TV—Die “subtiele onderrigter”
TELEVISIE kan ’n kragtige onderrigmiddel wees. Daardeur kan ons leer van lande en mense wat ons moontlik nooit sal besoek nie. Ons “reis” na tropiese woude en poolstreke, na bergtoppe en oseaandieptes. Ons kyk na die fassinerende wêreld van atome sowel as van sterre. Ons sien nuusgebeure terwyl dit aan die ander kant van die aarde plaasvind. Ons kry insae in die politiek, geskiedenis, aktuele gebeure en kultuur. Televisie beeld die lewens van mense uit in tragiese sowel as gelukkige omstandighede. Dit vermaak, onderrig en inspireer selfs.
Maar baie van die programme is nie heilsaam of opvoedkundig nie. Die felste kritiek kom heel waarskynlik van mense wat die oorvloedige en eksplisiete uitbeelding van geweld en seks op TV afkeur. In een studie in die Verenigde State is daar byvoorbeeld bevind dat byna 2 uit 3 TV-programme gewelddadige tonele bevat, met gemiddeld ses per uur. Teen die tyd dat ’n jongmens volwassenheid bereik het, sal hy duisende tonele van gewelddade en moorde gesien het. Seksuele inhoud kom ook in oorvloed voor. In twee derdes van alle TV-programme word daar oor seks gepraat, en 35 persent sluit seksuele gedrag in, wat gewoonlik uitgebeeld word as iets wat sonder risiko is, spontaan gebeur en waarby ongetroude paartjies betrokke is.a
Daar is wêreldwyd ’n groot aanvraag na programme met seksuele en gewelddadige inhoud. Amerikaanse aksierolprente, wat uiteindelik op TV uitgesaai word, kan maklik in ander lande bemark word. Dit hoef nie goeie toneelspel of ’n vindingryke draaiboek te hê nie, en dit word maklik verstaan. Dit maak staat op gevegte, bloedvergieting, spesiale effekte en seks om die kyker te boei. Maar om daardie kyker geboei te hou, vereis verandering. Kykers word gou moeg vir dieselfde ding; die sensasionele word alledaags. Om die belangstelling van die kyker te behou, gaan vervaardigers tot uiterstes oor om te skok en te prikkel deur al hoe meer gewelddade in te voeg en deur die inhoud meer eksplisiet, meer seksueel en meer sadisties te maak.
Die debat oor die impak van TV
Watter uitwerking het die aanhoudende stroom TV-geweld en -seks op kykers? Kritici beweer dat TV-geweld mense aggressief laat optree en veroorsaak dat hulle minder simpatiek teenoor slagoffers van werklike geweld is. Hulle voer ook aan dat die uitbeelding van seks promiskuïteit bevorder en sedelike standaarde ondermyn.
Dra TV-kykery werklik by tot al hierdie reaksies? Daar is al dekades lank vurig oor hierdie kwessie gedebatteer; dit is in honderde studies en duisende boeke en artikels bespreek. Een van die vernaamste kwessies is dat dit moeilik is om te bewys dat een ding iets anders veroorsaak—byvoorbeeld, dat vroeë blootstelling aan TV-geweld fisiese aggressiwiteit in die latere lewe veroorsaak. Dit is soms ’n uitdaging om ’n verwantskap tussen oorsaak en gevolg te bewys. Ter toeligting: Sê nou jy gebruik ’n sekere soort medisyne vir die eerste keer, en binne ’n paar uur slaan jy in bulte uit. In so ’n situasie is dit maklik om af te lei dat die medisyne die allergiese reaksie veroorsaak het. Maar soms ontwikkel ’n allergie geleidelik. As dit die geval is, sal dit dalk baie moeiliker wees om die allergiese reaksie aan ’n spesifieke medisyne toe te skryf, aangesien allergieë soveel oorsake het.
Net so is dit moeilik om te bewys dat die geweld wat op televisie vertoon word, misdaad en antisosiale gedrag tot gevolg het. Volgens baie studies wil dit voorkom of so ’n verband wel bestaan. Daarbenewens het party misdadigers gesê dat hulle gesindhede en gewelddadige gedrag gevorm is deur wat hulle op TV gesien het. Aan die ander kant word mense aan baie invloede in die lewe blootgestel. Gewelddadige videospeletjies, die sosiale waardes van vriende en familie, algemene lewensomstandighede—dit alles kan ook tot aggressiewe gedrag bydra.
Dit is dus glad nie verbasend dat daar teenoorgestelde standpunte is nie. ’n Kanadese sielkundige het geskryf: “Die wetenskaplike bewyse toon eenvoudig nie dat mense gewelddadig of ongevoelig teenoor geweld word deur daarna te kyk nie.” Die Amerikaanse Sielkundige Vereniging se Komitee oor Media en die Gemeenskap het egter gesê: “Wanneer mense na meer geweld op televisie kyk, hou dit ongetwyfeld verband met groter aanvaarding van aggressiewe gesindhede en ’n toename in aggressiewe gedrag.”
Dink oor TV
Onthou, die deskundiges voer ’n debat oor bewyse—of dit bewys kan word dat ’n mens aggressief word wanneer jy na aggressie kyk. Daar is egter min mense wat sou beweer dat televisie geen invloed op ons denke en gedrag het nie. Dink hieraan. ’n Enkele foto kan ons kwaad laat word, tot trane beweeg of bly maak. Musiek het ook ’n diepgaande uitwerking op ons emosies. Woorde, selfs op skrif, laat ons dink, voel en optree. Watter kragtige uitwerking het dit tog wanneer bewegende beelde, musiek en gesproke woorde vernuftig saamgeweef word! Dit is geen wonder dat televisie so verleidelik is nie! En dit is baie toeganklik. Een skrywer sê: “Sedert die mens aanvanklik geleer het om sy gedagtes op skrif te stel . . . , het geen nuwe tegniek om idees oor te dra, so ’n impak op die beskawing gehad nie.”
Sakeondernemings bestee miljarde rande elke jaar aan advertensies omdat hulle weet dat kykers beïnvloed word deur wat hulle sien en hoor. Hulle bestee nie daardie geld omdat hulle dink dat die advertensies dalk sal werk nie; hulle weet dat dit werk. Dit verkoop hulle produkte. In 2004 het die Coca-Cola-maatskappy 13,4 miljard rand bestee om sy produkte wêreldwyd in die pers, oor die radio en op televisie te adverteer. Was die belegging die moeite werd? Die maatskappy het in daardie jaar bykans 134 miljard rand wins gemaak. Adverteerders besef dat een advertensie dalk nie gedrag sal beïnvloed nie. Hulle maak eerder staat op die kumulatiewe impak van jare se indoktrinasie.
As advertensies van 30 sekondes ons gesindhede en gedrag beïnvloed, kan ons seker wees dat ure se TV-kykery ook ’n invloed op ons het. “Verskuil onder die mees alledaagse vermaak”, sê die skrywer van Television—An International History, “tree die medium op as ’n subtiele onderrigter.” Die boek A Pictorial History of Television sê: “Televisie verander ons denkwyse.” Die vraag wat ons ons moet afvra, is: ‘Het die programme waarna ek kyk, die soort uitwerking op my denke wat ek wil hê?’
Vir diegene wat God dien, is daardie vraag van spesiale belang. Baie van wat op televisie vertoon word, is in stryd met die verhewe beginsels en sedelike standaarde wat in die Bybel geleer word. Lewenswyses en gebruike wat deur die Skrif veroordeel word, word aangebied as aanvaarbaar, normaal en selfs byderwets. Terselfdertyd word Christelike waardes en diegene wat dit blykbaar beoefen, dikwels op televisie geïgnoreer, bespot of uitgelag. Een skrywer het gesê: “Dit is nie genoeg dat die afwykende as normaal beskou word nie. Nou moet die normale as afwykend beskou word.” Alte dikwels fluister die “subtiele onderrigter”: ‘Goed is sleg en sleg is goed.’—Jesaja 5:20.
Ons moet versigtig wees wanneer dit kom by die programme waarna ons kyk, want dit sal ’n uitwerking op ons denke hê. Die Bybel sê: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan” (Spreuke 13:20). Die Bybelgeleerde Adam Clarke sê: “Om met iemand te wandel, impliseer liefde en gehegtheid; en dit is onmoontlik om nie diegene vir wie ons lief is, na te volg nie. Ons sê dus: ‘Sê my met wie hy omgaan, en ek sê jou wie hy is.’ As ek sien watter soort vriende hy kies, sal ek maklik kan vasstel van watter soort sedelike inbors hy is.” Soos ons gesien het, bring die meeste mense ’n groot hoeveelheid tyd deur saam met televisiekarakters wat glad nie verstandig is nie, karakters wat ’n opregte Christen nooit andersins na sy huis toe sou nooi nie.
As jou dokter vir jou ’n kragtige geneesmiddel voorskryf, sal jy waarskynlik die voordele sowel as die risiko’s wat daarmee gepaardgaan, deeglik teen mekaar opweeg. As jy die verkeerde medisyne gebruik—of selfs te veel van die regte medisyne—kan dit jou gesondheid skaad. Dieselfde kan van TV-kykery gesê word. Dit is dus verstandig om ernstig na te dink oor die programme waarna ons kyk.
Die apostel Paulus het Christene onder inspirasie aangespoor om dinge te bedink wat waar, van ernstige belang, regverdig, kuis, lieflik, deugsaam en lofwaardig is en waarvan daar goed gepraat word (Filippense 4:6-8). Sal jy daardie raad volg? Jy sal gelukkig wees as jy dit doen.
[Voetnoot]
a Statistiek vir die Verenigde State is soortgelyk aan dié vir ander lande, aangesien Amerikaanse televisieprogramme en rolprente in alle wêrelddele uitgesaai word.
[Lokteks op bladsy 5]
“Televisie is ’n uitvindsel wat jou toelaat om in jou woonkamer vermaak te word deur mense wat jy nooit in jou huis sou toelaat nie.”—David Frost, Britse uitsaaier
[Venster op bladsy 5]
WAT VAN SEKS EN GEWELD IN DIE BYBEL?
Wat is die verskil tussen die geweld en seks wat op TV vertoon word, en dié wat in die Bybel beskryf word? Die verwysings na seks en geweld in die Bybel is geskryf om te onderrig, nie om te vermaak nie (Romeine 15:4). God se Woord bevat geskiedkundige feite. Dit help ons om God se siening oor sake te verstaan en om uit die foute van ander te leer.
In die meeste lande waar daar van advertensies gebruik gemaak word, gaan die uitbeelding van seks en geweld op TV nie oor onderrigting nie—dit gaan oor geld. Adverteerders wil soveel mense moontlik lok, en seks en geweld hou kykers voor die TV vasgenael. Die gevolg: Hulle sal na die advertensie kyk en koop wat geadverteer word. Nuusmense volg die beginsel: “As die bloed vloei, sit die mense geboei.” Eenvoudig gestel, afgryslike stories—van misdade, rampe en oorloë—kry voorkeur bo nuusitems wat minder boeiend is.
Hoewel die Bybel verslae van gewelddade bevat, moedig dit mense aan om vredeliewend te wees—nie om wraak te soek nie, maar om probleme vreedsaam op te los. Dit bevorder deurgaans geslagsedelikheid. Dít is nie die boodskap wat ’n mens kry uit baie van wat op televisie uitgesaai word nie.—Jesaja 2:2-4; 1 Korintiërs 13:4-8; Efesiërs 4:32.
[Venster/Prent op bladsy 7]
TELEVISIE EN KINDERS
“Op grond van die kumulatiewe bewyse van studies wat oor ’n tydperk van etlike dekades gedoen is, het die wetenskaplike en openbare gesondheidsgemeenskap byna eenparig tot die slotsom gekom dat dit vir kinders gevaar inhou om na geweld te kyk.”—Die Henry J. Kaiser Family Foundation.
“[Ons stem saam met] die Amerikaanse Akademie vir Kindergeneeskunde dat ‘kinders van twee jaar en jonger glad nie [televisie moet kyk] nie’. Hierdie kinders, wat geweldige breinontwikkeling ondergaan, moet aktief speel en met werklike mense interaksie geniet om hulle ontwikkelings-, fisiese en sosiale vaardighede te bevorder.”—Die Nasionale Instituut insake Media en die Gesin.
[Prent op bladsy 6, 7]
Het die programme waarna ek kyk, die soort uitwerking op my denke wat ek wil hê?