Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 3/22 bl. 31
  • Die vietse, flinke waterspreeu

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die vietse, flinke waterspreeu
  • Ontwaak!—1994
  • Soortgelyke materiaal
  • Die kliploerie—’n Juweel van die Amasonewoud
    Ontwaak!—1998
  • Die Victoriameer se geveerde hanswors
    Ontwaak!—1993
  • “Die pragtigste woudbewoner”
    Ontwaak!—2000
  • ’n Majestueuse monoliet
    Ontwaak!—2007
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 3/22 bl. 31

Die vietse, flinke waterspreeu

“VIETS” en “flink” is gepaste beskrywings vir die waterspreeu. Dit beteken ‘netjies’ in voorkoms en ‘lewendig’ wat sy bewegings betref. As jy egter deftiger wil wees, kan jy sy Latynse naam, Cinclus c. gularis, gebruik.

Die eerste keer wat ek hierdie waterspreeu raakgesien het, was waar hy op ’n groot klip in die middel van ’n vinnig vloeiende spruit in die noorde van Engeland gesit het. Hy was van die punt van sy snawel af tot by die punt van sy stert net 18 sentimeter lank. Hy was onberispelik geklee in ’n donkerbruin verekleed en het met ’n skoon, wit borslappie gespog wat van net onder sy onderste snawel af tot by die helfte van sy borsie gestrek het, en ’n skerp teenstelling gevorm het met die nat, groen mos wat die klippe bedek het.

Terwyl hy die gedruis en gespat van die nabygeleë waterval geïgnoreer het, het die voël op bene gestaan wat lyk of hulle skarniere het terwyl hy sy kop laat sak en buiginkies gemaak het. Hy het skielik in die stroom geduik en tot op die bodem “gevlieg”. Toe het hy stroomopwaarts geloop, op soek na kos wat bestaan uit larwes van die kokerjuffers, waterkewers, bootmannetjies, spinnekoppe, paddavissies sowel as papies van die eendagsvlieg of van die naaldekoker en soms ook klein vissies. Terwyl die waterspreeu dit doen, word sy oë deur ’n derde ooglid beskerm. Wanneer die voël op land is, kan hierdie ooglid soms gesien word waar dit oor die oog knip en die indruk skep dat die voël knipoog.

Die vorm van die waterspreeu se rug is so ontwerp dat die krag van die stromende water sy kop afhou. Hy gebruik ook sy vlerke om die natuurlike dryfvermoë van sy liggaam teen te werk. So nou en dan kom hy op om asem te skep en op die water te dryf of om te swem, hoewel hy nie swempote het nie. Wanneer hy wel weer sy verskyning maak om na sy klip toe terug te gaan, is hy net so onberispelik as toe hy die eerste keer die stroom ingegaan het!

My waterspreeu het blykbaar klaar kos gesoek en het teruggekeer om sy kleintjies kos te gee. Hy maak ’n pragtige koepelvormige nes van mos, wat met droë grashalms aan die rotswand geweef is, onder boomwortels en rotslae of weggesteek onder oorhangende varings. Maar die nes is so goed gekamoefleer dat dit moontlik is om onder die nes te staan en nie eens te weet dit is daar nie. Ek het ’n tyd lank na die voël se nes gesoek, maar tevergeefs.

Toe, terwyl ek bly kyk het, het die waterspreeu in ’n oogwink reguit in die waterval ingevlieg! Ek het stadig al met die oewer van die stroom langs beweeg om agter die waterval in te kyk. Sy nes was in ’n skeur in die rotswand agter die waterval gebou. Wat ’n betowerende gesig om hierdie voël deur die water te sien vlieg om sy kleintjies kos te gee!

Hierdie vietse, flinke waterspreeutjie het my dag onvergeetlik gemaak.—Bygedra.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel