Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 9/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waar kom kompleksiteit vandaan?
  • Oefening en ouderdom
  • Tierbene
  • Diskriminasie teen vroue
  • Die onmisbare maan
  • Suid-Afrika pak die molesteringskrisis aan
  • Verdagte geboortedefekte in Hongarye
  • Deur ’n rekenaar vertaal
  • Boeddhistekroeg
  • ’n Bietjie wyn vir jou hart
  • Tier! Tier!
    Ontwaak!—1996
  • Die Siberiese tier—Sal hy bly voortbestaan?
    Ontwaak!—2008
  • ’n Nuttige hulpmiddel vir vertaling
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 9/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Waar kom kompleksiteit vandaan?

Baie evolusioniste neem aan dat eertydse lewende dinge eenvoudig was, maar dat hulle toe kwansuis deur natuurlike teeltkeuse gedryf is om deur die eeue heen al hoe meer kompleks te raak. Wetenskaplikes kon tydens onlangse studies nie daarin slaag om so ’n dryfkrag tot groter kompleksiteit te vind nie. Dr. Dan McShea, ’n paleobioloog, het die gefossileerde ruggrate van verskeie soogdiere ondersoek; ’n ander studie is op die bestudering van weekdierfossiele toegespits. Daar is nie met een van die studies enige bewys van ’n evolusionêre dryfkrag tot groter kompleksiteit gevind nie. Hulle het ook nie bevind dat groter kompleksiteit enige voordeel meegebring het wat oorlewing betref nie. Volgens The New York Times sê kenners dat hierdie bevindings “’n verrassing sal wees vir baie bioloë wat gewoond is om in terme van sulke tendense te dink”. Die Times sê: “Volgens dr. McShea kan die idee van dryfkragte tot kompleksiteit eerder ’n weerspieëling wees van wetenskaplikes se begeerte om die een of ander soort vooruitgang in evolusie te sien as ’n weerspieëling van enige biologiese werklikheid.”

Oefening en ouderdom

Is dit ooit te laat om te begin oefen? Nie volgens ’n studie wat onlangs in die oostelike dele van die Verenigde State gedoen is nie. ’n Opname onder meer as 10 000 mans het bevind dat hulle hulle gemiddelde lewensduur verleng het ongeag die ouderdom waarop hulle met “ligte” oefening begin het. Diegene wat tussen 45 en 54 was toe hulle begin het, het die meeste daarby baat gevind en het hulle lewensduur met tot tien maande verleng. Die groep tussen 65 en 74 het ses maande by hulle lewensduur gevoeg, en diegene tussen 75 en 84 het dit met twee maande verleng. Dr. Ralph S. Paffenbarger, wat die studie gelei het, het beklemtoon dat dit gemiddeldes was; party wat aan die proefneming deelgeneem het, het gevolglik baie meer by oefening baat gevind as ander. Die grootste voordeel lê blykbaar daarin dat hartaanvalle voorkom word. Maar diegene wat oefeninge gedoen het, het ook ’n skraler kans gehad om weens ander oorsake te sterf.

Tierbene

Die aanvraag na tierbene vir gebruik in tradisionele Oosterse medisyne hou ’n bedreiging in vir die wêreld se verminderende tierbevolking, sê die Britse mediese tydskrif The Lancet. Ten spyte van internasionale pogings om handel met tierprodukte aan bande te lê, word tierbeen alom in wyne, medisyne en konfeksies (medisinale poeier gemeng met heuning of stroop) bemark. In 1991 alleen het een Asiatiese land na bewering 15 079 houers tablette, 5250 kilogram konfeksies en 31 500 bottels wyn uitgevoer wat tierbeen bevat. Die oorblywende aantal tiere in alle wêrelddele word maar op ongeveer 6000 geskat.

Diskriminasie teen vroue

’n Onlangse reeks berigte in The Washington Post het begin deur te sê: “In die Derde Wêreld is ’n vrou se lewe heel dikwels skaars die moeite werd.” Die Post-verslaggewers het, ná hulle met tientalle vroue in arm dele van Afrika, Asië en Suid-Amerika onderhoude gevoer het, gevind dat “kultuur, godsdiens en die wet vroue dikwels van hulle basiese menseregte ontneem en hulle soms tot ’n bykans ondermenslike status verlaag”. In een dorpie in die Himalajas doen vroue byvoorbeeld 59 persent van die werk, hulle werk tot 14 uur per dag en dra dikwels vragte wat 1,5 keer hulle eie gewig is. ’n Studie het bevind dat “hulle ná twee of drie . . . swangerskappe min weerstandsvermoë het, swakker word en wanneer hulle diep in die dertig is, is hulle uitgebrand, oud en afgeleef en sterf vroeg”. Meisies kry oor die algemeen minder kos, word vroeër uit die skool gehaal en ’n werk gegee en ontvang minder mediese sorg as seuns. Baie vroue vermoor dogtertjies omdat hulle as ’n duur las beskou word. Die verslaggewers het berig dat dit op die platteland van suidelike Indië ’n algemene metode van kindermoord is om kokende hoendersop in die kind se keel af te gooi. Toe ’n polisiebeampte gevra is of mense vir sulke misdade gestraf word, het hy geantwoord: “Daar is dringender sake om na om te sien. Baie min gevalle word onder ons aandag gebring. Baie min mense gee om.”

Die onmisbare maan

Sterrekundiges sal dalk nog ’n item by die reeds indrukwekkende lys faktore moet voeg wat die planeet Aarde op unieke wyse vir lewe geskik maak: die Maan. Ons satelliet doen baie meer as om net ’n ornamentele naglig in die hemele te wees en die getye te veroorsaak. Volgens rekenaarstudies deur Franse sterrekundiges help dit ook om die aarde se helling, dit wil sê die aantal grade van sy omwentelingsas se kanteling, te reguleer. Mars, wat nie so ’n groot satelliet het nie, het blykbaar deur die eeue heen sy grade van kanteling met tussen 10 en 50 grade verander. Hierdie onstabiliteit het waarskynlik katastrofiese klimaatsveranderinge veroorsaak, met die poolkappe wat smelt en dan weer vries. Die rekenaarstudies het aan die lig gebring dat die aarde se helling moontlik met 85 grade sou geskuif het sonder die maan, wat ’n stremmende invloed uitoefen. Die Franse sterrekundiges kom derhalwe tot die gevolgtrekking: “’n Mens kan maar sê dat die Maan as ’n potensiële klimaatreguleerder vir die Aarde optree.”

Suid-Afrika pak die molesteringskrisis aan

Binne slegs vyf jaar het die aantal kinders wat in Suid-Afrika verkrag is meer as verdubbel, sê The Star, ’n Johannesburgse koerant. Die koerant berig dat daar in 1988 1707 verkragtings van kinders aangemeld is; teen 1992 het daardie syfer tot 3639 gestyg. Die Minister van Wet en Orde Kobie Coetsee het hierdie syfers aangehaal toe hy die land se eerste hof geopen het wat ontwerp is om in verkragtingsake te spesialiseer en in Wynberg, Kaapstad, geleë is. Hy het die hoop uitgespreek dat die hof sulke sake vinnig en met meer meegevoel sal behartig. Die adjunk-prokureur-generaal Natalie Fleischack het gesê dat die nuwe stap van die vernedering en verleentheid sal uitskakel wat verkragtingslagoffers gewoonlik tydens die hofsaak ondervind en dat dit hulle “sielkundige rehabilitasie” ook sal aanhelp.

Verdagte geboortedefekte in Hongarye

In ’n klein dorpie in suidwestelike Hongarye is daar in 1989 en 1990 ’n hoë persentasie babas met ernstige geboortedefekte gebore. Trouens, 11 van die 15 babas wat gedurende daardie tydperk gebore is, is deur afwykings soos Down se sindroom en abnormaliteite van die longe, hart en spysverteringstelsel aangetas. Hierdie syfer was 223 maal hoër as dié vir die res van die land. Andrew Czeizel het, saam met ’n span Hongaarse en Duitse wetenskaplikes, ’n moontlike skuldige geïdentifiseer: trichlorofon, ’n plaagdoder. Die dorp se visplaas het blykbaar in 1988 begin om trichlorofon volgens ’n nuwe tegniek toe te dien: die visse is in die onverdunde chemikalie geweek en in die water teruggesit met vlakke van die stof wat duisend maal hoër as die aanbevole maksimum was. “Dit is ’n gif”, sê Andrew Czeizel oor trichlorofon. Volgens die tydskrif New Scientist verander dit stadig in ’n ander chemikalie wat honderd maal dodeliker is en deur die moeder se plasenta tot in die fetus kan beweeg.

Deur ’n rekenaar vertaal

In wat as die eerste gebeurtenis van sy soort beskryf kan word, het ’n rekenaar onlangs telefoongesprekke tussen navorsers in Japan, Duitsland en die Verenigde State vertaal. Wetenskaplikes in Kioto, München en Pittsburgh het hulle woordeskat tot 550 algemene woorde en ’n bykomende 150 gespesialiseerde terme in die veld van kongres- en hotelbesprekings beperk terwyl hulle gepraat het. Dit is al woorde wat die rekenaarprogram kan verstaan en vertaal. Die koerant Süddeutsche Zeitung van München berig dat wetenskaplikes “saamwerk aan ’n vertalingsrekenaar wat kongresbesprekings van deelnemers uit verskeie lande sal behartig en eenvoudige vrae sal beantwoord”.

Boeddhistekroeg

Om Boeddhisme na hulle dwalende kudde te probeer terugbring, het Boeddhistepriesters in Osaka, Japan, ’n kroeg geopen. “In die ou tyd”, het een van die priesters volgens die Asahi Evening News gesê, “het alle soorte mense by tempels bymekaargekom en gesels terwyl hulle geëet en gedrink het. Met verloop van honderde jare het daar ’n skeiding tussen Boeddhisme en die mense gekom.” Vyftien priesters, baie van hulle jonk, neem beurte om as gasheer by die kroeg op te tree en saam met die klante te drink. “Ons kroeg is in die ware sin van die woord ’n tempel waar jy openhartig met ’n priester kan gesels”, sê die bestuurder. Wierook brand en daar hang godsdienssimbole teen die muur. Die agtergrondmusiek is rock.

’n Bietjie wyn vir jou hart

’n Matige inname van rooi wyn kan die gevaar van ’n hartaanval verminder. Wetenskaplikes is al ’n geruime tyd dronkgeslaan deur wat hulle die “Franse paradoks” begin noem het. Hoewel die gemiddelde Fransman se dieet nie laag is in die versadigde vette wat tot kardiovaskulêre probleme bydra nie, het die Franse een van die laagste sterftesyfers vir koronêre hartsiektes in die geïndustrialiseerde Weste. Volgens die Paryse koerant Le Figaro, wat na berigte in die Britse mediese tydskrif The Lancet verwys het, meen wetenskaplikes dat dit moontlik verband hou met die rooi wyn wat die Franse gewoonlik saam met hulle maaltye drink. Suurvormende samestellings in rooi wyn, wat fenols genoem word, voorkom blykbaar dat die sogenoemde slegte cholesterol (LDL) are verstop met die vetterige neerslae wat hartaanvalle veroorsaak. Le Figaro voeg by dat hierdie fenols nie-alkoholiese komponente van wyn is en as ’n mens meer as 250 milliliter per dag drink, doen die alkohol meer kwaad as goed.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel