Wanneer dit voel of almal jou dophou
“Marteling” is die woord wat Jerry gebruik om dit te beskryf. “Elke keer as ek in ’n klaskamer ingestap het”, sê hy, “het die sweet my begin aftap, het my mond gevoel of dit vol watte was en het ek gedink dat ek nie sou kon praat nie—selfs nie as my lewe daarvan afgehang het nie. Dan het ek begin voel hoe ’n intense hitte deur my arms en bene en gesig versprei, en ek het bloedrooi geword—asof my hele lyf gebloos het.”
JERRY ly aan sosiale fobie, ’n toestand wat gekenmerk word deur ’n intense vrees om deur ander dopgehou te word en om in die openbaar verneder te word. “Iemand met sosiale fobie meen dat almal hom dophou”, sê ’n boekie wat deur die Amerikaanse Vereniging vir Angssteurnisse uitgegee word. “Die angs kan tot paniekagtige aanvalle lei en simptome insluit soos hartkloppings, flouheid, kortasemigheid en oordadige sweetafskeiding.”
Sommige is dalk geneig om die vrese van diegene wat aan sosiale fobie ly as niks af te maak en te sê dat hulle hulleself eenvoudig moet dwing om hulle skuheid te ignoreer en “uit te gaan en mense te ontmoet”. Daar moet erken word dat die stryd teen sosiale fobie gedeeltelik behels dat ’n mens jou vrese die hoof bied. Maar daar is ’n hemelsbreë verskil tussen skuheid en sosiale fobie. “Anders as gewone skuheid”, sê Jerilyn Ross, “is sosiale fobie so erg dat dit daaglikse funksies by die werk, by die skool en in byna alle persoonlike verhoudings belemmer.”
Studies dui daarop dat die lewens van miljoene mense deur sosiale fobie geraak word.a Beskou ’n paar vrese wat met hierdie aftakelende toestand gepaardgaan.
Die vrese van sosiale fobie
Die spreekkuns. Doug onthou hoe paniekbevange hy geraak het terwyl hy ’n kort toespraak vir ’n groep plaaslike inwoners gehou het. “Ewe skielik het ek paniekerig geraak”, sê hy. “My hart het baie vinnig geklop. Ek het gebewe. Dit het gevoel of my keel toetrek, en ek het gesukkel om die woorde uit te kry.” Dit is wel so dat byna almal senuweeagtig raak wanneer hulle voor ’n gehoor staan. Maar iemand met sosiale fobie ondervind ’n intense en ononderbroke opwelling van vrees, en dit raak nie minder met oefening nie. Trouens, Doug het later selfs die onbeduidendste spreekgeleentheid as ’n bedreiging van sy lewe beskou.
Om in die teenwoordigheid van ander te eet. Aangesien mense met sosiale fobie dink dat hulle dopgehou word, kan selfs ’n eenvoudige ete ’n nagmerrie-ondervinding word. Hulle is bang dat hulle hande sal bewe, dat hulle hulle kos sal mors of dit nie in hulle mond sal kry nie of selfs dat hulle naar sal word. Hierdie vrese kan selfvervullende profesieë word. Die boek Dying of Embarrassment sê: “Hoe meer jy jou bekommer oor die moontlikheid dat jy iets sal doen wat jou in die verleentheid sal bring, hoe angstiger word jy. Hoe angstiger jy word, hoe waarskynliker word dit dat jy werklik sal begin bewe of skielike, lomp bewegings sal maak. Hierdie probleem kan vererger tot op die punt waar dit moeilik raak om kos of ’n drankie by jou mond te kry sonder om dit te laat val of te mors.”
Om in die teenwoordigheid van ander te skryf. Baie mense met sosiale fobie raak paniekerig wanneer hulle ’n tjek moet teken of enige ander skryfwerk moet doen terwyl hulle dopgehou word, want hulle is bang dat hulle hand sal bewe of dat ander sal sien hulle skrif is onleesbaar. Sam was byvoorbeeld verpletter toe sy werkgewer wou hê dat hy aan die begin van elke werksdag ’n register voor ’n veiligheidswag moes teken. “Ek kon dit nie doen nie”, sê Sam. “My hand het so erg gebewe dat ek dit met die ander hand moes vashou sodat ek op die regte reëltjie kon skryf, en dan kon ’n mens nie lees wat ek geskryf het nie.”
Om die telefoon te gebruik. Dr. John R. Marshall sê baie van sy pasiënte het erken dat hulle nie die telefoon gebruik nie, tensy dit werklik nodig is. “Hulle was bang dat hulle nie die gepaste antwoord kan gee nie”, sê hy. “Ander was bang dat daar ongemaklike stiltes sou wees omdat hulle dan nie sal weet wat om te sê nie en dat angs hulle stem sal verander, sal laat bewe of skril sal laat klink wanneer die gesprek nie vlot nie. Hulle was doodbang dat hulle gaan hakkel of op ander ongemaklike maniere gaan verraai dat hulle senuweeagtig is.”
Interaksie tussen mense. Party mense met sosiale fobie vrees feitlik enige situasie wat vereis dat hulle met ander moet assosieer. Hulle is dikwels veral bang om oogkontak te maak. “Mense met ernstige sosiale fobies voel dikwels ’n angstige onsekerheid oor waar om te kyk en hoe om te reageer wanneer ander na hulle kyk”, sê The Harvard Mental Health Letter. “Hulle vermy oogkontak omdat hulle meen dat hulle nie weet wanneer om te kyk en wanneer om weg te kyk nie. Hulle verbeel hulle dat ander hulle blik verkeerd sal verstaan.”
Daar is ander vrese wat met sosiale fobie gepaardgaan. Baie is byvoorbeeld bang om openbare ruskamers te gebruik. Ander is bang om inkopies te doen terwyl ’n verkoopsman toekyk. “Ek is so selfbewus dat ek dikwels nie eens sien waarna ek kyk nie”, sê ’n vrou. “Ek verwag altyd of verbeel my dat die persoon agter die toonbank sal sê dat ek tog net moet besluit wat ek wil hê en moet ophou om sy tyd te mors.”
Hoe probeer hulle dit die hoof bied?
Diegene wat nie aan sosiale fobie ly nie, vind dit dikwels moeilik om die lyding te verstaan wat die versteuring veroorsaak. Een persoon wat daaraan ly, beskryf sy ondervinding as “die aakligste soort verleentheid wat enigeen hom ooit kan voorstel!” ’n Ander erken: “Ek dink voortdurend aan selfmoord.”
Ongelukkig wend baie mense met sosiale fobie hulle tot alkohol om hulle angstigheid te probeer verlig.b Hoewel dit dalk tydelike verligting bied, dra alkoholmisbruik op die lange duur net tot die persoon se probleme by. Dr. John R. Marshall sê: “’n Hele paar van my pasiënte met min ondervinding van sosiale drinkery het hulleself smoordronk gedrink—in ’n poging om hulleself voor of gedurende ’n sosiale geleentheid te kalmeer, en het sodoende net tot die vernedering in ander se oë bygedra, iets waarvoor hulle juis so vreeslik bang was.”
Die algemeenste manier waarop mense hulle sosiale fobies die hoof bied, is moontlik deur vermyding. Ja, baie vermy eenvoudig die situasies waarvoor hulle bang is. “Ek het soveel situasies vermy as wat ek kon, selfs om die telefoon te gebruik”, sê Lorraine wat aan sosiale fobie ly. Maar mettertyd vind baie wat daaraan ly dat vermyding hulle eerder inhok as om hulle te beskerm. “Ná ’n ruk”, sê Lorraine, “het die eensaamheid en verveeldheid my oorweldig.”
Vermyding kan “’n selfversterkende strik” word, waarsku Jerilyn Ross. “En elke keer wanneer jy iets vermy”, sê sy verder, “word dit makliker om ’n volgende keer in daardie strik te trap—totdat vermyding byna ’n outomatiese reaksie word.” Party wat daaraan ly, weier gereeld uitnodigings vir ete of wys werksgeleenthede van die hand wat interaksie tussen mense behels. Gevolglik leer hulle nooit om hulle vrese te erken en te oorwin nie. Soos dr. Richard Heimberg dit stel: “Hulle lewe is gevul met denkbeeldige verwerpings wat nooit gebeur het nie en denkbeeldige mislukkings in werksgeleenthede wat hulle nooit probeer het nie omdat hulle dit vermy het.”
Maar daar is goeie nuus oor sosiale fobie: Dit kan behandel word. Dit is natuurlik onmoontlik—selfs ongewens—om elke vorm van angs geheel en al uit te skakel. Maar diegene wat aan sosiale fobie ly, kan leer om hulle vrese te beheers, en die Bybel bevat praktiese raad wat nuttig kan wees.
[Voetnote]
a Ons moet daarop wys dat byna almal die een of ander sosiale vrees het. Baie mense word byvoorbeeld angstig as hulle voor ’n gehoor moet praat. Maar die diagnose van sosiale fobie is gewoonlik net van toepassing op diegene wie se vrese so erg is dat dit hulle normale funksionering aansienlik ontwrig.
b Studies toon dat alkoholisme algemeen onder mense met sosiale fobie voorkom en dat sosiale fobie algemeen onder alkoholiste voorkom. Wat kom eerste? Daar word beweer dat ’n derde van alkoholiste ’n geskiedenis van paniekversteuring of die een of ander sosiale fobie gehad het voordat hulle begin drink het.
[Prente op bladsy 5]
Vir die persoon wat aan sosiale fobie ly, is normale interaksie ’n nagmerrie-ondervinding