Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 7/22 bl. 7-11
  • Hoe om sosiale fobie te beheers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om sosiale fobie te beheers
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe om met jou simptome saam te leef
  • Bevraagteken jou fobiese opvattings
  • Maak werk van jou vrese
  • Mense “met gevoelens soos ons s’n”
  • Wanneer dit voel of almal jou dophou
    Ontwaak!—1998
  • Geteister deur fobies
    Ontwaak!—1998
  • Werp al julle sorge op Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Hoe om diegene met angsversteurings te help
    Ontwaak!—2012
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 7/22 bl. 7-11

Hoe om sosiale fobie te beheers

“Die belangrikste ding wat mense met fobies moet onthou, is dat fobiese versteurings wel goed op behandeling reageer. Dis nie iets waaronder hulle altyd moet ly nie.”—Dr. Chris Sletten.

BAIE mense met sosiale fobie is gelukkig al gehelp om hulle angs te verminder en selfs om die sosiale situasies die hoof te bied wat hulle baie jare lank gevrees het. As jy aan sosiale fobie ly, kan jy daarvan verseker wees dat ook jy positiewe maniere kan aanleer om hierdie versteuring die hoof te bied. Om dit te doen, sal jy moet aandag skenk aan (1) jou fisiese simptome, (2) jou opvattings oor die situasies waarvoor jy bang is en (3) die gedrag wat jou vrese uitlok.

Bybelbeginsels kan nuttig wees. God se Woord is weliswaar nie ’n mediese handleiding nie, en dit verwys ook nie na die term “sosiale fobie” nie. Maar die Bybel kan jou “praktiese wysheid en denkvermoë” help bewaar wanneer jy met jou vrese te kampe het.—Spreuke 3:21, NW; Jesaja 48:17.

Hoe om met jou simptome saam te leef

Die fisiese simptome van sosiale fobie wissel van persoon tot persoon. Hoe reageer jou liggaam wanneer jy voor ’n angswekkende situasie te staan kom? Bewe jou hande? Klop jou hart vinnig? Kry jy maagkrampe? Sweet of bloos jy, of word jou mond droog?

Ons gee toe dat dit onaangenaam is om daaraan te dink dat jy voor ander gaan sweet, hakkel of bewe. Maar besorgdheid oor wat kán gebeur, sal nie help nie. Jesus het gepas gevra: “Wie van julle kan deur besorg te wees een el by sy lewensduur voeg?” (Matteus 6:27; vergelyk Spreuke 12:25.) Trouens, dit sal sake net vererger as jy tob oor jou simptome en oor wat ander dalk daarvan dink. “Omdat hulle hulle verbeel dat ander hulle senuweeagtigheid raaksien, raak mense met sosiale fobies selfs nog angstiger”, sê The Harvard Mental Health Letter. “Hulle begin later die gevolglike lompheid en swak prestasie verwag—’n verwagting wat hulle nog meer vreesbevange maak wanneer hulle voor angswekkende situasies te staan kom.”

Jy kan die intensiteit van jou simptome verminder deur te oefen om stadig van jou diafragma af asem te haal. (Sien die venster “Let op jou asemhaling!”) Gereelde liggaamlike oefening en ontspanning van die spiere is ook nuttig (1 Timoteus 4:8). Jy sal dalk ook ’n paar veranderinge in jou lewenstyl moet aanbring. Die Bybel gee byvoorbeeld die volgende raad: “Een handvol rus is beter as altwee vuiste vol moeite en gejaag na wind” (Prediker 4:6). Maak dus seker dat jy genoeg rus kry. Dan moet jy ook op jou dieet let. Moenie maaltye oorslaan of op ongereelde tye eet nie. Dit is dalk nodig om minder kafeïen in te neem, wat ’n belangrike oorsaak van angs kan wees.

Bowenal moet jy geduldig wees (Prediker 7:8, NW). ’n Span dokters sê: “Jy sal mettertyd opmerk dat die intensiteit van jou liggaamlike simptome aansienlik sal afneem, hoewel jy steeds geneig sal wees om ’n bietjie angs in sekere sosiale situasies te ondervind. Wat die belangrikste is, is dat jou selfvertroue met oefening sal toeneem, en jy sal beter voorbereid wees om betrokke te raak by die sosiale situasies wat jy vrees.”

Bevraagteken jou fobiese opvattings

Daar word gesê dat ’n mens nie iets kan voel voordat jy nie eers daaraan gedink het nie. Dit is blykbaar ook waar van sosiale fobie. Om jou fisiese simptome te verlig, moet jy derhalwe dalk die “verontrustende gedagtes” ondersoek wat dit veroorsaak.—Psalm 94:19, NW.

Sommige deskundiges sê dat sosiale fobie in wese ’n vrees vir afkeuring is. Terwyl ’n persoon met sosiale fobie by ’n sosiale geleentheid is, sê hy byvoorbeeld dalk vir homself: ‘Ek lyk belaglik. Die mense sien beslis dat ek nie inpas nie. Ek is seker almal skeer die gek met my.’ Tracy, wat aan sosiale fobie ly, het sulke gevoelens gehad. Maar sy het mettertyd haar opvattings bevraagteken. Sy het besef dat mense beter dinge het om met hulle tyd te doen as om haar noukeurig dop te hou en te veroordeel. “Al sou ek iets sê wat oninteressant is”, sluit Tracy af, “gee dit dan iemand anders die reg om my as persoon daaroor af te keur?”

Soos Tracy moet jy dalk ook verdraaide denkpatrone oor die waarskynlikheid—en die erns—van ander se afkeuring in sosiale situasies bevraagteken. Is daar werklik ’n geldige rede om te dink dat mense vir jou kwaad sal raak as jou ergste vrese bewaarheid word? Selfs al word ’n paar kwaad, is daar dan rede om te dink dat jy nie die ondervinding sal oorleef nie? Verander die mening van iemand anders werklik jou waarde as persoon? Die Bybel gee hierdie wyse raad: “Jy moet . . . nie let op al die woorde wat die mense spreek nie.”—Prediker 7:21.

’n Span dokters het die volgende oor sosiale fobie geskryf: “Probleme ontstaan wanneer mense te veel betekenis en belangrikheid aan die onvermydelike verwerpings in die lewe heg. Verwerping kan groot teleurstelling veroorsaak. Dit kan diep seermaak. Maar dit hoef jou nie te verpletter nie. Dit is nie eintlik ’n katastrofe totdat jy een daarvan maak nie.”

Die Bybel help ons om ’n realistiese beskouing van onsself te hê. Dit erken: “Ons almal struikel baie kere” (Jakobus 3:2). Ja, niemand is immuun teen onvolmaaktheid en die pynlike maniere waarop dit soms tot uiting kom nie. As ons dit besef, help dit ons om toegewings te maak vir ander se swakhede, en dit moedig ander aan om dieselfde begrip vir ons s’n te hê. Christene weet in elk geval dat dit Jehovah God se goedkeuring is wat werklik saak maak—en hy spits hom nie toe op ons foute nie.—Psalm 103:13, 14; 130:3.

Maak werk van jou vrese

As jy jou stryd teen sosiale fobie wil wen, sal jy die een of ander tyd jou vrese onder die oë moet sien. Die blote gedagte hieraan lyk dalk aanvanklik vreesaanjaend. Tot nou toe het jy moontlik sosiale situasies vermy wat jou bang sou maak. Maar dit het waarskynlik net jou vertroue ondermyn en jou vrese dieper ingewortel. Die Bybel sê tereg: “Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte; hy bestry alles wat waarlik tot voordeel strek.”—Spreuke 18:1.

As jy daarenteen van jou vrese werk maak, kan dit jou angs verminder.a Dr. John R. Marshall sê: “Ons sê dikwels vir ons pasiënte met sosiale fobie—veral dié wie se vrese betreklik afgebaken is, soos die vrees om in die openbaar te praat—om hulleself te dwing om betrokke te raak by situasies en organisasies wat sosiale kontak vereis.”

As jy die situasies wat jy gevrees het onder die oë sien, sal dit jou oortuig (1) dat die foute wat jou in verleentheid bring heel dikwels nie daartoe sal lei dat ander jou afkeur nie en (2) dat dit nie ’n katastrofe is nie, al het dit selfs tot ’n mate van afkeur gelei. Maar onthou om geduldig te wees met jou vordering. Herstel vind nie oornag plaas nie, en dit is ook nie realisties om te verwag dat alle tekens van sosiale fobie sal verdwyn nie. Volgens dr. Sally Winston is die doel van behandeling nie om van die simptome ontslae te raak nie, maar om dit te beskou asof dit nie saak maak nie. As dit nie saak maak nie, sê sy, sal dit verdwyn of ten minste verbeter.

Christene het ’n sterk dryfveer om sosiale vrese te oorkom. Trouens, hulle word beveel om ‘op mekaar ag te gee om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor en nie hulle onderlinge vergaderinge na te laat nie’ (Hebreërs 10:24, 25). Aangesien Christelike bedrywighede dikwels interaksie met ander insluit, kan dit jou geestelike vooruitgang grootliks bevorder as jy hard werk om jou sosiale vrese te beheers (Matteus 28:19, 20; Handelinge 2:42; 1 Tessalonisense 5:14). Bespreek die saak voortdurend met Jehovah God in gebed, want hy kan jou “krag wat bo die normale is”, gee (2 Korintiërs 4:7; 1 Johannes 5:14). Vra Jehovah om jou te help om ’n gebalanseerde beskouing van die goedkeuring van ander te hê en om die nodige vaardighede aan te leer om te doen wat hy vereis.

Elkeen wat aan ’n fobie ly se probleme is weliswaar uniek, en elkeen sal verskillende struikelblokke hê en verskillende sterk punte om op te vertrou. Party het aansienlike vordering gemaak deur die wenke toe te pas wat bespreek is. Daar is gevalle wanneer bykomende hulp dalk nodig sal wees. Sommige is byvoorbeeld deur geneesmiddels gehelp.b Ander het na ’n geestesgesondheidsdeskundige gegaan. Geen spesifieke vorm van behandeling word deur die Ontwaak! aanbeveel of goedgekeur nie. As ’n Christen sulke behandeling ondergaan, is dit ’n persoonlike besluit. Maar hy moet versigtig wees dat enige behandeling wat hy ontvang nie strydig is met Bybelbeginsels nie.

Mense “met gevoelens soos ons s’n”

Die Bybel kan ’n bron van groot aanmoediging wees, want dit bevat werklike voorbeelde van mense wat persoonlike struikelblokke oorkom het sodat hulle kon doen wat God van hulle vereis het. Dink aan Elia. As een van Israel se vernaamste profete het hy oënskynlik bomenslike moed aan die dag gelê. Maar die Bybel verseker ons dat “Elia ’n mens met gevoelens soos ons s’n” was (Jakobus 5:17). Hy het ook tye van intense vrees en angs beleef.—1 Konings 19:1-4.

Die Christenapostel Paulus het “in swakheid en in vrees en met veel bewing” na Korinte gegaan omdat hy klaarblyklik ernstige bedenkinge oor sy vermoëns gehad het. En hy het wel voor ’n mate van afkeuring te staan gekom. Trouens, party teenstanders het van Paulus gesê: “Sy persoonlike teenwoordigheid is swak en sy spraak veragtelik.” Maar daar is geen aanduiding dat Paulus toegelaat het dat die verdraaide mening van ander sy beskouing van homself of sy vermoëns beïnvloed het nie.—1 Korintiërs 2:3-5; 2 Korintiërs 10:10.

Moses het nie vertroue gehad in sy vermoë om met Farao te praat nie en het gesê dat hy “swaar van mond en swaar van tong” is (Exodus 4:10). Selfs toe Jehovah God belowe het om hom te help, het Moses gesmeek: “Nee Here, stuur asseblief tog iemand anders” (Exodus 4:13, Today’s English Version). Moses was nie van sy sterk punte bewus nie, maar Jehovah was. Hy het Moses as verstandelik en fisies bevoeg beskou om die opdrag uit te voer. En tog het Jehovah Moses op liefdevolle wyse van ’n helper voorsien. Hy het Moses nie gedwing om alleen voor Farao te verskyn nie.—Exodus 4:14, 15.

Jeremia is ook ’n goeie voorbeeld wat dit betref. Toe hy as God se profeet aangestel is, het hierdie jong man geantwoord: “Ag, Here HERE, voorwaar, ek kan nie praat nie, want ek is jonk.” Jeremia het nie vanself die krag gehad om sy toewysing uit te voer nie. Maar Jehovah was met hom. Hy het Jeremia gehelp om “’n versterkte stad en ’n ysterpilaar en kopermure teen die hele land” te word.—Jeremia 1:6, 18, 19.

As vrees en angs dus vir jou lyding veroorsaak, moet jy nie tot die gevolgtrekking kom dat jy nie geloof het of dat Jehovah jou verwerp het nie. Inteendeel, Jehovah “is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees”.—Psalm 34:19.

Die Bybelvoorbeelde wat hierbo genoem is, toon inderdaad dat selfs getroue manne van geloof met gevoelens van onwaardigheid geworstel het. Hoewel Jehovah nie meer verwag het as wat elkeen met redelikheid kon doen nie, het hy vir Elia, Paulus, Moses en Jeremia gehelp om meer te bereik as wat hulle dalk verwag het. Aangesien Jehovah “weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is”, kan jy verseker wees dat hy dieselfde vir jou kan doen.—Psalm 103:14.

[Voetnote]

a Indien hierdie stap te oorweldigend vir jou lyk, beveel sommige dokters aan dat jy eenvoudig moet oefen deur jou te verbeel dat jy in die omstandighede is wat jy vrees. Stel jou die toneel in soveel besonderhede as moontlik voor. Jy sal dalk angstiger word; maar herinner jouself voortdurend daaraan dat ander jou nie so geredelik of so sterk sal afkeur as wat jy dink nie, en bedink die einde van die toneel só dat dit hierdie beskouing ondersteun.

b Diegene wat dit oorweeg om geneesmiddels te gebruik, moet die risiko’s en die voordele teen mekaar opweeg. Hulle moet ook daaroor dink of die fobie erg genoeg is om behandeling met geneesmiddels te regverdig. Baie deskundiges meen dat geneesmiddels die doeltreffendste is wanneer dit gekombineer word met ’n behandeling wat die pasiënt help om sy vrese te bowe te kom en sy gedrag te verander.

[Venster op bladsy 8]

Let op jou asemhaling!

PARTY mense met sosiale fobie kan die intensiteit van hulle fisiese simptome verminder deur op hulle asemhaling te konsentreer. Dit klink dalk aanvanklik vreemd. Almal weet tog per slot van rekening hoe om asem te haal! Maar deskundiges sê dat baie mense met angsprobleme nie behoorlik asemhaal nie. Hulle haal dikwels te vlak, te vinnig of te veel met die borskas asem.

Oefen om stadig in en uit te asem. Dit sal makliker wees as jy deur jou neus in plaas van jou mond asemhaal. Leer ook om van jou diafragma af asem te haal, aangesien die risiko om te hiperventileer groter word as jy met die boonste deel van jou borskas asemhaal. Om te toets hoe jy asemhaal, kan jy in ’n staande posisie een hand bokant jou middel sit en die ander een in die middel van jou borskas. Terwyl jy asemhaal, moet jy kyk watter hand die meeste beweeg. As dit die hand op jou bors is, moet jy oefen om van jou diafragma af asem te haal.

Jy hoef natuurlik nie vir elke asemteug jou diafragma te gebruik nie. (Die normale verhouding van diafragma-tot-borskasasemteue is ongeveer 4 tot 1, maar dit sal soms verskil.) En ’n woordjie van waarskuwing is gepas: Diegene met chroniese asemhalingsprobleme—soos emfiseem of asma—moet ’n dokter spreek voordat hulle nuwe asemhalingstegnieke toepas.

[Venster op bladsy 9]

Wanneer vrees tot paniek lei

VIR sommige met sosiale fobie is die angs so intens dat dit tot ’n paniekaanval lei. Hierdie skielike, oorweldigende angs het dikwels tot gevolg dat die slagoffer hiperventileer, swak voel en glo dat hy of sy besig is om ’n hartaanval te kry.

Deskundiges sê dat dit beter is om die aanval nie teë te werk nie. Hulle raai diegene wat daaraan ly eerder aan om die angs te verduur totdat dit verby is. “Wanneer dit begin het, kan jy dit nie keer nie”, sê Jerilyn Ross. “Dit moet net eenvoudig sy gang gaan. Hou net aan om vir jouself te sê dat dit vreesaanjaend is, maar nie gevaarlik nie. Dit sal verbygaan.”

Melvin Green, die direkteur van ’n sentrum wat agorafobie behandel, vergelyk die aanval met ’n brandertjie wat na ’n strand toe rol. “Dit stel jou aanvanklike angsgevoelens voor”, sê hy. “Namate die brander die land nader, word dit al hoe groter. Dit stel jou groeiende angsgevoelens voor. Kort daarna is die brander baie groot en bereik sy hoogste punt. Daarna breek dit en word al hoe kleiner totdat dit op die strand uitspoel. Hierdie beeld stel die begin en die einde van die angsaanval voor.” Green sê dat mense wat aan fobies ly die gevoelens nie moet teëwerk nie, maar daarmee saam moet “vloei” totdat dit verby is.

[Prente op bladsy 8, 9]

Let op jou dieet, oefen gereeld en kry genoeg rus om angs te help verlig

[Prent op bladsy 10]

Jehovah het manne soos Moses gehelp om meer in hulle bediening te bereik as wat hulle dalk verwag het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel