Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 1/8 bl. 11-15
  • Musiek, dwelms en drank was my lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Musiek, dwelms en drank was my lewe
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die uitdagings van grootword
  • Diensplig in Viëtnam
  • Die stryd om by burgerlike lewe aan te pas
  • ’n Gevaarlike lewenstyl
  • Baie vrae, min antwoorde
  • Terug by my eie mense
  • Wat hou die toekoms vir hulle in?
    Ontwaak!—1996
  • God se naam het my lewe verander!
    Ontwaak!—2001
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Nie meer ’n rots of ’n eiland nie
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 1/8 bl. 11-15

Musiek, dwelms en drank was my lewe

EK IS ’n Amerikaanse Indiaan. Pa, wat vier jaar gelede oorlede is, was ’n Chippewa, van Sugar-eiland, Michigan, VSA. My ma, wat van Ontario, Kanada, afkomstig is, is van die Ottawa- en Ojibwa-Indiaanvolke. Van vaderskant is ek ’n lid van die Sault Sainte Marie-stam van die Chippewa-Indiane. Weens die invloed van die Katolieke sendingstasie en koshuise is ons as Katolieke grootgemaak, wat beteken het dat ons elke Sondag die mis moes bywoon.

My kinderjare op die Indiane-reservaat was eenvoudig en gelukkig. Uit ’n kind se oogpunt was die somers lank, lui en vreedsaam. Ons het in ’n afgeleë gebied gewoon—ons het geen lopende water en geen binnenshuise toilet gehad nie, en ons het in die meer of in ’n wasbalie gebad. Ons speelplek was die natuur. Perde, beeste en ander plaasdiere was ons speelgoed. Ek het gewens dat die hele wêreld vir altyd so kon wees.

Die uitdagings van grootword

Toe ek ouer geword en na die openbare skool toe gegaan het, het ek die reservaat nie meer so gereeld besoek nie. Skool, sport en musiek het die meeste van my tyd in beslag begin neem. As ’n tiener in die sestigerjare is ek deur die gees van daardie tyd gevorm. Teen die tyd dat ek 13 geword het, was dwelms en alkohol ’n vaste deel van my lewe. Opstand teen die samelewing was die mode, en ek het alles gehaat wat die stelsel voorgestaan het. Ek kon nie verstaan waarom mense onmenslike dinge aan mekaar doen nie.

Omstreeks hierdie tyd het ek my eerste ghitaar gekry. Ons was ’n musikale gesin. My pa was ’n klavierspeler en ’n klopdanser, en sy broers het ook ’n aanleg vir musiek gehad. Wanneer Pa en my ooms dus bymekaargekom het, het ons tot die vroeë oggendure musiek gemaak en gedans. Ek was dol daaroor. Ek het gou geleer om ghitaar te speel en het by ’n ruk-en-rol-orkes aangesluit. Ons het by skooldanse en ander geleenthede opgetree. Dit het tot optredes by kroeë en nagklubs gelei, wat natuurlik meer alkohol en dwelms beteken het. Dagga en metamfetamien (speed) was deel van my lewenstyl.

Diensplig in Viëtnam

Teen die tyd dat ek 19 was, was ek getroud, en my vrou was swanger. Op daardie selfde ouderdom is ek by die Amerikaanse Seemag ingelyf. Dit was alles net te veel druk vir my. Om die mas op te kom, het ek gesorg dat ek 24 uur per dag onder die invloed van dwelms en alkohol was.

Ek is na die opleidingskamp by die Marinekorps-Rekrutekamp in San Diego, Kalifornië, gestuur en toe vir gevorderde opleiding as ’n voetsoldaat na die Pendleton-kamp, Kalifornië. Ek het ’n opgeleide veldradiotelegrafis geword. Dit was aan die einde van 1969. Nou sou die werklike toets kom—diens in Viëtnam. Op die ouderdom van 19, net ’n paar maande nadat ek die hoërskool verlaat het, het ek my dus op die rooi grond van Viëtnam bevind. Net soos met baie ander Indiane het vaderlandsliefde my beweeg om militêre diens te doen, ten spyte van die onreg wat die samelewing ons as lede van ’n minderheidsgroep aangedoen het.

Ek is eers na die 1ste Mariene-lugmagvleuel, net buite Da Nang, gestuur. Ongeveer 50 mans—eintlik seuns—was verantwoordelik vir die instandhouding van die militêre kamp se verbindingsnet. Ons het die gebied van die DMG (gedemilitariseerde gebied) tussen Noord-Viëtnam en Suid-Viëtnam tot ongeveer 80 kilometer suid van Da Nang gedek.

Vlugtelinge het na Da Nang gestroom, en plakkersdorpe het oral verrys. Daar was ook baie weeshuise. Die gesig van jong kinders, waarvan talle vermink was, het ’n diep indruk op my gemaak. Dit was vir my snaaks dat hulle feitlik almal meisies of jong seuntjies was. Ek het gou uitgevind waarom. Die seuns van 11 jaar en ouer het in die oorlog geveg. Ek het later ’n jong Viëtnamese soldaat ontmoet en hom gevra hoe oud hy was. “Veertien”, was die antwoord. Hy was toe reeds drie jaar lank by gevegte betrokke! Ek was verstom. Hy het my aan my 14-jarige broer laat dink, behalwe dat my broer hom met juniorliga-bofbal besig gehou het en nie met oorlog nie.

Gedurende my diens in die seemag het ek oor vrae begin wonder waarop ek antwoorde wou hê. Een aand het ek na die kerk in ons kamp toe gegaan. Die Katolieke kapelaan het ’n preek gehou oor Jesus, vrede en liefde! Ek wou skreeu. Sy preek was teenstrydig met alles wat daar plaasgevind het. Ná die diens het ek hom gevra hoe hy dit kon regverdig om ’n Christen te wees en terselfdertyd in hierdie oorlog te veg. Sy antwoord? “Wel, Troep, dit is hoe ons vir die Here veg.” Ek het uitgestap en vir myself gesê dat ek nooit weer enigiets met die kerk te doen wil hê nie.

Aan die einde van my dienstyd het ek geweet dat ek gelukkig was om nog te lewe; maar ek het verstandelik en geestelik baie gely. Om elke dag die oorlog en dood te hoor, te sien en te ruik, het ’n diep indruk op my jong verstand en hart gelaat. Al het dit alles meer as 25 jaar gelede gebeur, voel dit of die herinneringe net ’n dag oud is.

Die stryd om by burgerlike lewe aan te pas

Met my terugkeer het ek my met hart en siel op my musiekloopbaan toegelê. My lewe was ’n gemors—ek was getroud en het ’n kind gehad, en ek het nog steeds baie dwelms en alkohol gebruik. My verhouding met my vrou het gespanne geraak, en dit het tot ’n egskeiding gelei. Dit was waarskynlik die laagtepunt van my lewe. Ek het my begin afsonder en het troos in die natuur gevind deur forelle te vang in die afgeleë dele van Minnesota en die boonste deel van Michigan.

In 1974 het ek na Nashville, Tennessee, toe verhuis met die doel om my musiekloopbaan as ’n ghitaarspeler en sanger te bevorder. Ek het in talle nagklubs opgetree en altyd gehoop om my toetrede tot die hoofstroommusiek te maak. Maar dit was ’n moeilike uitdaging—daar was soveel talentvolle ghitaarspelers wat almal die top wou bereik.

Maar net toe ek die punt bereik het waar dinge werklik vir my goed begin gaan het en professionele sukses byna binne my bereik was, het iets gebeur wat my geskok het.

’n Gevaarlike lewenstyl

Ek het gaan kuier by ’n ou kennis met wie ek dwelmsake gedoen het. Hy het my by die deur met ’n haelgeweer van 12 kaliber in sy hande begroet. Hy was feitlik heeltemal in gips, en sy mond was met draad toegewerk as gevolg van ’n gebreekte kakebeen. Hy het deur sy opeengeklemde tande vir my vertel wat gebeur het. Wat ek nie geweet het nie, was dat hy by ’n dwelmkartel in Nashville betrokke was, en ’n groot hoeveelheid kokaïen het verdwyn. Die dwelmbase het die skuld op hom gepak. Hulle het hulle handlangers gestuur om hom aan te rand. Hulle het vir hom gesê om die kokaïen terug te besorg of die straatwaarde daarvan, R87 000, te betaal. Nie net hy nie, maar ook sy vrou en kind het in gevaar verkeer. Hy het vir my gesê dat dit nie veilig vir my is om saam met hom gesien te word nie en dat ek liewer moes gaan. Ek het verstaan wat hy bedoel en weggegaan.

Hierdie voorval het my so bietjie laat vrees vir my lewe. Sonder dat ek dit besef het, het ek deel van ’n gewelddadige wêreld geword. Die meeste van my kennisse in musiek- en dwelmkringe het ’n handgeweer gehad. Ek het byna ’n .38-rewolwer gekoop om my te verdedig. Ek het besef dat die prys wat jy moet betaal al hoe hoër word hoe nader jy aan die hoofstroom in die musiekbedryf kom. Ek het toe dus besluit om pad te gee uit Nashville en het beplan om Brasilië toe te gaan om Latyns-Amerikaanse musiek te bestudeer.

Baie vrae, min antwoorde

Ten spyte van my negatiewe ondervindinge met godsdiens het ek ’n sterk begeerte gehad om God te aanbid. En ek het steeds onbeantwoorde vrae gehad. Ek het dus na die waarheid begin soek. Ek het verskillende niekerklike groepe besoek, maar is steeds onbevredig gelaat. Ek onthou die een kerk wat ek in Minnesota bygewoon het. Die leraar het die diens kortgeknip omdat Minnesota se Vikings-voetbalspan daardie dag ’n wedstryd gespeel het. Hy het ons almal aangemoedig om huis toe te gaan en te bid dat die Vikings moet wen! Ek het opgestaan en uitgeloop. Ligsinnige denke wat God met oppervlakkige sportbedrywighede assosieer, ontstig my tot vandag toe nog.

Terwyl ek in Duluth, Minnesota, gewerk het, het ’n vriend ’n Wagtoring in my woonstel gelos. Ek het die bespreking van Matteus hoofstuk 24 daarin gelees, en dit het alles waar geklink. Dit het my laat dink: ‘Wie is hierdie Jehovah se Getuies? Wie is Jehovah?’ Ek het eers in 1975 die antwoorde gekry. Daardie selfde vriend het vir my die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewea en ’n Bybel gegee.

Daardie aand het ek die boek gelees. Teen die einde van die eerste hoofstuk het ek geweet dat ek die waarheid gevind het. Dit was asof ’n sluier voor my verstand weggeneem is. Ek het die boek klaar gelees, en die volgende dag het ek na Getuiebure aan die oorkant van die straat gegaan en hulle gevra om die Bybel met my te studeer.

Ek het my planne om Brasilië toe te gaan, laat vaar en die vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon. Met Jehovah se hulp het ek sonder versuim opgehou om dwelms en alkohol te gebruik en sodoende ná 12 jaar van verslawing losgebreek. Binne ’n paar maande het ek aan die huis-tot-huis-bediening deelgeneem.

Daar was egter ’n probleem wat ek die hoof moes bied. Ek het nog nooit ’n vaste werk gehad nie, en die blote gedagte om aan ’n rooster gebonde te wees, het my teen die bors gestuit. Ek moes nou ’n verantwoordelike persoon word, aangesien Debi weer in my lewe gekom het. Ek het vroeër met haar uitgegaan; maar sy het kollege toe gegaan om vir onderwyseres te studeer, en ek sou ’n musikant word. Nou het sy ook die Bybelwaarheid aangeneem, en ons het weer tot mekaar aangetrokke gevoel. Ons is getroud en is toe in 1976 in Sault Sainte Marie, Ontario, Kanada, as Getuies gedoop. Mettertyd het ons vier kinders gehad—drie seuns en ’n dogter.

Om vir my gesin te sorg, het ek ’n musiekwinkel oopgemaak en lesse in jazz-improvisasie en ook ghitaarlesse gegee. Ek het ook ’n klein opneemateljee gehad en het af en toe in nagklubs opgetree. Toe het daar sowaar vir my geleenthede begin opduik om na die groot professionele musiekwêreld terug te keer. Ek is drie keer genader om saam met beroemde platekunstenaars te speel. Hier was my groot kans—eintlik my derde kans in twee jaar. Ek is die geleentheid aangebied om Los Angeles, Kalifornië, toe te gaan om saam met ’n welbekende jazz-groep te speel. Maar ek het geweet dat dit weer gereelde reise, konserte en opnamesessies sou beteken. Ek het omtrent vyf sekondes oor die aanbod nagedink en beleef gesê: “Nee dankie.” Net om aan my vorige lewe van dwelms, alkohol en die gevaar van rampokkers te dink, het my laat besef dat dit net nie die moeite werd was nie. My nuwe Christelike lewe saam met my vrou en kinders het baie meer vir my beteken.

Ek het etlike jare gewerk as ’n uitsaaitegnikus vir opvoedkundige en dokumentêre programme wat op PBS-televisie (Openbare Uitsaaidiens) uitgesaai is. In my huidige werk koördineer ek videokommunikasie met die Hopi-reservaat vir ’n universiteit in die noorde van Arizona.

Terug by my eie mense

Twintig jaar het verstryk sedert ek my aan Jehovah God toegewy het. Ek het ook ’n gelukkige huwelik van twintig jaar. Debi, ons seun Dylan, 19 jaar oud, en ons dogter, Leslie, 16 jaar oud, is almal in die voltydse diens. Om die waarheid te sê, Dylan dien nou by die Wagtoringgenootskap se drukkery en plaas in Wallkill, New York. Ons twee jonger seuns, Casey, 12 jaar oud, en Marshall, 14, het hulle aan Jehovah toegewy en is onlangs gedoop.

Drie jaar gelede het ons die uitnodiging aanvaar om te dien waar daar hulp met die Christelike predikingswerk nodig was en na Keams Canyon, Arizona, toe gekom om onder die Navaho- en Hopi-Indiane te dien. Ek is ’n ouer man in die gemeente. Dit is ’n plesier om weer eens onder Indiane te woon. As gevolg van die verskil tussen die kultuur en lewensomstandighede hier en dié van ’n tipiese Amerikaanse voorstad, voel dit vir ons of ons sendingwerk doen. Ons het ’n groot, gerieflike huis agtergelaat om in ’n baie kleiner mobiele woning te kom woon—ses van ons. Die lewe hier is moeiliker. Baie huise het geen binnenshuise sanitêre geriewe nie, net buitetoilette. In die winter reis sommige gesinne kilometers ver net om hout en steenkool te kry. Water word uit gemeenskaplike putte getrek. Baie van die paaie is net grondpaaie en word nie op ’n kaart aangegee nie. As ’n kind op die reservaat het ek hierdie dinge as deel van die lewe aanvaar. Nou besef ek en my gesin hoeveel harde werk en energie dit verg om net die noodsaaklike daaglikse takies te verrig.

Selfs al het die Indiane hulle eie regsmag op die reservate, ondervind hulle maar dieselfde probleme as alle regerings—interne konflikte, partydigheid, gebrek aan fondse, geldverduistering en selfs misdaad onder hulle amptenare en leiers. Indiane word deur alkoholisme, dwelmmisbruik, werkloosheid, gesinsgeweld asook huweliks- en gesinsprobleme geteister. Party gee steeds die witman die skuld vir hulle huidige situasie, maar die witman word deur dieselfde probleme geteister. Maar ten spyte van druk van familie, vriende en stamgenote reageer baie Indiane op die Bybelonderrigtingswerk van Jehovah se Getuies. Hulle besef dat vriendskap met God enige prys werd is. Baie van hulle reis meer as 120 kilometer heen en terug om Christelike vergaderinge by te woon. Dit verskaf ons vreugde om die Navaho- en die Hopi-Indiane van die goeie nuus van God se Koninkryk te vertel.

Ek sien uit na die dag wanneer Jehovah se heerskappy “die verderwers van die aarde [gaan] verderf” en wanneer alle gehoorsame mense as een verenigde gesin in vrede en harmonie sal saamwoon. Dan sal die lewe wees soos wat ek gewens het dit moet wees toe ek ’n Chippewa-seun in Kanada was (Openbaring 11:18; 21:1-4).—Soos vertel deur Burton McKerchie.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.; tans uit druk.

[Prent op bladsy 13]

Ek het gesoek na die antwoorde op my vrae oor God

[Prente op bladsy 15]

Bo: My gesin en, aan die linkerkant, ’n Navaho-vriend

Onder: Ons mobiele woning naby die Koninkryksaal

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel