Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 1/8 bl. 16-18
  • Die raaisels van Nan Madol

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die raaisels van Nan Madol
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vesting van konings
  • Ongewone boustene
  • Sal die raaisels opgelos word?
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2001
  • Regerings wêreldwyd spandeer meer as R39 biljoen aan militêre magte – Wat sê die Bybel?
    Nog onderwerpe
  • Brittanje se kanale—nog steeds fassinerend
    Ontwaak!—2008
  • Die Giant’s Causeway
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 1/8 bl. 16-18

Die raaisels van Nan Madol

Wie het hierdie ‘Venesië van die Stille Suidsee’ gebou? Hoe het hulle dit gedoen? Waarom het hulle dit verlaat?

HOU jy van ’n verhaal waarin ’n moeilike raaisel opgelos moet word—een wat vol avontuur is? Kom dan saam en ondersoek die ruïnes van Nan Madol, ’n eeue oue raaisel wat al baie besoekers laat kopkrap het.

Nan Madol is ’n interessante doolhof van mensgemaakte eilandjies en kanale wat duisend jaar gelede op ’n vlak rif aan die rand van die Mikronesiese eiland Pohnpei gebou is.a Terwyl ons ons bestemming per boot nader, verberg wortelbome en digte tropiese plantegroei die ruïnes. Skielik, terwyl ons boot om ’n draai gaan, sien ons hierdie indrukwekkende ingenieursprestasies.

Massiewe mure, waarvan party so lank soos ’n stadsblok is, verskyn eerste. Hierdie enorme mure, wat geleidelik hoër word en hulle hoogste punt by hulle hoeke bereik, is van groot basaltkolomme gebou wat kruis en dwars opmekaar gestapel is.

Die naam Nan Madol beteken “Plekke tussenin”, en dit is ’n goeie beskrywing van die netwerk van mensgemaakte kanale om die eiland. Europese seevaarders van die 1800’s was waarskynlik die eerste buitelanders wat op Nan Madol afgekom het. Wat hulle gesien het, was so indrukwekkend dat hulle hierdie voormalige politieke en godsdienssentrum die Venesië van die Stille Suidsee genoem het. Maar daardie seevaarders het nooit die volle glorie van Nan Madol gesien nie, want ongeveer ’n eeu voordat hulle daar aangekom het, het die inwoners dit om die een of ander onverklaarbare rede verlaat.

Ons twee gidse het vir ons vertel dat Nan Madol ongeveer 80 hektaar beslaan. Elk van sy 92 eilandjies, het hulle verduidelik, het ’n spesifieke doel gehad. Party is as woongebiede gebruik. Op ander is daar byvoorbeeld voedsel voorberei, kano’s gemaak en tydens seremonies gedans. Hoewel die eilande gebou is sodat dit in vorm en grootte verskil, is ’n tipiese eiland reghoekig en omtrent so groot soos ’n rugbyveld. Die meeste van die eilandjies is toegegroei onder die plante, maar die dele wat wel verken kan word, is fassinerend.

Vesting van konings

Die indrukwekkende vesting wat Nan Douwas genoem word, is die beste plek om die geheime van Nan Madol te ondersoek. Hoewel ’n mens deur die seewater na hierdie ruïnes kan loop om dit te verken, is dit beter om met ’n boot soontoe te gaan. Nan Madol is vir waterverkeer ontwerp, en sy kanale is so wyd soos ’n hoofweg met vier bane. Hulle is ook redelik vlak. Tydens hoogwater kom die water net tot by jou middellyf, wat Nan Madol ongetwyfeld eeue gelede teen vyandelike skepe beskerm het. Ons gidse het versigtig met die waterweë langs gevaar sodat die boot se skroewe nie teen die koraalbodem beskadig word nie.

Nadat ons by Nan Douwas vasgemeer het, het ons op ’n trap geklim wat direk tot in die antieke heiligdom lei. Hierdie indrukwekkende ingang het ons verby mure geneem wat drie tot vier meter dik en agt tot nege meter hoog is. Hierdie sterk torings het tropiese storms en selfs tifone weerstaan.

Aan die binnekant van die enorme mure het ons op ’n groot binneplein met ’n steengrafkelder in die middel daarvan afgekom. Hierdie indrukwekkende plek is die koninklike lykshuis, waar daar vroeër oor konings gerou is. Toe ons verder verken, het dit gelyk of ons ’n ondergrondse gang gevind het. Ons gidse het ons aangespoor om deur die nou opening in die stene te beur, en ons het weldra in ’n gebukte posisie in ’n klein, donker ondergrondse vertrek gestaan. “Julle is in die tronk”, het ’n gids verduidelik. “Dit is waar gevangenes op Nan Madol aangehou is.” Stel jou voor hoe ’n gevangene gevoel het wanneer die tronk se “deur” met ’n rots van twee ton toegemaak is; ons was bly om weer buite te wees.

Ongewone boustene

Terwyl ons deur die ruïnes van Nan Madol geloop het, het ons begin besef hoeveel harde werk dit moes geverg het om dit te bou. Koraalpuin dien as fondamente van die eilandjies. Dit is ontwerp om swaar lae van lang basaltkolomme te dra. Die kolomme is so merkwaardig dat vroeë besoekers gedink het dat hulle so uitgekap is. Later is daar gevind dat hulle van nature soos ’n prisma gevorm is, elkeen met vyf tot agt sye.

Duisende megalitiese kolomme—waarvan party tot vyf meter lank is en meer as vyf ton weeg—moes ingebring word. Een van die hoekstene weeg na raming 50 ton! Aangesien ’n vlot in vlak water onder soveel gewig sal sink, wonder ’n mens onwillekeurig: ‘Hoe is hierdie enorme rotse na Nan Madol gebring en toe opgelig en in posisie geplaas?’ Die naaste basaltbron is kilometers daarvandaan—byna halfpad om die eiland Pohnpei!

Deur die jare heen het die raaisel van Nan Madol ’n paar verbeeldingryke legendes opgelewer. Volgens een legende het die gode baie eeue gelede aan twee broers die bonatuurlike vermoë gegee om met swaar rotse na die bouterrein te “vlieg”. Volgens ’n ander legende is Pohnpei vroeër deur ’n gevorderde gemeenskap bewoon wat geweet het hoe om klankgolwe te beheer, wat hulle in staat gestel het om die groot rotse in posisie te laat dryf.

Ons gidse het ons ’n geloofwaardiger verduideliking gegee—dat Nan Madol deur ’n groot arbeidsmag gebou is en dat dit eeue geneem het om te voltooi. Die basaltblokke is waarskynlik met brute krag in posisie gelig, en hellende palmboomstamme is moontlik as stutte gebruik. Maar ons wonder nog steeds: “Hoe is die swaar rotse na Nan Madol vervoer?”

Sal die raaisels opgelos word?

Niemand kan presies sê hoe Nan Madol gebou is, of, miskien selfs interessanter, waarom die inwoners dit verlaat het nie. Baie sê dat Nan Madol aangeval en verower is. Ander sê dat buitelanders siektes na Pohnpei gebring en die bevolking uitgedun het. Nog ’n teorie is dat ’n sterk tifoon die eiland se voedselvoorraad vernietig het, wat mense gedwing het om die eiland te verlaat. Wat ook al die rede, Nan Madol is al ten minste 200 jaar lank verlate.

Hierdie antieke wonder laat ons dus met baie vrae en min antwoorde. Toe ons boot wegvaar, kon ons nie anders nie as om te wonder: Sal enigiemand ooit die raaisels van Nan Madol oplos?

[Voetnoot]

a Pohnpei is naby die ewenaar, ongeveer 5 000 kilometer suidwes van Hawaii, geleë.

[Kaart op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Pohnpei

[Prent op bladsy 16]

Die dok en hoofingang van die vesting

[Prent op bladsy 17]

Die massiewe buitenste muur

[Prent op bladsy 18]

Die sentrale steengrafkelder

[Prent op bladsy 18]

’n Paar van die mensgemaakte kanale, wat 80 hektaar beslaan

[Erkenning]

© 2000 Nik Wheeler

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel