Herfs—’n Skouspelagtige tyd van die jaar
HERFS is ’n spesiale tyd van die jaar. In lande met ’n gematigde klimaat is dit ’n tyd wanneer die blou lug, sonnige dae en koel nagte saamwerk om die boomryke heuwels geleidelik in honderde skakerings van geel, oranje en rooi te laat verkleur. Dit is ’n tyd wanneer immergroen denne- en sederbome ’n stemmige agtergrond is vir die bladwisselende bome se helder skakerings van rooi en geel.
Herfs word veral in Oosterse lande soos Japan en Korea waardeer. Mense in Japan gaan dikwels “na die herfskleure soek”—hulle uitdrukking wat verwys na uitstappies in die herfs om die natuurskoon te bewonder.
Hierdie tyd van die jaar is baie nasionale parke in Korea op hulle mooiste. Koerante hou dus die publiek op hoogte van die beste tyd om die herfskleure te sien. Soraksan, een van Korea se bekendste nasionale parke, is besonder gewild. Die granietkranse en toringhoë rotsformasies wat met dennebome getooi is, is blykbaar ’n tipiese Oosterse landskap. In die herfs word die granietrotse van Soraksan as ’t ware met ’n bloedrooi halssnoer van beuke- en esdoringbome versier. En wanneer hierdie pieke bo ’n see van oggendmis uittroon, word die persoon wat vroeg opstaan, met ’n onvergeetlike gesig beloon.
“Ek geniet dit altyd om in die berge te gaan stap, maar veral in die herfs”, verduidelik Park Ii-kjoen, ’n lewenslustige Koreaan in sy sewentigerjare. “In die herfs lyk dit of God die heuwels met baie kleure versier—kleure wat van dag tot dag verander, kleure wat selfs helderder word onder ons wolklose herfshemel.” Sy vrou, Kông-joeng, geniet dit om te kyk hoe herfsblare soos goue skoenlappers grond toe fladder.
Waarom verander blare van kleur?
Leergieriges wil graag weet waarom hierdie kleurvolle verandering plaasvind. Wat bepaal of ’n blaar geel of rooi gaan word?
Herfskleure maak deel uit van die proses waartydens bome vir die winter voorberei. Die korter herfsdae gee die boom ’n aanduiding dat dit tyd is om die toevoer van water en voedingstowwe na die blare te begin afsny. Elke blaar reageer hierop deur ’n afsnydingslaag onderaan die blaarsteel te vorm. Hierdie laag—wat uit ’n kurkagtige stof bestaan—keer dat enige sirkulasie tussen die blaar en die res van die boom plaasvind en veroorsaak dat die blaar uiteindelik van die boom afval.
Terwyl hierdie proses plaasvind, gee karotenoïede pigmente aan blare hulle geel en oranje kleur. Hierdie pigmente is gewoonlik gedurende die hele somer teenwoordig, maar kan weens die oorheersende groen chlorofil in die blare nie gesien word nie. Daarenteen word die rooi kleur hoofsaaklik voorsien deur antosianien, ’n pigment wat die blare eers in die herfs vervaardig. Gedurende die herfs gaan die chlorofil tot niet, en die geel en rooi pigmente word dan sigbaar. Wanneer daar nie meer chlorofil oor is nie, word ’n populierblaar heldergeel, maar ’n esdoringblaar helderrooi.
Op soek na ’n skouspelagtige herfs
Die meeste natuurliefhebbers het al gesien dat die herfskleure van jaar tot jaar en van plek tot plek ietwat verskil. Dit het baie te doen met die soort bladwisselende bome in die gebied. Verskillende soorte esdoringbome bring byvoorbeeld die pragtigste skakerings van rooi voort. In die Ooste groei baie van hierdie bome in die natuur, en hulle word dikwels in parke en tuine geplant.
Nog ’n faktor is die klimaat—die hoeveelheid antosianien wat deur die blare vervaardig word, hang baie van die weer af. Wolklose sonskyndae en koel nagte stel die blare in staat om die meeste antosianien te vervaardig. Hierdie toestande is algemeen in die herfs in die Verre-Ooste. Japan en Korea is bergagtige lande. Baie van die heuwels is met ’n verskeidenheid bladwisselende bome bedek, wat besoekers die ideale geleentheid gee om na die herfskleure te kyk.
’n Vindingryke herwinningsproses
Die hele proses waartydens bome hulle blare verloor, is prakties sowel as pragtig. Deur hulle blare te laat afval, bewaar die bome water en energie gedurende die winter. Hulle raak ook ontslae van giftige afvalstowwe wat gedurende die somer in die blare opbou.
Wat word van die miljarde blare wat op die grond val? Danksy insekte, swamme, wurms en ander diertjies in die grond word al hierdie organiese stowwe gou omgesit in humus, wat ’n noodsaaklike deel van vrugbare grond uitmaak. Nadat die blare ’n pragtige skouspel voorsien het, word dit ook bemesting wat nuwe groei in die lente moontlik maak! Kan jy jou ’n vindingryker herwinningsproses voorstel? Wanneer ’n mens stilstaan om sulke skeppingswerke te bewonder, kry jy die gevoel dat ‘die bome van die veld hande klap’ terwyl hulle hulle Maker stilswyend loof.—Jesaja 55:12; Psalm 148:7-9.