Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 10/22 bl. 4-6
  • Die vraag na nuus word bevredig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die vraag na nuus word bevredig
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die oorsprong van koerante
  • Uitvindings wat ’n belangrike bydrae gelewer het
  • Wat verskyn in die koerant?
  • Koerante staan voor ’n krisis
  • Hoe om by koerante baat te vind
    Ontwaak!—2005
  • Die mag van koerante
    Ontwaak!—2005
  • Kan jy die nuusmedia vertrou?
    Ontwaak!—2013
  • ’n Nuushonger eeu
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 10/22 bl. 4-6

Die vraag na nuus word bevredig

“AL DIE Ateners en die uitlanders wat daar vertoef het, het hulle vrye tyd met niks anders deurgebring as om iets nuuts te vertel of aan te hoor nie”, het die kroniekskrywer Lukas amper 2 000 jaar gelede berig (Handelinge 17:21). ’n Eeu vroeër het die Romeinse regering, wat besef het watter aptyt die publiek vir nuus het, die Acta Diurna, daaglikse bulletins, op plekke begin vertoon waar dit maklik gesien kon word.

Teen die sewende eeu het die Chinese die wêreld se eerste gedrukte koerant, die Dibao (Pao), gepubliseer. In Europa, waar baie mense destyds nog ongeletterd was, het swerwende storievertellers berigte omtrent oorloë, rampe, misdade en ander sake bekend gemaak. Later is handgeskrewe nuusblaaie met houtsneedruk-illustrasies oor sulke onderwerpe in openbare markte en by kermisse verkoop.

Mettertyd het handelsfirmas hulle sakebriewe met belangrike nuusitems aangevul. Uiteindelik het hierdie items op ’n ekstra blad verskyn wat nova (nuus) genoem is en gesirkuleer kon word.

Die oorsprong van koerante

Aan die begin van die 17de eeu het twee Duitse koerante gereeld begin verskyn. Relation (om die nuus te vertel), van Straatsburg, is vir die eerste keer in 1605 uitgegee; Avisa Relation oder Zeitung (nuusadvies), van Wolfenbüttel, het in 1609 begin verskyn. Die eerste dagblad in Europa was die Einkommende Zeitungen (Inkomende Nuus), wat in 1650 in Leipzig, Duitsland, verskyn het.

Daardie dagblad in Leipzig het uit vier sakformaatbladsye bestaan. Dit het nuusitems sonder ’n spesifieke volgorde aangebied. ’n Enkele eksemplaar van hierdie koerant was redelik goedkoop, maar ’n jaarintekening sou ’n goed besoldigde werker ’n hele maand se loon kos. Nietemin het die vraag na koerante vinnig toegeneem. Teen 1700 was daar tussen 50 en 60 gereelde koerante in Duitsland alleen, en dit het honderdduisende lesers bereik.

Aanvanklik was die nuusbronne briewe, ander koerante, posmeesters wat nuus per pos ontvang en afskrifte daarvan gemaak het of bloot skinderstories wat nuusmanne in openbare plekke gehoor het. Maar weens toenemende kompetisie het uitgewers daarna gestrewe om die dekking en gehalte van die nuus te verbeter. Hulle het hulle eerste professionele redakteurs in diens geneem. En omdat die meeste uitgewers nie ’n uitgebreide netwerk nuusbronne en joernaliste kon bekostig nie, het mense se aptyt vir nuus tot die stigting van nuusagentskappe gelei wat nuus ingewin het en teen betaling aan uitgewers verskaf het.

Uitvindings wat ’n belangrike bydrae gelewer het

Die koerantbedryf sou nie kon bestaan het sonder belangrike uitvindings nie, veral nie sonder Johannes Gutenberg se metode om drukwerk met los letters te doen nie. Ander uitvindings het koerantproduksie prakties en bekostigbaar gemaak. Byvoorbeeld, in die 1860’s het die rolrotasiepers dit moontlik gemaak om op ’n aaneenlopende rol papier te druk en nie net op afsonderlike velle papier nie. Kort daarna is die linotipemasjien gebruik om metaalletters te set sodat bladsye gedruk kan word. Daarna, in die tweede helfte van die 20ste eeu, het rekenaarsetwerk duur handearbeid vervang.

Intussen het nuus self al hoe vinniger versprei toe die telegraaf in die 1840’s, die tikmasjien in die 1870’s en die telefoon omstreeks dieselfde tyd in algemene gebruik gekom het. In onlangser tye, in die leeftyd van miljoene wat vandag lewe, het die gebruik van rekenaars, e-pos en faksmasjiene iets algemeens in die koerantbedryf geword. Verslaggewers daag al hoe vinniger by die toneel van die nuusgebeurtenis op—per trein, motor en vliegtuig. En vinnige vervoermiddele lewer al hoe meer koerante af.

Wat verskyn in die koerant?

In baie plekke in ons immerkrimpende wêreld is dit nie moeilik om genoeg nuus te vind nie. Volgens die redakteurs van die Frankfurter Allgemeine Zeitung “is dit ’n groter uitdaging om items uit ’n ontsaglike en nimmereindigende stroom van nuus te kies”. Duitsland se koerante word daagliks oorstroom met sowat 2 000 items van nuusagentskappe af. Verslaggewers, korrespondente, nuusuitsendings en ander bronne oorlaai koerantredakteurs selfs verder.

Twee derdes van die nuus bestaan uit aankondigings—persverklarings en berigte oor beplande gebeurtenisse, soos konserte, sportgebeurtenisse en byeenkomste. Redakteurs moet hulle mark ken sodat hulle in die vraag na inligting oor onderwerpe van plaaslike belang kan voorsien, wat oesopbrengste, herdenkings en vieringe kan insluit.

Sportrubrieke, strokiesprente, politieke spotprente en hoofartikels is alles gewilde dele van koerante. Glansartikels, verslae uit ander lande asook onderhoude met prominente figure en deskundiges op spesifieke gebiede kan insiggewend en interessant wees.

Koerante staan voor ’n krisis

“Duitsland se koerantbedryf staan voor die grootste finansiële krisis van sy geskiedenis”, het die koerant Die Zeit in 2002 berig. En die Switserse persvereniging het vir 2004 sy laagste algehele sirkulasie in tien jaar gerapporteer. Wat het van die aanvraag na koerante geword?

Om maar een ding te noem, daar was ’n insinking in die wêreldekonomie, wat ’n afname veroorsaak het in reklame, waarop baie koerante vir twee derdes van hulle inkomste staatgemaak het. Tussen 2000 en 2004 het die Amerikaanse Wall Street Journal 43 persent van sy reklame-inkomste verloor. Sal ’n ekonomiese oplewing advertensies laat terugkeer? Baie geklassifiseerde advertensies vir vaste eiendom, betrekkinge en motors word deesdae nie meer in koerante geplaas nie, maar op die Internet. Vandag is koerante in kompetisie met die elektroniese media—radio, televisie en die Internet.

Aan die ander kant is daar nog steeds ’n gesonde vraag na nuus. Axel Zerdick, ’n professor van media-ekonomie, het vir ’n koerant van Frankfurt, Duitsland, gesê: “Die krisis is nie heeltemal so ernstig as wat die meeste joernaliste dink nie.” Die hoofredakteur van die rubriek oor plaaslike aangeleenthede van ’n Duitse dagblad deel hierdie beskouing en sê: “Die streek[koerant] is nog springlewendig.”

Al word daar erken dat koerante in ’n klas van hulle eie is wanneer dit kom by deeglike nuusdekking en die vermoë om openbare bespreking uit te lok, is die vraag nog steeds: Kan jy hulle voorstelling van die nuus vertrou? Hoe kan jy die meeste baat vind by die koerante wat jy lees?

[Venster/Prent op bladsy 6]

JOERNALISTIEK—’N VEELEISENDE BEROEP

’n Mens beny joernaliste dalk. “Om jou naam in die pers te hê, kan ’n joernalis belangrik laat voel”, erken ’n ervare Franse joernalis. Maar joernalistiek kan ook frustrasies veroorsaak—’n storie word voor jou neus deur ’n mededinger weggeraap, ’n versoek om ’n onderhoud word afgewys, tallose ure word bestee om vir ’n gebeurtenis te wag wat nooit plaasvind nie.

’n Koerantskrywer in Pole het nog ’n uitdaging genoem. “Ons weet nie wanneer ons vrye tyd sal hê of wanneer ons sal moet werk nie”, het sy gesê. “Soms ly ons privaatheid daaronder, en die pas van ons werk ontwrig dalk ons gesinslewe.” En ’n oudjoernalis in die voormalige Sowjetunie het moontlik die grootste frustrasie genoem: “Ek het so hard gewerk, maar uiteindelik is dit toe nooit gepubliseer nie.”

’n Sportskrywer vir die grootste koerant in Nederland het gemeld: “Daar word dikwels vir my gesê dat ek onkundig is. Sommige lesers word kwaad of gefrustreerd, en omdat die gemoedere soms hoog loop wanneer dit by sport kom, het ek al selfs doodsdreigemente ontvang.” Wat motiveer joernaliste dan om voort te gaan?

Vir party is dit dalk die geld—maar nie vir almal nie. ’n Joernalis wat vir ’n Franse koerant werk, het gesê dat hy lief is om te skryf. ’n Mexikaanse joernalis het gesê: “’n Mens voorsien ten minste iets wat die moeite werd is om te weet.” En in Japan het ’n senior redakteur van die wêreld se tweede grootste dagblad gesê: “Dit maak my gelukkig wanneer ek voel dat ek mense gehelp het en wanneer reg geskied.”

Joernaliste is natuurlik nie die enigstes wat aan koerante werk nie. Afhangende van die grootte en struktuur van die uitgewersmaatskappy is daar dalk redakteurs, proeflesers, feitenasieners, argiefbewaarders en talle ander wat baie hard werk, maar anoniem bly, sodat jy jou koerant kan kry.

[Prente op bladsy 4]

’n Vroeë Duitse koerant en ’n hedendaagse koerantstalletjie

[Erkenning]

Vroeë Duitse koerant: Bibliothek für Kunst - und Antiquitäten-Sammler, Vol. 21, Flugblatt und Zeitung, 1922

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel