Geteister deur fobies
“Fobies was al dikwels die onderwerp van bespotting. Maar dit is beslis nie ‘snaaks’ nie.”—Jerilyn Ross, direkteur van ’n behandelingsentrum vir angssteurnisse.
DIE woord “fobie” verwys na ’n intense, onrealistiese vrees vir ’n voorwerp, ’n gebeurtenis of ’n gevoel. Maar ’n blote definisie kan nie die verskrikking en eensaamheid weergee wat hierdie toestand kenmerk nie. Raeann Dumont, wat al meer as twee dekades lank fobies behandel, sê: “Mense wat aan fobies ly, vermy dalk soveel situasies dat hulle later glad nie die huis kan verlaat nie, of hulle lewe moontlik met voortdurende, chroniese angs saam of hulle verlig dalk hulle angs met alkohol, wat bykomende probleme kan veroorsaak.”
Fobies word saam met ’n groep siektes geklassifiseer wat angssteurnisse genoem word.a Volgens skatting sal 12 persent van die volwassenes in die Verenigde State op die een of ander tydstip van hulle lewe met ’n fobie te kampe hê. Baie van hulle sal jare lank in stilte ly. “Ongelukkig”, berig die Amerikaanse Vereniging vir Angssteurnisse, “kry ongeveer driekwart van die individue met fobies nooit hulp nie. Baie mense met fobies is huiwerig om hulp te soek omdat hulle skaam is. Ander verstaan nie wat hulle probleem is nie of weet nie waar om hulp te soek nie, en sommige is bang vir die behandeling self.”
Daar is honderde bekende fobies, maar deskundiges deel hulle gewoonlik in drie kategorieë in. Eenvoudige fobies hou verband met ’n voorwerp of ’n situasie, soos insekte, diere, die vrees om te vlieg en om in eng ruimtes te wees. Agorafobie kom gewoonlik saam met paniekaanvalle voor. Diegene wat daaraan ly is so bang om ’n paniekaanval te kry dat hy of sy alle plekke en situasies vermy waar vorige aanvalle plaasgevind het. Sosiale fobies word gekenmerk deur ’n vrees om in die openbaar in die verleentheid gebring te word, soos om ’n toespraak voor ’n gehoor te hou.
Neem net een van hierdie drie—sosiale fobies. The Washingtonian sê: “Selfs as al die eenvoudige fobies, soos ’n vrees vir slange of vir vlieg, saamgevoeg word, sal dit nie naastenby soveel ellende soos sosiale fobie veroorsaak nie.” Is dit werklik so? Indien wel, waarom? Kom ons kyk.
[Voetnoot]
a Ander angssteurnisse sluit in panieksteurnis, obsessief-kompulsiewe steurnis, posttraumatiese stresversteuring en algemene angssteurnis. Sien die Ontwaak! van 8 Februarie 1996 “Kompulsiewe gedrag—Beheer dit jou lewe?” en van 8 Junie 1996 “Hoe om paniekaanvalle die hoof te bied” vir meer inligting.