Vraebus
◼ Is dit gepas om by te dra vir vervoer wat deur ander voorsien word?
Party van ons het omstandighede wat vereis dat ons op ander staatmaak om gereeld die vergaderinge by te woon en velddiens te doen. Baie broers en susters word deur liefde beweeg om moeite te doen en hulle tyd, motors en ander middele te gebruik om ons van vervoer te voorsien. Hoewel hulle dalk vroeër moet klaarmaak as wat hulle andersins sou en heelwat later terugkeer huis toe, voorsien hulle die vervoer met ’n gewillige gees.
Soos in elke ander aspek van ons Christelike bediening is die beginsel in Galasiërs 6:5 van toepassing: “Elkeen sal sy eie vrag dra.” As iemand ons derhalwe gereeld van vervoer voorsien, moet ons ons waardering nie net deur ons woorde toon nie, maar ook, as ons moontlik kan, deur ’n redelike bydrae om na die betrokke uitgawes te help omsien.—Matt. 7:12; 1 Kor. 10:24.
Selfs al vra die persoon wat sy voertuig gebruik nie vir finansiële hulp nie en al lyk dit ook nie of hy dit nodig het nie, word die opregte aanbod om ’n bydrae te maak altyd waardeer. Die bestuurder weier dalk om enigiets te aanvaar; en dit moet natuurlik ’n besluit wees wat hy self neem. Maar dit is gepas vir jou om die aanbod te maak. As jy op die oomblik nie in staat is om enigiets by te dra nie, kan jy dit in gedagte hou; wanneer jy weer saamry, sal jy dalk iets ekstra kan aanbied.—Luk. 6:38.
Dit is baie liefdevol van diegene wat voertuie het om vervoer te voorsien aan ander wat andersins nie in staat sou wees om vergaderinge by te woon of aan die velddiens deel te neem nie (Spr. 3:27). Terselfdertyd is dit ook liefdevol van diegene wat baat vind by sulke goedhartigheid om hulle dank te betuig deur by te dra in ooreenstemming met hulle omstandighede.—Kol. 3:15.