Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 3/8 bl. 26-27
  • Skuldgevoelens—Is dit altyd ongewens?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Skuldgevoelens—Is dit altyd ongewens?
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is ’n skuldgevoel?
  • Skuldgevoelens kan nuttig wees
  • ’n Gebalanseerde beskouing van skuldgevoelens
  • Ek voel skuldig – Kan die Bybel my help om beter te voel?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • “Kyk reguit vorentoe” na die toekoms
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Het ek ’n onvergeeflike sonde gepleeg?
    Ontwaak!—1994
  • Moenie moed opgee nie!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 3/8 bl. 26-27

Die Bybel se beskouing

Skuldgevoelens—Is dit altyd ongewens?

BAIE mense beskou skuldgevoelens vandag as ongewens. Hulle voel soos Duitse filosoof Friedrich Nietzsche, wat gesê het: “’n Skuldgevoel is die verskriklikste siekte wat die mens nog ooit geteister het.”

Maar party navorsers kom nou tot ’n ander gevolgtrekking. “Skuldgevoelens is noodsaaklik as iemand ’n sensitiewe, verantwoordelike persoon wil wees”, sê Susan Forward, Ph.D., ’n internasionaal erkende terapeut en skrywer. “Dit is ’n werktuig van die gewete.” Is alle skuldgevoelens dan ongewens? Is daar enige omstandighede waar skuldgevoelens nuttig kan wees?

Wat is ’n skuldgevoel?

’n Skuldgevoel ontstaan wanneer ons agterkom dat ons iemand seergemaak het vir wie ons omgee of wanneer ons op die een of ander manier te kort skiet aan die standaarde waarvolgens ons voel ons moet lewe. Soos een naslaanwerk dit gestel het, hou ’n skuldgevoel verband met “’n gevoel van verpligting as gevolg van ’n mens se aanspreeklikheid vir ’n tekortkoming, oortreding, misdaad of sonde”.

In die Hebreeuse Geskrifte is skuld verbind met ’n Israeliet se versuim om God se wet na te kom—meer as die helfte van die verwysings daarna kom in die Bybelboeke Levitikus en Numeri voor. Interessant genoeg, die woord is byna afwesig in die Christelike Griekse Geskrifte. Maar die paar keer dat dit wel voorkom, word dit ook met ernstige oortredings teen God verbind.—Markus 3:29; 1 Korintiërs 11:27.

Ongelukkig kan ons skuldig voel sonder dat ons eintlik skuldig is. As iemand byvoorbeeld ’n perfeksionis is en geneig is om onredelike hoë standaarde vir homself te stel, kan elke teleurstelling ’n onverdiende skuldgevoel laat ontstaan (Prediker 7:16). Of ons laat dalk toe dat gegronde berou oor ’n fout of oortreding toeneem tot skaamtegevoelens, sodat ons ons op die ou end onnodig kasty. Van watter nut is skuldgevoelens dan?

Skuldgevoelens kan nuttig wees

’n Skuldgevoel kan op ten minste drie maniere nuttig wees. Eerstens, dit dui aan dat ons bewus is van aanvaarbare standaarde. Dit toon dat ons ’n lewende gewete het (Romeine 2:15). Trouens, ’n boek wat deur die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging uitgegee word, beskou die afwesigheid van skuldgevoelens as gedrag wat gevaarlik is vir die samelewing. Mense met gewetens wat besoedel of afgestomp is, vind dit moeilik om tussen reg en verkeerd te onderskei, en dit kan gevaarlik wees.—Titus 1:15, 16.

Tweedens, ’n skuldige gewete kan ons help om ongewenste optrede te vermy. Net soos fisiese pyn ons oor ’n moontlike gesondheidsprobleem waarsku, maak die emosionele pyn wat met skuldgevoelens gepaardgaan, ons bewus van ’n sedelike of geestelike probleem wat ons aandag nodig het. Sodra ons van die swakheid bewus is, is ons meer geneig om daarop te let dat ons onsself, ons geliefdes of ander nie weer in die toekoms seermaak nie.—Matteus 7:12.

Laastens, die belydenis van skuld kan die skuldige sowel as die slagoffer help. Koning Dawid se skuldgevoel het byvoorbeeld met intense foltering gepaardgegaan. “Toe ek stilgebly het, het my gebeente weggeteer deur my gekreun die hele dag”, het hy geskryf. Maar toe hy uiteindelik sy sonde aan God bely het, het Dawid met blydskap gesing: “Met vreugdevolle uitroepe omdat ontkoming verskaf is, sal u my omring” (Psalm 32:3, 7). Belydenis kan ook die slagoffer beter laat voel omdat ’n erkenning van skuld die slagoffer kan verseker dat die ander persoon hom of haar lief genoeg het om berou te hê dat hy soveel pyn veroorsaak het.—2 Samuel 11:2-15.

’n Gebalanseerde beskouing van skuldgevoelens

Om ’n gebalanseerde beskouing van skuldgevoelens te kry, kan ons let op die sterk teenstelling in die manier waarop Jesus en die Fariseërs sondaars en sonde beskou het. In Lukas 7:36-50 lees ons van ’n onsedelike vrou wat die huis van ’n Fariseër binnegegaan het, waar Jesus geëet het. Sy het Jesus genader, sy voete met haar trane gewas en hulle met duur, welriekende olie gesalf.

Die vroom Fariseër het op die vrou neergesien en haar as benede sy waardigheid en aandag beskou. Hy het vir homself gesê: “As hierdie man [Jesus] ’n profeet was, sou hy geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ’n sondares is” (Lukas 7:39). Jesus het gou sy denke reggestel. “Jy het my kop nie met olie gesalf nie”, het Jesus gesê. “Maar hierdie vrou het my voete met welriekende olie gesalf. Op grond hiervan, sê ek vir jou, is haar sondes, hoewel hulle baie is, vergewe, want sy het baie liefgehad.” Hierdie goedhartige woorde het sonder twyfel die vrou aangemoedig en haar hart verbly.—Lukas 7:46, 47.

Jesus het onsedelikheid geensins vergoelik nie. Hy was eerder besig om daardie trotse Fariseër te leer hoe voortreflik liefde is as beweegrede om God te dien (Matteus 22:36-40). Dit was natuurlik reg dat die vrou skuldig voel oor haar onsedelike verlede. Klaarblyklik was sy berouvol, want sy het gehuil, het geen poging aangewend om haar vorige gedrag te regverdig nie en het positiewe stappe geneem om Jesus in die openbaar te eer. Toe Jesus dit sien, het hy vir haar gesê: “Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.”—Lukas 7:50.

Die Fariseër daarenteen het voortgegaan om op haar neer te sien en haar as ’n sondares te beskou. Hy het moontlik gehoop dat dit groot vrees vir God by haar sou inboesem en haar beskaamd sou maak. Maar om voortdurend te probeer om ander skuldig te laat voel wanneer hulle nie altyd dinge doen soos ons dink hulle moet nie, is liefdeloos en, op die lange duur, teenproduktief (2 Korintiërs 9:7). As ons Jesus navolg, behaal ons die beste resultate—deur die regte voorbeeld te stel, ander opreg te prys en vertroue in hulle uit te spreek selfs al is teregwysing en raad somtyds nodig.—Matteus 11:28-30; Romeine 12:10; Efesiërs 4:29.

Wanneer ons iets verkeerds gedoen het, kan dit dus goed, selfs noodsaaklik, wees om skuldig te voel. Spreuke 14:9 (Knox) sê: “Dwase neem oortredings waarvoor versoening nodig is, lig op.” ’n Skuldige gewete kan en moet ons tot belydenis en ander positiewe stappe beweeg. Maar die basiese rede waarom ons Jehovah dien, moet altyd liefde wees, nie skuldgevoelens nie (Job 1:9-11; 2:4, 5). Die Bybel verseker ons dat goeie mense, wanneer hulle hiermee in gedagte aangemoedig en verkwik word, altyd sal doen wat hulle kan. Nog belangriker, hulle sal gelukkig wees as hulle dit doen.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel