle voorkop,*+ sodat Jehovah se wet op julle lippe sal wees, want Jehovah het julle met ’n magtige hand uit Egipte uitgelei. 10 Julle moet hierdie wetsbepaling jaar ná jaar op die vasgestelde tyd nakom.+

11 “Wanneer Jehovah julle in die land van die Kanaäniete inbring, wat hy met ’n eed aan julle en julle voorvaders belowe het om aan julle te gee,+ 12 dan moet julle elke eersgebore seun,* sowel as elke eersgebore manlike dier* wat julle bykry, aan Jehovah wy. Hulle behoort aan Jehovah.+ 13 Elke eersgebore* donkie moet julle met ’n skaap loskoop, en as julle dit nie loskoop nie, moet julle sy nek breek. En elke eersgebore seun moet julle loskoop.+

14 “As julle seuns julle later vra: ‘Wat beteken dit?’ dan moet julle vir hulle sê: ‘Jehovah het ons met ’n magtige hand uit Egipte, uit die huis van slawerny, gebring.+ 15 Toe Farao hardkoppig geweier het om ons weg te stuur,+ het Jehovah elke eersgeborene in Egipte doodgemaak, die eersgeborene van die mense sowel as die eersgeborene van die diere.+ Daarom bring ek al die eersgebore mannetjies* as ’n offerande aan Jehovah en koop ek elke eersgebore seun los.’ 16 Dit moet dien as ’n teken op julle hand en as ’n band op julle voorkop,*+ want Jehovah het ons met ’n magtige hand uit Egipte uitgelei.”

17 Toe Farao die volk weggestuur het, het God hulle nie deur die land van die Filistyne gelei nie, al was dit ’n korter pad. Want God het gesê: “Die volk sal dalk van gedagte verander as hulle sien dat hulle oorlog moet voer, en dan sal hulle na Egipte terugkeer.” 18 God het die volk dus met ’n ompad laat gaan, op die weg deur die wildernis by die Rooisee.+ Die Israeliete het nietemin ordelik, soos groepe soldate, uit Egipte vertrek. 19 Moses het ook Josef se liggaam* saam met hom geneem, want Josef het die seuns van Israel laat sweer: “God sal vir seker aan julle dink, en julle moet my liggaam* saam met julle hiervandaan neem.”+ 20 Hulle het van Sukkot af vertrek en by Etam, aan die rand van die wildernis, kamp opgeslaan.

21 Jehovah het voor hulle uit gegaan, in die dag in ’n wolkkolom om hulle op die pad te lei+ en in die nag in ’n vuurkolom om vir hulle lig te gee, sodat hulle in die dag en in die nag kon reis.+ 22 Die wolkkolom het nie gedurende die dag van die volk af wegbeweeg nie, en ook nie die vuurkolom in die nag nie.+

14 Jehovah het toe vir Moses gesê: 2 “Sê vir die Israeliete dat hulle moet terugdraai en voor Pi-Hagirot kamp moet opslaan, tussen Migdol en die see, oorkant Baäl-Sefon.+ Julle moet daar by die see kamp opslaan. 3 Dan sal Farao van die Israeliete sê: ‘Hulle dwaal verward in die land rond. Hulle is in die wildernis vasgevang.’ 4 Ek sal toelaat dat Farao hardkoppig word,*+ en hy sal hulle agternasit, en ek sal my deur middel van Farao en sy hele leërmag verheerlik,+ en die Egiptenare sal beslis weet dat ek Jehovah is.”+ Dit is wat hulle toe gedoen het.

5 Later is daar vir die koning van Egipte gesê dat die volk gevlug het. Die houding van Farao en sy knegte teenoor die volk het dadelik verander,+ en hulle het gesê: “Hoekom het ons dit gedoen? Hoekom het ons ons Israelitiese slawe vrygelaat?” 6 Toe het hy sy strydwaens gereedgemaak, en hy het sy soldate saam met hom geneem.+ 7 Hy het 600 van die beste strydwaens geneem en al die ander strydwaens van Egipte, en daar was soldate op elkeen van hulle. 8 Jehovah het toegelaat dat Farao, die koning van Egipte, hardkoppig word,* en Farao het die Israeliete agternagesit terwyl die Israeliete vol vertroue* uitgegaan het.+ 9 Die Egiptenare het hulle agternagesit,+ en al die strydwaperde van Farao en sy perderuiters en sy leërmag het al hoe nader aan hulle gekom terwyl hulle in hulle kamp by die see was, by Pi-Hagirot, oorkant Baäl-Sefon.

10 Toe Farao nader kom, het die Israeliete gesien dat die Egiptenare hulle agternasit. Die Israeliete het baie bang geword en tot Jehovah begin roep.+ 11 Hulle het vir Moses gesê: “Was daar nie genoeg plek in Egipte om ons te begrawe nie? Is dit hoekom jy ons hierheen gebring het om in die wildernis te sterf?+ Wat het jy aan ons gedoen deur ons uit Egipte uit te lei? 12 Ons het mos in Egipte vir jou gesê: ‘Los ons uit, sodat ons die Egiptenare kan dien.’ Want dit is vir ons beter om die Egiptenare te dien as om in die wildernis te sterf.”+ 13 Toe het Moses vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie.+ Staan vas en sien hoe Jehovah julle vandag sal red.+ Want die Egiptenare wat julle vandag sien, sal julle nooit ooit weer sien nie.+ 14 Jehovah sal vir julle veg,+ en julle sal stil wees.”

15 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Waarom bly jy tot my roep? Sê vir die Israeliete dat hulle hulle kamp moet opbreek. 16 En jy, lig jou staf op en steek jou hand uit oor die see en verdeel dit in twee sodat die Israeliete op droë grond deur die see kan gaan. 17 Maar ek sal toelaat dat die Egiptenare hardkoppig word,* en hulle sal die Israeliete agternasit. So sal ek myself verheerlik deur middel van Farao en sy hele leërmag, sy strydwaens en sy perderuiters.+ 18 En die Egiptenare sal beslis weet dat ek Jehovah is wanneer ek myself verheerlik deur middel van Farao, sy strydwaens en sy perderuiters.”+

19 Toe het die engel van die ware God+ wat voor die kamp van Israel uit gegaan het, wegbeweeg en na die agterkant van die kamp gegaan. Die wolkkolom wat voor hulle was, het agter hulle gaan staan.+ 20 So het dit tussen die kamp van die Egiptenare en die kamp van Israel in beweeg.+ Aan die een kant was dit ’n donker wolk, en aan die ander kant het dit lig voorsien in die nag.+ Die hele nag deur het die een kamp dus nie naby die ander kamp gekom nie.

21 Moses het toe sy hand oor die see uitgesteek,+ en Jehovah het die hele nag ’n sterk oostewind laat waai om die see terug te dryf, wat die seebodem in droë grond laat verander het.+ En die waters is in twee verdeel.+ 22 Die Israeliete het dus op droë grond deur die see getrek+ terwyl die waters soos ’n muur aan hulle regterkant en aan hulle linkerkant gestaan het.+ 23 Die Egiptenare het hulle agternagesit, en al Farao se perde, strydwaens en perderuiters het agter hulle aan in die see ingegaan.+ 24 Gedurende die oggendwaak* het Jehovah vanuit die vuur-en-wolkkolom+ na die kamp van die Egiptenare gekyk, en hy het die kamp van die Egiptenare verwar. 25 Hy het die wiele van hulle strydwaens aanhoudend laat afval, en hulle het gesukkel om dit te beheer. Die Egiptenare het uitgeroep: “Laat ons wegvlug van die Israeliete af, want Jehovah veg vir hulle teen die Egiptenare!”+

26 Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor die see, sodat die waters kan terugvloei oor die Egiptenare, hulle strydwaens en hulle perderuiters.” 27 Moses het dadelik sy hand oor die see uitgesteek, en die see het teen dagbreek na sy normale toestand teruggekeer. Terwyl die Egiptenare daarvan weggevlug het, het Jehovah hulle in die see afgeskud.+ 28 Die waters wat teruggevloei het, het die strydwaens bedek, sowel as die perderuiters en Farao se hele leërmag wat agter die Israeliete aan in die see ingegaan het.+ Nie eers een van hulle is gespaar nie.+

29 Maar die Israeliete het op droë grond op die seebodem geloop,+ en die waters het soos ’n muur aan hulle regterkant en aan hulle linkerkant gestaan.+ 30 So het Jehovah Israel op daardie dag uit die hand van die Egiptenare gered,+ en Israel het die Egiptenare dood op die strand gesien. 31 Israel het ook die groot krag* gesien wat Jehovah teen die Egiptenare gebruik het, en die volk het begin om Jehovah te vrees en om geloof in Jehovah en in sy kneg Moses te stel.+

15 Toe het Moses en die Israeliete hierdie lied vir Jehovah gesing:+

“Ek wil vir Jehovah sing, want hy is hoog en verhewe.+

Die perd en sy ruiter het hy in die see gegooi.+

 2 My sterkte en my mag is Jah,* want hy het tot my redding gekom.+

Hy is my God, en ek sal hom prys;+ my vader se God,+ en ek sal hom verheerlik.+

 3 Jehovah is ’n magtige vegter.+ Jehovah is sy naam.+

 4 Farao se strydwaens en sy leërmag het Hy in die see gegooi,+

en sy beste soldate het in die Rooisee gesink.+

 5 Die onstuimige waters het hulle bedek. Soos ’n klip het hulle in die dieptes weggesink.+

 6 U regterhand, o Jehovah, is geweldig sterk.+

U regterhand, o Jehovah, kan ’n vyand vernietig.

 7 In u groot majesteit kan u dié neergooi wat teen u opstaan.+

U stuur u brandende woede uit, en dit verteer hulle soos strooi.

 8 Deur die asem van u neusgate is waters opgehoop.

Dit het stilgestaan en die vloedwaters teruggehou.

Die onstuimige waters het in die hart van die see gestol.

 9 Die vyand het gesê: ‘Ek sal hulle agternasit! Ek sal hulle inhaal!

Ek sal verdeel wat ek van hulle afvat, totdat ek versadig is!

Ek sal my swaard uittrek! My hand sal hulle onderwerp!’+

10 U het met u asem geblaas, en die see het hulle bedek.+

Hulle het soos lood in die onstuimige waters gesink.

11 Wie onder die gode is soos u, o Jehovah?+

Wie is soos u, magtig in heiligheid?+

Die Een wat met lofliedere gevrees moet word, die Een wat wonders doen.+

12 U het u regterhand uitgesteek, en die aarde het hulle ingesluk.+

13 In u lojale liefde het u die volk gelei wat u verlos het.+

In u krag sal u hulle na u heilige woonplek lei.

14 Volke sal hoor,+ hulle sal sidder.

Vrees* sal die inwoners van Filisteʹa aangryp.

15 In daardie tyd sal die sjeiks* van Edom baie bang wees,

en die magtige heersers* van Moab sal bewe.+

Al die inwoners van Kanaän sal mismoedig wees.+

16 Vrees en angs sal hulle oorval.+

Weens die grootheid van u arm sal hulle so bewegingloos wees soos ’n klip,

totdat u volk verbytrek, o Jehovah,

totdat die volk wat u voortgebring het,+ verbytrek.+

17 U sal hulle bring en hulle plant op die berg van u erfdeel,+

die vaste plek wat u gereedgemaak het vir u om in te woon, o Jehovah,

’n heiligdom, o Jehovah, wat u hande opgerig het.

18 Jehovah sal vir ewig en altyd as koning regeer.+

19 Toe Farao se perde met sy strydwaens en sy perderuiters in die see ingegaan het,+

het Jehovah die waters van die see oor hulle laat terugvloei,+

maar die Israeliete het op droë grond deur die see geloop.”+

20 Toe het die profetes Mirjam, Aäron se suster, ’n tamboeryn in haar hand geneem, en al die vrouens het haar gevolg met tamboeryne en met danse. 21 Mirjam het gesing in antwoord op die manne se lied:

“Sing vir Jehovah, want hy is hoog en verhewe.+

Die perd en sy ruiter het hy in die see gegooi.”+

22 Later het Moses Israel weg van die Rooisee gelei, en hulle het na die wildernis van Sur gegaan en drie dae lank in die wildernis geloop, maar hulle het geen water gevind nie. 23 Hulle het by Mara*+ gekom, maar hulle kon nie die water van Mara drink nie omdat dit bitter was. Daarom het hy dit Mara genoem. 24 Die volk het toe teen Moses begin kla+ en gevra: “Wat moet ons drink?” 25 Hy het tot Jehovah geroep,+ en Jehovah het hom na ’n boom gelei. Toe hy dit in die water gooi, het die water soet geword.

Daar het Hy vir hulle ’n wetsvoorskrif en ’n wetlike presedent vasgestel, en daar het Hy hulle getoets.+ 26 Hy het gesê: “As julle goed na die stem van Jehovah julle God luister en doen wat reg is in sy oë en aandag skenk aan sy gebooie en al sy wetsvoorskrifte onderhou,+ sal ek nie enige van die siektes oor julle bring wat ek oor die Egiptenare gebring het nie,+ want ek, Jehovah, maak julle gesond.”+

27 Daarna het hulle by Elim gekom, waar daar 12 waterfonteine en 70 palmbome was. Toe het hulle daar by die water kamp opgeslaan.

16 Nadat die hele gemeenskap van Israel uit Elim vertrek het, het hulle uiteindelik in die wildernis Sin+ gekom, wat tussen Elim en Siʹnai is. Dit was die 15de dag van die tweede maand nadat hulle Egipte verlaat het.

2 Toe het die hele gemeenskap van Israel in die wildernis teen Moses en Aäron begin kla.+ 3 Die Israeliete het vir hulle bly sê: “As ons maar deur Jehovah se hand in Egipte gesterf het, terwyl ons by die vleispotte+ gesit het, terwyl ons brood geëet het totdat ons versadig was. Nou het julle ons na hierdie wildernis uitgelei om hierdie hele gemeente van honger te laat sterf.”+

4 Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Kyk, ek laat vir julle brood uit die hemel reën,+ en elkeen moet uitgaan en sy daaglikse deel optel,+ sodat ek hulle kan toets om te sien of hulle my wet sal volg of nie.+ 5 Maar wanneer hulle op die sesde dag+ voorberei wat hulle bymekaargemaak het, moet dit dubbel soveel wees as wat hulle op elkeen van die ander dae optel.”+

6 Toe het Moses en Aäron vir al die Israeliete gesê: “Vanaand sal julle beslis weet dat dit Jehovah is wat julle uit Egipte uitgelei het.+ 7 Môreoggend sal julle Jehovah se heerlikheid sien, want hy het gehoor hoe julle teen Jehovah kla. Wie is ons dat julle teen ons sou kla?” 8 Moses het verder gesê: “Wanneer Jehovah julle in die aand vleis gee en in die oggend brood gee totdat julle versadig is, sal julle sien dat Jehovah gehoor het hoe julle teen hom kla. Maar wie is ons? Julle kla nie teen ons nie, maar teen Jehovah.”+

9 Toe het Moses vir Aäron gesê: “Sê vir die hele gemeenskap van Israel: ‘Kom nader voor Jehovah, want hy het gehoor hoe julle kla.’”+ 10 En onmiddellik nadat Aäron met die hele gemeenskap van Israel gepraat het, het hulle na die wildernis toe gedraai, en kyk! Jehovah se heerlikheid het in die wolk verskyn.+

11 Jehovah het verder vir Moses gesê: 12 “Ek het gehoor hoe die Israeliete kla.+ Sê vir hulle: ‘Wanneer dit skemer word,* sal julle vleis eet, en in die oggend sal julle brood eet totdat julle versadig is,+ en julle sal beslis weet dat ek Jehovah julle God is.’”+

13 Daardie aand het kwartels gekom en die kamp bedek,+ en in die oggend was daar ’n doulaag rondom die kamp. 14 Nadat die doulaag verdamp het, was die wildernis bedek met ’n lagie fyn vlokkies,+ so fyn soos ryp op die grond. 15 Toe die Israeliete dit sien, het hulle vir mekaar gevra: “Wat is dit?” Want hulle het nie geweet wat dit is nie. Moses het vir hulle gesê: “Dit is die brood wat Jehovah julle gegee het om te eet.+ 16 Dít is wat Jehovah beveel het: ‘Elkeen moet soveel bymekaarmaak as wat hy nodig het. Julle moet ’n gomer*+ vir elke persoon neem volgens die aantal mense* wat elkeen van julle in sy tent het.’” 17 Die Israeliete het dit begin doen. Party het baie bymekaargemaak en ander het min bymekaargemaak. 18 Wanneer hulle dit met die gomer gemeet het, het die persoon wat baie bymekaargemaak het, nie te veel gehad nie en het die persoon wat min bymekaargemaak het, nie te min gehad nie.+ Elkeen van hulle het opgetel wat hy nodig gehad het.

19 Toe het Moses vir hulle gesê: “Niemand moet daarvan laat oorbly tot die oggend toe nie.”+ 20 Maar hulle het nie na Moses geluister nie. Toe party mense van die manna tot die oggend toe laat oorbly het, het dit wurms voortgebring en gestink, en Moses het kwaad geword vir hulle. 21 Elkeen van hulle het oggend ná oggend opgetel wat hy nodig gehad het. Wanneer die son warm geword het, het dit gesmelt.

22 Op die sesde dag het hulle twee keer soveel brood opgetel,+ twee gomers vir elke persoon. Toe het al die hoofmanne van die gemeenskap gekom en dit vir Moses vertel. 23 Hy het vir hulle gesê: “Dít is wat Jehovah gesê het: ‘Môre sal ’n spesiale rusdag* wees, ’n heilige sabbat vir Jehovah.+ Bak wat julle nodig het en kook wat julle nodig het.+ Bêre dan alles wat oorbly en hou dit tot die oggend toe.’” 24 Hulle het dit dus tot die oggend toe gebêre, net soos Moses beveel het, en dit het nie gestink nie, en daar was ook nie wurms daarin nie. 25 Toe het Moses gesê: “Eet dit vandag, want vandag is ’n sabbat vir Jehovah. Vandag sal julle dit nie op die grond vind nie. 26 Julle sal dit ses dae optel, maar op die sewende dag, die Sabbat,+ sal daar niks wees nie.” 27 Maar op die sewende dag het party van die volk tog uitgegaan om dit op te tel, maar hulle het niks gevind nie.

28 Jehovah het toe vir Moses gevra: “Hoe lank gaan julle weier om my gebooie en my wette te gehoorsaam?+ 29 Moenie vergeet dat Jehovah julle die Sabbat gegee het nie.+ Daarom gee hy julle op die sesde dag brood vir twee dae. Elkeen moet bly waar hy is. Op die sewende dag mag niemand sy woonplek verlaat nie.” 30 Die volk het dus op die sewende dag die Sabbat gehou.*+

31 Die huis van Israel het die brood “manna”* genoem. Dit was wit soos koljandersaad, en dit het gesmaak soos plat brode met heuning.+ 32 Toe het Moses gesê: “Dít is wat Jehovah beveel het: ‘Neem ’n gomer daarvan as iets wat in al julle geslagte bewaar moet word,+ sodat hulle die brood kan sien wat ek julle in die wildernis gegee het om te eet toe ek julle uit Egipte uitgelei het.’” 33 Toe het Moses vir Aäron gesê: “Neem ’n kruik en plaas ’n gomer manna daarin en sit dit voor Jehovah neer as iets wat in al julle geslagte bewaar moet word.”+ 34 Net soos Jehovah Moses beveel het, het Aäron dit voor die Getuienis+ gesit sodat dit bewaar kon word. 35 Die Israeliete het die manna 40 jaar lank geëet,+ totdat hulle in ’n land gekom het wat bewoon is.+ Hulle het die manna geëet totdat hulle by die grens van die land Kanaän gekom het.+ 36 ’n Gomer is ’n tiende van ’n efa.*

17 Die hele gemeenskap van Israel het op Jehovah se bevel+ van die een plek na die ander getrek op hulle reis uit die wildernis Sin,+ en hulle het in Reʹfidim kamp opgeslaan.+ Maar daar was geen water vir die volk om te drink nie.

2 Die volk het dus met Moses begin stry+ en gesê: “Gee vir ons water om te drink.” Maar Moses het vir hulle gesê: “Hoekom stry julle met my? Hoekom hou julle aan om Jehovah te toets?”+ 3 Maar die volk was baie dors, en hulle het aangehou om teen Moses te kla+ en gesê: “Hoekom het jy ons uit Egipte uitgelei om ons en ons kinders en ons vee van die dors te laat doodgaan?” 4 Uiteindelik het Moses tot Jehovah geroep en gesê: “Wat moet ek met hierdie volk doen? Hulle gaan my nog met klippe doodgooi!”

5 Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Gaan voor die volk uit en neem van die ouermanne van Israel saam met jou, sowel as jou staf waarmee jy die Nylrivier geslaan het.+ Neem dit in jou hand en gaan. 6 Ek sal daar voor jou op die rots in Horeb staan. Jy moet die rots slaan, en water sal daaruit kom, en die volk sal dit drink.”+ Moses het dit voor die oë van die ouermanne van Israel gedoen. 7 Hy het die plek toe Massa*+ en Meʹriba*+ genoem weens die stryery van die Israeliete en omdat hulle Jehovah getoets het+ deur te sê: “Is Jehovah met ons of nie?”

8 Toe het die Amalekiete+ teen Israel kom veg in Reʹfidim.+ 9 En Moses het vir Josua+ gesê: “Kies vir ons manne en gaan uit om teen die Amalekiete te veg. Môre gaan ek op die top van die heuwel staan met die staf van die ware God in my hand.” 10 Toe het Josua gedoen net soos Moses vir hom gesê het,+ en hy het teen die Amalekiete geveg. En Moses, Aäron en Hur+ het opgeklim na die top van die heuwel.

11 Solank as wat Moses sy hande opgehou het, het die Israeliete die oorhand gekry, maar sodra hy sy hande laat sak het, het die Amalekiete die oorhand gekry. 12 Toe Moses se hande moeg geword het, het hulle ’n klip geneem en dit onder hom geplaas, en hy het daarop gesit. Toe het Aäron en Hur sy hande ondersteun, een aan elke kant, sodat sy hande in die lug gebly het totdat die son ondergegaan het. 13 So het Josua Aʹmalek en sy volk met die swaard verslaan.+

14 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Skryf dít as ’n herinnering in die boek en herhaal dit vir Josua: ‘Ek sal seker maak dat niemand onder die hemel Aʹmalek sal onthou nie.’”+ 15 Toe het Moses ’n altaar gebou en dit Jehovah-Nissi* genoem 16 en gesê: “Omdat sy hand teen die troon van Jah is,+ sal Jehovah van geslag tot geslag teen Aʹmalek oorlog voer.”+

18 En Jetro, die priester van Miʹdian, Moses se skoonpa,+ het gehoor van alles wat God vir Moses en vir sy volk Israel gedoen het toe Jehovah Israel uit Egipte uitgelei het.+ 2 Jetro, Moses se skoonpa, het Sippoʹra, Moses se vrou, by hom in sy huis laat bly nadat Moses haar na hom toe teruggestuur het 3 saam met haar twee seuns.+ Die een seun se naam was Gersom,*+ want Moses het gesê: “Ek het ’n uitlander geword wat in ’n vreemde land woon.” 4 Die ander seun se naam was Eliëser,* want hy het gesê: “Die God van my vader is my helper. Hy het my van Farao se swaard gered.”+

5 En Jetro, Moses se skoonpa, het saam met Moses se seuns en sy vrou na Moses toe gekom in die wildernis waar hy by die berg van die ware God+ kamp opgeslaan het. 6 Toe het hy Moses laat weet: “Ek, jou skoonpa, Jetro,+ kom na jou toe saam met jou vrou en haar twee seuns.” 7 Moses het dadelik uitgegaan om sy skoonpa te ontmoet, en hy het neergebuig en hom gesoen. Hulle het mekaar gevra hoe dit gaan, en toe het hulle in die tent ingegaan.

8 Moses het vir sy skoonpa alles vertel wat Jehovah aan Farao en Egipte gedoen het om Israel te help+ en van al die probleme wat hulle op die pad gehad het+ en hoe Jehovah hulle verlos het. 9 Jetro was baie bly oor al die goeie dinge wat Jehovah vir Israel gedoen het deur hulle van Egipte* te red. 10 Toe het Jetro gesê: “Mag Jehovah geloof word, wat julle van Egipte en van Farao gered het, en wat die volk uit Egipte se greep gered het. 11 Nou weet ek dat Jehovah groter is as al die ander gode+ as gevolg van wat hy gedoen het aan diegene wat hoogmoedig was en sy volk sleg behandel het.” 12 Toe het Jetro, Moses se skoonpa, ’n brandoffer en offerandes vir God gebring, en Aäron en al die ouermanne van Israel het ’n maaltyd saam met Moses se skoonpa voor die ware God kom eet.

13 Die volgende dag het Moses soos gewoonlik gaan sit om as regter vir die volk op te tree, en die volk het van die oggend tot die aand voor Moses bly staan. 14 Toe Moses se skoonpa sien wat hy alles vir die volk doen, het hy gevra: “Wat doen jy alles vir die volk? Hoekom sit jy hier alleen met die hele volk wat van die oggend tot die aand voor jou staan?” 15 Moses het vir sy skoonpa gesê: “Omdat die volk na my toe bly kom om God se leiding te vra. 16 Wanneer ’n saak ontstaan, word dit aan my voorgelê, en ek moet tussen die een persoon en die ander oordeel, en ek maak die besluite van die ware God en sy wette bekend.”+

17 Moses se skoonpa het vir hom gesê: “Die manier waarop jy te werk gaan, is nie goed nie. 18 Jy sal beslis uitgeput raak, jy en hierdie volk wat by jou is, want hierdie las is te groot vir jou, en jy kan dit nie alleen dra nie. 19 Luister nou na my. Ek sal vir jou raad gee, en God sal met jou wees.+ Jy moet as verteenwoordiger van die volk voor die ware God dien,+ en jy moet die sake voor die ware God bring.+ 20 Jy moet hulle die wetsvoorskrifte en die wette leer+ en aan hulle bekend maak watter weg hulle moet volg en wat hulle moet doen. 21 Maar jy moet uit die volk bekwame manne+ kies wat God vrees, betroubare manne wat oneerlike wins haat.+ Stel hulle oor die volk aan as hoofde oor 1 000, hoofde oor 100, hoofde oor 50 en hoofde oor 10.+ 22 Wanneer sake ontstaan,* moet hulle as regters optree vir die volk, en hulle moet al die moeilike sake voor jou bring,+ maar hulle moet al die klein sake self hanteer. Maak dit vir jou makliker deur hulle toe te laat om die las saam met jou te dra.+ 23 As jy dít doen, en as God jou so beveel, sal jy die las kan dra en sal almal tevrede huis toe gaan.”

24 Moses het onmiddellik na sy skoonpa geluister en alles gedoen wat hy gesê het. 25 Moses het bekwame manne uit die hele Israel gekies en hulle as hoofde oor die volk aangestel – hoofde oor 1 000, hoofde oor 100, hoofde oor 50 en hoofde oor 10. 26 Hulle het dus as regters vir die volk opgetree wanneer sake ontstaan het. Hulle het die moeilike sake na Moses toe gebring,+ maar hulle het elke klein saak self hanteer. 27 Daarna het Moses van sy skoonpa afskeid geneem,+ en sy skoonpa het na sy land teruggegaan.

19 In die derde maand nadat die Israeliete Egipte verlaat het, op dieselfde dag,* het hulle in die wildernis Siʹnai gekom. 2 Hulle het van Reʹfidim+ af weggetrek en in die wildernis Siʹnai gekom en daar kamp opgeslaan. Israel het daar voor die berg kamp opgeslaan.+

3 Toe het Moses opgeklim na die ware God toe, en Jehovah het uit die berg na hom geroep+ en gesê: “Dít is wat jy vir die huis van Jakob, vir die Israeliete, moet sê: 4 ‘Julle het self gesien wat ek aan die Egiptenare gedoen het,+ sodat ek julle op die vlerke van ’n arend kon dra en julle na my toe kon bring.+ 5 As julle dan nou my stem streng gehoorsaam en my verbond hou, dan sal julle beslis my spesiale eiendom* uit al die volke+ word, want die hele aarde behoort aan my.+ 6 Julle sal vir my ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie+ word.’ Dit is wat jy vir die Israeliete moet sê.”

7 Toe het Moses gegaan en die ouermanne van die volk bymekaargeroep en vir hulle alles gesê wat Jehovah hom beveel het.+ 8 Daarna het die hele volk eenstemmig geantwoord: “Alles wat Jehovah gesê het, is ons bereid om te doen.”+ Moses het onmiddellik vir Jehovah gaan sê wat die volk se antwoord is. 9 En Jehovah het vir Moses gesê: “Kyk! Ek kom in ’n donker wolk na jou toe, sodat die volk kan hoor wanneer ek met jou praat en sodat hulle altyd ook in jou geloof kan stel.” Toe het Moses vir Jehovah vertel wat die volk gesê het.

10 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Gaan na die volk toe en heilig hulle vandag en môre, en hulle moet hulle klere was. 11 En hulle moet gereed wees vir die derde dag, want op die derde dag sal Jehovah voor die oë van die hele volk op die berg Siʹnai neerdaal. 12 Jy moet vir die volk grense reg rondom die berg vasstel en vir hulle sê: ‘Pasop dat julle nie teen die berg opklim of aan die rand daarvan raak nie. Enigiets of enigiemand wat aan die berg raak, sal beslis doodgemaak word. 13 Geen hand mag aan die skuldige raak nie, maar hy moet met klippe doodgegooi word of deurboor word.* Of dit nou ’n dier of ’n mens is, hy mag nie lewe nie.’+ Maar wanneer die ramshoring gehoor word,+ mag hulle tot by die berg kom.”

14 Toe het Moses teen die berg afgeklim na die volk toe, en hy het die volk begin heilig, en hulle het hulle klere gewas.+ 15 Hy het vir die volk gesê: “Maak gereed vir die derde dag. Niemand mag seksuele omgang hê nie.”*

16 Op die oggend van die derde dag was daar donderslae en weerlig, en daar was ’n swaar wolk+ op die berg en ’n baie harde geluid van ’n horing, en almal in die kamp het begin bewe.+ 17 Moses het die volk toe uit die kamp gelei om die ware God te ontmoet, en hulle het hulle plek aan die voet van die berg ingeneem. 18 Die hele berg Siʹnai het gerook, want Jehovah het in vuur daarop neergedaal.+ En die rook het soos die rook van ’n oond opgegaan, en die hele berg het geweldig geskud.+ 19 Terwyl die geluid van die horing al hoe harder geword het, het Moses gepraat, en die stem van die ware God het hom geantwoord.

20 Jehovah het op die berg Siʹnai neergedaal, op die top van die berg. Toe het Jehovah Moses na die top van die berg geroep, en Moses het opgeklim.+ 21 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Klim af en waarsku die volk om nie verby die grense te probeer gaan om na Jehovah te kyk nie, anders sal baie van hulle sterf. 22 En laat die priesters wat Jehovah gereeld nader, hulleself heilig, sodat Jehovah hulle nie doodmaak nie.”+ 23 Moses het toe vir Jehovah gesê: “Die volk kan nie teen die berg Siʹnai opklim nie, want u het ons reeds gewaarsku en gesê: ‘Stel grense vas rondom die berg en heilig dit.’”+ 24 Maar Jehovah het vir hom gesê: “Gaan, klim af, en dan moet jy weer opklim, jy en Aäron saam met jou, maar moenie toelaat dat die priesters en die volk verby die grense gaan om na Jehovah toe op te klim nie, sodat hy hulle nie doodmaak nie.”+ 25 Moses het dus afgeklim na die volk toe en vir hulle gesê wat God gesê het.

20 Toe het God al hierdie woorde gesê:+

2 “Ek is Jehovah julle God wat julle uit Egipte, uit die huis van slawerny, uitgelei het.+ 3 Jy mag geen ander gode buiten my* hê nie.+

4 “Jy mag nie vir jou ’n beeld of ’n afbeelding* maak van enigiets wat bo in die hemel, onder op die aarde of in die waters op* die aarde is nie.+ 5 Jy mag nie voor hulle neerbuig of verlok word om hulle te dien nie,+ want ek, Jehovah jou God, is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid vereis,+ wat straf vir die oortreding van vaders oor kinders bring, oor die derde geslag en oor die vierde geslag van dié wat my haat, 6 maar wat lojale liefde betoon aan die duisendste geslag van dié wat my liefhet en my gebooie gehoorsaam.+

7 “Jy mag nie die naam van Jehovah jou God op ’n disrespekvolle manier gebruik nie,+ want Jehovah sal nie die een wat Sy naam op ’n disrespekvolle manier gebruik, ongestraf laat bly nie.+

8 “Hou die Sabbatdag sodat dit heilig sal bly.+ 9 Jy het ses dae om te werk en om alles te doen wat jy moet,+ 10 maar die sewende dag is ’n sabbat vir Jehovah jou God. Jy mag geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of jou slaaf of jou slavin of jou mak dier of die uitlander wat in julle stede* woon nie.+ 11 Want in ses dae het Jehovah die hemel, die aarde, die see, en alles wat in hulle is, gemaak, en op die sewende dag het hy begin rus.+ Daarom het Jehovah die Sabbatdag geseën en dit geheilig.

12 “Eer* jou pa en jou ma+ sodat jy lank kan lewe in die land wat Jehovah jou God aan julle gee.+

13 “Jy mag nie moord pleeg nie.+

14 “Jy mag nie egbreuk pleeg nie.+

15 “Jy mag nie steel nie.+

16 “Jy mag nie valslik getuig wanneer jy getuienis teen jou medemens aflê nie.+

17 “Jy mag nie jou medemens se huis begeer nie. Jy mag nie jou medemens se vrou begeer nie,+ en ook nie sy slaaf of sy slavin of sy bul of sy donkie of enigiets wat aan jou medemens behoort nie.”+

18 En die hele volk het die donderslae en die geluid van die horing gehoor en die weerlig en die rokende berg gesien. Toe die volk dit sien, het hulle begin bewe en op ’n afstand gestaan.+ 19 En hulle het vir Moses gesê: “Praat jy met ons, en ons sal luister, maar moenie dat God met ons praat nie, want ons is bang dat ons sal sterf.”+ 20 Toe het Moses vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie, want die ware God het gekom om julle te toets+ sodat die vrees vir hom in julle kan bly en sodat julle nie sondig nie.”+ 21 En die volk het op ’n afstand bly staan, maar Moses het nader gegaan aan die donker wolk waar die ware God was.+

22 Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Dít is wat jy vir die Israeliete moet sê: ‘Julle het self gesien dat ek uit die hemel met julle gepraat het.+ 23 Julle mag nie vir julle gode van silwer of goud maak nie, want julle mag geen ander gode buiten my hê nie.+ 24 Julle moet ’n altaar van grond vir my maak, en julle moet julle brandoffers, julle vrede-offers,* julle kleinvee en julle beeste daarop offer. Op elke plek waar ek wil hê dat my naam onthou moet word,*+ sal ek na julle toe kom en julle seën. 25 As julle vir my ’n klipaltaar maak, mag julle nie klippe gebruik wat met gereedskap gekap is nie.+ Want as julle met julle beitel daaraan kap, sal julle dit ontheilig. 26 En julle mag nie met trappe na my altaar opklim nie, sodat julle geslagsdele* nie daarop ontbloot word nie.’

21 “Dít is die regterlike bevele wat jy aan hulle moet oordra:+

2 “As jy ’n Hebreeuse slaaf koop,+ moet hy ses jaar lank as ’n slaaf dien, maar in die sewende jaar moet hy vrygelaat word sonder dat hy enigiets hoef te betaal.+ 3 As hy alleen gekom het, moet hy alleen weggaan. As hy ’n vrou het, moet sy vrou saam met hom weggaan. 4 As sy meester vir hom ’n vrou gee en hy seuns of dogters by haar het, moet die vrou en haar kinders haar meester s’n word, en hy moet alleen weggaan.+ 5 Maar as die slaaf uitdruklik sê: ‘Ek het my meester, my vrou en my seuns lief, en ek wil nie vrygelaat word nie,’+ 6 moet sy meester hom voor die ware God bring. Hy moet hom dan tot by die deur of die deurpos bring, en sy meester moet ’n els neem en dit deur sy oor steek, en hy sal vir die res van sy lewe sy slaaf wees.

7 “As ’n man sy dogter as ’n slavin verkoop, sal sy nie op dieselfde manier as ’n manlike slaaf vrygelaat word nie. 8 As haar meester nie tevrede met haar is nie en haar nie as ’n byvrou wil hê nie, maar haar aan iemand anders wil verkoop,* sal hy nie die reg hê om haar aan uitlanders te verkoop nie, aangesien hy haar verraai het. 9 As hy haar vir sy seun kies, moet hy haar die regte van ’n dogter gee. 10 As hy vir hom nog ’n vrou neem, moet sy nog steeds die kos en klere ontvang wat die eerste vrou toekom, en hy moet aanhou om die huweliksplig+ teenoor haar na te kom. 11 As hy hierdie drie dinge nie vir haar gee nie, moet sy vrygelaat word sonder dat sy enige geld hoef te betaal.

12 “Enigeen wat iemand so slaan dat hy sterf, moet doodgemaak word.+ 13 Maar as hy dit per ongeluk doen en die ware God dit toelaat, sal ek vir julle ’n plek aanwys waarheen hy kan vlug.+ 14 As ’n man baie kwaad word vir sy medemens en hy hom opsetlik doodmaak,+ moet die man sterf, al moet julle hom van my altaar af wegneem.+ 15 Iemand wat sy pa of sy ma slaan, moet doodgemaak word.+

16 “Enigeen wat iemand ontvoer+ en hom verkoop of wat betrap word terwyl die ontvoerde persoon by hom is,+ moet doodgemaak word.+

17 “Enigiemand wat sy pa of sy ma vervloek, moet doodgemaak word.+

18 “Dít is wat moet gebeur as mans stry en die een sy medemens met ’n klip of met die vuis* slaan en hy nie sterf nie, maar in die bed moet bly: 19 As hy kan opstaan en buite kan rondloop met ’n stut, moet die een wat hom geslaan het, nie gestraf word nie. Hy moet slegs vergoed vir die beseerde man se verlore werkstyd totdat hy heeltemal gesond is.

20 “As ’n man sy slaaf of sy slavin met ’n stok slaan en die persoon as gevolg hiervan sterf, moet daardie persoon gewreek word.+ 21 Maar as hy ’n dag of twee bly lewe, moet hy nie gewreek word nie, want hy is met sy eienaar se geld gekoop.

22 “As mans met mekaar baklei en hulle ’n swanger vrou seermaak en haar kind te vroeg gebore word,*+ maar daar nie ’n besering is wat tot die dood lei nie, moet die oortreder die skadevergoeding betaal wat die vrou se man van hom eis. Hy moet dit deur die regters betaal.+ 23 Maar as daar ’n besering is wat tot die dood lei, moet jy lewe vir lewe* gee.+ 24 Jy moet oog vir oog gee, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet,+ 25 brandwond vir brandwond, wond vir wond, hou vir hou.

26 “As ’n man sy slaaf of sy slavin op die oog slaan en dit permanent beskadig, moet hy die slaaf vrylaat as vergoeding vir sy oog.+ 27 En as hy sy slaaf of sy slavin se tand uitslaan, moet hy die slaaf vrylaat as vergoeding vir sy tand.

28 “As ’n bul ’n man of ’n vrou stoot en die persoon sterf, moet die bul met klippe doodgegooi word+ en moet sy vleis nie geëet word nie. Die eienaar van die bul sal nie gestraf word nie. 29 Maar as ’n bul die gewoonte gehad het om mense te stoot en sy eienaar gewaarsku is, maar hy die bul nie onder beheer gehou het nie, en dit ’n man of ’n vrou doodgemaak het, moet die bul met klippe doodgegooi word, en sy eienaar moet ook doodgemaak word. 30 As hy ’n losprys* moet betaal, dan moet hy alles betaal wat van hom geëis word as die loskoopprys vir sy lewe. 31 As die bul ’n seun of ’n dogter stoot, sal dieselfde regterlike bevel vir die bul se eienaar geld. 32 As die bul ’n slaaf of ’n slavin stoot, moet die bul se eienaar 30 sikkels* aan die slaaf se meester gee, en die bul moet met klippe doodgegooi word.

33 “As ’n man die deksel van ’n put afhaal of ’n put grawe en dit nie bedek nie en ’n bul of ’n donkie daarin val, 34 moet die eienaar van die put vergoeding betaal.+ Hy moet die bedrag daarvoor aan die eienaar betaal, en die dooie dier sal syne word. 35 As een man se bul ’n ander man se bul seermaak en dit doodgaan, dan moet hulle die lewende bul verkoop en die geld wat daarvoor betaal is, verdeel. Hulle moet ook die dooie dier verdeel. 36 Of as dit bekend was dat ’n bul die gewoonte gehad het om ander diere te stoot, maar sy eienaar die bul nie onder beheer gehou het nie, moet hy vergoeding betaal, bul vir bul, en die dooie dier sal syne word.

22 “As ’n man ’n bul of ’n skaap steel en hy dit slag of verkoop, moet hy met vyf bulle vergoed vir ’n bul en met vier skape vir ’n skaap.+

2 (“As ’n dief+ betrap word terwyl hy inbreek en hy geslaan word en sterf, is daar geen bloedskuld in so ’n geval nie. 3 Maar as dit gebeur nadat die son opgekom het, sal die persoon wat hom doodgemaak het, wel bloedskuldig wees.)

“Hy moet vergoeding betaal. As hy niks het nie, moet hy verkoop word vir die goed wat hy gesteel het. 4 As die dier wat hy gesteel het, lewend by hom gevind word, of dit nou ’n bul of ’n donkie of ’n skaap is, moet hy dubbele vergoeding betaal.

5 “As iemand sy diere in ’n landery of ’n wingerd laat wei en hy hulle toelaat om in iemand anders se landery te wei, moet hy die beste van sy eie landery of die beste van sy eie wingerd as vergoeding gee.

6 “As ’n brand uitbreek en na doringbosse versprei en dit graanbondels of ongesnyde graan of ’n landery vernietig, moet die persoon wat die brand veroorsaak het, vergoeding betaal vir wat verbrand is.

7 “As ’n man vir sy medemens geld of iets anders gee om te hou en dit uit sy medemens se huis gesteel word, moet die dief, as hy gevind word, dubbele vergoeding betaal.+ 8 As die dief nie gevind word nie, moet die eienaar van die huis voor die ware God gebring word+ sodat daar vasgestel kan word of hy sy medemens se goed gevat het. 9 As iemand sê dat iemand anders sy bul het, of sy donkie, skaap, kledingstuk of enigiets wat hy verloor het, moet albei partye hulle saak voor die ware God bring+ om te bepaal wie die regte eienaar is. Die persoon wat deur God skuldig verklaar word, moet dubbele vergoeding aan sy medemens betaal.+

10 “As ’n man vir sy medemens ’n donkie of ’n bul of ’n skaap of enige mak dier gee om op te pas en dit doodgaan of vermink word of weggelei word sonder dat iemand dit sien, 11 moet die man aan wie dit toevertrou was, ’n eed voor Jehovah aflê dat hy nie sy medemens se goed gevat het nie, en die eienaar moet dit aanvaar. Die ander man hoef nie vergoeding te betaal nie.+ 12 Maar as die dier gesteel is by die man aan wie dit toevertrou was, moet hy aan die eienaar vergoeding betaal. 13 As dit deur ’n wilde dier verskeur is, moet hy dit as bewys bring. Hy hoef nie vergoeding te betaal vir iets wat deur ’n wilde dier verskeur is nie.

14 “Maar as iemand vra om ’n dier by sy medemens te leen en dit vermink word of doodgaan terwyl die eienaar nie daar is nie, moet die man wat dit geleen het, vergoeding betaal. 15 As die eienaar daar is, hoef hy nie vergoeding te betaal nie. As dit gehuur is, is die huurgeld die vergoeding.

16 “En as ’n man ’n maagd verlei wat nie verloof is nie en hy seksuele omgang met haar het, moet hy die bruidsprys vir haar betaal sodat sy sy vrou kan word.+ 17 As haar pa volstrek weier om haar aan hom te gee, moet hy dieselfde bedrag betaal wat normaalweg as bruidsprys betaal word.

18 “Jy mag ’n towenares nie laat lewe nie.+

19 “Elkeen wat seksuele omgang met ’n dier het, moet beslis doodgemaak word.+

20 “Enigiemand wat aan enige ander gode behalwe Jehovah offerandes bring, moet vernietig word.+

21 “Jy mag nie ’n uitlander wat onder julle woon, sleg behandel of onderdruk nie,+ want julle was uitlanders in Egipte.+

22 “Jy mag nie ’n weduwee of ’n weeskind* sleg behandel nie.+ 23 As jy hulle enigsins sleg behandel en hulle tot my om hulp roep, sal ek hulle beslis hoor.+ 24 Ek sal woedend word, en ek sal julle met die swaard doodmaak, en julle vrouens sal weduwees word en julle kinders sal weeskinders word.

25 “As jy geld leen aan enigiemand wat arm* is onder my volk, aan iemand wat onder julle woon, mag jy nie soos ’n skuldeiser word nie. Jy mag hom nie rente vra nie.+

26 “As jy jou medemens se kleed as ’n waarborg vir ’n lening* neem,+ moet jy dit teen sononder vir hom teruggee, 27 want dit is sy enigste bedekking, sy klere om sy liggaam te bedek. Wat sal hy dra wanneer hy gaan slaap?+ Wanneer hy tot my roep, sal ek beslis hoor, want ek het medelye.*+

28 “Jy mag God nie vervloek nie,+ en jy mag ook nie ’n hoofman* onder jou volk vervloek* nie.+

29 “Jy moenie huiwer om offerandes te bring uit jou oorvloedige opbrengs en die oorvloed van jou wynpers en oliepers nie.+ Jy moet jou eersgebore seun aan my gee.+ 30 Dít is wat jy met jou bul en jou skaap moet doen:+ Sewe dae moet hy by sy ma bly. Op die agtste dag moet jy die dier vir my gee.+

31 “Julle moet heilige mense vir my wees,+ en julle mag nie die vleis eet van enigiets in die veld wat deur ’n wilde dier verskeur is nie.+ Julle moet dit vir die honde gooi.

23 “Jy mag nie ’n valse gerug versprei nie.+ Moenie met ’n goddelose persoon saamwerk deur ’n kwaadwillige getuie te wees nie.+ 2 Jy mag nie agter die meerderheid aangaan om te doen wat sleg is nie, en wanneer jy getuienis aflê, mag jy nie die reg verdraai net om agter die meerderheid aan te gaan nie. 3 Jy moet onpartydig wees in ’n saak waarby ’n arm persoon betrokke is.+

4 “As jy op jou vyand se bul of donkie afkom wat wegdwaal, moet jy dit na hom toe terugneem.+ 5 As jy sien dat die donkie van iemand wat jou haat, onder sy vrag geval het, moet jy nie die dier net so los nie. Jy moet hom help om die dier te bevry.+

6 “Jy mag nie die reg verdraai in ’n hofsaak waarby ’n arm persoon betrokke is nie.+

7 “Jy moet niks te doen hê met ’n valse beskuldiging* nie, en moenie die onskuldige en die regverdige doodmaak nie, want ek sal nie die goddelose regverdig verklaar* nie.+

8 “Jy mag nie ’n omkoopgeskenk aanvaar nie, want die omkoopgeskenk verblind mense wat insig het en kan die woorde van regverdige mense verdraai.+

9 “Jy mag nie ’n uitlander wat onder julle woon, onderdruk nie. Julle weet hoe dit voel om uitlanders te wees, want julle was uitlanders in Egipte.+

10 “Jy moet ses jaar lank saad in jou land saai en die opbrengs daarvan insamel.+ 11 Maar in die sewende jaar moet jy dit onbewerk laat lê. Die armes onder jou volk moet daarvan eet, en wat hulle laat oorbly, sal die wilde diere van die veld eet. Dit is wat jy met jou wingerd en jou olyfboord moet doen.

12 “Ses dae lank moet jy jou werk doen, maar op die sewende dag moet jy nie werk nie, sodat jou bul en jou donkie en die seun van jou slavin en die uitlander wat onder julle woon, kan rus.+

13 “Sorg dat julle alles doen wat ek vir julle gesê het,+ en julle mag nie die name van ander gode aanroep nie. Dit mag nie oor julle lippe kom nie.+

14 “Drie keer per jaar moet julle vir my ’n fees vier.+ 15 Julle moet die Fees van die Ongesuurde Brode+ vier. Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet, net soos ek julle beveel het, op die vasgestelde tyd in die maand Abib,*+ want in daardie maand het julle Egipte verlaat. Niemand mag met leë hande voor my verskyn nie.+ 16 Julle moet ook die Fees van die Oes* vier, die fees van die eerste opbrengs van julle arbeid, dit wil sê van wat julle in die landerye gesaai het.+ Aan die einde van die jaar moet julle die Fees van die Insameling* vier, wanneer julle die vrugte van julle arbeid uit die landerye ingesamel het.+ 17 Drie keer per jaar moet al die mans onder julle voor die ware Heer, Jehovah, verskyn.+

18 “Jy mag nie die bloed van my offerande saam met enigiets offer wat met suurdeeg gemaak is nie. En die offerandes van vet wat by my feeste geoffer word, mag nie oornag tot die oggend toe gehou word nie.

19 “Jy moet die beste van die eerste opbrengs van jou grond na die huis van Jehovah jou God bring.+

“Jy mag nie ’n boklam in sy ma se melk kook nie.+

20 “Ek stuur ’n engel voor julle uit+ om julle op die pad te beskerm en om julle na die plek te bring wat ek gereedgemaak het.+ 21 Luister na hom en gehoorsaam sy stem. Moenie teen hom in opstand kom nie. Hy sal nie julle oortredings vergewe nie,+ want hy kom in my naam. 22 Maar as julle sy stem streng gehoorsaam en alles doen wat ek sê, dan sal ek vyandig optree teenoor julle vyande en julle teenstanders teëstaan. 23 Want my engel sal voor julle uit gaan en julle bring na die Amoriete, die Hetiete, die Perissiete, die Kanaäniete, die Hewiete en die Jebusiete, en ek sal hulle vernietig.+ 24 Julle mag nie voor hulle gode neerbuig of oorreed word om hulle te dien nie, en julle mag nie hulle gebruike navolg nie.+ Julle moet hulle afgode eerder vernietig en hulle heilige pilare stukkend breek.+ 25 Julle moet Jehovah julle God dien,+ en hy sal julle brood en julle water seën.+ Ek sal siekte onder julle verwyder.+ 26 Die vrouens in julle land sal nie miskrame hê of onvrugbaar wees nie,+ en ek sal julle ’n lang lewe gee.

27 “Ek sal sorg dat die volke wat julle gaan teëkom, vir my bang sal wees+ nog voordat julle daar aankom, en ek sal hulle verwar, en ek sal sorg dat al julle vyande verslaan word en van julle af wegvlug.+ 28 Ek sal ’n gevoel van hopeloosheid* voor julle uitstuur,+ en dit sal die Hewiete, die Kanaäniete en die Hetiete voor julle uit verdryf.+ 29 Ek sal hulle nie in een jaar voor julle uit verdryf nie, sodat die land nie verlate word en die wilde diere van die veld nie vermeerder en vir julle ’n gevaar word nie.+ 30 Ek sal hulle bietjie vir bietjie voor julle uit verdryf, totdat julle vrugbaar word en die land in besit neem.+

31 “Ek sal julle grens vasstel van die Rooisee af tot by die see van die Filistyne en van die wildernis af tot by die Rivier,*+ want ek sal die inwoners van die land in julle hand gee, en julle sal hulle voor julle uit verdryf.+ 32 Julle mag nie ’n verbond met hulle of hulle gode maak nie.+ 33 Hulle mag nie in julle land woon nie, sodat hulle julle nie teen my laat sondig nie. As julle hulle gode dien, sal dit beslis vir julle ’n strik word.”+

24 Toe het hy vir Moses gesê: “Klim op na Jehovah toe, jy en Aäron, Nadab en Abiʹhu+ en 70 van die ouermanne van Israel, en buig neer terwyl julle nog op ’n afstand is. 2 Moses moet alleen nader kom na Jehovah toe, maar die ander moenie nader kom nie, en die volk moenie saam met hom opklim nie.”+

3 Toe het Moses gekom en vir die volk alles vertel wat Jehovah gesê het en al die regterlike bevele aan hulle oorgedra.+ En die hele volk het met een stem geantwoord: “Ons is bereid om alles te doen wat Jehovah gesê het.”+ 4 Moses het toe alles neergeskryf wat Jehovah gesê het.+ Toe het hy die oggend vroeg opgestaan en aan die voet van die berg ’n altaar gebou en 12 pilare opgerig, een vir elkeen van die 12 stamme van Israel. 5 Daarna het hy jong Israelitiese mans gestuur om brandoffers vir Jehovah te offer, en ook bulle as vrede-offers.*+ 6 Toe het Moses die helfte van die bloed geneem en dit in bakke gegooi, en hy het die ander helfte van die bloed op die altaar gesprinkel. 7 Toe het hy die boek van die verbond geneem en dit hardop vir die volk gelees.+ En hulle het gesê: “Ons is bereid om alles te doen wat Jehovah gesê het, en ons sal gehoorsaam wees.”+ 8 Toe het Moses die bloed geneem en dit op die volk gesprinkel+ en gesê: “Dit is die bloed van die verbond wat Jehovah met julle gemaak het in ooreenstemming met al hierdie woorde.”+

9 Moses en Aäron, Nadab en Abiʹhu en 70 van die ouermanne van Israel het opgeklim, 10 en hulle het die God van Israel gesien.+ Onder sy voete was iets wat soos ’n vloer van saffier gelyk het, en dit was so suiwer soos die hemel self.+ 11 Hy het niks slegs aan die gerespekteerde manne van Israel+ gedoen nie, en hulle het ’n visioen van die ware God gesien en het geëet en gedrink.

12 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Klim teen die berg op na my toe en bly daar. Ek sal vir jou die kliptablette gee met die wet en die gebod wat ek sal skryf om hulle te onderrig.”+ 13 Toe het Moses en sy dienaar Josua+ opgestaan, en Moses het teen die berg van die ware God opgeklim.+ 14 Maar hy het vir die ouermanne gesê: “Wag hier vir ons totdat ons na julle toe terugkeer.+ Aäron en Hur+ is hier by julle. Enigiemand wat ’n regsaak het, kan na hulle toe gaan.”+ 15 Toe het Moses teen die berg opgeklim terwyl die wolk dit bedek het.+

16 Jehovah se heerlikheid+ het op die berg Siʹnai+ gebly, en die wolk het dit ses dae lank bedek. Op die sewende dag het hy uit die wolk na Moses geroep. 17 Vir die Israeliete wat toegekyk het, het Jehovah se heerlikheid soos ’n verterende vuur op die bergtop gelyk. 18 Moses het toe in die wolk ingegaan en teen die berg opgeklim.+ En Moses het 40 dae en 40 nagte op die berg gebly.+

25 Jehovah het toe vir Moses gesê: 2 “Sê vir die Israeliete dat hulle vir my ’n bydrae moet insamel. Julle moet die bydrae insamel van elkeen wie se hart hom beweeg om te gee.+ 3 Dít is die bydrae wat julle van hulle moet aanvaar: goud,+ silwer,+ koper,+ 4 blou garing, pers wol,* helderrooi materiaal,* fyn linne, bokhaar, 5 rooigekleurde ramsvelle, robbevelle, akasiahout,+ 6 olie vir die lampe,+ balsem vir die salfolie+ en vir die geurige reukwerk+ 7 en oniksstene en ander stene wat in die efod+ en die borsstuk+ geset moet word. 8 Hulle moet vir my ’n heiligdom maak, en ek sal onder hulle woon.+ 9 Julle moet die tabernakel en al sy toerusting presies maak volgens die voorbeeld* wat ek vir julle wys.+

10 “Hulle moet ’n ark* van akasiahout maak wat twee en ’n half el* lank en een en ’n half el breed en een en ’n half el hoog is.+ 11 Dan moet jy dit met suiwer goud oortrek.+ Jy moet die binnekant en die buitekant daarvan oortrek, en jy moet ’n goue randversiering daarom maak.+ 12 Jy moet vier goue ringe daarvoor giet en dit bo die vier pote vassit, met twee ringe aan die een kant en twee ringe aan die ander kant. 13 En jy moet pale van akasiahout maak en dit met goud oortrek.+ 14 Jy moet die pale deur die ringe aan die kante van die Ark steek om die Ark mee te dra. 15 Die pale moet in die ringe van die Ark bly. Dit mag nie daaruit gehaal word nie.+ 16 Jy moet die Getuienis wat ek jou sal gee, in die Ark sit.+

17 “Jy moet ’n deksel van suiwer goud maak, twee en ’n half el lank en een en ’n half el breed.+ 18 Jy moet twee gerubs van goud maak. Hulle moet met ’n hamer gevorm word, en hulle moet op die twee kante van die deksel wees.+ 19 Maak die gerubs op die twee kante van die deksel, een gerub aan elke kant. 20 Die gerubs moet hulle twee vlerke na bo uitsprei, bo-oor die deksel,+ met hulle koppe na mekaar toe. Die gesigte van die gerubs moet afkyk na die deksel. 21 Jy moet die deksel+ bo-op die Ark sit, en jy moet die Getuienis wat ek jou sal gee, in die Ark sit. 22 Ek sal daar aan jou verskyn en van bokant die deksel af met jou praat.+ Ek sal van tussen die twee gerubs wat op die ark van die Getuienis is, vir jou al die bevele gee wat jy aan die Israeliete moet oordra.

23 “Jy moet ook ’n tafel+ van akasiahout maak, twee el lank en een el breed en een en ’n half el hoog.+ 24 Jy moet die tafel met suiwer goud oortrek, en jy moet ’n goue randversiering reg rondom maak. 25 Jy moet ’n rand van ’n handbreedte* om die tafel maak, en aan daardie rand moet jy ’n goue randversiering reg rondom maak. 26 Jy moet vier goue ringe daarvoor maak en die ringe vassit aan die vier hoeke, waar die vier pote vas is. 27 Die ringe moet naby die rand wees, en die pale waarmee die tafel gedra word, moet daardeur gesteek word. 28 Jy moet die pale van akasiahout maak en dit met goud oortrek en die tafel daarmee dra.

29 “Jy moet ook vir die tafel die skottels en die bekers maak, sowel as die kanne en die bakke waarmee hulle drankoffers sal uitgooi. Jy moet hulle van suiwer goud maak.+ 30 En jy moet die offerbrode gereeld op die tafel voor my sit.+

31 “Jy moet ’n lampstaander+ van suiwer goud maak. Dit moet met ’n hamer gevorm word. Die lampstaander se voetstuk, steel, arms, kelke, knoppe en bloeisels moet alles een stuk wees.+ 32 En ses arms moet uit die kante van die lampstaander kom: drie arms uit die een kant en drie arms uit die ander kant. 33 Drie kelke in die vorm van amandelblomme moet aan die een stel arms wees, met knoppe en bloeisels wat mekaar afwissel, en drie kelke in die vorm van amandelblomme aan die ander stel arms, met knoppe en bloeisels wat mekaar afwissel. Dit is hoe die ses arms moet wees wat uit die steel van die lampstaander kom. 34 Aan die steel van die lampstaander moet daar vier kelke in die vorm van amandelblomme wees, met knoppe en bloeisels wat mekaar afwissel. 35 Onder die eerste twee arms wat uit die steel kom, moet daar ’n knop wees, en onder die volgende twee arms moet daar ’n knop wees en onder die laaste twee arms moet daar ’n knop wees. Dit is hoe die ses arms moet wees wat uit die steel kom. 36 Die knoppe en die arms en die hele lampstaander moet een stuk suiwer goud wees. Dit moet met ’n hamer gevorm word.+ 37 Jy moet sewe lampe daarvoor maak, en wanneer die lampe aangesteek is, moet dit die ruimte aan die voorkant daarvan verlig.+ 38 Sy snuiters* en sy vuurbakkies moet van suiwer goud gemaak wees.+ 39 Die lampstaander en hierdie voorwerpe moet van ’n talent* suiwer goud gemaak word. 40 Sorg dat jy dit maak volgens die voorbeeld* wat op die berg vir jou gewys is.+

26 “Jy moet die tabernakel+ maak met tien tentdoeke van fyn gedraaide linnedraad, blou garing, pers wol en helderrooi materiaal. Jy moet gerubs+ daarop borduur.+ 2 Elke tentdoek moet 28 el* lank en 4 el breed wees. Al die tentdoeke moet ewe groot wees.+ 3 Vyf tentdoeke moet aanmekaargeheg word om ’n reeks te vorm, en die ander vyf tentdoeke moet aanmekaargeheg word om ’n reeks te vorm. 4 Jy moet lissies van blou garing aan die rand van die een tentdoek aan die einde van die reeks maak, en jy moet dieselfde doen aan die einde van die ander reeks tentdoeke waar die twee reekse tentdoeke aan mekaar vasgehaak sal word. 5 Jy moet 50 lissies aan die een tentdoek maak, en 50 lissies aan die rand van die ander tentdoek, sodat hulle teenoor mekaar sal wees waar hulle aan mekaar vasgehaak word. 6 Jy moet 50 goue hakies maak en die twee reekse tentdoeke met die hakies aan mekaar vashaak, sodat die tabernakel ’n eenheid vorm.+

7 “Jy moet ook doeke van bokhaar+ maak vir die tent oor die tabernakel. Jy moet 11 tentdoeke maak.+ 8 Elke tentdoek moet 30 el lank en 4 el breed wees. Al 11 tentdoeke moet ewe groot wees. 9 Jy moet vyf van die tentdoeke aanmekaarheg en die ander ses tentdoeke aanmekaarheg, en jy moet die sesde tentdoek terugvou aan die voorkant van die tent. 10 En jy moet 50 lissies aan die rand van die een tentdoek maak, die buitenste in die reeks, en 50 lissies aan die rand van die tentdoek by die ander plek waar hulle aan mekaar vasgehaak word. 11 Jy moet 50 koperhakies maak en die hakies in die lissies steek en die twee reekse tentdoeke aan mekaar vashaak, sodat dit ’n eenheid vorm. 12 Laat die oorblywende deel van die tentdoeke oorhang. Die helfte van die oorblywende tentdoek moet aan die agterkant van die tabernakel oorhang. 13 Die tentdoeke wat oor die sykante van die tabernakel hang, moet aan elke kant een el langer wees as die onderste tentdoek sodat dit die tabernakel kan bedek.

14 “Jy moet ook ’n bedekking van rooigekleurde ramsvelle vir die tent maak, en daar bo-oor ’n bedekking van robbevelle.+

15 “Jy moet regopstaande paneelrame+ van akasiahout vir die tabernakel maak.+ 16 Elke paneelraam moet tien el hoog en een en ’n half el breed wees. 17 Elke paneelraam het twee tappe* wat parallel is met mekaar.* Dit is hoe jy al die paneelrame van die tabernakel moet maak. 18 Jy moet 20 paneelrame vir die suidekant van die tabernakel maak wat na die suide toe kyk.

19 “Jy moet 40 silwervoetstukke+ onder die 20 paneelrame maak: twee voetstukke onder elkeen van die paneelrame vir hulle twee tappe.+ 20 Vir die ander kant van die tabernakel, die noordekant, moet jy 20 paneelrame maak, 21 sowel as hulle 40 silwervoetstukke: twee voetstukke onder elkeen van die paneelrame. 22 Vir die agterste deel van die tabernakel, aan die westekant, moet jy ses paneelrame maak.+ 23 Jy moet twee paneelrame maak wat as die twee hoekstutte kan dien vir die agterkant van die tabernakel. 24 Hulle moet uit twee dele bestaan wat aan die bokant by die eerste ring bymekaarkom. Albei paneelrame moet op dieselfde manier gemaak word, en hulle sal die twee hoekstutte vorm. 25 En daar moet agt paneelrame en 16 silwervoetstukke wees: twee voetstukke onder elkeen van die paneelrame.

26 “Jy moet stawe van akasiahout maak: vyf vir die paneelrame aan die een kant van die tabernakel+ 27 en vyf vir die paneelrame aan die ander kant van die tabernakel en vyf vir die paneelrame aan die westekant van die tabernakel, vir die agterste deel. 28 Die middelste staaf moet oor die middel van die paneelrame strek, van die een ent tot die ander ent.

29 “Jy moet die paneelrame met goud oortrek,+ en jy moet vir die paneelrame ringe van goud maak waardeur die stawe gesteek moet word, en jy moet die stawe met goud oortrek. 30 Jy moet die tabernakel oprig volgens die plan wat op die berg vir jou gewys is.+

31 “Jy moet ’n gordyn*+ maak van blou garing, pers wol, helderrooi materiaal en fyn gedraaide linnedraad. Gerubs moet daarop geborduur word. 32 Jy moet dit ophang aan vier pilare van akasiahout wat met goud oorgetrek is. Hulle hakies moet van goud wees. Die pilare moet op vier silwervoetstukke geplaas word. 33 Jy moet die gordyn* onder die hakies ophang en die ark van die Getuienis inbring+ en dit agter die gordyn sit. Die gordyn sal vir julle ’n skeiding maak tussen die Heilige+ en die Allerheiligste.+ 34 Jy moet die deksel op die ark van die Getuienis in die Allerheiligste sit.

35 “Jy moet die tafel buite die gordyn* sit, en die lampstaander+ aan die suidekant van die tabernakel, oorkant die tafel, wat aan die noordekant moet staan. 36 Jy moet vir die ingang van die tent ’n skerm* maak van blou garing, pers wol, helderrooi materiaal en fyn gedraaide linnedraad wat saamgeweef is.+ 37 Jy moet vyf pilare van akasiahout vir die skerm* maak en hulle met goud oortrek. Hulle hakies moet van goud wees, en jy moet vyf kopervoetstukke vir hulle giet.

27 “Jy moet die altaar van akasiahout maak.+ Dit moet vyf el* lank en vyf el breed wees. Die altaar moet vierkantig en drie el hoog wees.+ 2 Jy moet horings+ op die vier hoeke maak. Die horings moet deel wees van die altaar, en jy moet die altaar met koper oortrek.+ 3 Jy moet emmers maak om die as* te verwyder, sowel as grawe, bakke, vurke en vuurbakke, en jy moet al die voorwerpe van koper maak.+ 4 Jy moet ’n rooster vir die altaar maak, ’n netwerk van koper, met vier koperringe aan die vier hoeke van die rooster. 5 Dit moet onder die rand van die altaar wees, binne-in die altaar, omtrent halfpad ondertoe. 6 Jy moet pale van akasiahout vir die altaar maak en dit met koper oortrek. 7 Die pale moet in die ringe gesteek word, sodat die pale aan die twee kante van die altaar sal wees wanneer dit gedra word.+ 8 Die altaar moet soos ’n kis van planke wees wat hol is aan die binnekant. Dit moet gemaak word net soos Hy vir jou op die berg gewys het.+

9 “Jy moet die voorhof+ van die tabernakel maak. Aan die suidekant van die voorhof, wat na die suide toe kyk, moet daar hangende gordyne van fyn gedraaide linnedraad wees, 100 el lank vir die een kant.+ 10 Dit moet 20 pilare met 20 kopervoetstukke hê. Die hakies van die pilare en hulle verbindingstukke* moet van silwer wees. 11 Die hangende gordyne aan die noordekant moet ook oor ’n lengte van 100 el strek, en daar moet 20 pilare en 20 kopervoetstukke wees, met hakies en verbindingstukke* van silwer vir die pilare. 12 Daar moet hangende gordyne aan die westekant wees wat oor ’n lengte van 50 el strek, regoor die breedte van die voorhof, met tien pilare en tien voetstukke. 13 Die breedte van die voorhof aan die oostekant, aan die kant waar die son opkom, moet 50 el wees. 14 Aan die een kant moet daar hangende gordyne wees wat oor ’n lengte van 15 el strek, met drie pilare en drie voetstukke.+ 15 En aan die ander kant moet daar hangende gordyne wees wat oor ’n lengte van 15 el strek, met drie pilare en drie voetstukke.

16 “Die ingang van die voorhof moet ’n skerm* van 20 el hê wat gemaak is van blou garing, pers wol, helderrooi materiaal en fyn gedraaide linnedraad wat saamgeweef is,+ met vier pilare en vier voetstukke.+ 17 Al die pilare om die voorhof moet hegstukke en hakies van silwer hê, maar hulle voetstukke moet van koper wees.+ 18 Die voorhof moet 100 el lank+ en 50 el breed wees, en die gordyne van fyn gedraaide linnedraad om die voorhof moet 5 el hoog wees, en dit moet kopervoetstukke hê. 19 Al die voorwerpe en die items wat in die diens in verband met die tabernakel gebruik sal word, sowel as die tentpenne en al die penne van die voorhof, moet van koper wees.+

20 “Jy moet die Israeliete beveel om vir jou suiwer, uitgestampte olyfolie vir die lampstaander te bring, sodat die lampe kan bly brand.+ 21 Aäron en sy seuns moet reël dat die lampe in die tent van samekoms, wat buite die gordyn* naby die Getuienis+ is, van die aand tot die oggend toe voor Jehovah bly brand.+ Dit is ’n permanente wetsbepaling vir die Israeliete, wat hulle in al hulle geslagte moet nakom.+

28 “Jy moet jou broer Aäron, sowel as sy seuns, uit die Israeliete laat roep, sodat hy my as priester kan dien+ – Aäron,+ sowel as Nadab en Abiʹhu,+ Eleaʹsar en Iʹtamar,+ die seuns van Aäron.+ 2 Jy moet heilige klere vir jou broer Aäron maak, ’n waardige en pragtige uitrusting.+ 3 Jy moet met almal praat wat vaardighede het,* dié wat ek met die gees van wysheid+ gevul het, en hulle moet Aäron se klere maak sodat hy geheilig kan word en my as priester kan dien.

4 “Dít is die klere wat hulle moet maak: ’n borsstuk,+ ’n efod,+ ’n moulose oorkleed,+ ’n kleed met ’n blokkiespatroon, ’n tulband+ en ’n lyfband.+ Hulle moet hierdie heilige klere vir jou broer Aäron en sy seuns maak, sodat hy my as priester kan dien. 5 Die vaardige werkers moet die goud, die blou garing, die pers wol, die helderrooi materiaal en die fyn linne gebruik.

6 “Hulle moet die efod maak van goud, blou garing, pers wol, helderrooi materiaal en fyn gedraaide linnedraad, en daar moet op die efod geborduur word.+ 7 Dit moet twee skouerstukke hê wat by die twee bokante van die efod verbind is. 8 Die geweefde lyfband,+ wat aan die efod vasgeheg is om dit in plek te hou, moet van dieselfde materiale gemaak word: goud, blou garing, pers wol, helderrooi materiaal en fyn gedraaide linnedraad.

9 “Jy moet twee oniksstene+ neem en die name van die seuns van Israel daarop graveer:+ 10 ses name op die een steen en die ses oorblywende name op die ander steen, in die volgorde waarin hulle gebore is. 11 ’n Steensnyer moet die name van die seuns van Israel op die twee stene graveer, soos hy ’n seël sou graveer.+ Dan moet jy dit in goue monterings laat set. 12 Jy moet die twee stene op die skouerstukke van die efod sit as ’n herinnering aan die seuns van Israel.+ Aäron moet hulle name op sy twee skouerstukke as ’n herinnering voor Jehovah dra. 13 Jy moet goue monterings maak, 14 sowel as twee kettinkies van suiwer goud wat gedraai is soos toutjies,+ en jy moet die kettinkies aan die monterings vasheg.+

15 “Laat ’n borduurder die borsstuk van oordeel* maak.+ Soos die efod, moet dit van goud, blou garing, pers wol, helderrooi materiaal en fyn gedraaide linnedraad gemaak word.+ 16 Dit moet vierkantig wees wanneer dit dubbel gevou is, ’n span* lank en ’n span breed. 17 Jy moet vier rye stene daarin set. In die eerste ry: robyn, topaas en smarag. 18 In die tweede ry: turkoois, saffier en jaspis. 19 In die derde ry: lesjʹem-steen,* agaat en ametis. 20 In die vierde ry: chrisoliet, oniks en jade. Hulle moet in goue monterings geset word. 21 Die stene moet ooreenstem met die name van die 12 seuns van Israel. Elkeen moet soos ’n seël gegraveer word. Elke naam moet een van die 12 stamme verteenwoordig.

22 “Jy moet gedraaide kettinkies vir die borsstuk maak, soos toutjies van suiwer goud.+ 23 Jy moet twee goue ringe vir die borsstuk maak en die twee ringe aan die twee hoeke van die borsstuk vassit. 24 Jy moet die twee goue toutjies deur die twee ringe aan die hoeke van die borsstuk steek. 25 Jy moet die twee punte van die twee toutjies deur die twee monterings steek, en jy moet dit aan die skouerstukke van die efod vasheg, aan die voorkant. 26 Jy moet twee goue ringe maak en hulle aan die twee hoeke van die borsstuk vassit, aan die agterkant van die borsstuk, wat aan die efod raak.+ 27 Jy moet nog twee goue ringe maak vir die plekke waar die lyfband aan die efod vas is, dit wil sê aan die voorkant van die efod,+ onder die twee skouerstukke, net bo die geweefde lyfband. 28 Die borsstuk moet in plek gehou word met ’n blou toutjie, wat die ringe van die borsstuk verbind met die ringe van die efod. Dit sal die borsstuk in plek hou op die efod, bo die geweefde lyfband.

29 “Aäron moet die name van die seuns van Israel op die borsstuk van oordeel* op sy hart dra as ’n permanente herinnering voor Jehovah wanneer hy in die Heilige ingaan. 30 Jy moet die Urim en die Tummim*+ in die borsstuk van oordeel* sit, en hulle moet op Aäron se hart wees wanneer hy voor Jehovah ingaan, en Aäron moet hierdie voorwerpe, waarmee oordele vir die Israeliete vasgestel word, altyd voor Jehovah op sy hart dra.

31 “Die moulose oorkleed van die efod moet geheel en al van blou garing gemaak word.+ 32 Daar moet ’n opening boaan* in die middel wees. Die opening moet ’n rand rondom hê wat deur ’n wewer geweef is. Dit moet wees soos die opening van ’n pantser,* sodat dit nie sal skeur nie. 33 Jy moet reg rondom die soom granaatjies maak van blou garing, pers wol en helderrooi materiaal, met goue klokkies tussen die granaatjies. 34 Wissel die goue klokkies en die granaatjies af, ’n goue klokkie en dan ’n granaatjie, reg rondom die soom van die moulose oorkleed. 35 Aäron moet dit dra sodat hy kan dien, en die geluid daarvan moet gehoor word wanneer hy voor Jehovah in die heiligdom ingaan en wanneer hy uitkom, sodat hy nie sterf nie.+

36 “Jy moet ’n blink plaat van suiwer goud maak, en net soos daar op ’n seël gegraveer word, moet jy daarop graveer: ‘Heiligheid behoort aan Jehovah.’+ 37 Jy moet dit met ’n blou toutjie aan die tulband+ vasmaak, en dit moet aan die voorkant van die tulband bly. 38 Dit moet op Aäron se voorkop wees, en Aäron sal verantwoordelik gehou word wanneer iemand sondig in verband met die heilige dinge,+ wat deur die Israeliete geheilig word wanneer hulle dit as heilige gawes offer. Dit moet altyd op sy voorkop bly, sodat hulle Jehovah se goedkeuring kan verkry.

39 “Die kleed moet ’n blokkiespatroon hê en moet van fyn linne geweef word, en jy moet ook ’n tulband van fyn linne en ’n geweefde lyfband+ maak.

40 “Jy moet ook ’n kleed, ’n lyfband en ’n hoofbedekking vir elkeen van Aäron se seuns+ maak, waardige en pragtige uitrustings.+ 41 Jy moet dit vir jou broer Aäron sowel as sy seuns aantrek, en jy moet hulle salf+ en hulle inhuldig*+ en hulle heilig, en hulle moet my as priesters dien. 42 Jy moet ook vir hulle kortbroeke* van linne maak om hulle kaal vlees te bedek.+ Dit moet van die heupe tot by die bobene strek. 43 Aäron en sy seuns moet dit dra wanneer hulle in die tent van samekoms ingaan en wanneer hulle by die altaar kom om in die heiligdom te dien, sodat hulle nie skuldig word en sterf nie. Dit is ’n permanente wetsbepaling vir hom en sy nageslag.*

29 “Dít is wat jy moet doen om hulle te heilig, sodat hulle my as priesters kan dien: Neem ’n jong bul en twee skaapramme sonder gebrek,+ 2 ongesuurde brode, ongesuurde ringvormige brode wat met olie gemaak is en ongesuurde platbrode wat met olie gesmeer is.+ Jy moet dit van fyn koringmeel maak 3 en in ’n mandjie sit. Bied dit in die mandjie+ aan, saam met die bul en die twee ramme.

4 “Jy moet Aäron en sy seuns na die ingang van die tent van samekoms+ laat kom en hulle met water was.+ 5 Dan moet jy die klere+ neem en vir Aäron die kleed, die moulose oorkleed van die efod, die efod en die borsstuk aantrek, en jy moet die geweefde lyfband van die efod styf om sy middel vasbind.+ 6 Jy moet die tulband op sy kop sit en die heilige toewydingsteken* aan die tulband vasmaak.+ 7 Neem dan die salfolie+ en gooi dit op sy kop uit om hom te salf.+

8 “Dan moet jy sy seuns laat nader kom en vir hulle die klere+ aantrek 9 en die lyfbande om hulle sit, Aäron sowel as sy seuns, en jy moet hulle hoofbedekkings op hulle sit. En die priesterskap moet hulle s’n word as ’n permanente wetsbepaling.+ Dit is hoe jy Aäron en sy seuns moet inhuldig om as priesters te dien.*+

10 “Jy moet dan die bul voor die tent van samekoms bring, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die bul se kop sit.+ 11 Slag die bul voor Jehovah, by die ingang van die tent van samekoms.+ 12 Neem van die bul se bloed met jou vinger en smeer dit aan die horings van die altaar+ en gooi die res van die bloed aan die voet van die altaar uit.+ 13 Neem dan al die vet+ wat die ingewande bedek, die vet* aan die lewer en die twee niere met die vet daaraan en verbrand dit sodat dit op die altaar rook.+ 14 Maar jy moet die bul se vleis en sy vel en sy mis buite die kamp met vuur verbrand. Dit is ’n sonde-offer.

15 “Dan moet jy die een skaapram neem, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die ram se kop sit.+ 16 Slag die ram en neem die bloed en besprinkel al die kante van die altaar daarmee.+ 17 Sny die ram in stukke op en was sy ingewande+ en sy pote, en jy moet die stukke sowel as die kop regsit. 18 Jy moet die hele ram verbrand en dit op die altaar laat rook. Dit is ’n brandoffer met ’n aangename* geur vir Jehovah.+ Dit is ’n vuuroffer aan Jehovah.

19 “Daarna moet jy die ander skaapram neem, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die ram se kop sit.+ 20 Slag die ram en neem van sy bloed en smeer dit aan die onderste deel van Aäron se regteroor en aan die onderste deel van sy seuns se regteroor en aan die duim van hulle regterhand en aan die groottoon van hulle regtervoet, en besprinkel al die kante van die altaar met die bloed. 21 Neem dan van die bloed wat op die altaar is en van die salfolie+ en spat dit op Aäron en sy klere en op sy seuns en hulle klere, sodat hy en sy klere en sy seuns en hulle klere heilig kan wees.+

22 “Neem dan die ram se vet, die vetstert, die vet wat die ingewande bedek, die vet* aan die lewer, die twee niere met die vet wat daaraan is+ en die regterboud, want dit is ’n ram vir die inhuldiging.+ 23 Neem ook ’n ronde brood en ’n ringvormige brood wat met olie gemaak is en ’n platbrood uit die mandjie met ongesuurde brood wat voor Jehovah is. 24 Jy moet dit alles in die hande van Aäron en in die hande van sy seuns sit, en jy moet dit as ’n beweegoffer heen en weer voor Jehovah beweeg. 25 Dan moet jy dit uit hulle hande neem en dit op die altaar bo-op die brandoffer verbrand as ’n aangename* geur voor Jehovah. Dit is ’n vuuroffer aan Jehovah.

26 “Neem dan die bors van die ram vir die inhuldiging,+ wat vir Aäron geoffer word, en beweeg dit heen en weer as ’n beweegoffer voor Jehovah, en dit sal jou deel word. 27 Van die ram vir die inhuldiging,+ wat vir Aäron en sy seuns geoffer is, moet jy die bors van die beweegoffer heilig, wat heen en weer beweeg is, sowel as die boud van die heilige deel, wat bygedra is. 28 Dit moet Aäron en sy seuns s’n word. Dit is ’n permanente wetsvoorskrif wat die Israeliete moet nakom, want dit is ’n heilige deel, en dit sal ’n heilige deel word wat deur die Israeliete gegee moet word.+ Dit is hulle heilige deel vir Jehovah uit hulle vrede-offers.*+

29 “Die heilige klere+ wat aan Aäron behoort, sal deur sy seuns+ ná hom gebruik word wanneer hulle gesalf word en as priesters ingehuldig word. 30 Die priester uit sy nageslag wat hom opvolg en wat in die tent van samekoms ingaan om in die heiligdom te dien, moet dit sewe dae dra.+

31 “Jy moet die ram vir die inhuldiging neem en die vleis daarvan in ’n heilige plek kook.+ 32 Aäron en sy seuns moet die vleis van die ram en die brood wat in die mandjie is, by die ingang van die tent van samekoms eet.+ 33 Hulle moet die dinge eet waarmee versoening gedoen is om hulle as priesters in te huldig* en hulle te heilig. Maar niemand anders* mag dit eet nie, want dit is iets heiligs.+ 34 As daar van die vleis van die inhuldigingsoffer en van die brood tot die oggend toe oorbly, moet jy dit met vuur verbrand.+ Dit mag nie geëet word nie, want dit is iets heiligs.

35 “Dit is wat jy met Aäron en sy seuns moet doen, volgens alles wat ek jou beveel het. Jy moet hulle sewe dae lank as priesters inhuldig.*+ 36 Jy moet elke dag ’n bul as ’n sonde-offer bring om versoening te doen, en jy moet die altaar van sonde reinig deur versoening daarvoor te doen, en jy moet dit salf om dit te heilig.+ 37 Jy moet sewe dae lank vir die altaar versoening doen, en jy moet dit heilig sodat dit ’n besonder heilige altaar sal word.+ Enigiemand wat aan die altaar raak, moet heilig wees.

38 “Dít is wat jy elke dag op die altaar moet offer:+ twee jong skaapramme, elk ’n jaar oud. 39 Offer die een jong ram in die oggend en die ander ram wanneer dit skemer word.*+ 40 Saam met die eerste jong ram moet jy ’n tiende van ’n efa* fynmeel aanbied wat met ’n kwart hin* uitgestampte olie gemeng is, sowel as ’n drankoffer van ’n kwart hin wyn. 41 Jy moet die tweede jong ram offer wanneer dit skemer word,* saam met dieselfde graanoffer en drankoffer as in die oggend. Jy moet dit as ’n vuuroffer met ’n aangename* geur vir Jehovah aanbied. 42 Dit moet in al julle geslagte ’n gereelde brandoffer wees by die ingang van die tent van samekoms voor Jehovah, waar ek aan julle sal verskyn om met julle te praat.+

43 “Ek sal daar aan die Israeliete verskyn, en daardie plek sal deur my heerlikheid+ geheilig word. 44 Ek sal die tent van samekoms en die altaar heilig, en ek sal Aäron en sy seuns heilig,+ sodat hulle my as priesters kan dien. 45 Ek sal onder die Israeliete woon, en ek sal hulle God wees.+ 46 En hulle sal beslis weet dat ek Jehovah hulle God is, wat hulle uit Egipte uitgelei het sodat ek by hulle kan woon.+ Ek is Jehovah hulle God.

30 “Jy moet ’n altaar maak waarop reukwerk gebrand kan word.+ Jy moet dit van akasiahout maak.+ 2 Dit moet vierkantig wees, een el* lank, een el breed en twee el hoog. Die horings moet deel van die altaar wees.+ 3 Jy moet die altaar met suiwer goud oortrek: die boonste oppervlak, al die kante en die horings. Jy moet ook ’n goue randversiering daarom maak. 4 Jy moet onder die randversiering aan twee teenoorgestelde kante ook twee goue ringe daarvoor maak, en die pale waarmee dit gedra word, moet daardeur gesteek word. 5 Jy moet die pale van akasiahout maak en dit met goud oortrek. 6 Jy moet dit voor die gordyn* sit wat naby die ark van die Getuienis+ is, voor die deksel wat oor die Getuienis is, waar ek aan jou sal verskyn.+

7 “Aäron+ moet geurige reukwerk+ daarop+ brand en dit op die altaar laat rook wanneer hy elke oggend na die lampe+ omsien. 8 En wanneer Aäron die lampe teen skemer* aansteek, moet hy die reukwerk brand. Dit is ’n gereelde reukwerk-offer voor Jehovah in al julle geslagte. 9 Julle mag nie onwettige reukwerk+ of ’n brandoffer of ’n graanoffer daarop offer nie, en julle mag nie ’n drankoffer daarop uitgooi nie. 10 Aäron moet een keer per jaar+ op die horings daarvan versoening doen. Hy moet een keer per jaar van die bloed van die sonde-offer gebruik om vir die altaar versoening te doen.+ Dit moet in al julle geslagte gedoen word. Dit is besonder heilig vir Jehovah.”

11 Toe het Jehovah vir Moses gesê: 12 “Wanneer jy ook al ’n sensus opneem en die seuns van Israel tel,+ moet elkeen tydens die sensus ’n losprys vir sy lewe aan Jehovah gee. Hulle moet dit doen sodat geen plaag hulle tref wanneer hulle geregistreer word nie. 13 Dít is wat almal wat geregistreer is, moet gee: ’n halfsikkel* volgens die standaardsikkel van die heiligdom.*+ Twintig gera* is gelyk aan ’n sikkel. ’n Halfsikkel is die bydrae vir Jehovah.+ 14 Elkeen van 20 jaar en ouer wat geregistreer is, moet Jehovah se bydrae gee.+ 15 Die ryke moenie meer as ’n halfsikkel* gee en die arme moenie minder as ’n halfsikkel gee as ’n bydrae aan Jehovah om vir sy lewe* versoening te doen nie. 16 Jy moet die silwergeld van die versoening by die Israeliete neem en dit vir die diens in verband met die tent van samekoms gee, sodat dit vir die Israeliete as ’n herinnering voor Jehovah kan dien, om vir hulle lewens* versoening te doen.”

17 Jehovah het verder vir Moses gesê: 18 “Maak ’n koperkom met ’n voetstuk.+ Sit dit dan tussen die tent van samekoms en die altaar en gooi water daarin.+ 19 Aäron en sy seuns moet hulle hande en hulle voete daar was.+ 20 Wanneer hulle in die tent van samekoms ingaan of by die altaar kom om te dien en om vuuroffers aan Jehovah te offer en offerrook te laat opgaan, moet hulle hulle met water was sodat hulle nie sterf nie. 21 Hulle moet hulle hande en hulle voete was sodat hulle nie sterf nie. Dit is ’n permanente wetsvoorskrif vir hulle, vir hom en sy nageslag, in al hulle geslagte.”+

22 Jehovah het verder vir Moses gesê: 23 “Neem ook die beste bestanddele: 500 eenhede gestolde mirre en die helfte soveel soet kaneel, met ander woorde 250 eenhede, sowel as 250 eenhede soet kalmoes 24 en 500 eenhede kassia, gemeet volgens die standaardsikkel van die heiligdom,*+ asook ’n hin* olyfolie. 25 Dan moet jy ’n heilige salfolie hiervan maak. Dit moet met vaardigheid gemeng word.*+ Dit moet ’n heilige salfolie wees.

26 “Jy moet die tent van samekoms+ en die ark van die Getuienis daarmee salf, 27 sowel as die tafel en al sy voorwerpe, die lampstaander en sy voorwerpe, die reukwerkaltaar, 28 die brandofferaltaar en al sy voorwerpe en die kom en sy voetstuk. 29 Jy moet hulle heilig sodat hulle besonder heilig sal word.+ Enigiemand wat aan hulle raak, moet heilig wees.+ 30 En jy moet Aäron+ en sy seuns+ salf en hulle heilig sodat hulle my as priesters kan dien.+

31 “Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Dit moet in al julle geslagte ’n heilige salfolie vir my bly.+ 32 Dit mag nie op iemand se liggaam gebruik word nie, en julle mag nie ’n soortgelyke mengsel maak nie. Dit is iets heiligs. Dit moet vir julle iets heiligs bly. 33 Enigiemand wat ’n soortgelyke salf maak en wat van die salf op ’n gewone mens* sit, moet doodgemaak word en so uit sy volk verwyder word.’”+

34 Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Neem gelyke hoeveelhede van die volgende bestanddele:+ staktedruppels,* onika,* geurige galbanum en suiwer wierook. 35 Maak reukwerk+ daarvan. Die bestanddele moet met vaardigheid gemeng word* en moet gesout wees.+ Dit moet suiwer en heilig wees. 36 Jy moet ’n deel daarvan tot fyn poeier stamp en ’n deel daarvan voor die Getuienis in die tent van samekoms sit, waar ek aan jou sal verskyn. Dit moet vir julle besonder heilig wees. 37 Julle mag nie hierdie resep volg om reukwerk vir julle eie gebruik te maak nie.+ Julle moet dit as iets heiligs vir Jehovah beskou. 38 Enigiemand wat iets soortgelyks maak om die reuk daarvan te geniet, moet doodgemaak word en so uit sy volk verwyder word.”

31 Jehovah het verder vir Moses gesê: 2 “Kyk, ek het Besaʹleël,+ die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, gekies.*+ 3 Ek sal hom met die gees van God vul en hom wysheid, begrip en kennis van elke soort ambag gee 4 om kunstige ontwerpe te maak, om met goud, silwer en koper te werk, 5 om stene te sny en te set+ en om allerhande soorte houtvoorwerpe te maak.+ 6 En ek het Ohoʹliab,+ die seun van Ahiʹsamag, van die stam van Dan, aangestel om hom te help, en ek gee wysheid aan almal wat vaardighede het,* sodat hulle alles kan maak wat ek jou beveel het:+ 7 die tent van samekoms,+ die ark van die Getuienis+ en die deksel+ daarop, al die toerusting van die tent, 8 die tafel+ en sy voorwerpe, die lampstaander van suiwer goud en al sy voorwerpe,+ die reukwerkaltaar,+ 9 die brandofferaltaar+ en al sy voorwerpe, die kom en sy voetstuk,+ 10 die fyngeweefde klere, die heilige klere vir die priester Aäron, die klere van sy seuns vir hulle priesterlike diens,+ 11 die salfolie en die geurige reukwerk vir die heiligdom.+ Hulle moet alles doen wat ek jou beveel het.”

12 Jehovah het verder vir Moses gesê: 13 “Sê vir die Israeliete: ‘Julle moet seker maak dat julle my sabbatte hou,+ want dit is ’n teken tussen my en julle in al julle geslagte sodat julle kan weet dat ek, Jehovah, julle heilig. 14 Julle moet die Sabbat hou, want dit is vir julle iets heiligs.+ Enigiemand wat dit ontheilig, moet doodgemaak word. As enigiemand enige werk op daardie dag doen, moet hy doodgemaak word en so uit sy volk verwyder word.+ 15 Ses dae lank mag werk gedoen word, maar die sewende dag is ’n sabbat, ’n spesiale rusdag.+ Dit is iets heiligs vir Jehovah. Enigiemand wat op die Sabbatdag werk doen, moet doodgemaak word. 16 Die Israeliete moet die Sabbat hou. Hulle moet die Sabbat in al hulle geslagte hou. Dit is ’n permanente verbond. 17 Dit is ’n permanente teken tussen my en die Israeliete,+ want in ses dae het Jehovah die hemel en die aarde gemaak, en op die sewende dag het hy opgehou werk en gerus.’”+

18 En net nadat hy met Moses op die berg Siʹnai gepraat het, het hy vir hom twee tablette van die Getuienis+ gegee, kliptablette waarop die vinger van God geskryf het.+

32 Intussen het die volk gesien dat Moses lank neem om van die berg+ af te kom. Daarom het die volk om Aäron bymekaargekom en vir hom gesê: “Maak vir ons ’n god wat voor ons uit sal gaan,+ want ons weet nie wat geword het van hierdie Moses, die man wat ons uit Egipte uitgelei het nie.” 2 Aäron het vir hulle gesê: “Haal die goue oorringe+ van julle vrouens, julle seuns en julle dogters se ore af, en bring dit na my toe.” 3 Toe het die hele volk die goue oorringe wat aan hulle ore was, afgehaal en dit na Aäron toe gebring. 4 Daarna het hy die goud by hulle geneem, en hy het dit met ’n beitel gevorm en ’n beeld van ’n kalf+ daarvan gemaak. Hulle het begin sê: “Dít is julle God, o Israel, wat julle uit Egipte uitgelei het.”+

5 Toe Aäron dit sien, het hy ’n altaar voor die beeld gebou. Aäron het toe uitgeroep: “Môre is daar ’n fees vir Jehovah.” 6 En hulle het die volgende dag vroeg opgestaan en brandoffers begin offer en vrede-offers* begin aanbied. Daarna het die volk gaan sit om te eet en te drink. Toe het hulle opgestaan om fees te vier.+

7 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Gaan, klim af, want jou volk, wat jy uit Egipte uitgelei het, het goddeloos opgetree.+ 8 Hulle het gou van die weg afgewyk wat ek hulle beveel het om te volg.+ Hulle het vir hulle ’n beeld van ’n kalf gemaak, en hulle hou aan om daarvoor neer te buig en daaraan offerandes te bring en te sê: ‘Dít is julle God, o Israel, wat julle uit Egipte uitgelei het.’” 9 Jehovah het verder vir Moses gesê: “Ek het gesien dat hierdie volk ’n hardkoppige volk is.+ 10 Moet my nie probeer keer nie. Laat ek hulle vernietig, want ek is woedend, en laat ek jou ’n groot nasie maak.”+

11 Toe het Moses by Jehovah sy God gepleit*+ en gevra: “Hoekom, o Jehovah, sou u u woede oor u volk uitstort nadat u hulle met groot krag en met ’n sterk hand uit Egipte uitgelei het?+ 12 Want dan sal die Egiptenare sê: ‘Hy het hulle met slegte bedoelings uitgelei. Hy wou hulle tussen die berge doodmaak en hulle van die oppervlak van die aarde af uitroei.’+ Laat u brandende woede bedaar en heroorweeg* u besluit om hierdie rampspoed oor u volk te bring. 13 Dink aan u knegte Abraham, Isak en Israel, vir wie u by uself gesweer het en gesê het: ‘Ek sal julle nageslag* vermeerder soos die sterre van die hemel,+ en ek sal hierdie hele land wat ek vir julle nageslag* uitgekies het, aan hulle gee, sodat hulle dit as ’n permanente besitting kan neem.’”+

14 Jehovah het dus sy besluit heroorweeg* en het nie die rampspoed waarvan hy gepraat het, oor sy volk gebring nie.+

15 Moses het toe omgedraai en teen die berg afgeklim met die twee tablette van die Getuienis+ in sy hande.+ Daar was op albei kante van die tablette geskryf, aan die voorkant en aan die agterkant. 16 Die tablette was die werk van God, en die skrif wat op die tablette gegraveer was, was die skrif van God.+ 17 Toe Josua die geraas van die volk begin hoor omdat hulle so geskree het, het hy vir Moses gesê: “Dit klink of daar oorlog in die kamp is.” 18 Maar Moses het gesê:

“Dit klink nie soos ’n oorwinningslied nie,

en dit klink nie soos ’n gehuil omdat hulle ’n geveg verloor het nie.

Dit is ’n ander soort singery wat ek hoor.”

19 Toe Moses naby die kamp kom en die kalf+ en die danse sien, het hy woedend geword, en hy het die tablette aan die voet van die berg stukkend gegooi.+ 20 Hy het die kalf geneem wat hulle gemaak het en dit met vuur verbrand en dit fyngemaal totdat dit poeier was.+ Toe het hy dit in die water gegooi en die Israeliete dit laat drink.+ 21 En Moses het vir Aäron gevra: “Wat het hierdie volk aan jou gedoen dat jy so ’n groot sonde oor hulle gebring het?” 22 Aäron het geantwoord: “Moenie woedend wees nie, my heer. Jy weet goed dat die volk geneig is om te doen wat sleg is.+ 23 Hulle het vir my gesê: ‘Maak vir ons ’n god wat voor ons uit sal gaan, want ons weet nie wat geword het van hierdie Moses, die man wat ons uit Egipte uitgelei het nie.’+ 24 Daarom het ek vir hulle gesê: ‘Enigiemand wat goud het, moet dit afhaal en vir my gee.’ Toe het ek dit in die vuur gegooi, en hierdie kalf het uitgekom.”

25 Moses het gesien dat die volk handuit geruk het, omdat Aäron dit toegelaat het, en hulle het hulle skandelik gedra voor hulle teenstanders. 26 Toe het Moses by die ingang van die kamp gaan staan en gesê: “Wie is aan Jehovah se kant? Kom na my toe!”+ En al die Leviete het om hom bymekaargekom. 27 Hy het toe vir hulle gesê: “Dít is wat Jehovah, die God van Israel, gesê het: ‘Elkeen van julle moet sy swaard neem en deur die hele kamp gaan, van ingang tot ingang, en sy broer, sy buurman en sy vriend doodmaak.’”+ 28 Die Leviete het gedoen wat Moses gesê het. Sowat 3 000 mans is dus op daardie dag doodgemaak. 29 Toe het Moses gesê: “Sonder julle vandag af* vir Jehovah, want elkeen van julle het teen sy eie seun en sy eie broer opgetree.+ Vandag sal hy julle seën.”+

30 Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het ’n baie groot sonde gepleeg, en nou sal ek na Jehovah toe opklim om te sien of ek vir julle sonde versoening kan doen.”+ 31 Daarna het Moses na Jehovah toe teruggekeer en gesê: “Hierdie volk het ’n baie groot sonde gepleeg! Hulle het vir hulle ’n god van goud gemaak!+ 32 As u wil, vergewe asseblief hulle sonde.+ Maar as u nie wil nie, wis my dan asseblief uit u boek uit wat u geskryf het.”+ 33 Maar Jehovah het vir Moses gesê: “Slegs die persoon wat teen my gesondig het, sal ek uit my boek uitwis. 34 Gaan dan nou, lei die volk na die plek waarvan ek met jou gepraat het. My engel sal voor jou uit gaan,+ en op die dag waarop ek rekenskap eis, sal ek hulle straf vir hulle sonde.” 35 Toe het Jehovah die volk met ’n plaag begin tref omdat hulle die kalf gemaak het – die kalf wat Aäron gemaak het.

33 Jehovah het verder vir Moses gesê: “Vertrek van hier af, jy en die volk wat jy uit Egipte uitgelei het. Gaan na die land wat ek aan Abraham, Isak en Jakob met ’n eed belowe het deur te sê: ‘Ek sal dit aan julle nageslag* gee.’+ 2 Ek sal ’n engel voor julle uit stuur+ en die Kanaäniete, die Amoriete, die Hetiete, die Perissiete, die Hewiete en die Jebusiete verdryf.+ 3 Gaan na ’n land wat oorloop van melk en heuning.+ Maar ek sal nie saam met julle gaan nie, want julle is ’n hardkoppige volk,+ en ek sal julle dalk op die pad vernietig.”+

4 Toe die volk hierdie harde woorde hoor, het hulle begin treur, en nie een van hulle het juwele of mooi klere gedra nie. 5 Jehovah het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: ‘Julle is ’n hardkoppige volk.+ Ek kan binne ’n oomblik deur julle kamp gaan en julle vernietig.+ Moet dus nie juwele of mooi klere dra terwyl ek besluit wat ek met julle gaan doen nie.’” 6 Van die berg Horeb af het die Israeliete dus nie meer hulle juwele gedra nie.

7 En Moses het sy tent geneem en dit buite die kamp opgeslaan, ’n hele ent van die kamp af, en hy het dit ’n tent van samekoms genoem. Elkeen wat Jehovah vir leiding wou vra,+ het uitgegaan na die tent van samekoms, wat buite die kamp was. 8 Sodra Moses na die tent uitgegaan het, het die hele volk opgestaan en het elkeen by die ingang van sy tent gaan staan, en hulle het Moses dopgehou totdat hy in die tent ingegaan het. 9 Sodra Moses in die tent ingegaan het, het die wolkkolom+ afgekom en by die ingang van die tent gaan staan terwyl God met Moses gepraat het.+ 10 Wanneer die hele volk die wolkkolom by die ingang van die tent sien staan het, het elkeen van hulle opgestaan en by die ingang van sy tent neergebuig. 11 Jehovah het direk* met Moses gepraat,+ net soos een man met ’n ander man sou praat. Wanneer hy na die kamp teruggekeer het, het Josua,+ die seun van Nun, sy dienaar en helper,+ nie die tent verlaat nie.

12 En Moses het vir Jehovah gesê: “Kyk, u sê vir my: ‘Lei hierdie volk,’ maar u het my nie laat weet wie u saam met my sal stuur nie. Wat meer is, u het gesê: ‘Ek ken jou by naam,* en jy geniet ook my goedkeuring.’ 13 Asseblief, as ek u goedkeuring geniet, maak dan u weë aan my bekend,+ sodat ek u kan ken en kan aanhou om u goedkeuring te geniet. Onthou ook dat hierdie nasie u volk is.”+ 14 Toe het God gesê: “Ek sal self saam met jou gaan+ en ek sal jou rus gee.”+ 15 Moses het vir hom gesê: “As u nie self saamgaan nie, moet u ons nie hiervandaan laat wegtrek nie. 16 Hoe sal mense weet dat ek en u volk u goedkeuring geniet? Net as u saam met ons gaan,+ sal dit duidelik wees dat ek en u volk anders is as enige ander volk op die aarde.”+

17 Jehovah het verder vir Moses gesê: “Ek sal ook doen wat jy vra, want jy geniet my goedkeuring, en ek ken jou by naam.” 18 Toe het Moses gesê: “Laat my asseblief u heerlikheid sien.” 19 Maar hy het gesê: “Ek sal jou al my goedheid laat sien, en ek sal die naam van Jehovah aan jou bekend maak.+ Ek sal my goedkeuring gee aan wie ek my goedkeuring wil gee, en ek sal genade betoon aan wie ek genade wil betoon.”+ 20 Maar hy het bygevoeg: “Jy kan nie my gesig sien nie, want geen mens kan my sien en lewe nie.”

21 Jehovah het verder gesê: “Hier is ’n plek naby my. Gaan staan op die rots. 22 Wanneer ek jou my heerlikheid laat sien, sal ek jou in ’n skeur in die rots sit, en ek sal jou met my hand beskerm totdat ek verbygegaan het. 23 Daarna sal ek my hand wegneem, en jy sal my van agter sien. Maar my gesig kan nie gesien word nie.”+

34 Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Kap vir jou twee kliptablette uit soos die eerstes,+ en ek sal op die tablette die woorde skryf wat op die eerste tablette was,+ wat jy stukkend gegooi het.+ 2 Maak gereed vir die oggend, want in die oggend moet jy teen die berg Siʹnai opklim en daar voor my op die top van die berg gaan staan.+ 3 Maar niemand mag saam met jou opklim nie, en niemand anders moet op enige deel van die berg gesien word nie. Nie eers die kleinvee of die beeste mag voor daardie berg wei nie.”+

4 Toe het Moses twee kliptablette uitgekap soos die eerstes en die oggend vroeg opgestaan en teen die berg Siʹnai opgeklim, net soos Jehovah hom beveel het, en hy het die twee kliptablette in sy hande geneem. 5 Jehovah het toe in die wolk neergedaal+ en daar by hom gaan staan en die naam van Jehovah uitgeroep.+ 6 Jehovah het voor hom verbygegaan en uitgeroep: “Jehovah, Jehovah, ’n God wat genadig is+ en medelye* betoon,+ wat nie gou kwaad word nie+ en vol lojale liefde*+ en waarheid*+ is, 7 wat lojale liefde aan duisende betoon,+ wat ongehoorsaamheid en oortreding en sonde vergewe.+ Maar hy sal beslis nie die skuldiges ongestraf laat bly nie,+ want hy bring straf vir die oortreding van vaders oor kinders en oor kleinkinders, oor die derde geslag en oor die vierde geslag.”+

8 Moses het dadelik op sy knieë gegaan en neergebuig. 9 Toe het hy gesê: “O Jehovah, as ek nou u goedkeuring geniet, gaan saam met ons, asseblief Jehovah, en wees met ons,+ alhoewel ons ’n hardkoppige volk is,+ en vergewe ons oortreding en ons sonde,+ en neem ons as u eie besitting.” 10 Hy het geantwoord: “Kyk, ek maak ’n verbond: Ek sal wonderlike dinge voor jou hele volk doen, dinge wat nog nooit op die hele aarde of onder enige van die nasies gedoen* is nie.+ En die hele volk onder wie jy woon, sal die werk van Jehovah sien, want dit is iets ontsagwekkends wat ek met julle doen.+

11 “Skenk aandag aan wat ek julle vandag beveel.+ Kyk, ek verdryf die Amoriete, die Kanaäniete, die Hetiete, die Perissiete, die Hewiete en die Jebusiete voor julle uit.+ 12 Sorg dat julle nie ’n verbond maak met die inwoners van die land waarheen julle gaan nie,+ anders sal dit dalk vir julle ’n strik word.+ 13 Maar julle moet hulle altare afbreek, hulle heilige pilare stukkend breek en hulle heilige pale* afkap.+ 14 Julle mag nie voor ’n ander god neerbuig nie,+ want Jehovah is daarvoor bekend dat hy uitsluitlike toegewydheid vereis.* Ja, hy is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid vereis.+ 15 Sorg dat julle nie ’n verbond met die inwoners van die land maak nie, want wanneer hulle hulle gode aanbid* en aan hulle gode offerandes bring,+ sal julle genooi word, en julle sal van hulle offerandes eet.+ 16 Dan sal julle van hulle dogters vir julle seuns neem,+ en hulle dogters sal hulle gode aanbid en maak dat julle seuns hulle gode aanbid.+

17 “Julle mag nie gode van gegote metaal maak nie.+

18 “Julle moet die Fees van die Ongesuurde Brode+ vier. Julle moet ongesuurde brood eet, net soos ek julle beveel het. Doen dit sewe dae lank op die vasgestelde tyd in die maand Abib,*+ want julle het Egipte in die maand Abib verlaat.

19 “Elke manlike eersgeborene* is myne,+ insluitende al die manlike eersgeborenes van julle vee, hetsy kalf of lam.+ 20 Julle moet elke eersgebore* donkie met ’n skaap loskoop. Maar as julle dit nie loskoop nie, moet julle sy nek breek. Julle moet elke eersgebore seun loskoop.+ Niemand mag met leë hande voor my verskyn nie.

21 “Ses dae lank moet julle werk, maar op die sewende dag moet julle rus.*+ Selfs in die ploegtyd en tydens die oes moet julle rus.

22 “En julle moet julle Fees van die Weke met die eerste opbrengs van die koringoes vier, en julle moet die Fees van die Insameling* aan die einde van die jaar vier.+

23 “Drie keer per jaar moet al die mans onder julle voor die ware Heer, Jehovah, die God van Israel, verskyn.+ 24 Want ek sal die nasies voor julle uit verdryf,+ en ek sal julle gebied vergroot, en niemand sal julle land begeer wanneer julle drie keer per jaar opgaan om voor Jehovah julle God te verskyn nie.

25 “Julle mag nie die bloed van my offerande saam met enigiets offer wat met suurdeeg gemaak is nie.+ Die offerande van die Pasgafees mag nie oornag tot die oggend toe gehou word nie.+

26 “Julle moet die beste van die eerste opbrengs van julle grond na die huis van Jehovah julle God bring.+

“Julle mag nie ’n boklam in sy ma se melk kook nie.”+

27 Jehovah het verder vir Moses gesê: “Jy moet hierdie woorde neerskryf,+ want dit is in ooreenstemming met hierdie woorde dat ek ’n verbond met jou en met Israel maak.”+ 28 En hy het 40 dae en 40 nagte daar by Jehovah gebly. Hy het niks geëet en niks gedrink nie.+ En Hy het die woorde van die verbond, die Tien Gebooie,* op die tablette geskryf.+

29 Moses het toe teen die berg Siʹnai afgeklim, en die twee tablette van die Getuienis was in sy hande.+ Toe hy teen die berg afklim, het Moses nie geweet dat sy gesig lig uitstraal omdat hy met God gepraat het nie. 30 Toe Aäron en al die Israeliete Moses sien, het hulle opgelet dat sy gesig lig uitstraal, en hulle was bang om naby hom te kom.+

31 Maar Moses het hulle geroep. Toe het Aäron en al die hoofmanne van die gemeenskap na hom toe gegaan, en Moses het met hulle gepraat. 32 Daarna het al die Israeliete nader aan hom gekom, en hy het al die bevele wat Jehovah vir hom op die berg Siʹnai gegee het, aan hulle oorgedra.+ 33 Wanneer Moses klaar met hulle gepraat het, het hy ’n sluier oor sy gesig gesit.+ 34 Maar wanneer Moses voor Jehovah ingegaan het om met hom te praat, het hy die sluier afgehaal totdat hy uitgegaan het.+ Dan het hy uitgegaan en die bevele wat hy ontvang het, aan die Israeliete bekend gemaak.+ 35 En wanneer die Israeliete gesien het dat Moses se gesig lig uitstraal, het Moses die sluier weer oor sy gesig gesit totdat hy ingegaan het om met God te praat.+

35 Moses het later die hele gemeenskap van Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Dít is die dinge wat Jehovah beveel het gedoen moet word:+ 2 Ses dae lank mag werk gedoen word, maar die sewende dag moet vir julle iets heiligs word, ’n sabbat, ’n spesiale rusdag vir Jehovah.+ Enigiemand wat op daardie dag werk doen, moet doodgemaak word.+ 3 Julle mag nie op die Sabbatdag in enige van julle woonplekke vuur maak nie.”

4 Moses het toe vir die hele gemeenskap van Israel gesê: “Dít is wat Jehovah beveel het: 5 ‘Julle moet ’n bydrae vir Jehovah insamel.+ Laat elkeen wat ’n gewillige hart het,+ ’n bydrae vir Jehovah bring: goud, silwer, koper, 6 blou garing, pers wol, helderrooi materiaal, fyn linne, bokhaar,+ 7 rooigekleurde ramsvelle, robbevelle, akasiahout, 8 olie vir die lampe, balsem vir die salfolie en vir die geurige reukwerk,+ 9 oniksstene en ander stene om in die efod+ en in die borsstuk+ te set.

10 “‘Laat almal onder julle kom wat vaardighede het,*+ en laat hulle alles maak wat Jehovah beveel het, 11 naamlik die tabernakel met sy tent en sy bedekking, sy hakies en sy paneelrame, sy stawe, sy pilare en sy voetstukke; 12 die Ark+ en sy pale,+ die deksel+ en die gordyn*+ wat as die skerm dien; 13 die tafel+ en sy pale en al sy voorwerpe en die offerbrode;+ 14 die lampstaander+ om lig te gee, sy voorwerpe, sy lampe en die olie vir die lampe;+ 15 die reukwerkaltaar+ en sy pale; die salfolie en die geurige reukwerk;+ die skerm* vir die tabernakel se ingang; 16 die brandofferaltaar+ en sy koperrooster, sy pale en al sy voorwerpe; die kom en sy voetstuk;+ 17 die hangende gordyne van die voorhof,+ sy pilare en sy voetstukke; die skerm* van die ingang van die voorhof; 18 die tentpenne van die tabernakel en die tentpenne van die voorhof en hulle toue;+ 19 die fyngeweefde klere+ vir diens in die heiligdom, die heilige klere vir die priester Aäron+ en die klere van sy seuns vir hulle priesterlike diens.’”

20 Toe het die hele gemeenskap van Israel van Moses af weggegaan. 21 Daarna het almal wie se hart hulle beweeg het+ en wie se gees hulle aangedryf het, gekom en hulle bydrae vir Jehovah gebring wat gebruik moes word vir die tent van samekoms, vir alles wat nodig was vir die diens daar en vir die heilige klere. 22 Hulle het bly kom, die mans en die vrouens, elkeen wat ’n gewillige hart gehad het, en hulle het borsspelde, oorringe, ringe en ander juwele sowel as allerhande goue voorwerpe gebring. Hulle het almal hulle offers* van goud vir Jehovah aangebied.+ 23 En almal wat blou garing, pers wol, helderrooi materiaal, fyn linne, bokhaar, rooigekleurde ramsvelle en robbevelle gehad het, het dit gebring. 24 Almal wat silwer en koper wou bydra, het dit as ’n bydrae vir Jehovah gebring, en almal wat akasiahout vir enige deel van die werk gehad het, het dit gebring.

25 Al die vrouens wat vaardighede gehad het,+ het met hulle hande gespin, en hulle het gebring wat hulle gespin het: blou garing, pers wol, helderrooi materiaal en fyn linne. 26 En al die vrouens wat vaardighede gehad het en wie se hart hulle beweeg het, het die bokhaar gespin.

27 En die hoofmanne het oniksstene en ander stene gebring wat in die efod en in die borsstuk+ geset moes word, 28 sowel as die balsem en die olie vir die lampe en vir die salfolie+ en vir die geurige reukwerk.+ 29 Al die mans en vrouens wie se hart hulle beweeg het, het iets gebring vir die werk wat Jehovah deur middel van Moses beveel het gedoen moet word. Die Israeliete het dit as ’n vrywillige offer vir Jehovah gebring.+

30 Toe het Moses vir die Israeliete gesê: “Kyk, Jehovah het Besaʹleël, die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, gekies.+ 31 Hy het hom met die gees van God gevul en hom wysheid, begrip en kennis van elke soort ambag gegee 32 om kunstige ontwerpe te maak, om met goud, silwer en koper te werk, 33 om stene te sny en te set en om allerhande soorte kunstige houtvoorwerpe te maak. 34 En hy het dit in sy hart gesit om ander te leer, hy en Ohoʹliab,+ die seun van Ahiʹsamag, van die stam van Dan. 35 Hy het hulle die vaardighede* gegee+ om al die werk te doen van ’n ambagsman, ’n borduurder, ’n maker van weefstof en ’n wewer van blou garing, pers wol, helderrooi materiaal en fyn linnedraad. Hierdie manne sal elke soort werk doen en allerhande ontwerpe maak.

36 “Besaʹleël moet saam met Ohoʹliab werk, en saam met elke vaardige man* aan wie Jehovah wysheid en begrip gegee het sodat hulle sal weet hoe om al die werk in verband met die heilige diens te doen net soos Jehovah beveel het.”+

2 Moses het Besaʹleël en Ohoʹliab toe geroep, sowel as elke vaardige man aan wie Jehovah wysheid gegee het,*+ elkeen wie se hart hom beweeg het om die werk vrywillig te doen.+ 3 Toe het hulle die hele bydrae+ wat die Israeliete vir die heilige diens gebring het, by Moses geneem. Maar die Israeliete het aangehou om elke oggend vrywillige offers na hom toe te bring.

4 Daarna, nadat hulle met die heilige werk begin het, het al die vaardige werkers begin kom, die een ná die ander, 5 en hulle het vir Moses gesê: “Die volk bring baie meer as wat nodig is vir die werk wat Jehovah beveel het gedoen moet word.” 6 Toe het Moses beveel dat die volgende aankondiging in die hele kamp gemaak moet word: “Manne en vroue, moenie nog goed vir die heilige bydrae bring nie.” Die volk het toe opgehou om goed te bring. 7 Daar was genoeg materiaal vir al die werk wat gedoen moes word, ja, oorgenoeg.

8 En die vaardige werkers+ het die tabernakel gemaak+ met tien tentdoeke van fyn gedraaide linnedraad, blou garing, pers wol en helderrooi materiaal. Hy* het dit gemaak met geborduurde gerubs daarop.+ 9 Elke tentdoek was 28 el* lank en 4 el breed. Al die tentdoeke was ewe groot. 10 Toe het hy vyf van die tentdoeke aanmekaargeheg, en hy het ook die ander vyf tentdoeke aanmekaargeheg. 11 Daarna het hy lissies van blou garing aan die rand van die een tentdoek gemaak waar dit vasgehaak sou word. Hy het dieselfde gedoen aan die rand van die buitenste tentdoek waar die twee reekse tentdoeke aan mekaar vasgehaak sou word. 12 Hy het 50 lissies aan die een tentdoek en 50 lissies aan die rand van die ander tentdoek gemaak waar hulle aan mekaar vasgehaak sou word, sodat die lissies teenoor mekaar sou wees. 13 Uiteindelik het hy 50 goue hakies gemaak en die twee reekse tentdoeke met die hakies aan mekaar vasgehaak, sodat die tabernakel ’n eenheid gevorm het.

14 Toe het hy tentdoeke van bokhaar gemaak vir die tent oor die tabernakel. Hy het 11 tentdoeke gemaak.+ 15 Elke tentdoek was 30 el lank en 4 el breed. Die 11 tentdoeke was ewe groot. 16 Toe het hy vyf van die tentdoeke aanmekaargeheg, en hy het ook die ander ses tentdoeke aanmekaargeheg. 17 Daarna het hy 50 lissies aan die rand van die buitenste tentdoek gemaak, en hy het 50 lissies aan die rand van die ander tentdoek gemaak op die plek waar die twee reekse tentdoeke aan mekaar vasgehaak sou word. 18 En hy het 50 koperhakies gemaak om die dele van die tent aan mekaar vas te haak sodat dit ’n eenheid sou vorm.

19 Hy het ’n bedekking van rooigekleurde ramsvelle vir die tent gemaak, en ’n bedekking van robbevelle om daar bo-oor te gaan.+

20 Toe het hy die regopstaande paneelrame van die tabernakel van akasiahout+ gemaak.+ 21 Elke paneelraam was tien el hoog en een en ’n half el breed. 22 Elke paneelraam het twee tappe* gehad wat parallel was met mekaar.* Dit is hoe hy al die paneelrame van die tabernakel gemaak het. 23 So het hy die paneelrame vir die suidekant van die tabernakel gemaak, 20 paneelrame wat na die suide toe kyk. 24 Toe het hy 40 silwervoetstukke gemaak om onder die 20 paneelrame te sit: twee voetstukke onder elkeen van die paneelrame vir hulle twee tappe.+ 25 Vir die ander kant van die tabernakel, die noordekant, het hy 20 paneelrame gemaak, 26 sowel as hulle 40 silwervoetstukke: twee voetstukke onder elkeen van die paneelrame.

27 Vir die agterste deel van die tabernakel, aan die westekant, het hy ses paneelrame gemaak.+ 28 Hy het twee paneelrame gemaak as hoekstutte vir die twee hoeke aan die agterkant van die tabernakel. 29 Die hoekstutte het uit twee dele bestaan wat aan die bokant by die eerste ring bymekaargekom het. Dit is hoe hy die twee hoekstutte gemaak het. 30 Daar was dus agt paneelrame en 16 silwervoetstukke, twee voetstukke onder elke paneelraam.

31 Toe het hy stawe van akasiahout gemaak, vyf vir die paneelrame aan die een kant van die tabernakel+ 32 en vyf vir die paneelrame aan die ander kant van die tabernakel en vyf vir die paneelrame vir die agterste deel van die tabernakel, aan die westekant. 33 Hy het die middelste staaf gemaak sodat dit oor die middel van die paneelrame strek, van die een ent tot die ander ent. 34 Hy het die paneelrame met goud oorgetrek, en hy het vir die paneelrame ringe van goud gemaak waardeur die stawe gesteek word, en hy het die stawe met goud oorgetrek.+

35 Toe het hy ’n gordyn*+ gemaak van blou garing, pers wol, helderrooi materiaal en fyn gedraaide linnedraad. Gerubs+ is daarop geborduur.+ 36 Toe het hy vier akasiahoutpilare daarvoor gemaak en hulle met goud oorgetrek. Hy het ook goue hakies gemaak en vier silwervoetstukke daarvoor gegiet. 37 Daarna het hy vir die ingang van die tent ’n skerm* gemaak van blou garing, pers wol, helderrooi materiaal en fyn gedraaide linnedraad wat saamgeweef is,+ 38 sowel as sy vyf pilare en hulle hakies. Hy het die pilare se kopstukke en verbindingstukke* met goud oorgetrek, maar hulle vyf voetstukke was van koper.

37 Besaʹleël+ het toe die Ark+ van akasiahout gemaak. Dit was twee en ’n half el* lank en een en ’n half el breed en een en ’n half el hoog.+ 2 Hy het die binnekant en die buitekant daarvan met suiwer goud oorgetrek en ’n goue randversiering daarom gemaak.+ 3 Daarna het hy vier goue ringe daarvoor gegiet, wat bo die vier pote vasgesit is, met twee ringe aan die een kant en twee ringe aan die ander kant. 4 Hy het toe pale van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek.+ 5 Toe het hy die pale deur die ringe aan die kante van die Ark gesteek om die Ark mee te dra.+

6 Hy het die deksel van suiwer goud gemaak.+ Dit was twee en ’n half el lank en een en ’n half el breed.+ 7 Hy het toe twee gerubs+ van goud gemaak. Hy het hulle met ’n hamer gevorm, en hulle was weerskante bo-op die deksel.+ 8 Een gerub was aan die een kant, en die ander gerub was aan die ander kant. Hy het die gerubs gemaak, en hulle was weerskante bo-op die deksel. 9 Die twee gerubs het hulle vlerke na bo uitgesprei, bo-oor die deksel.+ Hulle koppe was na mekaar toe, en hulle gesigte het na die deksel afgekyk.+

10 Hy het toe die tafel van akasiahout gemaak.+ Dit was twee el lank, een el breed en een en ’n half el hoog.+ 11 En hy het dit met suiwer goud oorgetrek en ’n goue randversiering daarom gemaak. 12 Daarna het hy ’n rand van ’n handbreedte* om die tafel gemaak, en aan daardie rand het hy ’n goue randversiering reg rondom gemaak. 13 Verder het hy vier goue ringe daarvoor gegiet en die ringe aan die vier hoeke vasgesit waar die vier pote was. 14 Die ringe was naby die rand, en die pale waarmee die tafel gedra is, is deur die ringe gesteek. 15 Toe het hy die pale waarmee die tafel gedra is, van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek. 16 Daarna het hy die voorwerpe wat op die tafel was – sy skottels, sy bekers en sy bakke en kanne waaruit drankoffers gegooi sou word – van suiwer goud gemaak.+

17 Toe het hy die lampstaander+ van suiwer goud gemaak. Hy het dit met ’n hamer gevorm. Die lampstaander se voetstuk, steel, kelke, knoppe en bloeisels was alles een stuk.+ 18 Ses arms het uit die steel van die lampstaander gekom: drie arms uit die een kant en drie arms uit die ander kant. 19 Drie kelke in die vorm van amandelblomme was aan die een stel arms, met knoppe en bloeisels wat mekaar afwissel, en drie kelke in die vorm van amandelblomme was aan die ander stel arms, met knoppe en bloeisels wat mekaar afwissel. Dit is hoe die ses arms gemaak is wat uit die steel van die lampstaander gekom het. 20 En aan die steel van die lampstaander was daar vier kelke in die vorm van amandelblomme, met knoppe en bloeisels wat mekaar afwissel. 21 Daar was ’n knop onder die eerste twee arms wat uit die steel gekom het, en ’n knop onder die volgende twee arms en ’n knop onder die laaste twee arms. Dit is hoe al ses arms was wat uit die steel van die lampstaander gekom het. 22 Die knoppe en die arms en die hele lampstaander het uit een stuk suiwer goud bestaan. Dit is met ’n hamer gevorm. 23 Toe het hy die sewe lampe+ en die snuiters* en die vuurbakkies van suiwer goud gemaak. 24 Hy het die lampstaander en al sy voorwerpe van ’n talent* suiwer goud gemaak.

25 Hy het toe die reukwerkaltaar+ van akasiahout gemaak. Dit was vierkantig, ’n el lank, ’n el breed en twee el hoog. Die horings was deel van die altaar.+ 26 Hy het die altaar met suiwer goud oorgetrek: die boonste oppervlak, al die kante en die horings. Hy het ook ’n goue randversiering daarom gemaak. 27 Hy het onder die randversiering aan twee teenoorgestelde kante twee goue ringe daarvoor gemaak, en die pale waarmee dit gedra is, is daardeur gesteek. 28 Daarna het hy die pale van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek. 29 Hy het ook die heilige salfolie+ en die suiwer, geurige reukwerk+ met vaardigheid gemeng.*

38 Hy het die brandofferaltaar van akasiahout gemaak. Dit was vierkantig, vyf el* lank, vyf el breed en drie el hoog.+ 2 Toe het hy die horings op die vier hoeke gemaak. Die horings was deel van die altaar. Daarna het hy die altaar met koper oorgetrek.+ 3 Toe het hy al die voorwerpe van die altaar gemaak: die emmers, die grawe, die bakke, die vurke en die vuurbakke. Hy het al die voorwerpe van koper gemaak. 4 Hy het ook ’n rooster gemaak wat binne-in die altaar was, ’n netwerk van koper wat onder die rand omtrent halfpad ondertoe was. 5 Hy het vier ringe vir die vier hoeke naby die koperrooster gegiet, en die pale is deur die ringe gesteek. 6 Daarna het hy die pale van akasiahout gemaak en dit met koper oorgetrek. 7 Hy het die pale deur die ringe aan die kante van die altaar gesteek, sodat dit gedra kon word. Hy het die altaar van planke gemaak, in die vorm van ’n kis.

8 Toe het hy die koperkom+ en sy kopervoetstuk gemaak. Hy het dit gemaak van die spieëls* van die vrouens wat georganiseer is om by die ingang van die tent van samekoms te dien.

9 Daarna het hy die voorhof gemaak.+ Vir die suidekant van die voorhof, wat na die suide toe kyk, het hy hangende gordyne gemaak. Dit het oor ’n lengte van 100 el gestrek en was van fyn gedraaide linnedraad gemaak.+ 10 Daar was 20 pilare en 20 kopervoetstukke, en die hakies van die pilare en hulle verbindingstukke* was van silwer. 11 En vir die noordekant was daar hangende gordyne wat oor ’n lengte van 100 el gestrek het. Hulle 20 pilare en hulle 20 voetstukke was van koper. Die hakies van die pilare en hulle verbindingstukke* was van silwer. 12 Maar aan die westekant was daar hangende gordyne wat oor ’n lengte van 50 el gestrek het. Daar was tien pilare en tien voetstukke, en die hakies van die pilare en hulle verbindingstukke* was van silwer. 13 Die breedte van die voorhof aan die oostekant, aan die kant waar die son opkom, was 50 el. 14 Aan die een kant van die ingang was daar hangende gordyne wat oor ’n lengte van 15 el gestrek het, met drie pilare en drie voetstukke. 15 En aan die ander kant van die ingang van die voorhof was daar hangende gordyne wat oor ’n lengte van 15 el gestrek het, met drie pilare en drie voetstukke. 16 Al die hangende gordyne om die voorhof was van fyn gedraaide linnedraad. 17 Die voetstukke vir die pilare was van koper, die hakies van die pilare en hulle verbindingstukke* was van silwer, die kopstukke was met silwer oorgetrek, en daar was silwerverbindingstukke vir al die pilare van die voorhof.+

18 Die skerm* van die ingang van die voorhof was geweef van blou garing, pers wol, helderrooi materiaal en fyn gedraaide linnedraad. Dit was 20 el lank en 5 el hoog, net so hoog soos die hangende gordyne van die voorhof.+ 19 Hulle vier pilare en hulle vier voetstukke was van koper gemaak. Hulle hakies en verbindingstukke* was van silwer, en hulle kopstukke was met silwer oorgetrek. 20 Al die tentpenne vir die tabernakel en die voorhof was van koper.+

21 Hier volg ’n verslag van die materiale wat gebruik is vir die tabernakel, die tabernakel van die Getuienis.+ Die verslag is op Moses se bevel opgestel en was die verantwoordelikheid van die Leviete+ onder die leiding van Iʹtamar,+ die seun van die priester Aäron. 22 Besaʹleël,+ die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, het alles gedoen wat Jehovah Moses beveel het. 23 Hy het hulp ontvang van Ohoʹliab,+ die seun van Ahiʹsamag, van die stam van Dan, ’n ambagsman en ’n borduurder en ’n wewer van blou garing, pers wol, helderrooi materiaal en fyn linne.

24 Al die goud wat vir al die werk by die heiligdom gebruik is, was gelyk aan die bedrag van die goud van die beweegoffer:+ 29 talente* en 730 sikkels* volgens die standaardsikkel van die heiligdom.* 25 En die silwer van die geregistreerdes van die gemeenskap van Israel was 100 talente en 1 775 sikkels volgens die standaardsikkel van die heiligdom.* 26 Die halfsikkel vir elke geregistreerde man was die helfte van ’n sikkel volgens die standaardsikkel van die heiligdom.* Altesaam 603 550+ mans van 20 jaar en ouer+ is geregistreer.

27 Altesaam 100 talente is gebruik om die voetstukke van die heiligdom en die voetstukke van die gordyn* te giet; 100 voetstukke was gelyk aan 100 talente, een talent vir elke voetstuk.+ 28 Met die 1 775 sikkels het hy hakies gemaak vir die pilare en hulle kopstukke oorgetrek en hulle met mekaar verbind.

29 Die koper van die offer* was 70 talente en 2 400 sikkels. 30 Hy het dit gebruik om die voetstukke van die ingang van die tent van samekoms te maak, sowel as die koperaltaar en sy koperrooster, al die voorwerpe van die altaar, 31 die voetstukke van die voorhof, die voetstukke van die ingang van die voorhof en al die tentpenne van die tabernakel en al die tentpenne+ van die voorhof.

39 Van die blou garing, die pers wol en die helderrooi materiaal+ het hulle fyngeweefde klere gemaak vir diens in die heiligdom. Hulle het die heilige klere vir Aäron gemaak,+ net soos Jehovah Moses beveel het.

2 Hy het die efod+ gemaak van goud, blou garing, pers wol, helderrooi materiaal en fyn gedraaide linnedraad. 3 Hulle het goue plate uitgeklop totdat dit dun blaaie was, en Besaʹleël het dit in dun draadjies gesny om saam met die blou garing, die pers wol, die helderrooi materiaal en die fyn linne in te weef, en daar is op die efod geborduur. 4 Hulle het skouerstukke vir die efod gemaak wat by die twee bokante daarvan met mekaar verbind is. 5 En die geweefde lyfband, wat aan die efod vasgeheg is om dit in plek te hou,+ is van dieselfde materiale gemaak, naamlik goud, blou garing, pers wol, helderrooi materiaal en fyn gedraaide linnedraad, net soos Jehovah Moses beveel het.

6 Toe het hulle die oniksstene in goue monterings geset, en hulle het die name van die seuns van Israel daarop gegraveer, net soos daar op ’n seël gegraveer word.+ 7 Besaʹleël het die stene op die skouerstukke van die efod gesit as ’n herinnering aan die seuns van Israel,+ net soos Jehovah Moses beveel het. 8 Daarna het hy die borsstuk+ gemaak. Dit was die werk van ’n borduurder, net soos die efod. Dit was van goud, blou garing, pers wol, helderrooi materiaal en fyn gedraaide linnedraad.+ 9 Dit was vierkantig wanneer dit dubbel gevou was. Hulle het die borsstuk gemaak, en wanneer dit dubbel gevou was, was dit so lank en so breed soos die span van ’n hand.* 10 Hulle het vier rye stene daarin geset. In die eerste ry: robyn, topaas en smarag. 11 In die tweede ry: turkoois, saffier en jaspis. 12 In die derde ry: lesjʹem-steen,* agaat en ametis. 13 In die vierde ry: chrisoliet, oniks en jade. Hulle is in goue monterings geset. 14 Die stene het ooreengestem met die name van die 12 seuns van Israel, en die name is gegraveer soos dit op ’n seël gegraveer sou word. Elke naam het een van die 12 stamme verteenwoordig.

15 Toe het hulle gedraaide kettinkies vir die borsstuk gemaak, soos toutjies van suiwer goud.+ 16 En hulle het twee goue monterings en twee goue ringe gemaak en die twee ringe aan die twee hoeke van die borsstuk vasgesit. 17 Daarna het hulle die twee goue toutjies deur die twee ringe aan die hoeke van die borsstuk gesteek. 18 Toe het hulle die twee punte van die twee toutjies deur die twee monterings gesteek en dit aan die skouerstukke aan die voorkant van die efod vasgeheg. 19 Daarna het hulle twee goue ringe gemaak en hulle aan die twee hoeke van die borsstuk vasgesit, aan die agterkant van die borsstuk, wat aan die efod raak.+ 20 Toe het hulle nog twee goue ringe gemaak en hulle aan die voorkant van die efod vasgesit, onder die twee skouerstukke, naby die verbinding en bo die plek waar die geweefde lyfband aan die efod vas was. 21 Uiteindelik het hulle die ringe van die borsstuk met ’n blou toutjie aan die ringe van die efod vasgebind, sodat die borsstuk op die efod in plek gehou sou word, bo die geweefde lyfband, net soos Jehovah Moses beveel het.

22 Toe het hy die moulose oorkleed van die efod geheel en al van blou garing gemaak, die werk van ’n wewer.+ 23 Die opening van die moulose oorkleed was in die middel daarvan, soos die opening van ’n pantser.* Die opening het ’n rand rondom gehad sodat dit nie sou skeur nie. 24 Daarna het hulle aan die soom van die moulose oorkleed granaatjies gemaak van blou garing, pers wol en helderrooi materiaal, wat inmekaargedraai was. 25 En hulle het klokkies van suiwer goud gemaak en die klokkies tussen die granaatjies gesit, reg rondom die soom van die moulose oorkleed. 26 Hulle het die klokkies en die granaatjies afgewissel, ’n klokkie en dan ’n granaatjie, reg rondom die soom van die moulose oorkleed wat vir die diens gebruik is, net soos Jehovah Moses beveel het.

27 En hulle het vir Aäron en sy seuns die klere van fyn linne gemaak, wat deur ’n wewer geweef is,+ 28 sowel as die tulband+ van fyn linne, die hoofbedekkings+ van fyn linne wat as versierings gedien het, die kortbroeke*+ van fyn gedraaide linnedraad 29 en die lyfband van fyn gedraaide linnedraad, blou garing, pers wol en helderrooi materiaal, wat saamgeweef is, net soos Jehovah Moses beveel het.

30 Uiteindelik het hulle die blink plaat, die heilige toewydingsteken,* van suiwer goud gemaak en ’n opskrif daarop gegraveer, net soos daar op ’n seël gegraveer sou word: “Heiligheid behoort aan Jehovah.”+ 31 Hulle het ’n toutjie van blou garing daaraan vasgebind sodat hulle dit op die tulband kon sit, net soos Jehovah Moses beveel het.

32 So is al die werk vir die tabernakel, die tent van samekoms, voltooi, en die Israeliete het alles gedoen wat Jehovah Moses beveel het.+ Hulle het net so gedoen.

33 Toe het hulle die tabernakel+ na Moses toe gebring, die tent+ en al sy toerusting: sy hakies,+ sy paneelrame,+ sy stawe+ en sy pilare en sy voetstukke;+ 34 sy bedekking van rooigekleurde ramsvelle,+ sy bedekking van robbevelle, die gordyn* wat as die skerm sou dien;+ 35 die ark van die Getuienis en sy pale+ en die deksel;+ 36 die tafel, al sy voorwerpe+ en die offerbrode; 37 die lampstaander van suiwer goud, sy lampe,+ dit wil sê die ry lampe, sowel as al sy voorwerpe+ en die olie vir die lampe;+ 38 die goue altaar,+ die salfolie,+ die geurige reukwerk,+ die skerm*+ vir die ingang van die tent; 39 die koperaltaar+ en sy koperrooster, sy pale,+ al sy voorwerpe,+ die kom en sy voetstuk;+ 40 die hangende gordyne van die voorhof, sy pilare en sy voetstukke,+ die skerm*+ vir die ingang van die voorhof, sy tenttoue en sy tentpenne+ en al die voorwerpe vir die diens in verband met die tabernakel, die tent van samekoms; 41 die fyngeweefde klere vir diens in die heiligdom, die heilige klere vir die priester Aäron+ en die klere van sy seuns vir hulle priesterlike diens.

42 Die Israeliete het al die werk gedoen volgens alles wat Jehovah Moses beveel het.+ 43 Toe Moses al hulle werk ondersoek het, het hy gesien dat hulle dit gedoen het net soos Jehovah beveel het. En Moses het hulle geseën.

40 Toe het Jehovah vir Moses gesê: 2 “Op die eerste dag van die eerste maand moet jy die tabernakel, die tent van samekoms, oprig.+ 3 Sit die ark van die Getuienis binne-in die tent+ en skerm die Ark af met die gordyn.*+ 4 Jy moet die tafel+ inbring en die dinge wat op die tafel moet wees, daarop rangskik, en jy moet die lampstaander+ inbring en sy lampe aansteek.+ 5 Dan moet jy die goue reukwerkaltaar+ voor die ark van die Getuienis sit en die skerm* vir die ingang van die tabernakel op sy plek ophang.+

6 “Sit die brandofferaltaar+ voor die ingang van die tabernakel, die tent van samekoms, 7 en sit die kom tussen die tent van samekoms en die altaar, en gooi water daarin.+ 8 Dan moet jy die voorhof rondom oprig+ en die skerm* vir die ingang van die voorhof ophang.+ 9 Daarna moet jy die salfolie+ neem en die tabernakel salf, sowel as alles wat daarin is,+ en jy moet dit en al sy voorwerpe heilig, sodat dit iets heiligs sal word. 10 Jy moet die brandofferaltaar en al sy voorwerpe salf en die altaar heilig, sodat dit ’n besonder heilige altaar sal word.+ 11 En salf die kom en sy voetstuk en heilig dit.

12 “Dan moet jy Aäron en sy seuns na die ingang van die tent van samekoms laat kom en hulle met water was.+ 13 En jy moet die heilige klere vir Aäron aantrek+ en hom salf+ en hom heilig, en hy moet my as priester dien. 14 Daarna moet jy sy seuns laat nader kom en die klere vir hulle aantrek.+ 15 Jy moet hulle salf net soos jy hulle pa gesalf het,+ sodat hulle my as priesters kan dien, en hulle salwing sal vir hulle, in al hulle geslagte, as ’n teken van ’n permanente priesterskap dien.”+

16 Moses het gedoen volgens alles wat Jehovah hom beveel het.+ Hy het net so gedoen.

17 In die eerste maand, in die tweede jaar, op die eerste dag van die maand, is die tabernakel opgerig.+ 18 Toe Moses die tabernakel opgerig het, het hy die voetstukke+ neergesit, die paneelrame opgerig,+ die stawe+ ingesit en die pilare opgerig. 19 Hy het die tent+ oor die tabernakel uitgesprei en die bedekking+ van die tent daar bo-oor gesit, net soos Jehovah Moses beveel het.

20 Daarna het hy die Getuienis+ geneem en dit in die Ark+ gesit en die pale+ van die Ark deur die ringe gesteek en die deksel+ op die Ark+ gesit. 21 Hy het die Ark in die tabernakel ingebring en die gordyn*+ wat as die skerm sou dien, op sy plek opgehang en die ark van die Getuienis+ afgeskerm, net soos Jehovah Moses beveel het.

22 Daarna het hy die tafel+ in die tent van samekoms gesit, aan die noordekant van die tabernakel buite die gordyn,* 23 en hy het die brode daarop gerangskik+ voor Jehovah, net soos Jehovah Moses beveel het.

24 Hy het die lampstaander+ in die tent van samekoms oorkant die tafel gesit, aan die suidekant van die tabernakel. 25 Hy het die lampe+ aangesteek voor Jehovah, net soos Jehovah Moses beveel het.

26 Daarna het hy die goue altaar+ in die tent van samekoms voor die gordyn* gesit 27 om geurige reukwerk+ daarop te laat rook,+ net soos Jehovah Moses beveel het.

28 Toe het hy die skerm*+ vir die ingang van die tabernakel op sy plek opgehang.

29 Hy het die brandofferaltaar+ by die ingang van die tabernakel, die tent van samekoms, gesit om die brandoffer+ en die graanoffer daarop te offer, net soos Jehovah Moses beveel het.

30 Toe het hy die kom tussen die tent van samekoms en die altaar gesit en water daarin gegooi om mee te was.+ 31 Moses en Aäron en sy seuns het hulle hande en hulle voete daar gewas. 32 Wanneer hulle ook al in die tent van samekoms ingegaan het of na die altaar gegaan het, het hulle hulle gewas,+ net soos Jehovah Moses beveel het.

33 Laastens het hy die voorhof+ om die tabernakel en die altaar opgerig en die skerm* vir die ingang van die voorhof+ opgehang.

So het Moses die werk voltooi. 34 Toe het die wolk die tent van samekoms bedek, en Jehovah se heerlikheid het die tabernakel gevul.+ 35 Moses kon nie in die tent van samekoms ingaan nie, want die wolk het daaroor bly hang, en Jehovah se heerlikheid het die tabernakel gevul.+

36 En gedurende die Israeliete se hele reis het hulle kamp opgebreek elke keer wanneer die wolk van die tabernakel af opgelig het.+ 37 Maar as die wolk nie opgelig het nie, het hulle nie kamp opgebreek tot die dag dat dit opgelig het nie.+ 38 Want gedurende hulle hele reis was Jehovah se wolk gedurende die dag oor die tabernakel en het ’n vuur gedurende die nag daaroor gebly, voor die oë van die hele huis van Israel.+

Of “hoofde van dwangarbeid”.

Of “ark; kis”.

Beteken “uitgetrek”, d.w.s. uit die water gered.

Of “verdedig”.

D.w.s. Jetro.

Beteken “’n uitlander daar”.

Of “aanbid”.

Of “Ek sal word wat ek sal word”. Sien Aanh. A4.

Lett. “ek is swaar van mond en swaar van tong”.

Lett. “met jou mond wees”.

Of “God se verteenwoordiger wees”.

Of “wat jou siel gesoek het”.

Lett. “ek sal sy hart verhard”.

Lett. “die volk van die land”.

Of “Julle het ons ’n stank gemaak vir Farao en sy knegte”.

Of “’n magtige”.

Lett. “[waaroor] ek my hand opgelig het”.

Lett. “Ek is onbesnede van lippe”.

Lett. “volgens hulle leërmagte”.

Lett. “Ek is onbesnede van lippe”.

Lett. “ek het jou God gemaak”.

Lett. “ek sal Farao se hart verhard”.

Lett. “my leërmagte”.

Of “se hart verhard”.

D.w.s. die kanale van die Nylrivier.

Of “Farao se hart het hard gebly”.

Of “Farao se hart het hard gebly”.

Lett. “het Farao se hart verhard”.

Lett. “jou hart”.

Verwys moontlik na kragtige weerlig.

Of “word later ryp”.

Of “Farao se hart het hard gebly”.

Lett. “’n strik wees”.

Blykbaar Moses.

Lett. “het Farao se hart verhard”.

Of “U moet ons ook toelaat om offerandes en brandoffers saam te neem”.

Lett. “het Farao se hart verhard”.

Lett. “sal sy tong skerpmaak teen die kinders van Israel of hulle vee nie”.

Lett. “het Farao se hart verhard”.

Lett. “hy”.

Lett. “sy”.

Lett. “sy”.

Lett. “tussen die twee aande”.

Lett. “met julle heupe omgord”.

Lett. “julle leërmagte”.

D.w.s. jong skape of bokke.

Lett. “die vernietiging”.

Lett. “die huis van die reënput”.

D.w.s. ’n groot aantal mense wat nie Israeliete was nie en wat Egiptenare ingesluit het.

Lett. “al die leërmagte van Jehovah”.

Lett. “leërmagte”.

Lett. “Sonder vir my elke eersgeborene af wat elke baarmoeder open”.

Sien Aanh. B15.

Of “gedenkteken”.

Lett. “tussen jou oë”.

Lett. “elkeen wat die baarmoeder open”.

Of “elke manlike eersteling”.

Of “eersteling van ’n”.

Lett. “alles wat die baarmoeder open”.

Lett. “tussen jou oë”.

Lett. “beendere”.

Lett. “beendere”.

Lett. “sal Farao se hart verhard”.

Lett. “het die hart van Farao . . . verhard”.

Lett. “met ’n opgeligte hand”.

Lett. “sal die harte van die Egiptenare verhard”.

D.w.s. van omtrent 02:00 tot omtrent 06:00.

Lett. “hand”.

“Jah” is ’n verkorte vorm van die naam Jehovah.

Lett. “Geboortepyne”.

’n Sjeik was ’n stamhoof.

Of “die alleenheersers”.

Beteken “bitterheid”.

Lett. “Tussen die twee aande”.

Omtrent 2,2 l. Sien Aanh. B14.

Of “siele”.

Of “sabbatsviering”.

Of “op die sewende dag gerus”.

Kom waarskynlik van die Hebreeuse uitdrukking “Wat is dit?”

’n Efa was gelyk aan 22 l. Sien Aanh. B14.

Beteken “toets; beproewing”.

Beteken “stryery”.

Beteken “Jehovah is my seinpaal”.

Beteken “’n uitlander daar”.

Beteken “my God is Helper”.

Lett. “uit die hand van Egipte”.

Lett. “Elke keer”.

Verwys blykbaar na dieselfde dag waarop hulle uit Refidim vertrek het.

Of “kosbare besitting”.

Moontlik met ’n pyl geskiet.

Lett. “Moenie naby ’n vrou kom nie”.

Of “in verset teen my”. Lett. “teen my aangesig”.

Of “vorm”.

Lett. “onder”.

Lett. “poorte”.

Of “Respekteer”.

Of “gemeenskapsoffers”.

Of “waar ek aanbid moet word”.

Lett. “naaktheid”.

Lett. “haar laat loskoop”.

Of moontlik “’n stuk gereedskap”.

Lett. “en haar kinders uitkom”.

Of “siel vir siel”.

Of “vergoeding”.

’n Sikkel was gelyk aan 11,4 g. Sien Aanh. B14.

Lett. “vaderlose seun”.

Of “’n geteisterde”.

Of “as ’n pand”.

Sien Woordelys.

Of “heerser”.

Of “beledig; uitskel”.

Lett. “woord”.

Of “vryspreek”.

Sien Aanh. B15.

Ook die Fees van die Weke, of Pinkster, genoem.

Ook die Huttefees genoem.

Of moontlik “paniek; vrees”.

Die Eufraatrivier.

Of “gemeenskapsoffers”.

Of “wol wat persrooi gekleur is”.

Die kleurstof wat hiervoor gebruik is, kom van die kermes-skildluis.

Of “ontwerp”.

Of “kis”.

’n El was gelyk aan 44,5 cm. Sien Aanh. B14.

Omtrent 7,4 cm. Sien Aanh. B14.

Of “tange”.

’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.

Of “ontwerp”.

’n El was gelyk aan 44,5 cm. Sien Aanh. B14.

Of moontlik “regop stutte”.

Of “wat met mekaar verbind is”.

Of “voorhangsel”.

Of “voorhangsel”.

Of “voorhangsel”.

Of “gordyn”.

Of “gordyn”.

’n El was gelyk aan 44,5 cm. Sien Aanh. B14.

Of “vetterige as”, d.w.s. as wat met die vet van die offerandes deurdrenk is.

Of “ringe; bande” wat gebruik is om voorwerpe aan mekaar te verbind.

Of “ringe; bande” wat gebruik is om voorwerpe aan mekaar te verbind.

Of “gordyn”.

Of “voorhangsel”.

Lett. “wys van hart is”.

Of “regspraak”.

D.w.s. die afstand van die punt van die duim tot by die punt van die pinkie, omtrent 22,2 cm. Sien Aanh. B14.

’n Ongeïdentifiseerde edelsteen wat moontlik na amber, hiasint, opaal of toermalyn verwys.

Of “regspraak”.

Sien Woordelys.

Of “regspraak”.

Of “vir die kop”.

’n Beskermende kledingstuk wat deur ’n vegter gedra is.

Lett. “en hulle hand vul”.

Of “onderklere”.

Lett. “saad”.

Of “die heilige hoofband”.

Lett. “die hand van Aäron en die hand van sy seuns moet vul”.

Of “aanhangsel”.

Of “kalmerende”. Lett. “rustige”.

Of “aanhangsel”.

Of “kalmerende”. Lett. “rustige”.

Of “gemeenskapsoffers”.

Lett. “om hulle hand te vul”.

Lett. “geen vreemdeling”, d.w.s. iemand wat nie deel is van Aäron se familie nie.

Lett. “Jy moet hulle hand sewe dae lank vul”.

Lett. “tussen die twee aande”.

’n Efa was gelyk aan 22 l. Sien Aanh. B14.

’n Hin was gelyk aan 3,67 l. Sien Aanh. B14.

Lett. “tussen die twee aande”.

Of “kalmerende”. Lett. “rustige”.

Omtrent 44,5 cm. Sien Aanh. B14.

Of “voorhangsel”.

Lett. “tussen die twee aande”.

’n Sikkel was gelyk aan 11,4 g. Sien Aanh. B14.

Of “volgens die heilige sikkel”.

’n Gera was gelyk aan 0,57 g. Sien Aanh. B14.

’n Sikkel was gelyk aan 11,4 g. Sien Aanh. B14.

Of “siel”.

Of “siele”.

Of “volgens die heilige sikkel”.

’n Hin was gelyk aan 3,67 l. Sien Aanh. B14.

Of “Dit moet soos die werk van ’n salfmaker wees”.

Lett. “’n vreemdeling”, d.w.s. iemand wat nie deel is van Aäron se familie nie.

Die gom van ’n ongeïdentifiseerde soort boom.

’n Ongeïdentifiseerde bestanddeel wat moontlik van ’n geurige plant of ’n soort skulpdier verkry is.

Of “moet soos die werk van ’n salfmaker wees”.

Lett. “by naam geroep”.

Lett. “ek sit wysheid in die hart van almal wat wys van hart is”.

Of “gemeenskapsoffers”.

Of “die aangesig van Jehovah sy God versag”.

Of “voel spyt oor”.

Lett. “saad”.

Lett. “saad”.

Of “Jehovah het dus spyt gevoel oor sy besluit”.

Lett. “Vul julle hand vandag”.

Lett. “saad”.

Lett. “van aangesig tot aangesig”.

Of “Ek het jou gekies”.

Sien Woordelys.

Of “liefderyke goedhartigheid”.

Of “getrouheid”.

Of “geskep”.

Sien Woordelys.

Of “Jehovah, sy naam is Jaloers; Jehovah duld nie mededingers nie”.

Lett. “prostitusie met hulle gode pleeg”.

Sien Aanh. B15.

Lett. “Alles wat die baarmoeder open”.

Of “eersteling van ’n”.

Of “sabbat hou”.

Ook die Huttefees genoem.

Lett. “die Tien Woorde”. Ook die Dekaloog genoem.

Lett. “wys van hart is”.

Of “voorhangsel”.

Of “gordyn”.

Of “gordyn”.

Of “beweegoffers”.

Lett. “wysheid van hart”.

Lett. “elke man wat wys van hart is”.

Lett. “in wie se hart Jehovah wysheid gesit het”.

Verwys blykbaar na Besaleël.

’n El was gelyk aan 44,5 cm. Sien Aanh. B14.

Of moontlik “regop stutte”.

Of “wat met mekaar verbind was”.

Of “voorhangsel”.

Of “gordyn”.

Of “ringe; bande” wat gebruik is om voorwerpe aan mekaar te verbind.

’n El was gelyk aan 44,5 cm. Sien Aanh. B14.

Omtrent 7,4 cm. Sien Aanh. B14.

Of “tange”.

’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.

Of “gemeng soos ’n salfmaker dit sou meng”.

’n El was gelyk aan 44,5 cm. Sien Aanh. B14.

D.w.s. spieëls van metaal wat gepoleer is.

Of “ringe; bande” wat gebruik is om voorwerpe aan mekaar te verbind.

Of “ringe; bande” wat gebruik is om voorwerpe aan mekaar te verbind.

Of “ringe; bande” wat gebruik is om voorwerpe aan mekaar te verbind.

Of “ringe; bande” wat gebruik is om voorwerpe aan mekaar te verbind.

Of “gordyn”.

Of “ringe; bande” wat gebruik is om voorwerpe aan mekaar te verbind.

’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.

’n Sikkel was gelyk aan 11,4 g. Sien Aanh. B14.

Of “volgens die heilige sikkel”.

Of “volgens die heilige sikkel”.

Of “volgens die heilige sikkel”.

Of “voorhangsel”.

Of “beweegoffer”.

Omtrent 22,2 cm. Sien Aanh. B14.

’n Ongeïdentifiseerde edelsteen wat moontlik na amber, hiasint, opaal of toermalyn verwys.

’n Beskermende kledingstuk wat deur ’n vegter gedra is.

Of “onderklere”.

Of “die heilige hoofband”.

Of “voorhangsel”.

Of “gordyn”.

Of “gordyn”.

Of “voorhangsel”.

Of “gordyn”.

Of “gordyn”.

Of “voorhangsel”.

Of “voorhangsel”.

Of “voorhangsel”.

Of “gordyn”.

Of “gordyn”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel