Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 8/8 bl. 11-13
  • ’n Verwoestende droogte in Suidelike Afrika

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Verwoestende droogte in Suidelike Afrika
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ander komplikasies
  • Wat is die oplossing?
  • Wat word hieromtrent gedoen?
  • Wanneer die reën nie kom nie
    Ontwaak!—1999
  • Wat sit agter die boerderykrisis?
    Ontwaak!—2003
  • Hoe slagoffers van rampe gehelp word
    Hoe jou donasies gebruik word
  • Die boerderykrisis
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 8/8 bl. 11-13

’n Verwoestende droogte in Suidelike Afrika

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AFRIKA

BAIE het gesê dat dit die ergste droogte in hierdie eeu was. Party het selfs gesê dat dit die ergste droogte in Suidelike Afrika se geskiedenis was. Hierdie twee jaar lange droogte wat Suidelike Afrika geteister het, het rampspoedige gevolge gehad. “Dit is erger, baie, baie erger as wat ons verwag het”, het die hoof van Operasie Honger, ’n private Suid-Afrikaanse bystandsgroep, gesê. “Veldekspedisies is ontdekkingsreise na die dieptes van ongekende ellende, menselyding en armoede.”

“Jy kan niks kweek nie. Die aarde is dood”, het een kleinboer wanhopig gesê. Op sommige plekke het honger dorpsbewoners modder of die wortels van wilde plante geëet. Agentskappe wat voedselbystand verleen, is oorval met versoeke om hulp. Volgens The Guardian Weekly “het Suidelike Afrika ’n groter deel van sy oeste verloor as wat Ethiopië en Soedan gedurende die verskriklike droogte van 1985 verloor het”.

Die droogte het ongeveer 18 miljoen mense op die randjie van verhongering gebring. In Angola was die krisis die ergste in die land se geskiedenis. Na raming is ’n miljoen beeste dood, en binne een jaar het sowat 60 persent van die oes misluk. Die mense wat die meeste daaronder gely het, kon nie bereik word sodat hulle bystand kon ontvang nie. Teen Augustus 1992 het Zambië twee derdes van sy gesaaides verloor, en na raming moes eenmiljoen ton mielies ingevoer word. Nagenoeg 1,7 miljoen mense het honger gely.

In Zimbabwe, wat eens die koringskuur van Suidelike Afrika genoem is, het viermiljoen mense voedselbystand nodig gehad—bykans die helfte van die bevolking. In een gebied het ’n onderwyser gesê: “Daar is min water en feitlik geen voedselvoorrade oor nie. Daar is nie ’n grassie op die land oor nie.”

In sommige dorpies het mense bome geklim om blare te pluk sodat hulle dit kon kook en eet. Die regering moes sy voedselbystand van 15 kilogram tot 5 kilogram per persoon per maand verminder. Die groot mensgemaakte Karibameer was op sy laagste vlak ooit, en in Bulawayo is waterbeperkings ingestel.

Duisende diere op wildplase in Zimbabwe moes geskiet word aangesien daar nie genoeg water vir hulle was nie. ’n Koerant het berig: “Dooie voëls het uit verdorde bome geval, skilpaaie, slange, knaagdiere en insekte het verdwyn.”

Van al die droogtegeteisterde lande was Mosambiek een van dié wat die slegste daaraan toe was. Die land het 80 persent van sy voedsel deur internasionale bystand ontvang, en volgens een raming het 3,2 miljoen mense honger gely. Vlugtelinge het Malawi, Suid-Afrika, Swaziland en Zimbabwe binnegestroom. Aangesien die druk van die droogte onlangs verlig is, het baie vlugtelinge teruggekeer.

Stadsbewoners is dikwels onbewus van die uitwerking wat droogte op die lewe van die plattelanders het. ’n Amptenaar wat met voedselbystand gemoeid is, het gesê: “Die verwoestings wat deur die droogte veroorsaak is, is amper iets onwerkliks vir die meeste mense in die groot stede wat die hewigheid van die voedsel- en watertekorte vrygespring het.”

Hoewel reën ’n mate van verligting in baie gebiede gebring het, het dele van Mosambiek, Swaziland en Suid-Afrika steeds meer reën nodig. Die gevolge van hierdie droogte sal ongetwyfeld nog jare lank verduur moet word.

Een oorsaak van droogte is natuurlik ’n gebrek aan reën. Maar die gevolge daarvan word vererger deur ander probleme wat in aanmerking geneem moet word.

Ander komplikasies

In Afrika word die uitwerking van droogte grootliks deur politieke onstabiliteit vererger. Die lande wat met die ergste voedseltekorte te kampe gehad het, was dié wat deur onstabiliteit geteister is. Voorbeelde hiervan is Angola, Ethiopië, Mosambiek en Somalië. Oorloë het die landbou ontwrig en baie boere genoodsaak om te vlug en hulle plase onbewerk te laat.

’n Omstrede faktor wat tot droogte bydra, is die mens se besoedeling van die atmosfeer en volgens sommige die wêreldwye verwarming wat daaruit voortspruit. Nog ’n faktor is die bevolkingstoename. Die gemiddelde jaarlikse bevolkingsgroeikoers in Afrika is 3 persent, wat een van die hoogstes ter wêreld is. Aangesien daar meer mense is om te voed, bewerk boere grond wat ongeskik vir landbou is en laat hulle nie die grond braak lê sodat dit kan herstel nie.

Verder word woude vernietig, hoofsaaklik om meer grond vir landbou te bekom. Volgens die tydskrif African Insight was 20 persent van Ethiopië 20 jaar gelede bebos; nou is slegs 2 persent bebos. Van al die omgewingsprobleme wat die aarde bedreig, is ontbossing volgens party kenners die ernstigste. Dit het ’n uitwerking op die weerpatrone en dra tot gronderosie by, sowel as die uitbreiding van woestyngebiede.

Party Afrika-regerings het voedsel- en veepryse laag gehou om die guns van die stedelike verbruikers te win. Dit ontmoedig die boere, wat nie ’n wins uit hulle boerdery kan maak nie. Die regering van Zimbabwe het in reaksie daarop die prys van mielies met 64 persent verhoog sodat dit vir boere ’n aansporing kan wees om meer te produseer.

Wat is die oplossing?

Deskundiges het baie voorstelle. Maar soms het hulle Afrika-lande aangeraai om van Westerse landboumetodes gebruik te maak, wat nie vir die Afrika-omgewing geskik is nie.

Daar is ’n dringende behoefte aan praktiese oplossings. ’n Senior Afrika-amptenaar van die VN se Ekonomiese Kommissie vir Afrika het gesê: “In die lig van al die ekonomiese voorspellings tot dusver, sal Afrika in die jaar 2000 nie in die sloot wees waar dit nou is nie. Dit sal op die bodem van ’n diep, donker gat wees.”

’n Ooglopende vereiste is politieke stabiliteit en ’n beëindiging van geweld en oorlog. Samewerking met buurlande is ook noodsaaklik.

Volgens die VN se Voedsel- en Landbou-Organisasie het Afrika die potensiaal om drie keer sy huidige bevolking te voed. Maar sy opbrengs het oor die dekades afgeneem, en teen die huidige groeikoers kan sy bevolking binne 30 jaar verdubbel.

Voedselbystand vanuit die buiteland het baie mense ongetwyfeld van verhongering gered. Nogtans is sulke hulp op ’n gereelde grondslag nie die oplossing nie en het dit ’n negatiewe uitwerking omdat plaaslike boere ontmoedig word om voedsel te produseer. Hulle kan miskien nie hulle opbrengste teen ’n billike prys verkoop nie, en mense ontwikkel dikwels ’n voorliefde vir ingevoerde voedsel en wil nie meer die plaaslike graangewasse eet nie.

Wat word hieromtrent gedoen?

Die onvermoeide pogings van baie wat die mense van Afrika graag wil help, is prysenswaardig. In sommige streke het sulke pogings goeie resultate opgelewer. In Zimbabwe het ’n internasionale navorsingspan ’n projek aangepak om bome te plant wat goed en betreklik vinnig in droë gebiede groei. Die idee is dat hierdie bome op groot skaal geplant moet word om die brandhoutkrisis te help oplos, aangesien 80 persent van die mense hout gebruik om mee te kook.

In die dorpie Charinge in die droogtegeteisterde gebied van Masvingo, Zimbabwe, is die boere aangemoedig om klippe as grondkombers vir hulle groente en vrugtebome te gebruik. Hulle het gevolglik baie minder water nodig, en die gesaaides het baie goed gegroei. Die boere kon selfs voedsel verkoop aan ander wat dit nodig gehad het.

In Suid-Afrika het ’n groot maatskappy sy “steenkool tot olie”-aanleg verander sodat feitlik alle gebruikte water ná deeglike behandeling herbenut word. Hoewel die suiwering van nywerheidswater duur is, is Suid-Afrika van plan om uiteindelik ongeveer 70 persent van alle nywerheidswater te suiwer.

In Luanshya, Zambië, is daar begin om sojabone as ’n alternatiewe, voedsame voedselsoort te kweek. ’n Bystandswerker het gesê: “Die meeste sterfgevalle weens ondervoeding kom gedurende Maart en Junie voor wanneer tradisionele stapelvoedselsoorte skaars is. Maar sojabone word in April geoes en word makliker as stapelvoedselsoorte, soos mielies en sorghum, geberg.”

Die mens, met al sy tegnologie en vooruitgang, kon nie die droogte in Afrika stopsit nie, ongeag hoe prysenswaardig sy pogings moontlik is om die probleme met droogte en voedseltekort op te los. Slegs Een verstaan al die implikasies, en hy het lank gelede die oplossing voorspel. Onder die Koninkryksheerskappy van Jehovah God deur middel van sy aangestelde Koning, Jesus Christus, sal die woorde van die profeet Jesaja binnekort oor die hele aarde letterlik bewaarheid word: “In die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis. En die gloeiende grond sal ’n waterplas word, en die dorsland fonteine van water; in die plek van die jakkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met riete en biesies.”—Jesaja 35:6, 7.

[Prent op bladsy 12]

Dorpsbewoners het saam met die vee die bietjie water probeer kry wat nog in die moddergate oor was

[Erkenning]

The Star, Johannesburg, S.A.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel