Jongmense vra . . .
Alternatiewe Rock—Is dit vir my?
“Ek kan my vereenselwig met die liedjies oor verskillende probleme en ondervindings wat ons as jongmense beleef.”—Die 15-jarige George.a
“Dit is iets tussen pop en heavy metal.”—Die 19-jarige Dan. “Dis nuut. Dis anders. Dis nie hoofstroommusiek wat in massa geproduseer word nie.”—Die 17-jarige Maria.
ALTERNATIEWE rock. Baie jongmense luister graag daarna. Party volwassenes word daardeur ontstel. En die meeste ouers het moontlik skaars enige of glad geen idee van wat dit in die eerste plek is nie.
Trouens, dit is nie maklik om te verduidelik presies wat alternatiewe rock is nie. Dit was oorspronklik die musiek van jongmense wat iets anders wou hê, ’n alternatief vir die gewilde hoofstroommusiek wat oor die radio gehoor word. Sommige sê dat dit alles begin het toe radiostasies in plaaslike kolleges uitsaaityd gegee het aan sommige musiekgroepe wat feitlik onbekend was—groepe wat daarop geroem het dat hulle nie hulle musiek aan musiekmaatskappye verkoop het nie. Die nuwe geslag musikante het nie in die handelsmerk van vername platemaatskappye en massabemarkingstegnieke, soos musiekvideo’s, belanggestel nie. Hulle het ook oor onderwerpe geskryf wat selde in die 40 trefferliedjies genoem is.
Alternatiewe rock word, anders as heavy metal of rap-musiek, nie altyd maklik herken of geklassifiseer nie. Selfs deskundiges in die musiekbedryf verskil oor presies wat alternatiewe rock is. Dit is omdat dit, soos die naam aandui, ’n groot verskeidenheid klanke, gemoedstemmings en gevoelens dek. Een jong man het gesê: “Dis baie moeilik om dit te klassifiseer. Dit dek ’n wye spektrum van vandag se musiek.” ’n Ander jeugdige het dit so probeer verduidelik: “Dis nie altyd hard of sag, vinnig of stadig, vrolik of somber nie.” Een jongmens het selfs erken: “Ek weet nie of ek kan sê dat ek van alternatiewe rock hou nie, want ek is nie seker wat dit is nie.”
Die gewildheid van alternatiewe rock het in elk geval so toegeneem dat baie van die gewilder kunstenaars daarvan nou as deel van die musiekwêreld beskou word. Ouers is ook geneig om minder daarteen beswaar te maak as teen heavy metal of ander oorverdowende vorme van rock. Trouens, dit wil voorkom of min ouers in elk geval weet watter groepe of albumtitels alternatief genoem word. Jy moet nogtans ’n mate van versigtigheid aan die dag lê wat hierdie musiek betref.
Wat is die aantrekkingskrag?
Beskou byvoorbeeld waarom so baie jongmense tot hierdie musiek aangetrokke voel. Vir baie is dit bloot ’n geval dat hulle hulle vriende volg. Dit gee hulle ook iets gemeenskapliks om oor te gesels of uit te ruil, soos bandopnames en CD’s.
Vir die meeste jongmense is dit egter die klank en die boodskap van alternatiewe rock wat dit so aantreklik maak. Talle jongmense vind dat hulle hulle veral met die ervarings en gevoelens van die liedjieskrywers kan vereenselwig. ’n Voorbladreeks oor hierdie onderwerp in die tydskrif Time het verduidelik: “Terwyl popliedjies dikwels oor liefde handel, handel alternatiewe lirieke gewoonlik oor sterker gevoelens: wanhoop, wellus, verwardheid. . . . As jy in jou tiener- of twintigerjare is, bestaan die moontlikheid dat jou gesin deur ’n egskeiding gegaan het. Alternatiewe musiek het ’n emosionele klankbaan geword, wat onopgeloste geskille van verlating en onregverdigheid direk aanspreek.” ’n Een-en-twintigjarige platejoggie by ’n kollege sê dus: “Dit het my en my vriende aangetrek omdat ons geslag so onverskillig staan teenoor die wêreld. Daar is vir ons geen vooruitsig wanneer ons klaar gestudeer het nie.”
Party Christenjongmense het ook van alternatiewe rock begin hou. Die meeste het natuurlik die onbetaamlike, opstandiger, gewelddadige of onsedelike liedjies vermy. Nogtans het van hierdie jong Christene hulle twyfel uitgespreek oor die liedjies wat skynbaar onskadeliker is. Jong Dan het gesê: “Party van die sangers is daarvoor bekend dat hulle homoseksuele en lesbiërs of dwelmverslaafdes is, en hulle lirieke weerspieël hulle lewenswyses.” Nog ’n jeugdige, met die naam Jack, sê: “Party van die groepe meen dat niemand vir hulle, hulle probleme of die toekoms van die hedendaagse jeug omgee nie, en daarom druk hulle dit in hulle liedjies uit. Baie het geen dryfkrag of hoop nie.”
’n Woordjie van waarskuwing
Die Bybel sê vir ons dat “die hele wêreld . . . in die mag van die bose”, Satan die Duiwel, lê (1 Johannes 5:19). Dit behoort jou dus nie te verbaas dat musiek een van die dinge is wat Satan gebruik om jongmense te mislei nie. Vorige artikels in hierdie tydskrif en sy medetydskrif, Die Wagtoring, het hierdie feit herhaaldelik beklemtoon.b Die waarskuwings wat oor heavy metal en rap-musiek gegee is, is ook op alternatiewe rock van toepassing. Soos die Bybel dit stel: “Die skrandere let op sy voetstappe.”—Spreuke 14:15.
In die eerste plek het dit min sin om die stroom te volg wat jou musieksmaak betref. Let op hierdie Bybelbeginsel, wat kan geld wanneer jy ander toelaat om besluite vir jou te neem: “Weet julle nie dat as julle aanhou om julleself as slawe vir iemand aan te bied om hom te gehoorsaam, julle slawe van hom is omdat julle hom gehoorsaam nie?” (Romeine 6:16). Vir ’n jong Christen gaan die geskil nie oor wat onder sy portuurs aanneemlik is nie, maar oor wat “vir die Here aanneemlik is” (Efesiërs 5:10). Watter soort jongmense word buitendien tot alternatiewe rock aangetrek? Jongmense wat lyk asof hulle gelukkig is, gebalanseerd is en in geestelike dinge belangstel? Of lyk dit asof diegene wat daarna luister hoofsaaklik jongmense is wat ontevrede, ongelukkig of selfs kwaad is?
Dit is so dat party jongmense met opgeruimde, vrolike persoonlikhede dalk steeds tot alternatiewe rock aangetrokke sal voel. Maar dink hieraan: Christene, jonk en oud, het ’n rooskleurige toekoms wat op hulle wag (2 Petrus 3:13). Die apostel Paulus herinner ons daaraan dat God se beloftes gewis vervul sal word en sê dat “dit onmoontlik is vir God om te lieg” (Hebreërs 6:18). Waarom stel jy jou dan nog bloot aan die somber, negatiewe beskouing van die toekoms wat deur sommige alternatiewe rockliedjies uitgedruk word? Kan dit jou geloof ondermyn as jy jou verdiep in musiek wat vrees, radeloosheid en wanhoop uitdruk? Wat meer is, watter uitwerking kan gereelde blootstelling aan sulke musiek op jou emosionele uitkyk hê?
Wees selektief
Dit is nie te sê dat alle musiek wat as “alternatief” geklassifiseer word noodwendig nadelig of aanstootlik is nie. Maar gestel jy hoor dat iemand jou probeer vergiftig. Hoewel jy nie sal ophou eet nie, sal jy jou kos beslis goed ondersoek, nie waar nie? Aangesien jy weet dat Satan jou beskouing en gesindheid probeer vergiftig, moet jy insgelyks versigtig wees watter musiek jy kies. Soos die Bybel sê: “Die oor toets woorde soos die verhemelte die spys proe” (Job 34:3). Jy moet die musiek waarvan jy hou eerder toets as om die stroom blindweg te volg.
Hoe kan jy dit doen? Die venster met die titel “Hoe om jou musiek te kies” het ’n paar nuttige wenke wat jy kan volg. Probeer ook gerus by jou Christenouers uitvind wat hulle van jou musiek dink (Spreuke 4:1). Jy sal jou moontlik verbaas oor hulle antwoorde! Jou ouers is natuurlik ouer as jy. Daarom is dit te verstane dat hulle dalk nie dieselfde musieksmaak as jy sal hê nie. Maar moet jy ignoreer wat hulle sê as hulle so min van jou musiek hou dat hulle dit aanstootlik, verderflik of walglik vind? Die Bybel sê: “’n Wyse sal luister en meer onderrigting inneem.”—Spreuke 1:5, NW.
Dink daaraan watter uitwerking die musiek op jou het. Laat dit jou kwaad, opstandig of terneergedruk voel? Indien wel, is dit waarskuwingstekens wat jy nie moet ignoreer nie! Skaf gerus musiek aan wat jou ontspanne of kalm of opgewek laat voel.
Musiekneigings verander voortdurend. ’n Ander musiekstyl sal kort voor lank die nuutste gier wees. Maar moenie met hierdie veranderende getye saamgaan nie. Wees oordeelkundig en selektief wat jou musiek betref. Sorg dat dit waarna jy luister heilsaam en opbouend is (Filippense 4:8). Dan kan musiek ’n waardevolle en genotvolle deel van jou lewe uitmaak!
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Sien die artikels “Jongmense vra . .” wat in die Ontwaak! se nommers van 8 Februarie, 22 Februarie en 22 Maart 1993 verskyn het. Sien ook “Waak teen skadelike musiek!” in Die Wagtoring van 15 April 1993.
[Lokteks op bladsy 22]
“Terwyl popliedjies dikwels oor liefde handel, handel alternatiewe lirieke gewoonlik oor sterker gevoelens: wanhoop, wellus, verwardheid.” —Die tydskrif Time
[Venster op bladsy 23]
Hoe om jou musiek te kies
◆ Ondersoek die albumverpakking. Dit sal jou dikwels heelwat van die musiek en van die musikante self vertel. Wees op jou hoede vir albumomslae wat geweld, demoniese simbole, ongewone kleredrag en persoonsversorging of naaktheid uitbeeld.
◆ Let op die boodskap van die lirieke. Dit verklap die gedagtes en lewenswyses van die musikante. Watter idees wil hulle hê moet jy aanvaar?
◆ Die algemene klank van die musiek gee ’n aanduiding van die gemoedstemming en die gevoelens wat die musikante graag wil hê jy moet ervaar—swaarmoedigheid, vreugde, strydlustigheid, geslagsprikkeling, rustigheid of wanhoop.
◆ Dink aan die algemene gehoor wat aangetrek word deur die musiekgroep. Wil jy graag met daardie groep mense en hulle gesindhede vereenselwig word?
[Prent op bladsy 23]
Baie jongmense vereenselwig hulle met die lirieke van hedendaagse liedjies