Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 12/8 bl. 16-19
  • Die Paracas- Nasionale Reservaat—’n Leersame besoek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Paracas- Nasionale Reservaat—’n Leersame besoek
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Besoek aan die Ballestas-eilande
  • ’n Reis deur Paracas se verlede
  • Peru se buitengewone grafte—Wat dit ons kan leer
    Ontwaak!—2004
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2003
  • “Dit reën nooit in Lima nie?”
    Ontwaak!—2003
  • Hier kom die kleinbloupikkewyne!
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 12/8 bl. 16-19

Die Paracas- Nasionale Reservaat—’n Leersame besoek

Deur Ontwaak!-medewerker in Peru

TOERISTE van oor die hele wêreld word al jare lank na Peru gelok. Die reisplan sluit gewoonlik die volgende in: Lima; Cuzco, die Inkahoofstad; die pragtige ruïnes van Machu Picchu; die majestueuse Andesgebergte en dalk selfs ’n bootrit op die Amasone. Onlangs is nog ’n besienswaardigheid by die lys gevoeg—die Paracas- Nasionale Reservaat. Dit is ongeveer 250 kilometer suid van Lima as ’n mens op die Pan-Amerikaanse Hoofpad ry.

Die Paracas- Nasionale Reservaat sluit sowat 335 000 hektaar kusgebied sowel as die Paracas-skiereiland in. Dit is in 1975 deur die Peruaanse regering gestig vir die bewaring van die oorvloedige natuurlewe wat permanent in die gebied voorkom of jaarliks daarheen migreer. Die reservaat wakker respek vir die omgewing aan terwyl dit ook toerisme bevorder. Meer as 100 argeologiese terreine is tot dusver ontdek, wat bewys lewer dat die Paracas-kultuur eeue oud is. Die mariene gebiede verskaf blyplek aan seeleeus, see-otters, dolfyne, meer as tweehonderd voëlspesies en vier soorte seeskilpaaie.

Op ’n kaart lyk die Paracas-skiereiland soos ’n klein kolletjie op die baie groter boggel van die kontinentale landmassa. As gevolg van hierdie geografiese posisie waai sterk passaatwinde deur die gebied wat plaaslik paracas genoem word. Die sterk suidewinde dryf die koue Peru-seestroom, of Humboldt-seestroom, aan. Die kombinasie van ’n yskoue see, vlak kuswater sowel as opwelwater het die skiereiland een van die gebiede met die oorvloedigste mariene lewe in die wêreld gemaak. Die Stille Oseaan het hier ’n groen kleur weens ’n oorvloed van mikro-organismes, waaronder fito- en soöplankton, wat as voedsel dien vir die miljoene ansjovisse en ander klein vissies wat in hierdie ryk waters wemel. Hierdie mariene feesmaal, veral die ansjovisse, is ’n voedselbron vir baie seevoëls, pikkewyne en seesoogdiere wat in die reservaat beskerm word.

’n Besoek aan die Ballestas-eilande

Ons reis begin by die dok in die baai by Paracas. Talle klein vissersbootjies wat voor anker lê, dobber op die water. Hulle enigste passasiers is die plaaslike pelikane wat hulle vere glad stryk en na die bedrywighede van die mense om hulle sit en kyk. Ons motorboot kom by die dok aan en ons klim gretig in en trek ons reddingsbaadjies aan. Toe ons eers wegkom uit die haweverkeer, versnel ons boot en geniet ons ’n opwindende rit terwyl ons oor die sagte golwe van die baai gly.

Ons eerste stilhouplek is naby die punt van die skiereiland. Daar lewer ons gids kommentaar oor ’n yslike ontwerp op die heuwelhang. Dit word die Kandelaar genoem, hoewel jy dalk sal dink dat dit soos ’n kaktus met drie takke lyk. Party het beweer dat die ontwerp deel is van die tekeninge van die bekende Nazca-lyne.a Ander het bespiegel dat dit deur seerowers geteken is of dat dit ’n Vrymesselaarsimbool is, gemaak deur soldate wat die revolusionêre leier, José de San Martín, in 1820 ondersteun het. Wat die oorsprong daarvan ook al is, hierdie woestynkunswerk is indrukwekkend om te aanskou.

Nadat ons verby die skiereiland is, raak die see onstuimiger. Ons kan die eilande wit in die oggendson sien skitter. Dit is egter nie rots of sand nie, maar ghwano—seevoëlmis—wat die eilande bedek.

Ons kom nader aan die Ballestas-eilande, oftewel Kruisboog-eilande, so genoem deur die Spanjaarde omdat die eilande natuurlike boogvormige rotsformasies het. Die stuurman verminder vaart. Ons eerste gedagte is: ‘Wie kyk nou eintlik vir wie?’ want bo-op die kranse en hoogste rante van die eilande sit groot swerms seevoëls—pelikane, seeswaels, seemeeue, ghwanorotspelikane, ’n verskeidenheid kormorante en selfs humboldtpikkewyne. Dit is dalk vreemd om pikkewyne in ’n tropiese gebied te sien, maar die yskoue water en volop vis laat hulle heeltemal tuis voel. Daarna sien ons seeleeus wat op elke beskikbare rotsplatform in die son lê en bak. Die eilande is merendeels rotsformasies wat loodreg in die see inloop, en dit verbaas ons hoe pikkewyne en seeleeus wat op land so lomp is, dit regkry om so hoog op te klim.

Ons gids gee ons allerhande interessante feite en syfers. “’n Seeleeumannetjie kan meer as 300 kilogram weeg en het ’n harem van tot 20 wyfies”, verduidelik sy. Terwyl die wyfies ’n welgevormde seeleeusilhoeët het, lyk die reusagtige mannetjies soos sakke vet wat uit hulle nate bars. Ons leer dat die mannetjies sterk en vreesaanjaende soogdiere is wat met mekaar meeding oor die beheer van die harem en gebied. Die verloorder word dikwels noodlottig gewond en verskaf dus kos aan die kalkoenaasvoëls en kondors wat ook ’n deel van die voedselketting in hierdie kuswaters uitmaak. ’n Seeleeu het ’n taamlik gesonde aptyt en verorber dikwels tien kilogram vis gedurende net een nagtelike eetsessie. Maar hierdie diere is nie aggressief teenoor ons nie—net baie nuuskierig.

Terwyl ons stuurman die boot stadig om elkeen van die drie eilande en boogvormige rotsformasies stuur, ruik ons die stank van die ghwano in die lug. “Onder die rotsboë”, verduidelik ons gids, “is daar bloedsuiervlermuise wat op die seeleeus teer terwyl hulle slaap.” In die verte sien ons iets wat soos ’n groot, donker vlek op die grootste eiland lyk. Dit is ’n swerm guanayes, of kormorante, watervoëls wat daarvan hou om in groepe saam te bondel. Hulle sit styf teen mekaar terwyl hulle rus en ghwano maak. Ghwanorotspelikane duik regaf in die see terwyl ander voëls op ooghoogte by ons verbysweef.

Laastens kom ons by die ‘kraamsaal’, die grootste strandgebied op die eiland, aan. Ons is opgewonde om talle seeleeus te sien met kriewelende groepies donkerkleurige kleintjies wat om die wyfies woel. Die strand is raserig van die gebrul, skor keelklanke en skril skreeugeluide. Daar word vir ons gesê dat die kleintjies tot ses maande lank soog en dat hulle op hulle ma se rug leer swem.

Op pad terug na die dok sê ons gids: “Sestig persent van die babaseeleeutjies sal sterf voordat hulle ’n jaar oud is. Sommige word doodgedruk of opsetlik deur die mannetjies doodgemaak. Ander verdrink. Die El Niño-weerverskynsel kan ook verwoesting aanrig, aangesien dit die ansjovisse dwing om suid na kouer waters toe te swem. Jong seeleeus het nie die krag om die volwassenes na nuwe voedingsgebiede toe te volg nie.”

Dit is ironies dat die grootste bedreiging vir die oorlewing van die natuurlewe hier moontlik die mens is. Talle seeleeus is al deur jagters vir hulle pels geslag en deur vissermanne doodgemaak wat hulle as ’n oorlas beskou. Seeskilpaaie is doodgemaak vir hulle vleis, wat as ’n lekkerny beskou word, en vir hulle doppe, wat versamelstukke is. Die voëlbevolking is deur ghwano-insamelaars versteur. Die voedselvoorraad is so te sê uitgeput weens oorbevissing. Daar word vir ons gesê dat natuurbewaringsmetodes nou deur die wet vereis word. Dalk sal sulke wette mense aanmoedig om meer bewus van bewaring te wees.

’n Reis deur Paracas se verlede

Met ons voete weer op vaste grond is ons gereed vir die laaste helfte van ons toer, wat ons na die Julio C.Tello-museum op die skiereiland neem.

In 1925 het die Peruaanse argeoloog Julio C.Tello en ’n kollega hulle eerste ontdekking op die skiereiland gemaak. Hulle het die gebied Long Head genoem, na aanleiding van die verlengde menslike skedels wat halfbegrawe op die oppervlak van die kaal grond gelê het. Dit is oorblyfsels van die Paracas-kultuur, wat geleerdes skat van 1000 v.G.J. tot 200 v.G.J. bestaan het. Die mense van Paracas het nie ’n geskrewe taal gehad nie. Hoewel ons dus weet hoe hierdie mense skedels verleng het—deur kussings, houtstokke en tou te gebruik—weet niemand waarom nie. In dieselfde gebied het Tello sy volgende ontdekking gemaak—ondergrondse begraafgrotte wat lyk soos drinkbekers wat onderstebo is. Die liggame is in lap toegedraai en langs mekaar in ’n gehurkte, fetusposisie geplaas, reg om in die volgende lewe “weer gebore” te word. Mielies, grondboontjies en patats sowel as musiekinstrumente en seremoniële voorwerpe is ook in die grotte gevind.

Twee jaar later het Tello en ’n ander kollega ’n yslike begraafplaas ontdek wat hulle die Paracas-necropolis genoem het. Dit het 429 begrafnisbondels bevat, waarvan sommige meer as 1,6 meter hoog is. Hierdie gehurkte mummies is elkeen binne-in ’n mandjie geplaas. Hulle is toegedraai in besonder kleurvolle, weelderige mantels met veelkleurige, geborduurde ontwerpe waarop daar dikwels magies-godsdienstige motiewe was.

Voorbeelde van hierdie begrafnismantels, tesame met honderde ander fassinerende artefakte uit die Paracas-kultuur, kan by die Julio C. Tello-museum gesien word.

Ons hoop dat ons besoek aan die Paracas- Nasionale Reservaat jou belangstelling geprikkel het om meer omtrent Peru se skatte uit te vind.

[Voetnoot]

a Dit is tekeninge van diere en geometriese ontwerpe op die Nazca-vlakte in Peru wat te groot is om van die grond af gesien te word. Sien die artikel “Die geheimsinnige Nazca-lyne” in die Ontwaak! van 8 Mei 1982.

[Prent op bladsy 17]

Humboldtpikkewyn

[Prent op bladsy 18]

Inkaseeswael

[Prent op bladsy 18]

Die Kandelaar

[Prente op bladsy 18]

Artefakte van die Paracas-kultuur—’n begrafnismantel, ’n mummie en een van die verlengde skedels

[Foto-erkennings op bladsy 16]

Pelikaan: © Archivo de PromPerú; seeleeus: © Michael Tweddle/PromPerú

[Foto-erkennings op bladsy 17]

Kuslyn: © Carlos Sala/PromPerú; flaminke: © Heinz Plenge/PromPerú; pikkewyn: © Arturo Bullard/PromPerú

[Foto-erkennings op bladsy 18]

Links bo, see en seeswael: © Archivo de PromPerú; artefakte: Museo Nacional de Arqueología, Antropología e Historia del Perú

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel