Die magtige Amasone—’n Lewensaar vir miljoene
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË
IN VERGELYKING met ander riviere is dit ’n reus. Dit kronkel deur die aarde se grootste tropiese reënwoud. Navorsers sê dat dit onontbeerlik vir ons planeet is. Dit is ’n paradys vir avontuursoekers en natuurkenners. Maar vir miljoene Brasiliane is dit ook ’n noodsaaklike verbindingslyn. Ons praat hier van die Amasonerivier, die ruggraat van die Amasonegebied.
‘Die rivier-see’ van naderby beskou
Van sy klein begin hoog in die Andesgebergte in Peru, minder as 160 kilometer vanaf die Stille Oseaan, daal die Amasone—wat al hoe groter word namate ander riviere by dit aansluit—sowat 5 000 meter tot by die Atlantiese Oseaan. Die naam van die rivier verander verskeie kere voordat dit die Brasiliaanse gebied bereik, waar dit aanvanklik die Solimões genoem word. Nadat hierdie rivier en die Negrorivier, die grootste syrivier, naby Manaus saamvloei, word dit die magtige Amasone.
Dit is hier waar ’n buitengewoon pragtige skouspel plaasvind wat die ontmoeting van die waters genoem word. Die donker koffiekleurige water van die Negrorivier en die modderwater van die Solimões ontmoet en vloei vir nagenoeg tien kilometer sy aan sy sonder om te meng. Hierdie verskynsel vind plaas weens verskeie faktore, onder meer die verskil in samestelling, digtheid en temperatuur tussen die twee riviere.
Die geskil oor die Amasone se hoofsyriviere en hulle bolope, sowel as die ingewikkelde geografie van sy delta, maak dit moeilik om uit te vind presies waar die Amasone begin en eindig. As die rivier tot by sy verste monding in die Pará-riviermonding gemeet word, wat as ’n ingang vir skepe dien, is dit nagenoeg 6 750 kilometer lank.a Maar om die totale lengte te bereken, is “meer ’n kwessie van definisie as ’n kwessie van meetwerk”, sê die Brasiliaanse uitgawe van The Guinness Book of Records.
Wat volume betref, word die grootsheid van die Amasonerivier egter nie bevraagteken nie. Sy volume is groter as die Mississippi-, die Nyl- en die Jangtse-rivier saam.b Hierdie ontsaglike rivier het ’n gemiddelde afloop van 200 000 kubieke meter water per sekonde en stort dus tussen 15 en 20 persent van al die vars water wat in die wêreld se oseane invloei, in die Atlantiese Oseaan. In net 30 sekondes kan dit die mensdom se dors vir ’n dag les—een liter water vir elkeen van die aarde se sesmiljard bewoners!
Hierdie buitengewone afloop “druk” die see terug en vorm ’n laag vars water wat 200 kilometer ver in die Atlantiese Oseaan invloei. Dit is dus nie verbasend nie dat Vicente Yáñez Pinzón, ’n Spaanse seevaarder wat in Junie 1500 die Amasone binnegevaar het, dit Mar Dulce (die Varswatersee) genoem het toe hy dit die eerste keer gesien het.
Vir diegene wat op hierdie groot rivier reis, is dit presies hoe dit lyk—’n see wat ’n woudtapyt oorstroom. Op party plekke is dit so wyd dat iemand wat op een van die oewers staan, nie die ander kant kan sien nie. Tydens oorstromings word sekere dele van die rivier tot 50 kilometer wyd! Die diepte, wat gemiddeld tussen 50 en 80 meter op party plekke is, wissel ooreenkomstig die wydte. By die nouste punt, by Obidos in Pará-staat, is die rivier 130 meter diep.
Die grootste gedeelte van die Amasone het net ’n effense helling—gemiddeld twee sentimeter per kilometer. Die effense helling van die riviermonding stel die gety in staat om ver teen die stroom op te spoel. Die uitwerking daarvan word selfs by Obidos, 800 kilometer van die riviermonding af, gevoel.
Omdat die Amasone amper parallel met die ewenaar vloei, word dit deur die somers van albei halfronde bevoordeel. Die syriviere aan die linkeroewer en die regteroewer oorstroom om die beurt. Namate die vlakke van die rivier styg en daal, eers aan die noordekant en dan aan die suidekant, klop die hele Amasone soos ’n yslike hart. Die watervlak van die Amasone wissel jaarliks tussen 9 en 12 meter. Oorstromings is belangrik vir landbou in die gebied. Omdat daar groot hoeveelhede minerale stowwe en organiese oorblyfsels in die rivier is wat op sy oewers agtergelaat word, bemes dit die groot laagliggende gebiede.
Wie het dit ontdek, en hoe is nedersettings gevorm?
Die Spaanse ontdekkingsreisiger Francisco de Orellana was die eerste Europeër wat met dié rivier afgevaar het en het dit in 1542 die Amasone genoem.c Maar waarom het hy dit hierdie naam gegee? Orellana beweer dat hy gesien het hoe stamme vrouekrygers teen mekaar veg, wat hom aan die Amasone van Griekse mitologie herinner het! Ander ekspedisies het gevolg, met verdere Spaanse, Engelse, Hollandse en Portugese ontdekkingsreise. Volgens die Enciclopédia Mirador Internacional het die Portugese “talle waaghalsige aanvalle geloods om [land] langs die Negro-, Solimões- en Branco[riviere] te verower en die gebied in die naam van die kroon in besit te neem”.
Portugal het sendelinge na die gebied gestuur om sy teenwoordigheid daar te bevestig. Dieselfde ensiklopedie sê dat “lede van geestelike ordes dikwels hulle sendingstasies van een plek na ’n ander, altyd langs die rivieroewer, verskuif het” in ’n poging om die Katolieke geloof te versprei en die handel in “dwelms van die oerwoud”—hout, hars, kruie en speserye—uit te brei. “Tientalle klein dorpies het uit al hierdie nedersettings ontstaan.”
Hierdie vroeë bedrywigheid in die 17de en 18de eeu en die aanplant van rubberplantasies teen die einde van die 19de eeu het tot definitiewe nedersettingspatrone in die gebied gelei. Aangesien die riviere ’n natuurlike manier was om die woud binne te gaan, het mense hulle op die oewers gevestig en klein dorpies gestig. Vandag is bevolkingsentrums in die middel van die Amasone ou dorpies wat uit hierdie tyd dateer.
Wat gebruik mense vir vervoer?
Die Amasonebekken is die grootste rivierbekken in die wêreld en dit dek sowat sesmiljoen vierkante kilometer. Dit is groter as die hele Europa uitsluitend Rusland. Tesame met sy 1 100 syriviere en ander kleiner waterlope vorm die Amasone ’n komplekse kommunikasienetwerk wat met die bloedsomloopstelsel van die menseliggaam vergelyk kan word, waarvan die Amasone ooreenkom met die aorta, die liggaam se hoofslagaar. Hierdie netwerk van waterweë bevat twee derdes van al die vars water op aarde. Hierdie uitgebreide hidrografiese netwerk, met bevaarbare water wat oor 25 000 kilometer strek, speel ’n onontbeerlike rol in vervoer en in die lewe van die plaaslike mense.
Miljoene mense wat in die Amasonegebied woon, gebruik hierdie natuurlike superwaterweg. Bote van alle groottes vaar daarop, insluitende groot transatlantiese vaartuie wat 1 500 kilometer stroomop na Manaus vaar. Kleiner vrag- en passasiersvaartuie vaar sover as Iquitos, in Peru, 3 700 kilometer van die riviermonding af. ’n Groot deel van die Amasonegebied se rykdom verlaat die gebied via die Amasone, en produkte van ander wêrelddele word op dieselfde manier soontoe gebring. Die Madeirarivier, wat meer as 3 000 kilometer lank en sy grootste syrivier is, is ook ’n besige kommersiële aar. Al hierdie handelsbedrywighede bring jaarliks omtrent tweemiljoen ton skeepsvrag in die Amasonebekken voort. Die bedrywigste deel van die rivier is tussen Manaus en Belém, wat by die riviermonding geleë is.
Die lewe langs die rivier
Die verspreiding van mense langs die rivier is ’n aanduiding van hulle afhanklikheid van die rivier vir vervoer en van die feit dat hulle die vrugbare grond van die laagliggende gebiede vir landboudoeleindes verkies. Volgens Altomir, ’n plaaslike inwoner, “het die bevolking in hierdie gebiede klein plase waarop hulle hoofsaaklik kassawe verbou—wat gebruik word om maniokmeel te maak—wat saam met vis hulle stapelvoedsel is. Hulle boer ook met waatlemoen, piesangs en koring sowel as beeste.” Maar wanneer daar oorstromings is, moet die beeste vinnig, soms met ’n vlot, na ander gebiede geneem word.
Omdat die rivier so wispelturig is, word huise langs die rivier op stilte gebou en word drywende huise op vlotte gebou wat naby aan die dorpe vasgemeer word. Die mense “is baie gasvry en groet vreemdelinge met ’n glimlag”, sê Belarmino, wat dikwels op die rivier reis.
’n Mens sien dikwels hoe klein kano’s langs groter vaartuie dok om goedere te verkoop en te ruil—of om teen die rivier op gesleep te word. ’n Tou word na die persoon in die kano gegooi, wat dit aan sy boot vasmaak. Plaaslike produkte, soos koolpalm, Brasiliaanse wynpalm, maniokmeel, neute en vis (insluitende varswaterkreef), word verkoop of geruil vir graan en nywerheidsgoedere.
Die rivier is ’n bron van inkomste vir duisende Brasiliane wat ’n bestaan voer deur vrag en passasiers op veerbote te vervoer. Dit is ook ’n natuurlike manier om hout te vervoer wat by die houtmeule diep in die bos gesaag is.
Die rivier is ’n baie belangrike bron van proteïene in die gebied. “Volgens berekeninge is daar sowat 2 000 visspesies in die Amasone, baie meer as in enige ander rivierstelsel op aarde”, beweer die Portugese uitgawe van die boek Vida Selvagem nos Rios (Natuurlewehabitat). Ná sy ekspedisie na die Amasonegebied het die beroemde oseanograaf Jacques-Yves Cousteau selfs gesê dat ‘daar meer visspesies in die Amasone is as in die Atlantiese Oseaan’.
Een van die waterdiere in hierdie gebied is die plantetende manatee, wat met uitwissing bedreig word. Dit is ’n gesogte vangs, aangesien ’n groterige manatee meer as 100 liter olie kan lewer. Hierdie soogdier is gemiddeld twee en ’n half meter lank en weeg omtrent 350 kilogram. Daarbenewens is daar die pirarucu, ’n varswaterreus wat as die Brasiliaanse kabeljou bekend staan. Dit is gemiddeld meer as twee meter lank en weeg omtrent 70 kilogram. Die Amasone- en die tucuxi-dolfyn bekoor mense met hulle vlugtige verskynings.
Ongewone bootreise
Bote is al lank ’n onontbeerlike deel van die lewe in die Amasonegebied. Duisende verkopers wat hulle produkte daar verkoop en sodoende ’n tikkie beskawing aan die afgesonderde riviergemeenskappe bring, is daarvan afhanklik vir hulle lewensbestaan. Dit voorsien ook goedkoop vervoer na dorpe diep in die bos wat nie met ’n pad bereik kan word nie. Die meeste passasiers reis in hangmatte wat styf teen mekaar hang. Dit verklaar die stormloop as die boot vasmeer—almal wil ’n goeie plekkie kry om hulle hangmatte te hang. Diegene wat op die onderste dek reis, sal hulle spasie met allerlei vrag moet deel. Aangesien reisigers spraaksaam is, is dit maklik om ’n vriendskap met iemand aan te knoop—en daar is nie ’n tekort aan tyd om dit te doen nie, aangesien reise gewoonlik dae lank duur.
Naby Manaus is daar baie swaar rivierverkeer omdat sy hawe die belangrikste in die Amasonegebied is. Dit is die versamelpunt vir die produkte van ’n groot gebied, wat dele van Peru, Bolivia en Colombia insluit. Ekotoerisme floreer ook en lok besoekers van Suid-Amerika en die res van die wêreld.
’n Onvergeetlike besoek
Miskien sal jy ’n geleentheid kry om hierdie uitsonderlike gebied te besoek wat avontuursoekers genot verskaf maar nog baie geheime bevat. As jy die Amasonegebied besoek, sal jy nie net die natuurlike prag van die reënwoud sien nie, maar dit sal ook ’n gevoel van ontsag by jou wek vir die Skepper van alle dinge—insluitende hierdie magtige rivierstelsel.—Psalm 24:1, 2.
[Voetnote]
a Dit maak die Amasonerivier 80 kilometer langer as die Nylrivier voor die Aswandam gebou is, wat beteken dat die Amasone die langste rivier in die wêreld is. Ander studies toon dat die totale lengte 7 100 kilometer is.
b Wat volume betref, is die tweede grootste rivier die Kongo, in westelike Sentraal-Afrika. Maar die afloop van twee van die Amasone se hoofsyriviere, die Negro en die Madeira, is elkeen net soveel soos dié van die Kongo.
c Sien die Ontwaak! van 22 Maart 1997, bladsy 3.
[Venster/Prent op bladsy 17]
DIE POROROCA
In die Amasoneriviermonding veroorsaak die ontmoeting van die Amasone se water met dié van die inkomende see ’n oorverdowende en uiters vernietigende verskynsel. Getygolwe word teruggehou deur die water van die rivier wat vinnig uitvloei. Die seevlak bou buite die riviermonding op totdat die rivier dit nie langer kan terughou nie. Dan, in ’n groot, onstuimige, muuragtige golf stroom die seewater in die rivier op, wat die rivier se vloei omkeer, stukke van die rivieroewer afbreek, bome ontwortel en ’n pad van vernietiging agterlaat. Die massiewe golwe wat deur die krag van hierdie twee botsende strome gevorm word, kan tot vier meter hoog word en die oorverdowende geraas van die botsing kan oor groot afstande gehoor word. Dit is die geluid van die pororoca, of die vloedbrander.
[Kaarte op bladsy 13]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
ANDES
Oorsprong van die Amasone
Machu Picchu, Peru
AMASONE- BEKKEN
Iquitos, Peru
Amasone (Solimões)
MANAUS
Negro
Madeira
Obidos
Amasone
Pará
BELÉM
[Erkenning]
Aardbol: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prente op bladsy 15]
1. ’n Plaaslike meisie
2. Huise op stilte langs die rivieroewer
3. Die donker water van die Negro ontmoet die modderwater van die Solimões naby Manaus
4. Die Negrorivier voed die Amasone
[Erkennings]
Foto’s 1 en 2: Ricardo Beliel / SocialPhotos; foto’s 3 en 4: Lidio Parente / SocialPhotos
[Prente op bladsy 16, 17]
1. Manaus se hawe
2. Passasiers in hulle hangmatte
3. Visser in ’n kano
[Erkennings]
Foto 1: Lidio Parente / SocialPhotos; foto’s 2 en 3: Ricardo Beliel / SocialPhotos
[Foto-erkennings op bladsy 17]
Sonsondergang: Ricardo Beliel / SocialPhotos; branderplankryer: AP Photo/Paulo Santos