Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 1/22 bl. 26-27
  • Die doringlose jukka—’n Plant wat hom op unieke wyse aanpas

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die doringlose jukka—’n Plant wat hom op unieke wyse aanpas
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Lid van ’n bekende familie
  • Heerlik om te eet!
  • Costa Rica—klein landjie, groot verskeidenheid
    Ontwaak!—1995
  • Hoe aardbewingslagoffers gehelp is
    Ontwaak!—1992
  • Mooi en lekker!
    Ontwaak!—2004
  • ’n Verkwikkende drankie van ’n eksotiese plant
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 1/22 bl. 26-27

Die doringlose jukka—’n Plant wat hom op unieke wyse aanpas

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN COSTA RICA

KRUIDAGTIG, seepagtig, heerlik en voedsaam. Hierdie eksotiese plant het al hierdie eienskappe en nog veel meer! Sentraal-Amerikaners ken dit goed, maar nie as die doringlose jukka nie. As jy daardie naam in Sentraal-Amerika sou gebruik, sou die meeste mense jou waarskynlik bloot beleef en vraend aankyk. Hulle sal egter onmiddellik ’n breë glimlag van herkenning gee indien jy die name itabo, izote of daguillo gebruik, soos die plant algemeen in Costa Rica, Guatemala, Honduras en Nicaragua genoem word. Costaricane en ander Sentraal-Amerikaners geniet dit om die blomme van hierdie plant in ’n verskeidenheid geregte te eet.

Lid van ’n bekende familie

In wat soos ’n toutrekkery tussen taksonome voorkom, is die doringlose jukka as ’n lid van die familie Liliaceae en meer onlangs as ’n lid van die familie Agavaceae geklassifiseer. Die laasgenoemde geharde plantsoort bestaan uit sowat 550 spesies van die orde Liliales (lelieagtiges). Plantkundiges het die wetenskaplike naam daarvan as Yucca elephantipes vasgestel.

Daar is na raming 40 soorte van die geslag Yucca, waarvan die meeste in Noord-Amerika, Mexiko en Sentraal- en Suid-Amerika gevind kan word. Bekende familielede sluit die reuse-Josuaboom (Yucca brevifolia) en die kleiner Spaanse bajonet (Yucca aloifolia) in. Inderdaad ’n taamlike groot familie!

Wat is party kenmerke van hierdie veelsydige plant? Dit het ’n eenvoudige dog eksotiese voorkoms, en die stywe, langwerpige blare, wat uit die stam groei, word sowat een meter lank. Die dik, houtagtige stam, wat ’n veselagtige tekstuur het en grysbruin is, lyk soos die voorpoot van ’n olifant—vandaar die wetenskaplike naam elephantipes.

Met die eerste oogopslag kan die doringlose jukka, wat tussen vyf en agt meter hoog word, maklik vir ’n boom aangesien word. Gedurende Costa Rica se droë seisoen, veral die maande Februarie en Maart, versier honderde klokvormige, roomkleurige blomme die itabo-plant. Aangesien dit op die markte en deur straatsmouse verkoop word, lyk dit of hulle terselfdertyd omtrent oral is! In skerp teenstelling met die plant se stywe, bajonetvormige blare blom hierdie sagte en delikate blomme in pluime, wat penregop in die middel van die plant staan.

Die itabo is ’n gewilde jukkasoort by tuiniers sowel as landskapontwerpers, aangesien hy hom by verskeie klimaats- en grondtoestande aanpas en ’n eksotiese, tropiese voorkoms het. Omdat dit vroeër in Costa Rica as ’n natuurlike heining gebruik is om grenslyne aan te dui, is dit geen wonder nie dat die vrugbare itabo-plant in so te sê elke streek van die land voorkom.

Die plaaslike inwoners het beslis hierdie plant se veelsydigheid benut. Die vesel wat uit die blare verkry word, word byvoorbeeld gebruik om matte, gordels en knapsakke mee te maak. En as die blare verhit word tot dit buigsaam is, kan tuiniers dit as handige toue gebruik om hulle produkte mee vas te bind. Dit lyk of daar geen einde aan hierdie plant se gebruike is nie!

Heerlik om te eet!

Frances Perry skryf in haar boek Flowers of the World: “Die blomknoppe van Yucca-soorte word deur die Indiane geëet, en die vrugte en die wortels het seepagtige eienskappe en kan dus gebruik word om klere mee te was.” Sentraal-Amerikaners het die feit dat die jukka eetbaar is en reinigingseienskappe het goed benut. Hulle geniet die ietwat suur dog pikante smaak daarvan. Die blomme word in koue slaaie berei of saam met eiers en aartappels gekook, ’n gunstelinggereg onder Costaricane en ander Sentraal-Amerikaners. Jukkas het voedingswaarde omdat hulle ryk aan vitamiene en minerale is, soos kalsium, yster, tiamien, fosfor en riboflavien.

Die jukka se geneeskragtige eienskappe is ook noemenswaardig; ’n tonikum wat gemaak word deur die blomme te kook en te laat trek, kan maagaandoenings verlig. Die blare kan gebruik word om albuminurie en dikdermontsteking te behandel en kan ook as ’n urineermiddel gebruik word. En hierdie kruidagtige, seepagtige, heerlike en voedsame plant is net een van die aarde se skeppingswonders wat ons smaakorgane kan geniet!

[Prent op bladsy 26]

Jukkablomme wat saam met eiers en aartappels gekook word, is ’n gunstelinggereg in Sentraal-Amerika

[Prent op bladsy 27]

Jukkas wat in die veld groei, lyk soos bome

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel