Die Bybel se beskouing
Moet Christene aan Nuwejaarsvieringe deelneem?
“DIE middag voor Oujaarsaand is buitengewoon rustig”, sê Fernando, ’n dokter in Brasilië. “Dan, omstreeks 11 uur, begin hulle opdaag—die een pasiënt na die ander met steek- of skietwonde, tieners wat in motorongelukke beseer is en mishandelde vrouens. Alkohol is byna altyd ’n faktor.”
’n Mens kan dus heel goed verstaan waarom een Brasiliaanse tydskrif die eerste dag van die jaar internasionale babbelasdag genoem het. ’n Europese nuusagentskap sê dat “Nuwejaarsdag vir die deeltydse hedonis bedoel is” en voeg by dat dit “nog ’n rondte in die ewige stryd tussen die mens en alkohol” is.
Nie almal vier Nuwejaarsdag natuurlik deur baie te drink en gewelddadig te wees nie. Trouens, baie het aangename herinneringe van die geleentheid. “As kinders kon ons skaars wag vir Oujaarsaand”, sê Fernando, wat vroeër aangehaal is. “Daar was altyd baie speletjies, kos en drinkgoed. Om middernag het ons mekaar omhels, gesoen en ’n ‘gelukkige Nuwejaar!’ toegewens.”
Vandag voel baie mense eweneens dat hulle aan Nuwejaarsvieringe deelneem sonder om oorboord te gaan. Dit sal nogtans goed wees as Christene die oorsprong en betekenis van hierdie gewilde viering ondersoek. Is Nuwejaarsvieringe in stryd met Bybelleringe?
Feite uit die verlede
Nuwejaarsvieringe is niks nuuts nie. Antieke inskripsies toon dat dit reeds in die derde millennium v.G.J. in Babilon gehou is. Die viering, wat in die middel van Maart gehou is, was uiters belangrik. “Die god Mardoek het dan die land se lot vir die volgende jaar bepaal”, sê The World Book Encyclopedia. Die Babiloniese nuwejaarsviering het 11 dae geduur en het offerandes, optogte en vrugbaarheidsritusse ingesluit.
Die Romeine het ook ’n tyd lank hulle jaar in Maart begin. Maar in 46 v.G.J. het keiser Julius Caesar bepaal dat dit op die eerste Januarie moet begin. Daardie dag was alreeds gewy aan Janus, die god van ingange, en nou sou dit ook die eerste dag van die Romeinse jaar wees. Die datum het verander, maar die karnavalatmosfeer het voortgeduur. Volgens McClintock en Strong se Cyclopedia het mense hulle op die eerste Januarie “aan losbandige oordadighede en verskillende soorte heidense bygelowe oorgegee”.
Bygelowige ritusse speel selfs vandag ’n rol in Nuwejaarsvieringe. In sekere gebiede van Suid-Amerika verwelkom baie mense byvoorbeeld die Nuwejaar terwyl hulle op hulle regterbeen staan. Ander blaas horings en skiet klappers. Volgens ’n Tsjeggiese gebruik is Oujaarsaand ’n tyd om lensiesop te eet, terwyl mense volgens ’n Slowaakse tradisie geld of visskubbe onder die tafeldoek sit. Sulke ritusse, wat bedoel is om teëspoed af te weer en om voorspoed te verseker, laat eenvoudig die eertydse opvatting voortbestaan dat die begin van die jaar ’n tyd is om ’n mens se lot te bepaal.
Die Bybelse beskouing
Die Bybel vermaan Christene om ‘welvoeglik te wandel, nie in swelgerye en dronkenskap nie’ (Romeine 13:12-14; Galasiërs 5:19-21; 1 Petrus 4:3).a Aangesien Nuwejaarsvieringe dikwels gekenmerk word deur die einste oordadighede wat die Bybel veroordeel, neem Christene nie daaraan deel nie. Dit beteken nie dat Christene pretbederwers is nie. Inteendeel, hulle weet dat die Bybel herhaaldelik vir aanbidders van die ware God sê om vreugdevol te wees—en wel om verskeie redes (Deuteronomium 26:10, 11; Psalm 32:11; Spreuke 5:15-19; Prediker 3:22; 11:9). Die Bybel erken ook dat kos en drank dikwels met vreugde gepaardgaan.—Psalm 104:15; Prediker 9:7a.
Maar soos ons gesien het, het Nuwejaarsvieringe hulle oorsprong in heidense gebruike. Valse godsdiens is onrein en ’n gruwel in die oë van Jehovah God, en Christene verwerp gebruike wat daaruit voortspruit (Deuteronomium 18:9-12; Esegiël 22:3, 4). Die apostel Paulus het geskryf: “Watter gemeenskap het regverdigheid en wetteloosheid? Of watter deelgenootskap het lig met duisternis? Watter ooreenstemming is daar voorts tussen Christus en Belial?” Paulus het tereg bygevoeg: “Hou op om wat onrein is aan te raak.”—2 Korintiërs 6:14-17a.
Christene besef ook dat deelname aan bygelowige ritusse nie geluk en voorspoed verseker nie—veral aangesien hulle hulle daardeur God se onguns op die hals kan haal (Prediker 9:11; Jesaja 65:11, 12). Daarbenewens vermaan die Bybel Christene om matigheid en selfbeheersing aan die dag te lê in alles wat hulle doen (1 Timoteus 3:2, 11). Dit sou beslis verkeerd wees van iemand wat bely dat hy Christus se leringe volg, om aan ’n viering deel te neem wat deur losbandige oordadigheid gekenmerk word.
Al lyk Nuwejaarsvieringe ook hoe aanloklik, die Bybel sê ons moet ‘ophou om wat onrein is aan te raak’ en “ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees reinig”. Aan dié wat gehoorsaam is, gee Jehovah die hartverblydende waarborg: “Ek sal julle inneem. . . . Ek sal vir julle ’n vader wees, en julle sal vir my seuns en dogters wees” (2 Korintiërs 6:17b–7:1). Trouens, hy belowe ewige seëninge en voorspoed aan diegene wat lojaal teenoor hom is.—Psalm 37:18, 28, NW; Openbaring 21:3, 4, 7.
[Voetnoot]
a Paulus se verwysing na “swelgerye en dronkenskap” het dalk dié ingesluit wat gedurende die Nuwejaarsvieringe plaasgevind het, aangesien dit gedurende die eerste eeu gewild was in Rome.