Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 9/8 bl. 22-25
  • Die verbasende skoonmakers van die see

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die verbasende skoonmakers van die see
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Produktiewe werkers
  • Vindingryk wanneer hulle bedreig word
  • Nog steeds gewild
  • Die intelligente vel van die seekomkommer
    Is dit ontwerp?
  • ’n Besonderse see—maar dood!
    Ontwaak!—2008
  • Dansende perde van die see
    Ontwaak!—2004
  • Kom op ’n uitstappie na die See van Galilea!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 9/8 bl. 22-25

Die verbasende skoonmakers van die see

Deur Ontwaak!-medewerker in Fidji

Hulle “kruie so stadig soos ’n uurwyser oor die bodem voort of slurp hulle pad deur ryk organiese modder oop. Hulle is oral, van die tussengetygebied tot die diepste dele van die oseaan. Soos ’n trop miniatuurwildebeeste wat oor die seebodem trek, wei hulle op die ryk organiese sneeu wat van bo af neergesif het.”—Philip Lambert, ’n kurator van die Koninklike Museum van Brits-Columbië.

JY IS dalk verbaas dat enigiemand liries sou raak oor die nederige seekomkommer, wat ook as die holoturium bekend staan. Hierdie dier is al selfs as “’n soort koplose, rubberagtige wors” beskryf. Steek daar dalk meer in die seekomkommer as wat sy voorkoms te kenne gee?

Produktiewe werkers

Seekomkommers is glo verwant aan seesterre en see-egels. Hoewel hulle baie soos slakke lyk, is hulle baie anders as die ware skulplose seeslak. Meer as 1 100 holoturiumspesies is al geïdentifiseer. Baie van hulle—insluitende die eetbare spesies—is maar vaal. Ander is weer met die eksotiesste versierings getooi. Uitsteeksels aan die vel van baie soorte laat hulle soos komkommers vol vratte lyk.

Party seekomkommers is mikroskopies, terwyl ander tot vyf meter lank kan word. Die meeste is egter tussen 10 en 30 sentimeter lank. Daar word geskat dat seekomkommers meer as 90 persent van die massa van al die seediere uitmaak wat op ’n diepte van 8 000 meter lewe, en dit maak hulle die algemeenste organisme in party oseaantrôe. Hoewel die meeste van hulle op die seebodem lewe, kan ’n paar diepwaterspesies swem.

Seekomkommers word in al die oseane van die wêreld aangetref, waar hulle voortdurend op organiese slyk wei. Soos spanne skoonmakers, maak hulle modder en slik op die seebodem skoon deur groot hoeveelhede sediment te sluk, die organiese stowwe daaruit te verwyder en skoon sand agter te laat. Daar kan tot 5 000 seekomkommers in een hektaar van ’n koraalrif woon.

Die seekomkommer se voedsel bestaan uit mikroskopiese organismes en detritus wat op die seebodem voorkom of in die seestroom verbydryf. Hy gebruik tot 30 veeragtige tentakels met spesiale senuwee-eindpunte aan die punte om voedseldeeltjies te gewaar en te gryp. Elke tentakel word dan “afgelek” voordat dit verder na voedsel soek.

Party soorte seekomkommers tree as “gashere” op wat “gaste” onthaal. Die “gaste” is visse en ander diertjies wat in die derm van die gasheer lewe en saans uitkom om te eet. Hulle sluit 27 spesies van pêrelvisse, of komkommervisse, van die familie Carapidae in. Wanneer hulle skrik, kan jy sien hoe hulle na hulle skuilplek vlug. Hierdie vissies eet soms hulle gasheer se geslags- en asemhalingsorgane. Die gasheer kom egter niks oor nie omdat die seekomkommer verlore weefsel kan regenereer.

Vindingryk wanneer hulle bedreig word

Dit sal beslis die moeite werd wees om meer aandag aan seekomkommers te gee as jy hulle tydens jou volgende besoek aan die see teëkom. Maar wees gewaarsku! As hulle bedreig voel, kan hierdie skoonmakers van die see ’n hele paar verstommende streke uithaal. Van hulle sal byvoorbeeld ’n massa lang, klewerige drade uitskiet wat roofdiere verstrik of hulle aandag aftrek. Die klewerige stof word vinnig hard, en ongelukkige menslike slagoffers kan niks anders doen nie as om enige hare af te skeer wat met die taai drade in aanraking gekom het.

Ander seekomkommers vervaardig ’n gifstof wat holoturien genoem word. Hierdie stof is dodelik vir baie soorte visse. Hoewel dit gevaarlik is as dit in jou oë kom en dit ’n veluitslag kan veroorsaak, is dit andersins blykbaar onskadelik vir mense. Eilandbewoners gebruik hierdie stof al geslagte lank om vis wat hulle wil vang, te vergiftig, dood te maak of te bedwelm, en dit is ’n doeltreffende afweermiddel teen haaie. Navorsing toon dat die gifstowwe wat deur seekomkommers vervaardig word, as farmaseutiese middels in die behandeling van kanker en infeksies gebruik kan word. Verskeie ekstrakte wat van seekomkommers gemaak is, is al deur praktisyns van alternatiewe geneeskunde gebruik om artritis te behandel, kraakbeen weer op te bou en bloeddruk te verlaag. Die diere word ook verwerk om vitamien- en mineraalaanvullings te vervaardig.

Maar die seekomkommer het nog een verrassing wat in net die gevaarlikste situasies gebruik word, ’n reaksie wat die woord selfverdediging nuwe betekenis gee. As jy aan die seekomkommer raak, ontderm hy homself—dit wil sê, hy laat sy sye letterlik oopbars en werp sy eie ingewande uit. Hierdie skokkende oorreaksie sal jou dalk ontstel en jou laat wonder wat jy gedoen het om die arme diertjie op so ’n aaklige manier van die lewe te beroof! Maar ontspan. Jy het hom waarskynlik nie doodgemaak nie. Jy was eerder ’n getuie van ’n buitengewone ontsnappingsmetode. Hierdie taai diertjie sal binne weke splinternuwe ingewande hê!

Nog steeds gewild

Die antieke beroep om seekomkommers te vang, word nog steeds in gematigde sowel as tropiese waters beoefen. Trouens, party duikers sal lyf en lewe op die spel plaas om hulle vangs te vergroot. Die grootste deel daarvan gaan na China en ander dele van die Ooste toe—soos dit al eeue lank gebeur. Om seekomkommers te droog, moet jy hulle in soutwater kook, hulle ingewande uithaal, hulle rook en hulle in die son laat uitdroog, en dan kan hulle verkoop word. Deesdae kan jy ook bevrore seekomkommers kry.

Sal seekomkommer ooit op jou spyskaart verskyn? Miskien sal dit. Maar al word dit ’n komkommer genoem, is dit onwaarskynlik dat jy dit in jou slaai sal kry. As die seekomkommer gaar is, is dit gelatienagtig en amper deursigtig. Dit word as ’n bind- en geurmiddel vir sop gebruik. In Fidji word plaaslike soorte op die tradisionele eilandstyl met kokosmelk voorberei, en die eindproduk is ’n gereg met ’n aangename vissmaak en ’n ferm tekstuur.

Hierdie beskeie, stil werkers is nogtans meer as net ’n lekker gereg. Ons is inderdaad dank aan seekomkommers verskuldig vir hulle ononderbroke skoonmaakdienste wat ons see gesond hou. Noem hulle wat jy wil—holoturiums of seekomkommers—hierdie wonderlike skoonmakers van die see loof die Een wat hulle geskep het, sonder om ’n woord te sê!—Psalm 104:24, 25.

[Venster/Prente op bladsy 24]

Eienaardighede van seekomkommers

◼ Die asemhalingstelsel van die seekomkommer verskil grootliks van wat ons as normaal beskou. Water word tot in die ingewande ingetrek, en suurstof word deur die wande van twee asemhalingsboompies opgeneem. Sekere diepseespesies gebruik hulle hele liggaamsoppervlak om suurstof op te neem. Party haal selfs deur die vel van hulle voet asem.

◼ Kalkplaatjies in plaas van ’n beenskelet gee baie seekomkommers hulle kenmerkende komkommeragtige voorkoms. Wanneer jy deur ’n elektronmikroskoop daarna kyk, sien jy dat die kalkplaatjies wiel-, anker- en haakvormig is en in die veloppervlak ingebed is, wat die vel ’n leeragtige tekstuur gee. Hierdie komplekse, klein kalsiumkarbonaatkristalletjies het kenmerke wat uniek is aan elke spesie en is dus nuttig vir identifikasie.

◼ Seekomkommers gebruik hidrouliese krag om te beweeg. Honderde hol buisvoete, of podia, wat deur ’n watervatstelsel beheer word, werk gelyktydig saam. Deur liggaamsholtes te vergroot of te verklein, word water in die voet ingeforseer, sodat hulle in die regte volgorde verleng word om die vereiste beweging uit te voer.

◼ Voortplanting vind gewoonlik deur eksterne bevrugting plaas, waarna vryswemmende embrios tot op die seebodem afsak. Maar party spesies maak gebruik van ’n drastieser metode. Hulle skeur hulleself letterlik uitmekaar en verdeel in die dwarste in twee dele. Verbasend genoeg regenereer hulle dan die ontbrekende liggaamsdele. Hierdie metode van ongeslagtelike voortplanting vereis aansienlike herorganisasie van die weefsel van elk van die geskeurde dele.

[Erkennings]

Van bo na onder: Courtesy Bruce Carlson, Georgia Aquarium; courtesy of UC Museum of Paleontology, www.ucmp.berkeley.edu; © Houseman/BIODIDAC; Ocean Sky Diving, Hong Kong

[Prent op bladsy 23]

’n Seekomkommer wat klewerige drade uitskiet om hom te verdedig

[Prent op bladsy 23]

’n Vratterige seekomkommer

[Prent op bladsy 23]

’n Seekomkommer met een eettentakel in sy mond

[Prente op bladsy 25]

Seekomkommer wat op die tradisionele eilandstyl met kokosmelk voorberei is

[Foto-erkenning op bladsy 22]

http://www.JohnHarveyPhoto.com

[Foto-erkennings op bladsy 23]

Boonste inlasfoto: © David Wrobel/Visuals Unlimited; agtergrond: © Phillip Colla/SeaPics.com; links onder: © Doug Perrine/SeaPics.com

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel