Verlore in die wêreld van reklame
“PAPPA, wat is die maan veronderstel om te adverteer?” Hierdie vreemde vraag, wat deur ’n kind gevra is, het in ’n gedig verskyn wat sowat 50 jaar gelede deur Carl Sandburg geskryf is. In die toekoms sal so ’n vraag dalk nie so vreemd klink nie. Volgens die tydskrif New Scientist werk twee reklamebestuurders in Londen aan ’n plan om teruggekaatste sonlig te gebruik om advertensies op die oppervlak van die maan te projekteer.
Stel jou voor dat die maan as ’n reklamebord gebruik word! Verbeel jou net dat ’n advertensie aan ’n wêreldwye gehoor uitgesaai kan word, ’n advertensie wat kykers nie kan afskakel, beëindig, weggooi of stilmaak met ’n afstandbeheer nie. Jy raak dalk nie in vervoering oor die idee nie, maar vir ander sou dit ’n droom wees wat bewaarheid word.
Hoewel reklame nog nie die maan bereik het nie, word die hele aarde daardeur geraak. Die meeste Amerikaanse tydskrifte en koerante hou 60 persent van hulle bladsye vir advertensies. Die Sondaguitgawe van The New York Times alleen kan 350 bladsye met advertensies bevat. Sommige radiostasies wy 40 minute per uur aan advertensies.
Dan is daar nog televisie. Volgens een skatting kyk Amerikaanse jongmense elke week drie uur lank na televisie-advertensies. Teen die tyd dat hulle die skool verlaat, het hulle 360 000 TV-advertensies gesien. Televisie-advertensies word in lughawens, hospitaalwagkamers en skole vertoon.
Belangrike sportgeleenthede is nou belangrike reklamegeleenthede. Renmotors dien as blitsige reklameborde. Sommige atlete ontvang die meeste van hulle geld van adverteerders. ’n Vooraanstaande basketbalspeler het $3,9 miljoen (R19,4 miljoen) verdien deur basketbal te speel. Adverteerders het hom nege keer meer betaal om hulle produkte te adverteer.
Daar is geen manier om daarvan weg te kom nie. Handelsadvertensies word op mure, busse en vragmotors vertoon. Hulle versier die binnekant van taxi’s en ondergrondse spoorweë—selfs die deure van openbare toilette. Advertensies word uitgesaai oor luidsprekers in supermarkte, winkels, hysers—en terwyl ons wag om met iemand oor die telefoon te praat. In party lande word soveel advertensies per pos gestuur dat baie ontvangers direk van die posbus na die naaste vullisblik loop om die gemorspos weg te gooi.
Volgens die Insider’s Report, wat deur McCann-Erickson, ’n wêreldwye reklamemaatskappy, uitgegee word, is daar in 1990 ongeveer R1,4 biljoen regoor die wêreld aan reklame bestee. Sedertdien het die bedrag toegeneem tot R2,1 biljoen vir 1997 en ’n verwagte R2,2 biljoen vir 1998. Groot geld!
Wat het hieruit voortgespruit? ’n Analis stel dit so: “Reklame is een van die magtigste sosialiserende kragte in die kultuur. . . . Advertensies verkoop nie net produkte nie. Dit verkoop opvattings, waardes, doelwitte, konsepte van wie ons is en wie ons behoort te wees . . . Dit vorm ons gesindhede, en ons gesindhede vorm ons gedrag.”
Aangesien jy nie van reklame ontslae kan raak nie, kan jy gerus uitvind hoe dit werk en hoe dit jou kan beïnvloed.