Die boerderykrisis
RICHARD ploeg dieselfde lande waarop sy oupagrootjie sowat 100 jaar gelede geboer het. Maar in 2001 was hierdie Kanadese boer die eerste van vier geslagte van sy familie wat geen oes gehad het nie. Droogte het dit verwoes. Lae markpryse in vorige jare en stygende koste het die nood vererger. Richard sê: “Die gat raak net al hoe dieper, en daar is geen manier om daaruit te kom nie.”
In die mieliestreek van die Verenigde State het Larry ’n plaas besit wat 115 jaar lank aan sy familie behoort het. “Ek het gevoel dat ek ’n verantwoordelikheid het om die plaas aan die gang te hou, om dit winsgewend te maak . . . , maar ek kon nie”, sê hy. Larry en sy vrou het hulle plaas verloor.
Larry en Richard is nie alleen nie. In Brittanje het die uitbreek van bek-en-klouseer onder plaasdiere ’n geweldige finansiële en emosionele tol onder boere geëis. Een nuusberig het gesê: “Die daaglikse lewe op ’n Britse plaas—selfs een wat nog nie deur die siekte geraak is nie—word gekenmerk deur bekommernisse, isolasie en ’n desperate stryd om skuldeisers weg te hou.” In party ontwikkelende lande het oorlog, droogte, die vinnige bevolkingsaanwas en baie ander faktore die pogings van boere in die wiele gery. Regerings word genoodsaak om kos in te voer—kos wat baie gesinne nie kan bekostig om te koop nie.
Die probleme van boere het dus verreikende gevolge. Nietemin dink min stedelinge aan die uitdagings van boerdery. Amper 50 jaar gelede het die Amerikaanse president Dwight D. Eisenhower tereg gesê: “Dit lyk baie maklik om te boer wanneer jou ploeg ’n potlood is en jy ’n duisend kilometer van ’n graanland is.” Boere van vandag voel eweneens dat die wêreld oor die algemeen uit voeling met die landbou en die belangrike rol van boere is. “Ons is baie gerus oor waar ons kos vandaan kom”, kla een Kanadese boer. “Voordat die plastiekverpakking opgesit word en dit op die winkelrak beland, het baie mense dit hanteer.”
Omdat ons almal van boerdery afhanklik is, kan die probleme van boere nie geïgnoreer word nie. Die sosioloë Don A. Dillman en Daryl J. Hobbs waarsku: “In ons samelewing wat so onderling afhanklik is, word plattelandse probleme in ’n ommesientjie stedelike probleme en die omgekeerde is ook waar. Nie die stedelike of die plattelandse dele van ons samelewing kan lank floreer terwyl die ander wegkwyn nie.” In vandag se globale dorp kan ’n ekonomiese insinking in een land ook die verkope van gewasse en die produksiekoste in ander lande drasties beïnvloed.
Dit is dus geen wonder nie dat New York se Sentrum vir Geneeskunde en Gesondheid in die Landbougemeenskap gesê het: “Boerdery is een van die 10 spanningsvolste beroepe in die Verenigde State.” Wat is van die faktore agter die boerderykrisis? Hoe kan boere die krisis hanteer? Is daar enige rede om te glo dat die krisis opgelos kan word?
[Lokteks op bladsy 4]
“Dit lyk baie maklik om te boer wanneer jou ploeg ’n potlood is en jy ’n duisend kilometer van ’n graanland is”