Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 9/22 bl. 18-20
  • Houtsnywerk—’n ou Afrikakunsvorm

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Houtsnywerk—’n ou Afrikakunsvorm
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hedendaagse houtsnywerk
  • Hoe die houtsnykuns geleer word
  • Waarom met hout bou?
    Ontwaak!—1995
  • Ons gebede is kosbaar vir Jehovah
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2022
  • Die hitteskerm van die silwermier
    Ontwaak!—2017
  • Die mier se nek
    Ontwaak!—2016
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 9/22 bl. 18-20

Houtsnywerk—’n ou Afrikakunsvorm

Deur Ontwaak!-medewerker In Nigerië

HOUTSNYERS werk al lank in Beninstad, geleë in wat nou suidelike Nigerië is. Vierhonderd jaar gelede was Beninstad die hoofstad van ’n magtige en hoogs georganiseerde woudkoninkryk. Besoekers uit Europa was verbaas oor die stad se breë, reguit strate, die netjiese huise en die waardige en wetsgehoorsame inwoners. Beninstad het eeue lank as een van Wes-Afrika se belangrikste kommersiële en kulturele sentrums gefloreer.

Die koninkryk van Benin is deur opeenvolgende konings regeer wat obas genoem is. Die obas het kuns daadwerklik bevorder. Hulle luisterryke paleis in Beninstad is versier met gebeeldhoude koppe, pragtige muurplate gegiet in brons en meesterstukke van fyn uitgekerfte ivoor. Hoewel die ou houtsnywerke nie die aanslae van die tyd en termiete oorleef het nie, is dit duidelik dat houtsnyers bedrywig was in die koninkryk. Martins Akanbiemu, voormalige kurator van die Nasionale Museum in Lagos, skryf: “Dit lyk of die gilde van die houtsnyers . . . die oudste gilde was wat vir die Oba gewerk het.”

In 1897 het Britse magte Beninstad geplunder en hulle kunsskatte, wat uit meer as 2000 stukke bestaan het en nou van onskatbare waarde is, na Europa geneem. Vandag word die grootste versamelings kunsstukke uit die eertydse Benin nie in Nigerië ten toon gestel nie, maar in museums in Londen en Berlyn.

Hedendaagse houtsnywerk

Vandag is Beninstad, soos baie ander stede in Nigerië, ’n miernes van bedrywigheid. Maar tekens van sy vroeëre glorie kan nog gesien word. Die paleis is herbou, en die huidige oba woon daar. ’n Mens kan bewyse van die diep grag sien wat om die eertydse stad was; en as jy mooi luister, kan jy die sagte tik-tik-tik van beitels op hout hoor.

’n Man met die naam Johnson kerf al 20 jaar lank beeldhouwerke van hout in Beninstad. In vorige eeue het hout- en koperkoppe die gedagtenis aan oorledenes bewaar; hulle het die altare van voorvaderlike aanbidding versier. Maar die koppe wat Johnson uitkerf, lyk nie soos dié wat voorheen vir godsdiensdoeleindes gebruik is nie. Syne is slegs vir versiering.

Johnson gebruik ebbehout, ’n harde, bros hout, net reg vir houtsnywerk. Hy gebruik meestal die kernhout, of binneste hout, van die boom. Die kernhout van Nigeriese ebbehout is dikwels gitswart, hoewel party bome kernhout het wat streperig is of ’n grys tot swart kleur het. Hy gebruik ook spinthout, of die buitenste laag hout, in die houtsnywerk; dit gee die houtsnywerk ’n aantreklike rooi kleur, wat mooi by die swart pas. Die rooi sowel as die swart ebbehout het ’n pragtige glans wanneer dit gepoleer word.

Ebbehout is volop in Nigerië. Wanneer ’n ebbehoutboom gevel word, word dit dikwels ’n paar maande lank in die bos gelaat om droog te word. Selfs nadat die ebbehoutstomp in Johnson se werkswinkel aangekom het, laat hy die hout nog ’n hele paar maande uitdroog voordat hy dit gebruik. Dit is baie belangrik, aangesien hout wat nie droog is nie van vorm kan verander en kan kraak.

Wanneer Johnson gereed is om te kerf, gebruik hy ’n handsaag om ’n stuk van ongeveer 38 sentimeter af te saag. Nadat hy nog ’n week gewag het om seker te maak dat die stuk nie kraak nie, teken Johnson die buitelyne van die kop wat hy wil uitkerf op die hout, en dan begin hy werk.

Eers gebruik hy ’n vlakbeitel, dan ’n krombeitel en dan ’n fyner beitel. Daarna vyl hy met ’n rasper. Die houtsnymes word dan gebruik om fyner detail mee uit te kerf. Terwyl Johnson werk, is sy onverdeelde aandag op die hout. Agterlosigheid kan daartoe lei dat sy beeldhouwerk ’n snaakse glimlag het of ’n oog het wat in die verkeerde rigting kyk.

Wanneer Johnson klaar gekerf het, skuur sy vakleerlinge die stuk met al hoe fyner skuurpapier. Laastens smeer hulle meubel- of skoenpolitoer aan en poets hulle dit met ’n skoenborsel om dit te laat blink. Dit neem twee dae om ’n kop soos die een in die prente uit hout te kerf. Dit neem nog drie dae om dit te skuur en te poleer.

Wanneer die houtsnywerk klaar is, sit Johnson dit ’n paar maande lank weg om seker te maak dat geen krake verskyn nie. As die hout goed drooggemaak is voordat daar met die kerfwerk begin word, sal daar geen krake wees nie. Dit is gewoonlik die geval. As dit wel kraak, gaan die houtsnywerk terug na die werkswinkel om gevul, geskuur en weer gepoleer te word.

Hoe die houtsnykuns geleer word

Johnson het ses vakleerlinge wat van 10 tot 18 jaar oud is. Hulle leer die houtsnykuns agterstevoor, van die laaste tot die eerste taak. In hierdie volgorde leer die vakleerling heel eerste om te poleer. Dan leer hy om te skuur. Later word hy gewys hoe om ’n rasper te gebruik. Uiteindelik breek die dag aan wanneer hy ’n vlakbeitel optel om die eerste kerwe op ’n nuwe stuk hout te maak.

“Nie almal kan ’n houtsnyer wees nie”, sê Johnson. “Eerstens moet jy aanleg hê sowel as die vermoë om te konsentreer. Jy moet ook leer om geduldig te wees wat jou vordering betref en om jou mislukkings te aanvaar. Jy het ook deursettingsvermoë nodig, aangesien dit ten minste drie jaar neem om bedrewe te raak in houtsnywerk. Maar dit is nie waar dit ophou nie—jy hou nooit op om te leer nie. Met oefening verbeter jy voortdurend.”

[Venster/Prent op bladsy 20]

Die mier en die houtsnyer

Sommige sê dat Afrikakuns baie aan die witmier, of termiet, verskuldig is. Die houtsnyer maak ’n houtsnywerk, en die witmier (met ’n bietjie hulp van die tropiese klimaat) vernietig dit, soms binne ’n paar dae! Deur die eeue heen het die witmier die houtsnyer besig gehou. Dit is ’n eindelose en tog positiewe siklus: Die mier vernietig en die houtsnyer begin weer van voor af, met die geleentheid om sy vaardigheid te verbeter en om verbeeldingryke nuwe style te ontwikkel.

Die boek African Kingdoms sê: “Muf en die hardwerkende witmier het merendeels enige moontlikheid uitgeskakel vir ouer werke om hulle stempel te druk op die werk van latere geslagte. Tesame met die voortdurende behoefte aan nuwe werke was daar gevolglik ook ’n groter geleentheid vir afwisseling in vorm; daar was baie minder nabootsing en baie groter afhanklikheid van individuele vaardigheid en verbeeldingskrag.”

Sommige sê dat hierdie verhouding tussen die mier en die houtsnyer help om die voortreflike kunstigheid te verklaar wat Afrikakuns so beroemd gemaak het. In sy boek Nigerian Images sê die geleerde William Fagg: “Laat ons . . . hulde bring aan die witmier, wat, ongeag hoe onwelkom die meeste van sy werksaamhede vir die mens is, deur die eeue en millenniums heen ’n voortdurende en besonder produktiewe verhouding met die tropiese houtsnyer geniet het.”

[Foto-erkenning]

Met vergunning van dr. Richard Bagine

[Prente op bladsy 19]

Hoe ’n houtsnywerk gemaak word:

1. die beste stuk hout word gekies,

2. die buitelyne van die kop wat uitgekerf gaan word, word geteken,

3. ’n beitel word gebruik,

4. dit word geskuur,

5. polering

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel