“Wanneer ek swak is, dan is ek kragtig”
EK HET grootgeword in ’n dorpie noord van San Francisco, Kalifornië, met die naam Petaluma. My ma was ’n bietjie godsdienstig, maar my pa het nie veel van godsdiens gedink nie. Ek het altyd aan ’n skepper geglo—ek het net nie geweet wie hy is nie.
Ek het as ’n gelukkige kind opgegroei. Watter aangename herinneringe het ek tog van daardie sorgelose dae! Min het ek geweet dat daar in my liggaam dinge aan die gebeur was wat my van ’n groot deel van my vryheid sou beroof. Ek onthou dat ek in 1960, my laaste jaar op hoërskool, met my beste vriendin gepraat het oor die pyn wat ek in ’n paar van my vingers gehad het.
My voete het weldra so seer geword dat my ma my na ’n hospitaal in San Francisco geneem het, waar ek omtrent ses dae gebly het. Ek was toe 18, en die uitslag van die toetse het getoon dat ek rumatoïede artritis gehad het. Ek het inspuitings begin kry van goudnatriumtiosulfaat, toe prednisoon en toe ’n ander soort kortisoon. Ek het daardie medikasie altesaam 18 jaar lank gebruik, en elke keer het dit die pyn ’n paar jaar lank verminder, maar daarna ondoeltreffend geword, en dan het ek met ’n nuwe soort medisyne begin. Die aanhoudende pyn kon nie geïgnoreer word nie, en ek het desperaat geraak in my soektog na ’n ander soort mediese sorg. Ek het ’n paar alternatiewe behandelings gevind wat ’n bietjie gehelp het. Gelukkig ervaar ek nie meer soveel pyn soos toe die siekte in aggressiewer stadiums van ontwikkeling in my liggaam was nie.
Op ’n dag in 1975 het my seun afgekom op ’n dagboek wat my ma van my gehou het toe ek ’n baba was. Ek het uitgevind dat ’n dokter my, toe ek ses maande oud was, met x-strale behandel het vir ’n vergrote timusklier. Ek is seker dat die bestraling wat ek as baba ontvang het dalk die rede is waarom ek my vandag in hierdie toestand bevind. As dit die geval is, was dit beslis ’n verskriklike fout!
Ek is in 1962 getroud. In 1968, gedurende die vroeër stadiums van die siekte, het ek en my man, Lynn, saam in ’n bakkery gewerk wat aan ons behoort het. Ons het om en by 4:00 vm. opgestaan, en my man het die deeg aangemaak en dan soms op die meelsakke ’n uiltjie geknip terwyl die brood in die oond was. Ons het dit opgesny en verpak, en dan het Lynn dit afgelewer. ’n Versekeringsverkoopsman het af en toe by die bakkery ingeloer en ons van God se beloofde Koninkryk vertel. Ons het gehou van wat ons gehoor het, maar ons was te besig. Ons broodroete was besig om uit te brei, en dit het ons met selfs meer sekulêre werk belas. Tot ons vreugde het ’n ander bakkery ons uitgekoop! Lynn het vir hulle gaan werk, en ek het by ’n skoonheidsalon gaan werk. Maar namate die artritis vererger het, kon ek net drie dae ’n week werk en moes ek later heeltemal ophou.
Gedurende daardie tydperk het een van Jehovah se Getuies gereeld na ons huis toe gekom en vir my Die Wagtoring en Ontwaak! aangebied. Ek het altyd vir haar ’n bydrae gegee en die tydskrifte geneem omdat ek gedink het ek doen haar ’n guns. Ná sy weg is, het ek hulle ’n paar dae onoopgemaak op die rak gelos, en daarna het een van ons hulle altyd weggegooi. Dit was nogal jammer, aangesien ons nou hulle geestelike waarde besef. Maar destyds het geestelike dinge net nie baie belangrik gelyk nie.
Bewus van ons geestelike behoefte
Een aand het ek en my man gesels oor die feit dat die lewe meer moet behels as om net te eet en te slaap en so hard te werk. Ons het begin soek na die geestelikheid wat in ons lewe ontbreek het. Ons het die kerkie onder in die straat begin bywoon, maar ons het nie die geestelike opheffing gevind waarop ons gehoop het nie. Die kerklidmate het meestal oor hulle plaaslike probleme gepraat.
Die Getuie wat die tydskrifte gebring het, het toe al ongeveer ’n jaar lank na ons toe gekom, maar my roetine het nie verander nie totdat ek uiteindelik die Awake! van 8 Oktober 1968 gelees het met die titel “Is dit later as wat jy dink?” Ek het gehou van wat ek lees, en gelukkig het my man ook so gevoel. Ons het die waarheid begin studeer en dit soos sponse ingedrink. Ons kon nie genoeg kry van al die wonderlike dinge wat ons geleer het nie. In 1969 is ons gedoop.
Mettertyd het dit vir my moeilik geword om op te staan en te gaan sit en baie moeiliker om te loop. Ek moes my knieë dwing om te buig sodat ek in en uit die motor kon klim. Ek het geleer om beperkings en pyn te verduur wat my baie van die tyd laat huil het. Dan het ek maar my grimering opgeknap en was ons op pad vergadering toe of uit in die veldbediening. Ek het so lank as wat ek kon van deur tot deur geloop. Ek het probeer om een of twee keer per week in die veldbediening uit te gaan, totdat die styfheid en pyn in my knieë en voete dit onmoontlik gemaak het. Ek was dikwels bekommerd dat ek sou val en nie sou kon opstaan nie. Dit help wanneer ek met Jehovah praat. Soms roep ek in trane na hom.
Dit was egter nie altyd moontlik om te huil nie. Iemand met rumatoïede artritis kan ook droë oë ontwikkel. Daar was al tye dat my oë so droog was dat dit moeilik was om te lees. Wanneer dit gebeur het, het ek na Bybelkassette geluister. Ek het dikwels met toe oë geloop, want dit het my oë gekrap as ek my ooglede beweeg het. Ek kon net sowel blind gewees het. Soms moes ek elke vyf minute kunstrane in my oë sit. En nog erger, ek moes soms salf in my oë sit en dit vyf of ses dae lank geblinddoek hou totdat dit beter was. Dit is glad nie so maklik om dankbaar te bly wanneer ’n mens met ’n langtermynsiekte worstel wat jy redelikerwys nie kan verwag in hierdie stelsel ongedaan gemaak sal word nie.
In 1978 moes ek ’n rolstoel begin gebruik. Dit was ’n moeilike besluit om te neem. Ek het dit so lank as moontlik uitgestel, maar ek het nie meer ’n keuse gehad nie. Ek het geweet dat dié dag sou aanbreek, maar ek het gehoop dat God se nuwe wêreld eerste sou aanbreek. Lynn het ’n hoë tekenaarstoel gekoop met ’n wye basis op vyf wieletjies. Daarmee kon ek myself in die huis rondstoot.
Dit was vir my frustrerend om na dinge te reik, aangesien ek nie my arm ver kon strek nie en dinge nie stewig kon vasvat met my krom en gebuigde vingers nie. Dan het ek my “grypstok” gebruik. Daarmee kon ek goed van die vloer af optel, ’n kas oopmaak en ’n bak uithaal of iets uit die yskas kry. Namate ek nuwe vaardighede met my “grypstok” aanleer, kan ek na sommige van die huishoudelike takies omsien. Ek kan kook, skottelgoed was, klere stryk en opvou asook die vloere skoonmaak. Ek voel redelik trots namate my vermoëns verbeter, en ek is bly dat ek nog steeds met dinge in die huis kan help. Maar dinge wat ek altyd binne minute kon doen, neem nou ure.
Telefoongetuieniswerk
Dit het tyd geneem, maar ek het die moed bymekaargeskraap om telefoongetuieniswerk te probeer doen. Ek het nie gedink dat ek dit sou kon doen nie, maar nou geniet ek dit werklik en ek het al goeie resultate gehad. Tot my verbasing was dit eintlik soos huis-tot-huis-werk, in die sin dat ek met mense oor Jehovah en sy voornemens kan praat.
Een van die aanbiedings wat ek gebruik, begin so: “Hallo, is dit mnr. ——? Ek is mev. Maass. Ek gesels net kortliks met mense. Het u dalk ’n paar minute sodat ek met u kan praat? (’n Tipiese antwoord is: “In verband waarmee?”) Is die dinge wat vandag in die wêreld gebeur nie verskriklik nie? (Ek wag vir ’n kommentaar.) Ek wil u graag hierdie Bybelse gedagte meedeel wat vir ons ’n ware hoop vir die toekoms gee.” Dan lees ek die Onse Vader en miskien 2 Petrus 3:13. Ek het van die herbesoeke vir ander Christensusters of vir Lynn gegee sodat hulle die belangstellendes kon besoek.
Deur die jare heen het ek talle goeie gesprekke gehad en kon brosjures, tydskrifte en boeke aan diegene stuur wat belangstelling getoon het. Sommige het die Bybel oor die telefoon begin studeer. Een vrou met wie ek gepraat het, het gesê sy het gedink dat dit genoeg was as sy maar net op haar eie studeer. Maar ná ’n paar gesprekke het sy ingestem om na ons huis toe te kom vir ’n Bybelstudie, aangesien ek haar van my omstandighede vertel het.
Terwyl ek by ’n ander geleentheid oproepe gemaak het, het ’n bandopname my ’n ander telefoonnommer gegee. Hoewel ek altyd plaaslik skakel en hierdie nie ’n plaaslike nommer was nie, is ek beweeg om tog die nommer te skakel. Nadat ek ’n rukkie gesels het met die vrou wat die telefoon beantwoord het, het sy gesê dat sy en haar man in aanraking wou kom met mense wat ware Christene is. Ek en Lynn het dus na hulle huis toe gegaan, wat ongeveer ’n uur van ons af was, om ’n studie met hulle te hou.
Ek put steeds vreugde en geluk daaruit om met ander te praat oor Jehovah en sy belofte van nuwe hemele en ’n nuwe aarde, waarin regverdigheid sal woon. ’n Vrou met wie ek al ’n paar maande lank praat, het onlangs vir my gesê: “Elke keer wanneer ek met jou praat, besef ek dat ek meer kennis inneem.” Ek weet dat die kennis wat ek aan ander oordra tot die ewige lewe lei en vreugde voortbring wat selfs deur ’n gebreklike uiterlike soos myne kan skyn. Soms kan ek meer in die diens doen as ander kere, maar ek wens dat ek die hele tyd baie, baie meer kon doen! Ek weet dat Jehovah elkeen se omstandighede ken en dat hy dit waardeer wat ons kán doen, ongeag hoe min dit mag lyk. Ek dink baie maal aan Spreuke 27:11: “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee”, en ek wil graag onder diegene wees wat bewys dat Satan ’n leuenaar is.
Dit is altyd bemoedigend om by die vergaderinge te wees, selfs al is dit vir my moeilik om daar te kom. Jehovah het soveel wonderlike voorsienings gemaak sodat ons geestelik goed gevoed kan wees dat ek dit ten volle wil benut. Ons is so bly dat ons twee kinders die waarheid hulle eie gemaak het! Ons dogter, Terri, is met ’n goeie broer getroud, en hulle het vier kinders vir wie ek baie lief is. Hoe hartverblydend is dit tog om te sien dat ons kleinkinders ook lief vir Jehovah is! Ons seun, James, en sy vrou, Tuesday, het gekies om Jehovah te dien by die Brooklynse Bethel, die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, in New York.
’n Aardse paradys deur middel van Jehovah se krag
Ek probeer Jehovah se wonderlike belofte van ’n paradysaarde in gedagte hou. Daar is selfs nou ’n oorvloed van sy skeppingswerke waarin ’n mens behae kan skep. Ek geniet ’n pragtige sonsondergang. Ek verlustig my in die verskeidenheid blomme en hulle geure. Ek is baie lief vir rose! Ek kan nie te dikwels buite die huis wees nie, maar wanneer ek wel kan, geniet ek die gevoel van warm sonskyn terdeë. Ek maak my oë toe en stel my ’n pragtige toneel in die berge voor, waar ek saam met my gesin ’n aangename tyd in ’n oop grasland vol veldblomme geniet. Daar is ’n kabbelende stroompie en volop sappige, soet waatlemoen vir almal! Wanneer dit enigsins moontlik is, skilder ek prente van dinge wat my help om aan die beloofde aardse Paradys te dink. Wanneer ek skilder, verbeel ek my ek is daar. Ek weet dat Jehovah hierdie kosbare geestesbeelde wat ek nou so koester ’n werklikheid kan laat word.
Ek hou daarvan om die teks in Jakobus 1:12 in gedagte te hou. Dit sê: “Gelukkig is die mens wat beproewing bly verduur, want wanneer hy goedgekeur is, sal hy die kroon van die lewe ontvang, wat Jehovah beloof het aan diegene wat aanhou om hom lief te hê.” Paulus het sy kwaal vergelyk met ’n ‘engel van Satan wat hom bly slaan het’. Hy het gebid dat Jehovah sy gebrek moes wegneem, maar daar is vir hom gesê dat God se krag tot volmaaktheid gebring is in sy swakheid. Paulus se sukses ten spyte van sy swakheid was dus ’n bewys dat God hom krag gegee het. Paulus het gesê: “Wanneer ek swak is, dan is ek kragtig” (2 Korintiërs 12:7-10). Ek voel dat die bietjie wat ek nou ten spyte van my beperkings kan doen slegs moontlik is deur die krag wat God my gee.
Johannes het ’n verslag neergeskryf wat my werklik bemoedig. Dit handel oor ’n man wat 38 jaar lank aan ’n draagbed gekluister was. Hy, tesame met ander siekes, het hoopvol by ’n bad met water gelê en wou hulle baie graag daarin verfris. Hy kon nie by die water kom wat hy gedink het hom sou kon genees nie. Op ’n dag het Jesus hom gesien en vir hom gevra: “Wil jy gesond word?” Hoe sal my trane van blydskap tog daardie vraag beantwoord! “Jesus het vir hom gesê: ‘Staan op, tel jou draagbed op en loop’” (Johannes 5:2-9). Daar is baie van ons wat gretig daarna uitsien om sulke woorde te hoor!—Soos vertel deur Luretta Maass.
[Prent op bladsy 24]
Ek het gedink aan ’n kind wat lief is vir mense, en hier is sy besig om vrolik oor ’n grasveld te hardloop
[Prent op bladsy 25]
Terwyl ek in ’n opgewekte stemming was, het ek voor my geestesoog ’n avontuurlustige seuntjie gesien wat op stelte loop, met sy hond onder sy voete
[Prente op bladsy 26]
Besig om telefoonnommers bymekaar te kry vir velddiens
Ek gebruik die telefoon