Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 9/8 bl. 20-24
  • Waarom ek die priesteramp vir ’n beter bediening verlaat het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom ek die priesteramp vir ’n beter bediening verlaat het
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My diens in Goa, Salamanca en Rome
  • Vroeë onsekerheid en twyfel
  • My soeke na die waarheid duur voort
  • Ek breek weg van die kerk
  • Innerlike vrede en geluk
  • Ek help my familie om die waarheid in te sien
  • ‘Gelukkig is die mens wat wysheid gevind het’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Afvalligheid—’n Versperring op die weg na God
    Die mensdom se soeke na God
  • Hoe moet Christene die mis beskou?
    Ontwaak!—1999
  • ’n Dilemma vir die Katolieke Kerk
    Ontwaak!—1991
Ontwaak!—1993
g93 9/8 bl. 20-24

Waarom ek die priesteramp vir ’n beter bediening verlaat het

EK IS op 31 Julie 1955, op die ouderdom van 24, as ’n Katolieke priester georden. Dit was die hoogtepunt van 12 vormingsjare wat ek aan die aartsbisdomse kweekskool in Rachol, Goa, Indië, deurgebring het. En wat het in my ’n begeerte laat ontstaan om ’n priester te word?

Ek is op 3 September 1930 in Bombaai, Indië, gebore. Die volgende jaar het my vader afgetree, en die gesin het in Salvador do Mundo, Bardez, Goa, aan Indië se suidwestelike kus, gaan woon. Ek was die jongste van vier kinders. Ek het volgens ’n Portugees-Katolieke kultuur en tradisie grootgeword wat al sedert 1510 in Goa bestaan toe dit deur Portugal gekoloniseer is.

My ouers was ywerige Katolieke wat, getrou aan hulle oortuiging, elke jaar Kersfees, die Vastyd, Paasfees en feeste ter ere van die Maagd Maria en verskeie “heiliges” gevier het. Die priesters wat aan hierdie vieringe deelgeneem het, het dikwels by ons gebly, partykeer meer as tien dae op ’n keer. Ons het dus voortdurend met hulle omgegaan, en as kind het hulle my beïndruk.

My diens in Goa, Salamanca en Rome

Ek het die priesterlike bediening met groot entoesiasme aangepak, en ek het hoegenaamd geen bedenkinge gehad oor die geloofwaardigheid van die Katolieke Kerk se leerstellings en gebruike nie. Gedurende die eerste sewe jaar van my bediening in Goa het ek sosiaal-pastorale pligte by die St. Thomas-kapel in Panaji, die hoofstad van Goa, verrig. Terselfdertyd het ek ’n burgerlike pos by die Politegniese Instituut van die destydse Portugese regering beklee, waar ek ’n tweeledige rol vervul het—dié van professor en ook van direkteur van die instituut se kampus.

In 1962 is ek na die Universiteit van Salamanca in Spanje gestuur waar ek my Ph.D. in die Filosofie van Regte en Kanonieke Reg verwerf het. In die loop van my regsopleiding het sommige van die vakke waarin ek gestudeer het, veral Romeinse Reg en die Geskiedenis van Kanonieke Reg, my aangespoor om navorsing te doen oor hoe die Katolieke Kerk se grondwet ontwikkel en gevorder het tot die punt waar dit die pous aangewys het as Petrus se opvolger met ‘die hoogste gesag oor die kerk’.

Ek was bly dat daar gereël is dat ek my teologiese doktorale studies in Rome, Italië, sou doen waar ek die geleentheid sou hê om meer omtrent die hiërargie van die kerk te leer. Ek het in die somer van 1965 na Rome verhuis.

Op hierdie tydstip het die ekumeniese konsilie Vatikaan II sy hoogtepunt bereik. Terwyl ek met my teologiese studies besig was, het ek interessante besprekings met verskeie teoloë en “Konsilievaders” gehad wat die ultrakonserwatiewes in die konsilie teëgestaan het. Die heersende pous was pous Paulus VI, met wie ek persoonlik in aanraking gekom het in my hoedanigheid as die vise-president van die Vereniging van Indiese Priesters in Rome.

Vroeë onsekerheid en twyfel

Dwarsdeur hierdie tydperk van kontak met die hiërargie en my studies en navorsing vir my doktorale tesis het ek die geleentheid gehad om verdere insig in die geskiedenis en ontwikkeling van die Katolieke Kerk se basiese struktuur te verkry.a In teenstelling met die beskouings van die konserwatiewes in die konsilie, wat gewoond was aan pous Pius XII (1939-58) se soort absolute monargie, het die liberaliste uiteindelik daarin geslaag dat die konsilie die Dogmatiese Grondwet met betrekking tot die Kerk (Latynse titel: Lumen Gentium, Lig van die Nasies) goedkeur. In hoofstuk 3 behandel dit onder andere die reg van die biskoppe om as ’n liggaam ’n deel te hê aan die algehele en oppergesag van die pous oor die kerk. Hierdie leerstelling was diep in tradisie gewortel, maar is deur die konserwatiewes as kettery en te revolusionêr beskou.

Albei beskouings was vir my onaanvaarbaar, aangesien hulle nie die waarheid van die Evangelie weerspieël het nie. Hulle is ’n verdraaiing van Mattheüs 16:18, 19 en veroorloof al die vorige en toekomstige onskriftuurlike leerstellings en dogmas van die kerk.b Ek het besef dat die Griekse woorde wat in hierdie teks gebruik word, peʹtra (vroulik), wat “’n rotsmassa” beteken, en peʹtros (manlik), wat “stuk rots” beteken, nie deur Jesus as sinonieme gebruik is nie. En indien Petrus wel voorrang geniet het as die rotsmassa, soos ’n hoeksteen, sou daar nie later geskille onder die apostels gewees het oor wie die grootste onder hulle was nie. (Vergelyk Markus 9:33-35; Lukas 22:24-26.) Paulus sou dit dan ook nie gewaag het om Petrus in die openbaar tereg te wys omdat hy “nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie nie” (Galasiërs 2:11-14). Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat alle geesgesalfde navolgers van Christus gelykwaardige stene is, met Jesus as hulle hoeksteen.—1 Korinthiërs 10:4, NW; Efesiërs 2:19-22; Openbaring 21:2, 9-14.

Hoe hoër die vlak van akademiese en pastorale status wat ek bereik het, en hoe meer ek gedagtes uitgeruil het, hoe meer het ek in verstand en hart van die verskeie dogmas van die Katolieke Kerk weggedryf, veral dié in verband met die priesterlike ordening in die konteks van “die Heilige Misoffer” en “die Allerheiligste Sakrament van die Nagmaal”—wat transsubstansiasie genoem word.

In Katolieke taal is “die Heilige Misoffer” ’n voortdurende herdenking en bloedlose hernuwing van Jesus se offerande aan die “kruis”. Maar die Christelike Griekse Geskrifte oor die algemeen en veral Paulus se brief aan die Hebreërs was vir my duidelik genoeg om te besef dat Jesus se offerande ’n volmaakte offerande was. Sy werk was volkome. Dit het geen byvoegings, herhalings of verbeterings nodig gehad nie en was ook nie daaraan onderhewig nie. Die offerande is “eens en vir altyd” gebring.—Hebreërs 7:27, 28, NAV.

My soeke na die waarheid duur voort

Om myself te toets, het ek voortgegaan om vir verskeie bisdomme en aartsbisdomme in Wes-Europa, vir die aartsbisdom van New York en vir die bisdom van Fairbanks, Alaska, te werk. Dit was ’n pynlike nege jaar lange toets in my soeke na die waarheid. Ek was hoofsaaklik by administratiewe sake, kerklike regsgeleerdheid en die regspraktyk betrokke. Ek het so ver moontlik op ’n afstand gebly van kerklike rites en seremonies. Die grootste uitdaging was om die daaglikse mis op te dra. Dit het ’n ernstige konflik van gevoelens en emosies veroorsaak omdat ek nie geglo het in die herhalende, bloedlose offerande van Christus of in transsubstansiasie of in die aardse heilige priesterskap wat die “toorkuns” van transsubstansiasie met geldigheid en regmatigheid moet uitvoer nie.

Gedurende die Tweede Vatikaanse Konsilie was daar ’n opskudding oor hierdie “toorkuns”. Liberaliste wat deur die Nederlandse Katolieke hiërargie gelei is, het net “betekenisverandering” gesteun, dit wil sê dat die brood en wyn slegs die liggaam en bloed van Christus beteken of verteenwoordig. Daarenteen was die ultrakonserwatiewes, wat deur die Italiaanse Katolieke hiërargie gelei is, getroue voorstanders van “transsubstansiasie”, dit wil sê die verandering van die substansie van die brood en wyn in die ware en werklike substansie van die liggaam en bloed van Christus deur die “wydingswoorde” wat gedurende die mis uitgespreek word. Die gesegde was gevolglik: ‘In Holland verander alles behalwe brood en wyn, terwyl niks behalwe brood en wyn in Italië verander nie.’

Ek breek weg van die kerk

In die lig van so ’n wanvoorstelling van Christus en sy evangelie het ek vreeslik teleurgesteld en gefrustreerd gevoel dat my doelwit om God te verheerlik en siele te red deur valse leerstellings gedwarsboom is. Gevolglik het ek in Julie 1974 uiteindelik uit die aktiewe bediening bedank met die versoek om onbepaalde verlof te neem. Dit was vir my onlogies en onaanvaarbaar om te vra vir ontheffing van ’n priesteramp wat geen skriftuurlike grondslag gehad het nie. Gevolglik het ek my van Julie 1974 tot Desember 1984 afgesonder. Ek het met geen ander godsdiens van die Christendom omgegaan nie omdat geeneen ooreengestem het met my gevolgtrekkings teen die Drie-eenheid, die onsterflikheid van die siel, die opvatting dat alle regverdige mense die ewige lewe in die hemel verkry en die ewigdurende straf in die helse vuur nie. Ek het hierdie leerstellings as heidense idees beskou.

Innerlike vrede en geluk

My godsdiensafsondering het in Desember 1984 geëindig. In my hoedanigheid as bestuurder van die Debiteurs- en Krediteursafdeling van ’n sakeonderneming in Anchorage, Alaska, moes ek verskeie fakture met ’n kliënt, Barbara Lerma, bespreek. Sy was haastig en het gesê dat sy ’n “Bybelstudie” moes bywoon. Die uitdrukking “Bybelstudie” het my aandag getrek, en ek het haar ’n paar Bybelvrae gevra. Sy het my dadelik en op doeltreffende wyse skriftuurlike antwoorde gegee wat redelik verenigbaar met my eie leerstellige gevolgtrekkings was. Omdat ek nog vrae gehad het, het Barbara my in aanraking laat kom met Gerald Ronco, wat aan die takkantoor van Jehovah se Getuies in Alaska verbonde was.

Die opbouende besprekings wat ons daarna oor die Bybel gehad het, het my innerlike vrede en geluk verskaf. Dít was die soort mense na wie ek gesoek het—God se volk. Ek het tot God gebid om leiding en het mettertyd as ’n ongedoopte verkondiger van die goeie nuus met Jehovah se Getuies begin assosieer. Ek was werklik verbaas om uit te vind dat hierdie organisasie se hoofkwartier in Brooklyn, New York, is, net ’n paar kilometer van die Holy Family Church in Manhattan, waar ek (in 1969, 1971 en 1974) as mede-pastoor van die Parogiekerk van die Verenigde Nasies gedien het.

Ek help my familie om die waarheid in te sien

Ná ses maande van assosiasie met Jehovah se Getuies in Anchorage het ek op 31 Julie 1985 na Pennsilvanië verhuis. Hier het ek die voorreg gehad om my susterskind, Mylene Mendanha, wat met nagraadse studies in biochemie aan die Universiteit van Scranton besig was, van die goeie nuus van Jehovah se Koninkryk te vertel. Toe Mylene hoor dat ek met Jehovah se Getuies in verbinding wou tree, was sy verstom, want sy is vroeër verkeerd ingelig dat die groep ’n kultus is. Aanvanklik het sy niks vir my gesê nie omdat sy my as haar oom en ’n priester gerespekteer het en hoë agting vir my akademiese en pastorale prestasies gehad het.

Die volgende Sondag het Mylene vir die mis na die Katolieke Kerk gegaan, en ek het vir die Bybeltoespraak en Wagtoring-studie na die Koninkryksaal gegaan. Daardie selfde aand het ons saam gaan sit, sy met die Katolieke Jerusalem Bible en ek met die New World Translation of the Holy Scriptures. Ek het haar die naam Yahweh in haar Bybel en die ekwivalent, Jehovah, in die New World Translation gewys. Sy was verheug om uit te vind dat God ’n naam het en dat hy wil hê ons moet hom op sy naam aanroep. Ek het haar ook vertel hoe onskriftuurlik die leerstellings van die Drie-eenheid, transsubstansiasie en die onsterflikheid van die siel is en haar die toepaslike tekste gewys. Sy was eenvoudig verstom!

Mylene se belangstelling is verder geprikkel toe ek haar van die hoop van die ewige lewe op die Paradysaarde vertel het. Sy was voorheen bekommerd oor wat ná haar dood met haar sou gebeur. Sy het gedink dat sy nie heilig genoeg was om reguit hemel toe te gaan nie, maar sy het nie gedink dat sy só sleg was dat sy tot die ewige straf in die helse vuur veroordeel moes word nie. Al oplossing wat vir haar oorgebly het, was die vaevuur, waar sy geduldig sou moes wag vir mense se gebede en misdienste om haar hemel toe te stuur. Maar nadat ek vir haar verskeie tekste oor die hoop van die ewige lewe in die Paradys op aarde gewys en verduidelik het, was sy gretig om meer omtrent hierdie wonderlike goeie nuus te leer. Mylene het saam met my vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon. Die plaaslike Getuies het ’n gereelde Bybelstudie met ons begin hou. Kort daarna het ons ons aan Jehovah God toegewy en is op 31 Mei 1986 gedoop.

My familie, veral my oudste broer, Orlando, was ontsteld oor die nuus dat ek die priesteramp verlaat het. Hy het my suster Myra Lobo Mendanha geraadpleeg wat hom gekalmeer en gesê het: “Moenie dat dit ons kwel nie, want Alinio sou nie sy 43 jaar van harde werk sonder ’n baie goeie rede opgee nie.” In September 1987 het Myra en haar gesin by my in Wisconsin, VSA, aangesluit. Dit was nie vir my moeilik om hulle die onskriftuurlikheid van baie van die Katolieke leerstellings en gebruike te laat insien nie. Hulle was gretig om Bybelwaarheid te leer. Ek en Mylene het onmiddellik ’n Bybelstudie met hulle begin hou. Nadat hulle na Orlando, Florida, verhuis het, het hulle hulle studie voortgesit.

Die vrede en geluk wat ons almal geniet het, het ons beweeg om my oudste suster, Jessie Lobo, wat in Toronto, Kanada, woon van die goeie nuus van Jehovah se Koninkryk te vertel. Iemand het in 1983 vir haar getuig. Maar omdat sy ’n priester as broer gehad het, het sy gemeen dat niks haar van haar geloof sou laat afsien nie. Vier jaar ná daardie aanvanklike gesprek met Jehovah se Getuies, toe sy gehoor het dat ek ’n Getuie van Jehovah geword het en dat Myra en haar gesin verkondigers van die goeie nuus is, het sy met ’n Getuie in verbinding getree wat dadelik ’n Bybelstudie gereël het. Jessie is op 14 April 1990 gedoop; Myra, my swaer Oswald en my susterskind Glynis is op 2 Februarie 1991 gedoop. Hulle is baie gelukkig om Jehovah, die Allerhoogste, te dien.

Die konserwatiewe tradisionaliste en die liberale progressiewes in die Katolieke Kerk is beslis intelligente mense. Hulle glo dat hulle God se wil doen. Maar ons moenie die feit oor die hoof sien dat ‘die god van hierdie wêreld die sinne van die ongelowiges verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie’ (2 Korinthiërs 4:4). Dit is dus duidelik dat die wysheid van hierdie stelsel dwaasheid by God is (1 Korinthiërs 3:18, 19). Hoe dankbaar en gelukkig is ek tog dat Jehovah deur middel van juiste kennis van sy Woord ‘wysheid aan die eenvoudige gee’.—Psalm 19:8.

My 19 jaar van diens as ’n Katolieke priester is iets van die verlede. Nou is ek ’n Getuie van Jehovah. Dit is my begeerte om in Jehovah se weë te wandel en sy Seun, Jesus Christus, ons Koning en Redder, na te volg. Ek sal graag ander wil help om Jehovah te leer ken sodat hulle ook in aanmerking kan kom vir die prys van die ewige lewe op ’n paradysaarde, tot die heerlikheid van die ware God, Jehovah.—Soos vertel deur Alinio de Santa Rita Lobo.

[Voetnote]

a Ek het Salamanca verlaat terwyl ek steeds navorsing gedoen het vir my tesis oor Kanonieke Reg, wat ek in 1968 voorgelê het.

b Hierdie teks sê volgens die Katolieke New American Bible ten dele: “Ek self verklaar aan jou: Jy is ‘Rots’, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou . . . Wat jy ook al op die aarde gebonde sal verklaar, sal in die hemel gebonde wees; wat jy ook al op die aarde ontbonde sal verklaar, sal in die hemel ontbonde wees.”—Sien venster, bladsy 23.

[Venster op bladsy 23]

Sleutels van die koninkryk

Wat die “sleutels van die koninkryk van die hemele” betref, die betekenis daarvan word duidelik wanneer ons oor Jesus se teregwysing van die godsdiensleiers nadink: “Julle het die sleutel van die kennis weggeneem; self het julle nie ingegaan nie, en vir die wat wou ingaan, het julle verhinder” (Lukas 11:52). Mattheüs 23:13 verduidelik verder dat “ingaan” ’n ingang in “die koninkryk van die hemele” aandui.

Die sleutels wat Jesus vir Petrus beloof het, het ’n unieke opvoedkundige taak behels wat vir mense spesiale geleenthede sou open om in die hemelse Koninkryk in te gaan. Petrus het hierdie voorreg by drie geleenthede gebruik, en Jode, Samaritane en nie-Jode gehelp.—Handelinge 2:1-41; 8:14-17; 10:1-48; 15:7-9.

Die doel van die belofte was nie dat Petrus aan die hemel sou voorskryf wat gebonde of ontbonde moes wees of nie moes wees nie, maar dat Petrus vir die drie spesifieke take as die hemel se werktuig gebruik sou word. Dit is die geval omdat Jesus nog altyd die ware Hoof van die gemeente is.—Vergelyk 1 Korinthiërs 11:3; Efesiërs 4:15, 16; 5:23; Kolossense 2:8-10; Hebreërs 8:6-13.

[Prent op bladsy 24]

Alinio de Santa Rita Lobo is nou ’n Getuie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel