Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 11/22 bl. 18-20
  • Wanopvattings oor Jehovah Se Getuies word uit die weg geruim

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wanopvattings oor Jehovah Se Getuies word uit die weg geruim
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Waarom raak julle nie betrokke by die politiek nie?’
  • “Bedoel jy dat jy jou seun sal laat sterf?”
  • Betaal aan Caesar terug wat aan Caesar behoort
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Hoe om te weet aan wie ons gehoorsaam moet wees
    Leer by die Groot Onderwyser
  • Moet jy jou belasting betaal?
    Ontwaak!—2003
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 11/22 bl. 18-20

Wanopvattings oor Jehovah Se Getuies word uit die weg geruim

TWEE Getuies van Jehovah het tydens hulle huis-tot-huis-bediening ’n man teëgekom wat vir hulle gesê het dat hy nie belangstel nie. Die Getuies het stilweg vertrek, maar terwyl hulle met die sypaadjie langs gestap het, het hulle opgemerk dat die man hulle volg. “Stop asseblief!” het die man uitgeroep. “Ek wil verskoning vra. Ek weet niks van die Getuies nie, en ek dink dat baie mense verkeerd ingelig is oor julle.”

Daarna het die man hom aan ons voorgestel as Renan Dominguez, die programvoorsitter van die Rotariërklub van suidelike San Francisco, Kalifornië. Hy het gevra of ’n Getuie na die klub sal kom om ’n toespraak te hou oor die opvattings en bedrywighede van Jehovah se Getuies. ’n Agenda is opgestel. Die Getuie is 30 minute gegee om te praat, en dan moes hy die vergadering oopstel vir vrae uit die gehoor. Ernest Garrett, wat al jare lank ’n Getuie in die San Francisco-gebied is, is gevra om die Rotariërklub op 17 Augustus 1995 toe te spreek en het die volgende vertel:

“Ek het gewonder en gebid oor wat ek kon sê vir die Rotariërklublede wat bestaan uit sake- en gemeenskapsleiers, soos bankiers, regsgeleerdes en dokters. Ek het ’n bietjie navorsing gedoen en uitgevind dat dit die Rotariërklub se geskrewe doelwit is om die gemeenskap te versterk. Daarom het ek die inligting op bladsy 23 van die brosjure Jehovah se Getuies in die twintigste eeu gebruik, met die titel ‘Die praktiese waarde van die goeie nuus vir julle gemeenskap’.”a

“Ek het verduidelik dat Jehovah se Getuies wel ’n invloed op die gemeenskap het. Elke dag van die week klop Jehovah se Getuies aan die deure van die mense in hulle gemeenskap. Hulle wil graag hulle bure beïnvloed om ’n sterk gesin te hê—en ’n sterk gesinseenheid het ’n sterk gemeenskap tot gevolg. Hoe meer mense en gesinne deur Jehovah se Getuies beïnvloed kan word om volgens Christelike beginsels te lewe, hoe minder oortredings, onsedelikheid en misdade sal daar in die gemeenskap wees. Hierdie inligting is baie gunstig deur die lede ontvang omdat dit met die doelwitte van die Rotariërklub strook.”

‘Waarom raak julle nie betrokke by die politiek nie?’

“Toe die vergadering vir vrae oopgestel is, was een van die eerste vrae: ‘Waarom raak julle nie betrokke by die politiek en die regering nie?’ Die man wat hierdie vraag gevra het, het toe bygevoeg: ‘Jy weet, die Goeie Boek sê: “Betaal aan Caesar wat aan Caesar behoort.”’ Ek het vir hom gesê dat ons ten volle met daardie stelling saamstem en dit heelhartig onderskryf. Ek het sy aandag daarop gevestig dat die meeste van die mense wat ek daardie teks al hoor aanhaal het nooit die ander helfte daarvan aanhaal nie, wat sê: ‘Betaal aan God terug wat aan God behoort’ (Matteus 22:21). Ons moet dus tot die slotsom kom dat alles nie aan Caesar behoort nie. Daar is sommige dinge wat aan God behoort. Ons moet dus vasstel wat aan Caesar behoort en wat aan God behoort.

“Ek het aan hom getoon dat Jesus se antwoord op die vraag: ‘Is dit geoorloof om hoofbelasting aan Caesar te betaal of nie?’ nie ja of nee was nie. Hy het gesê: ‘Wys my die hoofbelastingmunt’, ’n Romeinse denarius. Hy het gevra: ‘Wie se beeld en opskrif is dit?’ Hulle het gesê: ‘Caesar s’n.’ Toe het hy gesê: ‘Betaal dus aan Caesar terug wat aan Caesar behoort’ (Matteus 22:17-21). Met ander woorde, betaal die belasting aan Caesar, want Caesar verskaf sekere dienste aan ons en ons betaal tereg belasting hiervoor. Ek het verduidelik dat Jehovah se Getuies hulle belasting betaal en nie die regering van iets beroof wat hulle regmatig toekom nie.

“Daarna het ek gesê dat Jehovah se Getuies nie glo dat hulle lewe aan Caesar behoort nie. Hulle glo dat hulle aanbidding God toekom, en hulle betaal dit met reg terug aan hom. Wanneer ons dus hierdie standpunt inneem, is dit geensins ons bedoeling om oneerbiedig teenoor Caesar te wees nie. Ons gehoorsaam al Caesar se wette, maar wanneer daar ’n teenstrydigheid is, sal ons op eerbiedige wyse verkies om eerder aan God as heerser gehoorsaam te wees as aan mense. Die man wat hierdie vraag gevra het, het toe voor die hele groep gesê: ‘Ek kan nie daarteen stry nie!’

“Ons het ook baie vrae oor ons predikingswerk beantwoord. Baie van die lede het ons ná die vergadering genader en ’n handdruk gegee en gesê dat hulle ten volle met ons saamstem—dat die gesin die ruggraat van ’n sterk gemeenskap is. Toe het ons aan elke lid die brosjure Jehovah se Getuies in die twintigste eeu gegee.

“Ná hierdie vergadering het die programvoorsitter, mnr. Dominguez, my gebel en gevra of ek by sy kantoor ’n draai kan maak, aangesien hy nog vrae oor ons geloof wou vra. Ons het ’n goeie bespreking oor verskeie tekste gehad. Hy wou veral hê dat ek ons standpunt oor bloed moes verduidelik. Hy het erken dat hy self nie ’n bloedoortapping sou neem nie, en hy was so beïndruk met die inligting wat ek hom uit die brosjure Hoe kan bloed jou lewe red? gegee het dat hy my genooi het om terug te kom en die klublede toe te spreek oor ons standpunt oor bloed. Ek het ’n ander Getuie, Don Dahl, genooi om saam met my aan hierdie program deel te neem. Hy besoek hospitale om die geskil met dokters te bespreek wanneer Getuies operasies moet ondergaan. Ons twee het deeglik verduidelik hoe ons te werk gaan om dokters en die hospitaalbestuur oor ons skriftuurlike standpunt in te lig en om suksesvolle alternatiewe vir bloedoortappings voor te stel.”—Levitikus 17:10-12; Handelinge 15:19-21, 28, 29.

“Bedoel jy dat jy jou seun sal laat sterf?”

“Ná die vergadering het ’n man my genader en my privaat gevra: ‘Bedoel jy dat jy jou seun sal laat sterf as hy in ’n ongeluk was en na ’n ongevalleafdeling gebring word terwyl hy hewig bloei?’ Ek het hom verseker dat ek besef hoe hy voel, aangesien ek ’n seun gehad het en hom in 1988 in die vliegtuigontploffing oor Lockerbie, Skotland, verloor het. In antwoord op sy vraag het ek eerstens vir hom gesê dat ek nie sal wil hê dat my seun moet sterf nie.

“Ons is nie antidokter, antimedies of antihospitaal nie. Ons is nie geloofsgenesers nie. Ons het die dienste van geneeskundiges nodig. Ons stel ons vertroue in God en is daarvan oortuig dat sy riglyne in verband met bloed blywende voordeel vir ons inhou. God word in die Bybel beskryf as die Een ‘wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan’ (Jesaja 48:17). Hy het sy Seun die vermoë gegee om die dooies op te wek. Jesus het gesê: ‘Ek is die opstanding en die lewe. Wie geloof in my beoefen, sal lewend word, selfs al sterf hy; en elkeen wat lewe en geloof in my beoefen, sal nóóit sterf nie. Glo jy dit?’—Johannes 11:25, 26.

“Ons wil net hê dat die dokters moet verstaan dat ons standpunt ’n gewetensaak is en dat dit nie onderhandelbaar is nie. Ons kan net so min oor hierdie saak onderhandel as wat ons oor God se wet op owerspel kan onderhandel. Ons kan nie met God onderhandel en sê: ‘God, is daar omstandighede waaronder ek owerspel kan pleeg?’ nie. Daarna het ek vir hierdie man gesê: ‘Jy het my gevra of ek my seun sal laat sterf deur ’n bloedoortapping te weier. Ek wil jou met alle respek vra of jy jou seun sal laat sterf in die militêre diens van enige nasie?’ Hy het dadelik en nadruklik geantwoord: ‘Ja! Want dit is sy verpligting!’ Ek het gesê: ‘Jy sal jou seun toelaat om te sterf omdat dit vir ’n saak is waarin jy glo. Gun my dieselfde voorreg met my seun.’

“’n Interessante gevolg van dit alles is dat die programvoorsitter, mnr. Dominguez, my en my vrou vir aandete saam met hom en sy vrou genooi het. Hy het gemeen dat sy vrou ’n slagoffer was van verkeerde inligting en wanopvattings oor Jehovah se Getuies. Hy was reg. Sy was verkeerd ingelig. Ons het ’n aangename aand gehad, en sy vrou het baie vrae gevra oor ons en ons werk, wat sy ons toegelaat het om in besonderhede te beantwoord. Die volgende dag het hy geskakel en gesê dat sy vrou dit terdeë geniet het om my en my vrou te ontmoet en meen dat ons baie gaaf is.

“Ek het voortgegaan om mnr. Dominguez gereeld te besoek, en hy openbaar ’n lewendige belangstelling in die Bybel. Hy het wel vir my gesê: ‘Ek sal jou beslis aanmoedig om met die programvoorsitters van al die Rotariërklubs in die gebied van die Groter San Franciscobaai in aanraking te kom en aan te bied om dieselfde soort toespraak te hou wat jy by ons klub gehou het. Jy kan my naam as ’n verwysing gebruik, en wanneer hulle met my in aanraking kom, sal ek jou die hoogste aanbeveling gee om as ’n gasspreker uitgenooi te word.’

“Rotariërklubs is internasionale verenigings. Bestaan daar ’n moontlikheid dat ander klubs in die Verenigde State en dwarsoor die wêreld Jehovah se Getuies die geleentheid sal gee om hulle toe te spreek?”

[Voetnoot]

a In 1989 uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.

[Prent op bladsy 18]

Mnr. Renan Dominguez, links, en broer Ernest Garrett

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel