Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 8/8 bl. 5-7
  • Help jou kind om probleme

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Help jou kind om probleme
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Portuurdwang
  • Vuil taal
  • Onsedelikheid en dwelms
  • Afknouery en geweld
  • Swak onderrig
  • Wat moet ek doen as my kind geboelie word?
    Hulp vir die gesin
  • Afknouery—’n Paar oorsake en gevolge
    Ontwaak!—2003
  • Die sleutels tot ’n goeie skoolopleiding
    Ontwaak!—1995
  • Ouers—Wees julle kind se voorspraak
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 8/8 bl. 5-7

Help jou kind om probleme

by die skool te hanteer

VERSLEGTENDE wêreldtoestande raak ons almal; ook ons kinders. God se Woord, die Bybel, het akkuraat voorspel dat daar in ons dag “swaar tye sal kom” en dat “goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger” (2 Timotheüs 3:1-5, 13). Skole is vandag dus vol probleme, en leerlinge worstel met situasies wat hulle ouers selde beleef het. Wat kan ouers doen om hulle kinders te help om sulke probleme te hanteer?

Portuurdwang

Die meeste kinders ondervind by tye portuurdwang. Een jong Franse leerling kla: “Ouers en die gemeenskap doen wat hulle kan, maar dis nie genoeg nie. Jong oortreders sleep ander jongmense saam. . . . Ouers wat hulle kinders nie dissiplineer nie, is nie ouers nie.”

Verantwoordelike ouers probeer hulle kinders help om geestelike eienskappe aan te kweek wat hulle die innerlike krag gee wat hulle nodig het om skadelike portuurdwang te weerstaan. “Ons probeer hard om ons kinders te help om ’n gevoel van eiewaarde aan te kweek”, verduidelik een vader, “sodat hulle dit nie nodig sal vind om die goedkeuring van hulle portuurs te hê nie. As dit nie vir hulle belangrik is om soos ander kinders te wees nie, sal dit vir hulle makliker wees om nee te sê wanneer hulle veronderstel is om nee te sê.” Ten einde sy kinders te leer hoe om moeilike situasies te hanteer, sorg hierdie ouer dat sy gesin tyd inruim om aan rolvertolking deel te neem, waar hulle moeilike situasies wat kan opduik as ’t ware opvoer en maniere demonstreer waarop hulle die situasies kan hanteer. Wees ’n ondersteunende ouer en help jou kind om sy selfvertroue op te bou.

Vuil taal

Namate sedelike standaarde in alle wêrelddele afneem, word vuil taal al hoe algemener. In baie lande word dit dikwels tydens die so genoemde spitstyd op TV algemeen gehoor. Skole se speelterreine, gange en klaskamers weerklink derhalwe van onwelvoeglikhede.

Party onderwysers regverdig hulle eie vloektaal en vloekwoorde deur te redeneer dat hulle leerlinge dan hulle eie opinie omtrent sulke spraak kan vorm. Maar so ’n beleid laat die leerlinge eenvoudig toe om hierdie perverse uitdrukkings ’n deel van aanvaarbare alledaagse spraak te maak.

’n Verstandige ouer verduidelik op ’n vriendelike manier waarom die gesin nie sulke woorde mag gebruik nie. Hy kan ook die probleem van vuil taal in skoolwerk voorkom deur na die skoolleerplan te kyk om te sien watter boeke vir sy kind voorgeskryf is. Indien enige van die voorgeskrewe boeke vuil taal of onsedelikheid bevat, kan hy die kind se onderwyser miskien vra om ’n ander boek met ’n aanvaarbare inhoud te kies. ’n Gebalanseerde benadering getuig van redelikheid.—Filippense 4:5, vgl. NW.

Onsedelikheid en dwelms

Opnames toon dat talle ouers erken dat hulle “te skaam of verleë is om die onderwerp [van seksonderrig] tuis aan te roer”. Hulle maak eerder staat op die skool om hulle kinders akkurate inligting daaroor te gee. Maar The Sunday Times van Londen berig dat vandag se oorvloed tienerswangerskappe volgens een ervare onderwyser “meer te doen [het] met sedelikheid as met voorbehoedmiddels”. Ouers is in die beste posisie om die gedragstandaarde vas te stel wat hulle verwag hulle kinders moet handhaaf.

Dieselfde geld wat dwelmmisbruik betref. ’n Gebrek aan ouerlike leiding vererger die probleem. “Hoe minder die gesinslewe by die kind byval vind”, sê Francoscopie 1993, “hoe groter is die neiging om ’n plaasvervanger daarvoor te vind. Dwelms is dikwels een plaasvervanger.” “Dis moeilik om ’n ouer te wees”, erken Micheline Chaban-Delmas, die president van die organisasie Toxicomanie et Prévention Jeunesse (Dwelmgebruik en die Beskerming van Jongmense). “Jy moet voortdurend op jou hoede wees; dwelms is dikwels ’n manier om ouers te waarsku dat daar iets skort. As die adolessent dink dat sy ma of pa nie aandag aan hom skenk nie, kan dwelms, wanneer dit hom dan aangebied word, soos ’n kitsoplossing vir sy probleme lyk.”

Een Kanadese ouer verduidelik hoe hy en sy vrou ’n ware belangstelling in hulle tienerdogter se skoolloopbaan toon: “Ons neem Nadine skool toe en terug. Dikwels nadat ons haar opgelaai het, volg ’n gesprek oor hoe haar dag verloop het. As ons agterkom dat daar iets is wat taamlik ernstig is, sal ons óf dan met haar daaroor praat óf ons sal die onderwerp weer tydens aandete of ’n gesinsbespreking aanroer.” Jy kan eweneens opregte besorgdheid en liefde teenoor jou kind openbaar deur die kommunikasiekanale oop te hou.

Afknouery en geweld

Afknouery is “een van die verraderlikste probleme in skole”, sê Maureen O’Connor in How to Help Your Child Through School. Sy sê ook dat “die slagoffers dikwels teësinnig is om ’n volwassene daarvan te vertel uit vrees dat hulle as ’n ‘verklikker’ gebrandmerk sal word, ongeag hoeveel ellende hulle ook al deurmaak”.

Ongelukkig beskou party onderwysers afknouery as normale gedrag. Maar baie ander onderwysers stem saam met die opvoedkundige Pete Stephenson, wat meen dat afknouery ’n “vorm van mishandeling” is en wat volhou dat “dit nie in die afknouers se belang is om toe te laat dat dit voortduur nie”.

Wat kan jy dan doen as jou kind die slagoffer van ’n afknouer word? “Die belangrikste beskerming”, skryf Maureen O’Connor, “moet die volwasse gemeenskap wees waarin [die slagoffers] lewe.” Bespreek sake met ’n simpatieke onderwyser. Dit sal jou kind gerusstel dat julle albei sulke aggressiewe gedrag as onaanvaarbaar beskou. Talle skole het ’n duidelike beleid teen afknouery aangeneem wat openlik in die klas deur onderwysers bespreek word.

Natalie het weens haar godsdiens ’n slagoffer van afknouers geword. “Omdat ek een van Jehovah se Getuies is, is ek beledig en is my goed soms stukkend geskeur”, vertel sy. Om die probleem op te los, het sy dit met haar ouers bespreek, wat voorgestel het dat sy met haar onderwysers praat. Sy het dit gedoen. “Ek het ook die inisiatief geneem om die ouers te bel van twee van my klasmaats wat my afgeknou het”, sê sy verder. “Omdat ek die probleem aan hulle kon verduidelik, is die situasie nou baie beter. Ek het dus die vertroue van my onderwysers sowel as die meeste van my klasmaats gewen.”

Soms kom ouers agter dat hulle kind die afknouer en nie die slagoffer is nie. In so ’n geval moet hulle noukeurig kyk na wat tuis aangaan. “Kinders wie se aggressiewe gedrag sterker na vore kom, kom gewoonlik uit gesinne waar die ouers konflik nie op ’n behoorlike wyse oplos nie”, berig The Times van Londen, en voeg by: “Gewelddadige optrede is iets wat aangeleer word.”

Op party plekke neem geweld epidemiese afmetings aan. Wanneer politieke onrus dit vir kinders byna onmoontlik maak om skool toe te gaan, vind kinders vir wie hulle neutraliteit belangrik is dit soms verstandig om tuis te bly. Maar wanneer hulle by die skool is en daar wel probleme ontstaan, glip hulle ongesiens weg en gaan terug huis toe totdat alles weer rustig is.

Swak onderrig

Goeie kommunikasie tussen jou kind en jou kind se onderwysers kan help as swak onderrig probleme skep. “Ons moedig ons dogter altyd aan om ’n positiewe gesindheid ten opsigte van haar skoolwerk te hê”, sê een egpaar. Maar wanneer onderwysers ’n vak nie interessant maak nie, verloor kinders gou belangstelling. As jou kind vind dat dit die geval is, kan jy hom gerus aanmoedig om privaat met die onderwyser te praat.

Help jou kind om vrae voor te berei wat, wanneer dit beantwoord word, dit nie net vir hom maklik sal maak om die punt van die les te snap nie, maar hom ook sal leer hoe om dit te gebruik wat geleer word. Dit op sigself waarborg egter nie ’n opregte en blywende belangstelling in die vak nie. Baie hang af van jou eie voorbeeld as ouer. Wys dat jy omgee deur jou kind se skoolwerk met hom te bespreek en bied jou hulp aan om te help met navorsingsprojekte wat die onderwyser gee.

By die skool is daar kinders wat uit gebroke gesinne kom of wat onder omstandighede verkeer waar hulle mishandel en afgeskeep word en wat dus dikwels nie selfvertroue of selfrespek het nie. Hulle meng met kinders wat dalk beter omstandighede geniet. Die meeste ouers besef dat hulle moet aanhou om hulle kinders te help om probleme wat by die skool opduik te bowe te kom. Maar wat van ouers se verhouding met die onderwysers? Watter soort verhouding moet hulle opbou, en hoe?

[Venster op bladsy 7]

Is jou kind die slagoffer van ’n afknouer?

DESKUNDIGES beveel ouers aan om op die uitkyk te wees vir waarskuwingstekens by hulle kind. Is hulle kind teësinnig om skool toe te gaan, het hy of sy die neiging om skoolmaats te vermy en kom hy of sy met stukkende plekke of geskeurde klere huis toe?

Moedig jou kind aan om jou presies te vertel wat gebeur het. Dit sal jou help om vas te stel of afknouery werklik die probleem is. As dit wel so is, praat dan met ’n simpatieke onderwyser.

Help jou kind om die probleem die hoof te bied deur voor te stel dat hy naby betroubare klasmaats bly en plekke en situasies vermy waar afknouery weer kan voorkom. ’n Kind met ’n goeie sin vir humor en wat weet hoe om homself uit ’n moeilike situasie te praat, sal dikwels goed regkom.

Moenie te angstig wees nie en moenie jou kind aanmoedig om met gelyke munt terug te betaal nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel