Die matatu—Kenia se kleurvolle vervoermiddel
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA
’N BESOEKER aan Kenia raak altyd liries wanneer hy sy toer beskryf. Die matriarg van ’n olifanttrop, ’n indrukwekkende leeu en ’n pragtige rooi sonsondergang is tonele wat die reisiger altyd duidelik sal bybly. Hier is ’n eindelose verskeidenheid van natuurprag. Maar op al die paaie in die gebied is daar ’n heel ander aantrekking—die onvoorspelbare matatu. Hierdie naam verwys na ’n versameling voertuie wat vir openbare vervoer gebruik word. Hulle fassinerende kenmerke het hulle ’n uiters gewilde vervoermiddel in Kenia gemaak.
Die oorsprong van die matatu is net so interessant soos die diens wat dit lewer. Die eerste van sy soort was ’n afgeleefde Ford Thames-model, wat oorgebly het van die vloot voertuie wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur Britse soldate in Etiopië gebruik is. In die vroeë 1960’s het ’n inwoner van Nairobi hierdie rammelkas gebruik om vriende gereeld na die middestad te vervoer en hulle gevra om elkeen ’n skamele 30 sent vir die brandstof by te dra.a Kort daarna het ander gesien dat ’n mens geld kon maak met die ou voertuie. Baie is dus omskep in voertuie wat 21 passasiers kon vervoer, met drie parallelle houtbanke wat as sitplekke gebruik is. Dit was soortgelyk aan die ou bolekajas van Nigerië. Elkeen het die oorspronklike reisgeld van drie 10-sent-muntstukke per rit betaal. Dit verduidelik moontlik waarom die voertuie die naam matatu gekry het—van ’n Swahili-woord tatu, wat “drie” beteken. Sedertdien het die matatu ’n algehele verandering ondergaan, sodat die huidige modelle skaars ooreenkom met hulle rammelende voorgangers. Ja, vandag se matatu is ’n spoggerige voertuig wat deur ’n dagblad van Kenia as ’n “vaartbelynde en reënboogkleurige vuurpyl” beskryf is. Dit is nie die produk van die sestigerjare se klein nywerheid nie!
Dit kan ’n opwindende ondervinding wees om in ’n matatu te ry, veral wanneer die bestuurder deur die swaar stadsverkeer vleg! Kom ons gaan ry ’n entjie deur Nairobi in ’n matatu om te sien hoe dit voel.
’n Fassinerende rit
Ons tog sal begin by die staanplek vir tientalle van hierdie voertuie, waar hulle wag om in verskillende rigtings te vertrek. Dit is eenuur die middag, en die plek is ’n miernes van bedrywigheid, met mense wat die spesifieke matatu probeer vind wat hulle na hulle bestemming sal neem. Van die passasiers wil na die binneland reis, ’n rit wat ’n paar uur sal neem. Ander wil net ’n paar kilometer uit die middestad wees, dalk om gou iets te gaan eet. Die matatu is net wat hulle nodig het.
Het jy opgemerk dat die meeste van hierdie voertuie met verskeie helder kleure spog? Wel, dit is nie net om hulle aantreklik te laat lyk nie. Daar is klante wat verkies om in die mooiste matatu te ry. Wanneer ’n mens die voertuie van naderby bekyk, sien jy ook dat verskeie name op die kante geverf is. Party is oor huidige onderwerpe—byvoorbeeld, “El Nino”, “Millennium”, “The Website”, “Internet” en “Dot Com”. Ander soos “Meek” en “Missionary” dui op begeerlike menslike eienskappe of prestasies. Die voertuig wat die naaste aan die spoggerige voorkoms van die matatu kom, is die jeepney van die Filippyne. Interessant genoeg, die jeepney is ook ’n oorblyfsel van die Tweede Wêreldoorlog.
Die versoeke wat oor en weer deur passasiers uitgeroep word, veroorsaak ’n groot lawaai. Al is daar duidelike tekens op die voorruite van die voertuie wat hulle roetes aandui, skree die kondukteurs luidkeels terwyl die bestuurders deuntjies met die toeters blaas. Moenie verbaas wees as jy die tekens “Jerusalem” of “Jericho” op party matatu’s sien nie. As jy in een van hulle klim, sal jy nie in die Midde-Ooste aankom nie, maar in die oostelike voorstede van Nairobi wat hierdie Bybelname het. Met die kondukteurs wat klante in bykans elke matatu wil laat inklim, is dit geen wonder dat baie dit moeilik vind om te kies met watter een hulle wil ry nie!
Welkom aan boord die Strawberry! Hopelik sal die rit net so soet soos ’n aarbei wees. Dit lyk asof baie hierdie matatu verkies, want binne net ’n paar minute is dit vol. Sagte musiek wat deur klein luidsprekers in die dak kom, het ’n kalmerende uitwerking op die passasiers. Maar moenie dink dat dit waar is van alle matatu’s nie. Sommige het glo groot luidsprekers onder die sitplekke, waaruit oorverdowende musiek kan kom. Wel, meer as tien minute het al verloop sedert al die sitplekke geneem is. Nogtans het ons matatu nog nie ’n sentimeter beweeg nie. Waarom die oponthoud? Die gangetjie tussen die rye sitplekke moet nog met staande passasiers gevul word. Kort voor lank is daar skaars plek om jou te draai. Trouens, die matatu sal heel waarskynlik verskeie kere op die roete stilhou om nog passasiers op te laai.
Uiteindelik kom ons in beweging. Volslae vreemdelinge praat land en sand met mekaar, hoofsaaklik oor alledaagse sake. Dit is soos ’n markplein. Maar pasop dat jy nie té verdiep raak in die gesprek nie. Sommige het al vergeet om by hulle bestemming af te klim omdat hulle so betrokke geraak het by hierdie besprekings.
Ons het genoem dat ’n matatu onvoorspelbaar is. Dit hoef nie by ’n sekere roete te bly nie. Om ’n spertyd te haal waarop ’n bestuurder self besluit het, sal hy enige beskikbare ruimte gebruik, onder andere die sypaadjie wat vir voetgangers bedoel is—soms mis hy party van hulle net-net. Intussen het die kondukteur sy hande vol. Hy probeer reisgeld van die luidrugtige passasiers insamel, waarvan sommige nie hulle samewerking gee nie. Maar hy luister nie na ’n gekibbel nie. Die passasier moet betaal of die matatu stop onmiddellik en hy word vertel om af te klim—soms op ’n onvriendelike trant! Die kondukteur waarsku die bestuurder as mense wil afklim, terselfdertyd kyk hy of ander wil opklim. Hy maak die bestuurder daarop attent deur te fluit, teen die dak te klop of ’n klokkie te druk wat op ’n gerieflike plek naby die deur is. Al is daar bepaalde stilhouplekke vir alle openbare voertuie, kan die matatu enige tyd op enige plek stilhou om passasiers op of af te laai.
Die middestad lê agter ons, en ons is nou in ’n klein voorstad, waar die meeste passasiers afklim. Dit is tyd vir die matatu se terugtog na die staanplek waar ons opgeklim het. Dit sal ander mense langs die pad oplaai. Hulle sal dieselfde dinge as ons ondervind. Al was ons rit in die Strawberry maar stamperig, het ons dit beslis geniet.
Hier om te bly
Met gemiddeld 30 000 voertuie het die matatu-vervoerbedryf in Kenia, wat dekades gelede begin het met ’n voertuig wat uit die oorlog oorgebly het, homself tot ’n florerende multimiljoenrandbedryf opgebou. Maar sy onvoorspelbaarheid het probleme geskep. Die bestuurders is byvoorbeeld daarvan beskuldig dat hulle nie verkeerswette gehoorsaam wat op ander motoriste van toepassing is nie, en baie regulasies is deur die owerheid ingestel om die bedryf in te kort. Die bedryf het nou en dan op sulke pogings gereageer deur hulle dienste te staak, en sodoende duisende mense wat elke dag op matatu’s moet staatmaak, verontrief. Hoewel almal dalk nie van die manier hou waarop die matatu’s hulle dienste lewer nie, voorsien hierdie voertuie wel ’n alternatiewe, vinnige vervoerdiens vir die lae-inkomstegroep van hierdie streek.
[Voetnoot]
a Die sjieling, Kenia se basiese geldeenheid, word in 100 Keniaanse sente verdeel. Een rand is sowat 10 sjielings werd.
[Prent op bladsy 22, 23]
’n Ford Thames-model
[Erkenning]
Noor Khamis/The People Daily