Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 3/8 bl. 20-22
  • Wat is interstisiële sistitis?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is interstisiële sistitis?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verligting, maar nie genesing nie
  • Hoop vir die toekoms
  • My stryd teen ’n aftakelende siekte
    Ontwaak!—2001
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2001
  • Hospitale—Wanneer jy ’n pasiënt is
    Ontwaak!—1991
  • Dokters onder druk
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 3/8 bl. 20-22

Wat is interstisiële sistitis?

EENVOUDIG gestel: sistitis is ontsteking van die blaas. Dit kom algemener by vroue as by mans voor. Daar is egter baie vorme van sistitis, met ’n verskeidenheid oorsake.

Wat is van die algemene simptome? Die behoefte om dikwels te urineer, asook disurie, pyn wanneer jy urineer, soos ’n intense brandgevoel. Maar wat van chroniese interstisiële sistitis (IS)? Wat is die verskil?a

Dr. Susan Keay, ’n spesialis op die gebied, erken: “Dit is baie moeilik om IS te diagnoseer, en selfs moeiliker om dit te behandel.” Sy voeg by dat hierdie siekte “jare van lyding kan beteken. IS is ’n uiters pynlike, langdurige probleem wat jou lewenstyl verander en dekades lank kan voortduur.” Ongelukkig het baie dokters lank nie hierdie siekte erken nie en geïnsinueer dat dit alles die pasiënt se verbeelding was. Maar soos een dokter sê: “Dit het dikwels ’n terapeutiese uitwerking om ’n pasiënt se simptome te regverdig deur IS te diagnoseer.”

Een verslag sê dat meer as 700 000 mense in die Verenigde State IS het, “wat 50 persent meer is as wat vroeër berig is”. Party mans word blykbaar met ’n prostaatprobleem gediagnoseer, wanneer dit in werklikheid IS is. Die siekte raak natuurlik baie mense indirek—veral die naasbestaandes en ander wat saam met hierdie pasiënte bly wat byna voortdurend in pyn verkeer. Die siekte verminder natuurlik die sieke se bydrae by die huis sowel as by die werksplek. Trouens, baie moet ophou werk. Geslagsomgang kan ook vir die pasiënt baie pynlik wees.

Aangesien daar nog nie ’n geneesmiddel is nie, is al die dokter se pogings daarop gemik om die pynlike simptome te verlig. Wat is party vorme van behandeling?

Verligting, maar nie genesing nie

’n Vername vorm van behandeling wat dr. Grannum R. Sant, aan die Mediese Fakulteit van die Universiteit van Tufts en Nieu-Engeland se Mediese Sentrum, aanbeveel, is die gebruik van antihistamiene, trisikliese antidepressante of pentosaanpolisulfaat, wat mondelings ingeneem word.b

Sommige dokters beveel hidrodistensie aan, wat in die vorige artikel bespreek is. Elke behandeling kan ’n paar maande en miskien tot ’n jaar verligting bied. Dan is daar intravesikale (binne die blaas) dimetielsulfoksied-terapie (DMSO). DMSO, wat deur die Amerikaanse Voedsel- en Medisyneraad goedgekeur is, kan simptome tot twee jaar lank verminder. Dr. Kenneth Peters, ’n uroloog, het egter bedenkinge oor hierdie behandeling, aangesien dit ernstige bloedklonte en ander probleme kan veroorsaak.

’n Onlangse behandeling in loodsondersoeke deur dr. Peters behels die gebruik van intravesikale Calmette-Guérin-basil (CGB). “CGB is ’n swakker soort tuberkulosebakterie”, skryf hy. Dit lyk of dit werk deur die immuunstelsel te versterk. ’n Beheerde proefneming het getoon dat daar in 60 persent van die gevalle ’n kliniese reaksie op hierdie behandeling is. Die pasiënte se vooruitgang is twee jaar lank gemonitor. Die gevolg? Dr. Peters sê dat 90 persent van diegene wat op die behandeling gereageer het, “steeds merkbare kliniese verbetering getoon het wat pyn sowel as die behoefte om te urineer, betref”.

Party pasiënte verkry verligting wanneer hulle die middel Elmiron gebruik. Volgens dr. Raymond Hurm “help [die middel] in der waarheid om die blaaswand te herstel”. Dit neem tyd, maar soos een pasiënt gesê het: ‘Met Elmiron is dit makliker om my blaassiekte te verduur.’

’n Ander vorm van behandeling wat op die proef gestel word, is Sististat of hialuroonsuur. “Hierdie medikasie word direk in die blaas toegedien en werk glo deur die beskadigde GAG-wand van die blaas [glukoaminoglikaan] te vervang. . . . Kliniese proefnemings begin nou [1998] in Amerika. Die doeltreffendheid daarvan is tans nog nie bekend nie.” Dit is al vir gebruik in Europa goedgekeur, maar dit is nog nie in die Verenigde State goedgekeur nie.

Beth Getz, wat ’n geregistreerde verpleegster en ’n leidster van ’n ondersteuningsgroep vir pasiënte met IS is, het geskryf: “Soms is pasiënte huiwerig om dokters oor alternatiewe terapieë uit te vra . . . , want hulle dink dat dit dalk te kenne sal gee dat die tradisionele sorg wat hulle kry onvoldoende is. Vandag glo die meeste uroloë wat pasiënte met IS behandel aan verskeie benaderings, insluitende alternatiewe terapieë, mits hierdie vorme van behandeling nie die pasiënt se lewe in gevaar stel nie.”

’n Ander benadering vir diegene met chroniese bekkenpyn is behandeling in ’n pynkliniek. Behandeling sluit dalk die volgende in: transhuid- elektriese senuweestimulering, wat in die vorige artikel beskryf is; senuweeblokke; akupunktuur; sielkundige berading en funksionele herstelprogramme.

Ontwaak! het met dr. Peters, wat vroeër aangehaal is, gesels oor die probleme van pasiënte wat 40 of 50 keer per dag moet urineer. Hy het voorgestel dat ’n kruisbeensenustimuleerder gebruik word, wat besoeke aan die toilet tot ongeveer ses per dag kan verminder. As ’n pasiënt die InterStim-terapiestelsel, soos dit in Amerika bekend staan, wil gebruik, word ’n klein toestelletjie in die onderlyf ingeplant. Dit stuur geringe elektriese trillings na die kruisbeensenuwee, wat die blaas beheer.

’n Operasie, wat as die finale oplossing beskou word, verseker nie sukses nie. “Die resultate van ’n blaasoperasie vir IS is onvoorspelbaar”, sê dr. Sant. “Baie pasiënte wat ’n sistektomie ondergaan, kla nog steeds van aanhoudende suprapubiese en bekkenpyn, selfs ná ’n operasie.” Die raad wat deskundiges gevolglik gee, is: Moenie die blaas oorhaastig deur ’n operasie laat verwyder nie, behalwe as ’n laaste uitweg en ná sorgvuldige oorweging.

Hoop vir die toekoms

Die Vereniging vir Interstisiële Sistitis van Rockville, Maryland, VSA, sê: “Hoewel dit onwaarskynlik is dat navorsers ’n spesifieke geneesmiddel sal vind om alle IS-pasiënte te help, is dit hoogs waarskynlik dat al hoe meer pasiënte gehelp sal word deur die ontwikkeling van nuwe diagnostiese tegnieke, nuwe keuses van behandeling en nuwe samestellings van behandeling. Sodra die oorsaak (of oorsake) van IS duidelik verstaan word, sal ons baie nader aan ’n geneesmiddel (of geneesmiddels) wees.” Miljoene IS-pasiënte wêreldwyd sal bly wees om dit te hoor!

[Voetnote]

a ’n Ander vorm van IS is ulseratiewe IS, wat ook as Hunner se sweer bekend staan. Dit word uitgeken aan kolle of swere wat al die lae van die blaaswand aantas.

b Ontwaak! staan nie enige vorm van behandeling voor wat bespreek is nie. In alle gevalle beveel ons aan dat jy jou eie dokter raadpleeg in verband met enige vorm van behandeling of medikasie. Ontwaak! probeer die leser inlig oor die beskikbare mediese behandeling volgens dokters en ander deskundiges.

[Venster op bladsy 21]

Emosionele ondersteuning

Deskundiges sê dat die emosionele ondersteuning van familielede, vriende en ander IS-lyers die pasiënt met IS grootliks help om met die siekte saam te leef. En pasiënte wat meer omtrent hulle siekte leer en in hulle eie versorging belangstel, maak gewoonlik beter vooruitgang.

[Venster op bladsy 22]

Kossoorte wat vermy moet word

Hoewel daar geen kliniese wetenskaplike bewys is wat dieet met IS verbind nie, het baie dokters en pasiënte wel ’n verband opgemerk. Dr. Kenneth Peters, ’n uroloog, sê dat sommige pasiënte vir sekere kossoorte gevoelig is en dat elkeen moet vasstel watter kossoorte die simptome vererger. Hy stel voor dat kafeïen en alkohol uitgeskakel moet word. Dit lyk ook of tamaties en sitrusvrugte skadelik vir die IS-pasiënt is. Dit is egter belangrik dat die pasiënt ’n gebalanseerde dieet handhaaf wat ’n verskeidenheid kossoorte insluit. Party IS-pasiënte sê dat hulle die minste probleme het met rys, aartappels, pasta, groente, vleis en hoender. Deur ook baie water te drink, verdun die pasiënt die suurgehalte van die urine en verminder dit sodoende irritasie van die blaaswand.

Die volgende is ’n gedeeltelike lys van kossoorte om te vermy.

Aarbeie

Ansjovis

Appelkose

Appels

Aspartaam

Asyn

Avokado’s

Boerboontjies

Bosbessie/-sap

Brood met suurdeeg

Druiwe

Gaskoeldrank

Gekruide kos

Gemorskos

Granate

Jogurt

Kaalperskes

Kaviaar

Lewer

Limaboontjies

Mayonnaise

Neute

Nitrate/nitriete

Perskes

Piesangs

Pruime

Pynappels

Rabarbers

Rogbrood

Sakkarine

Sitrussoda

Sjokolade

Slaaisous

Sojasous

Soutbeesvleis

Spanspek

Suurroom

Tabak

Tee

Tofoe

Uie

Verouderde kaas

Verwerkte vleis/vis

[Erkenning]

Urologic Nursing, April 2000, Bundel 20, Nommer 2

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel