Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 3/8 bl. 18-20
  • My stryd teen ’n aftakelende siekte

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My stryd teen ’n aftakelende siekte
  • Ontwaak!—2001
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is interstisiële sistitis?
    Ontwaak!—2001
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2001
  • Vooruitgang in die behandeling van pyn
    Ontwaak!—1994
  • My stryd om met RSD saam te leef
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 3/8 bl. 18-20

My stryd teen ’n aftakelende siekte

SOOS VERTEL DEUR TANYA SALAY

Tot ’n paar jaar gelede was ek ’n baie bedrywige ma en ’n voltydse bedienaar in die dorpie Luverne, Alabama. Die lewe hier is vreedsaam en rustig. Dit het gelyk of alles goed gaan vir my en vir my man, Duke, en my jong seun, Daniel. Toe het ’n eenvoudige operasie tot ’n groot verandering in ons lewenswyse gelei.

ONS probleme het in 1992 begin toe ek ’n histerektomie gehad het. Ek het kort daarna verskriklike pyn bly kry en gereeld (50 tot 60 maal per dag) geürineer. My ginekoloog het uiteindelik vir my ’n afspraak by ’n uroloog gemaak in ’n poging om die oorsaak van die probleem vas te stel.

Ek het vir toetse na ’n hospitaal toe gegaan. Met my eerste besoek het die uroloog my probleem vasgestel—interstisiële sistitis (IS), of aftakelende blaasontsteking. Dit was nie maklik om hierdie diagnose te maak nie, aangesien die simptome van IS ooreenkom met ander blaaskwale. Daarbenewens is daar geen spesifieke toets om IS vas te stel nie. Daarom moet dokters ander toestande uitsluit voordat ’n diagnose van IS aanvaar word.

Aangesien behandeling van weinig nut is, het ons dokter prontuit gesê dat die blaas uiteindelik verwyder moes word! Hy het gesê dat daar ander vorme van behandeling is, maar dat dit alles onsuksesvol is. ’n Mens hoef seker nie te sê dat dit nogal vir ons ’n harde slag was nie. Ek was tot en met hierdie tyd taamlik gesond. As Jehovah se Getuies was ek en Duke al ’n aantal jare in die voltydse bediening, en nou is daar vir my gesê dat my blaas verwyder moes word. Ek is bly dat my man my goed ondersteun het.

Ons het besluit om na ’n ander uroloog te gaan. Ons het verskeie dokters geraadpleeg. Ongelukkig het baie dokters destyds baie min omtrent IS geweet. Baie uroloë het ook hulle eie teorieë omtrent IS, en daarom verskil die behandeling wat hulle voorstel van die een dokter tot die ander. ’n Mediese tydskrif sê: “Die siekte is geneig om chronies te wees.” ’n Ander bron sê: “Wetenskaplikes het nog nie ’n geneesmiddel vir IS gevind nie, en hulle kan ook nie voorspel wie die beste op ’n sekere behandeling sal reageer nie. . . . Omdat dokters nie weet wat IS veroorsaak nie, is behandeling daarop gemik om simptome te verlig.”

Ek het soveel pyn gehad weens die krampe en die gereelde urinering dat ek gewillig was om byna enigiets te probeer wat die dokters voorgestel het. Ek het al oor die 40 verskillende soorte medikasie gebruik sowel as kruie, akupunktuur, senuweeblokke, epidurale inspuitings en transhuid- elektriese senuweestimulerings (TENS), waartydens matige elektriese trillings die liggaam minute of ure lank binnegaan. Ek het soveel navorsing gedoen as wat ek kon, wat my ten minste gehelp het om ’n bietjie meer te verstaan oor wat besig was om te gebeur.

Op die oomblik gebruik ek metadoon, ’n pynstiller, saam met ses soorte medikasie. Ek gaan ook gereeld na ’n pynkliniek, waar ek gewoonlik epidurale inspuitings saam met steroïede kry wat my help om die pyn te verduur. Vir die gereelde urinering gaan ek ongeveer elke drie tot vier maande na die hospitaal toe vir ’n prosedure wat hidrodistensie genoem word, waartydens vloeistof gebruik word om die blaas soos ’n ballon uit te rek. Ek het dit al ’n hele paar keer laat doen. Dit gee my gewoonlik ’n paar maande lank verligting. Gedurende die afgelope paar jaar was ek al meer as 30 keer in en uit die hospitaal.

Wat van die finale oplossing, die verwydering van die blaas? ’n Gesaghebbende sê: “Die meeste dokters is onwillig om te opereer omdat die resultaat van individuele pasiënte onvoorspelbaar is—sommige mense ondergaan ’n operasie en het nog steeds simptome.” Daarom oorweeg ek op die oomblik nie hierdie opsie nie.

Soms is die aanhoudende pyn so erg dat dit maklik sou wees om moed op te gee. Die gedagte om dit alles te beëindig, het selfs al by my opgekom. Maar ek sidder om te dink watter skande so ’n daad op Jehovah se naam sou bring. Ek kan die belangrikheid van gebed en persoonlike studie sien sowel as om ’n hegte verhouding met Jehovah op te bou, want jy weet nooit wat dalk gebeur wat jou lewe sal verander nie. Hierdie verhouding het letterlik my lewe gedurende my siekte gered, aangesien ek weet dat ek andersins sou selfmoord pleeg.

As ek op hierdie nege jaar terugkyk, sien ek hoe vinnig die lewe kan verander. Ek waardeer die woorde van Prediker 12:1 wat sê: “En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie.” Ek is so dankbaar dat ek die voltydse bediening betree het toe ek 15 jaar oud was en dat ek byna 20 jaar lank daarmee kon aanhou. Gedurende daardie tyd het ek ’n hegte verhouding met Jehovah opgebou.

Ek is dankbaar teenoor Jehovah vir my man en my seun, Daniel, wat my so onderskraag het. Dit is ook baie aanmoedigend wanneer die broers in die gemeente my bel of my kom besoek. Dit is vir my baie moeilik om in die winter uit te gaan omdat die koue die krampe vererger. Dan doen ek telefoongetuieniswerk, wat die hoop van die Paradys vir my lewendig en werklik hou. Ek sien uit na die tyd wanneer siekte en lyding iets van die verlede sal wees en nie onthou sal word nie.—Jesaja 33:24.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel