Wanneer lemoene nie oranje is nie
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË
WANNEER is lemoene nie oranje nie? Dit klink dalk na ’n snaakse vraag. Maar op die Italiaanse eiland Sisilië is die antwoord voor die hand liggend: “Wanneer hulle rooi is!”
Ons praat van Sisilië se bloedlemoene, wat so genoem word weens die opvallende kleur van hulle vleis, wat kan wissel van oranje met aartjies van robynrooi tot helderrooi tot helder karmynrooi tot byna swart daarin. Die skil is oranje met ’n tikkie rooi of pers glans, en die geur daarvan laat ’n mens se mond skoon water. Dit het ’n baie sterk smaak en proe vrank-soet, en party sê dit proe “’n klein bietjie na framboos”.
Sitrusvrugte word al van die ou tyd af in Italië gekweek. Lemoene het Sisilië waarskynlik teen die vierde eeu G.J. van Asië af bereik, maar dit was liggeel (nie-rooi), suur lemoene. Die soetlemoen is in die 14de en 15de eeu deur die Portugese na Europa gebring, en van daar is dit saam met ander sitrusvrugte na die Amerikas geneem. Dit was met die begin van die 20ste eeu dat bloedlemoene egter eers amptelik in Sisilië erken is.
Waarom rooi?
Alle lemoene bevat karoteen, dieselfde geeloranje kleurstof wat aan eiergele en wortels hulle kleur gee. Wat Sisiliaanse bloedlemoene van die Moro-, Tarocco- en Sanguinello-variëteite so anders maak, is dat hulle ’n rooi kleurstof antosianien vervaardig, wat ryp vrugte hulle kenmerkende rooi kleur gee.a Maar skuif ’n bloedlemoenboom van hier—’n beperkte gebied in die provinsies van Catania, Syracuse en Enna—en plant dit êrens anders, en die vrugte wat dit voortbring, is dalk glad nie eers rooi nie. Waarom nie? Wat is so spesiaal omtrent hierdie deel van oostelike Sisilië?
Nie al die faktore word verstaan wat by die vorming van antosianien in Sisiliaanse bloedlemoene betrokke is nie. Daar moet nog vasgestel word hoe grond die vrugte se pigmentasie, indien enigsins, beïnvloed. Terwyl die vrug ryp word, is ander faktore betrokke wat die vervaardiging van hierdie rooi kleurstof bevorder of verhinder. Daar is byvoorbeeld al gesien dat hulle die rooi glans begin kry wanneer die temperatuur snags koud is en daar bedags baie sonlig is. Wat die vrug se smaak betref, verseker oorvloedige sonskyn die vorming van die regte hoeveelheid eenvoudige suiker, terwyl matige reënval die vrug ’n sterk, onverdunde smaak gee.
Hierdie unieke samestelling van faktore is blykbaar verantwoordelik vir die eiesoortigheid van Sisiliaanse bloedlemoene. Soortgelyke vrugte is al gekweek in ander dele van suidelike Italië, sowel as in Spanje, Marokko, Florida en Kalifornië, maar daar word gesê dat niemand dit nog reggekry het om lemoene te kweek wat al die eienskappe van Sisilië se bloedlemoene het nie.
’n Vrug wat waardeer moet word
Behalwe hulle buitengewone kleur, het hierdie vrugte ook hoë voedingswaarde. Tarocco-lemoene het die hoogste vitamien C van alle sitrusvrugte. Net een middelslaglemoen is genoeg om die aanbevole daaglikse hoeveelheid van hierdie vitamien te voorsien. Bloedlemoene het na bewering baie voordele. Om net ’n paar daarvan te noem: ’n glas dik, vars uitgedrukte sap is ’n smaaklike en gesonde bron van maklik opneembare, eenvoudige koolhidrate, minerale en vesel wat energie verskaf. Dit is nie sonder rede dat Sisiliaanse sitruskwekers dus daarna streef om hulle unieke produk te beskerm en mense se waardering daarvoor te vergroot nie.
Fynproewers is daarvan oortuig dat hierdie Sisiliaanse vrugte “onder die wêreld se beste tafellemoene is weens hulle sterk smaak, ideale balans van suurgehalte en soetheid, asook ’n blywende nasmaak wat nie maklik beskryf kan word nie”. Eendag het jy dalk die geleentheid om self te besluit of jy hiermee saamstem.
Hoewel bloedlemoen betreklik onlangs verskyn het, is dit net een van ’n groot verskeidenheid keurige vrugte wat Jehovah vir die mens se genot geskep het. Vir enigiemand wat dus God se vrygewigheid waardeer, sal selfs die “vrugtebome . . . die Naam van die HERE loof”.—Psalm 148:9, 13; Genesis 1:29.
[Voetnoot]
a Karoteen en antosianien is dieselfde kleurstowwe wat bladwisselende bome in die herfs hulle geel, oranje en rooi kleur gee.—Sien die Ontwaak! van 22 September 1987, bladsye 16-18.