Hoe om by koerante baat te vind
“Dwaas is die een wat nooit ’n koerant lees nie; en hy wat glo wat hy lees net omdat dit in die koerant staan, is selfs dwaser.”—August von Schlözer, Duitse geskiedskrywer en joernalis van die laat 18de eeu.
IN ’N opname is ’n paar duisend mense in Brittanje en Frankryk gevra hoeveel vertroue hulle in elk van 13 instellings het. Die pers het laaste gekom, selfs na die politiek en die sakesektor. In die Verenigde State sê die meeste lesers nog steeds dat hulle hulle koerant glo. Maar opnames deur die Pew-navorsingsentrum toon dat die persentasie mense wat nog so voel, gedaal het.
Daar is dikwels rede om skepties te wees, veral wanneer die belange van die land waarin ’n koerant uitgegee word, ter sprake is. Wat gebeur dan? Die waarheid word dikwels ingeboet. Soos Arthur Ponsonby, ’n Engelse staatsman van die 20ste eeu, eenkeer gesê het: “Wanneer oorlog verklaar word, is die waarheid die eerste slagoffer.”
Selfs wanneer daar nie oorlog verklaar is nie, is dit verstandig om nie alles in die nuus vir soetkoek op te eet nie. “Iemand wat onervare is, glo elke woord,” sê ’n Bybelspreuk, “maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe” (Spreuke 14:15). As jy versigtig genoeg is, kan die koerant oor die algemeen jou aptyt vir die nuus wat jy nodig het, bevredig.
Die belangrikheid van die nuus
Die nuusmedia is vandag belangrik omdat dit ons help om op hoogte te bly van wat in die wêreld aangaan. En om dit te doen, is noodsaaklik. Waarom? Omdat baie van wat vandag gebeur, deur die grootste profeet wat nog geleef het, Jesus Christus, voorspel is. Toe hy oor die einde van hierdie stelsel van dinge uitgevra is, het hy gesê dat die tyd van die einde gekenmerk sou word deur oorloë, ’n toename in wetteloosheid, voedseltekorte, pessiektes, aardbewings en ander verwante gebeure.—Matteus 24:3-14; Lukas 21:7-11.
Die Bybel sê ook: ‘In die laaste dae sal daar kritieke tye wees wat moeilik is om deur te kom.’ Hierdie profesie voeg by dat mense gedurende hierdie “laaste dae” ‘liefhebbers van hulleself, liefhebbers van geld’ en “ongehoorsaam aan ouers” sal wees. Hulle sal “sonder natuurlike geneentheid” wees, “sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God”.—2 Timoteus 3:1-5.
Jy sien ongetwyfeld hoe hierdie Bybelprofesie in jou eie gemeenskap vervul word. En wat wêreldwyd gebeur—soos in koerante berig word—bevestig bloot die akkuraatheid van Bybelprofesieë. Beteken dit dat ons alles kan glo wat ons in koerante lees? Nee, selfs toegewyde koerantmense sê dat ’n mens versigtig moet wees.
Verstaan die uitdagings
Almal maak foute, selfs die eerlikste en mees bevoegde professionele mense. “In die drie jaar wat ek vryskutwerk as ’n feitenasiener doen”, het Ariel Hart in die Columbia Journalism Review geskryf, “het ek nog nooit ’n foutlose berig nagesien nie, hetsy dit vyf bladsye of twee paragrawe lank was.” Sy noem voorbeelde soos “verkeerde jaartalle; verouderde inligting; spelfoute; wyd gepubliseerde inligting uit sekondêre bronne, maar wat verkeerd is”.
Joernaliste se nuusbronne is nie altyd betroubaar nie. Soms word die pers vir die gek gehou en valse inligting gegee. In 1999 het ’n gekskeerder ’n nuusstorie opgemaak oor “’n begraafplaaspretpark”, en hy het geloofwaardigheid daaraan verleen deur ’n treffende webwerf van ’n skyn-ontwikkelingsmaatskappy en ’n telefoonlyn vir onderhoude op te stel, wat die bedrieër gebruik het om hom as ’n maatskappywoordvoerder voor te doen. Die nuusagentskap Associated Press het die storie geglo, en gevolglik het baie dagblaaie in die Verenigde State die storie gepubliseer. Die geheim van suksesvolle gekskeerdery is na bewering “’n opspraakwekkende storie met treffende visuele materiaal wat skokkend maar geloofwaardig is”.
Selfs joernaliste wat goeie bedoelings het, maak soms foute. “Joernaliste werk gewoonlik teen ’n geweldige spoed”, verduidelik ’n skrywer in Pole. “Koerante ding teen mekaar mee. Elkeen wil die eerste een wees om die nuus te publiseer. Gevolglik kan baie van ons nie ’n goed nagevorste artikel skryf nie, al wil ons ook.”
Druk om toe te gee
Volgens Freedom of the Press 2003—A Global Survey of Media Independence het 115 uit 193 lande geen persvryheid nie of geniet hulle slegs gedeeltelike persvryheid. Maar selfs in lande wat wel persvryheid geniet, kan die nuus op subtiele maniere gemanipuleer word.
Soms word belangrike inligting eenvoudig van party joernaliste weerhou, terwyl ander wat na die owerheid se pype dans, eksklusiewe onderhoude kry en uitnodigings ontvang om politici op hulle reise te vergesel. Inkomste uit reklame is nog iets wat beriggewing kan beïnvloed. “Die adverteerder dreig dalk om winsgewende advertensies te onttrek as die redakteur enigiets negatiefs oor die adverteerder publiseer”, het ’n Poolse joernalis gesê. En ’n subredakteur by ’n Japannese koerant het gesê: “Hou in gedagte dat dit baie moeilik is om ’n objektiewe nuusberig te skryf.”
‘As dit vir professionele joernaliste so moeilik is om geloofwaardige artikels te skryf’, vra jy dalk, ‘hoe moet die leser weet wat om te glo?’
’n Gebalanseerde beskouing is nodig
Onderskeidingsvermoë is ongetwyfeld nodig. “Toets die oor nie woorde soos die verhemelte voedsel proe nie?” het die aartsvader Job gevra (Job 12:11). Die leser moet wat geskryf is, noukeurig ondersoek om vas te stel of dit geloofwaardig is. Dit is goed as hy as ’t ware toets en uitsoek wat waar is. ’n Eerste-eeuse dissipel van Jesus Christus het diegene geprys wat na die apostel Paulus geluister het, maar Paulus se bronne toe nagegaan het om die waaragtigheid te bevestig van wat hy geleer het.—Handelinge 17:11; 1 Tessalonisense 5:21.
So ook kan iemand wat ’n koerant lees, hom vrae vra soos: Wat is die agtergrond van die skrywer? Wat is sy vooroordele? Haal die berig konkrete feite aan wat nagegaan kan word? Wie sal dalk voordeel daaruit trek as die waarheid verdraai word? Dit sal goed wees as die leser dalk verskillende bronne nagaan om die inligting te bevestig. Hy kan ook wat hy lees, met ander bespreek. “Hy wat met wyses wandel, sal wys word”, sê ’n Bybelspreuk.—Spreuke 13:20.
Moet terselfdertyd ook nie volmaaktheid verwag nie. Soos ons gesien het, is daar verskeie faktore wat voorkom dat koerante heeltemal objektief is. Nietemin kan hulle jou help om ingelig te bly oor wat in die wêreld gebeur. Dit is belangrik om op hoogte van die nuus te bly, want Jesus het met betrekking tot die tyd waarin ons lewe, gemaan: “Bly wakker” (Markus 13:33). Koerante kan jou help om dit te doen, al het hulle beperkings.
[Venster/Prent op bladsy 10]
WANNEER DIE PERS VOOROORDEEL WEERSPIEËL
Wanvoorstellings in die nuus is dikwels die gevolg van oorhaastige beriggewing of verkeerde inligting. Nietemin kan sulke berigte ernstige leuens vinnig versprei, al word dit met goeie bedoelings gepubliseer. Maar soms word mense opsetlik mislei, soos wat in Nazi-Duitsland gebeur het toe leuens oor mense van sekere rasse en godsdienste versprei is.
Neem byvoorbeeld die uitwerking van ’n swak bedekte smeerveldtog wat nie lank gelede nie gedurende ’n menseregtesaak in Moskou, Rusland, van stapel gestuur is. Die koerant The Globe and Mail van Toronto, Kanada, het berig: “Toe drie meisies in Moskou selfmoord gepleeg het, het die Russiese media onmiddellik te kenne gegee dat hulle fanatiese aanhangers van Jehovah se Getuies was.”
Sulke nuusberigte het op 9 Februarie 1999 verskyn, die dag waarop ’n siviele hof ’n verhoor hervat het wat daarop gemik was om die aktiwiteite van Jehovah se Getuies in die stad Moskou te verbied. Geoffrey York van The Globe and Mail se kantoor in Moskou het berig: “Die polisie het later erken dat die meisies niks te doen gehad het met die godsdienssekte nie. Maar teen daardie tyd het ’n Moskouse televisiekanaal reeds van nuuts af teen die sekte te velde getrek en vir kykers gesê dat Jehovah se Getuies kop in een mus was met Adolf Hitler in Nazi-Duitsland—ondanks geskiedkundige bewyse dat duisende van hulle lede slagoffers was van die Nazi-uitwissingskampe.”
Gevolglik het baie lede van die publiek wat verkeerd ingelig is en moontlik bang was, Jehovah se Getuies as ’n selfmoordkultus of Nazi-samesweerders beskou!
[Prent op bladsy 7]
Jesus Christus het baie van die dinge voorspel waaroor daar deesdae in koerante berig word
[Prente op bladsy 8]
Koerantberigte bevestig Bybelprofesieë
[Erkenning]
FAO photo/B. Imevbore
[Prent op bladsy 8, 9]
Diegene wat die bronne van die apostel Paulus se leringe nagegaan het, is daarvoor geprys, wat ook ’n verstandige gewoonte is wanneer ’n mens vreemde nuusberigte lees