Die kloof tussen ryk en arm
ONGEAG met watter terminologie dit beskryf word, hoogs ontwikkelde nywerheidslande wat ekonomies vooruitstrewend is, spog met hoë lewenstandaarde, terwyl dié met minder nywerhede, wat dus ekonomies minder ontwikkeld is, met laer lewenstandaarde moet klaarkom. Dit is byna asof hulle tot twee verskillende wêrelde behoort.
Hierdie twee wêrelde kan natuurlik selfs in een land voorkom. Dink aan die betreklik welvarende lande wat in die vorige artikel gemeld is. Hulle het hulle rykes sowel as hulle armes. Byvoorbeeld, in die Verenigde State beland 30 persent van die land se totale inkomste in die sakke van die rykste 10 persent van huishoudings. Terselfdertyd moet die armste 20 persent van huishoudings met net 5 persent van die totale inkomste klaarkom. Hierdie of ’n soortgelyke situasie bestaan dalk in die land waar jy woon, veral as daar ’n klein middelklas is. Maar selfs die regerings van lande met ’n redelike groot middelklas kon nog nie die ekonomiese kloof tussen diegene wat baie het en diegene wat niks het, heeltemal oorbrug nie.
Nie een is ’n ideale wêreld nie
Nie een van die wêrelde kan tereg as ideaal beskou word nie. Dink aan die ooglopende nadele vir diegene wat in armer lande woon. Gesondheidsorg is baie beperk. Terwyl die 9 rykste lande wat in die venster op hierdie bladsy genoem word, met 1 dokter vir elke 242 tot 539 inwoners spog, bly die 18 armste lande agter met net 1 dokter vir elke 3 707 tot 49 118 van hulle burgers. Daarom is dit verstaanbaar dat die lewensverwagting in die ryker lande 73 jaar en hoër is, terwyl die lewensverwagting in meer as die helfte van die armste lande ver onder 50 jaar is.
Die opvoedingsmoontlikhede in arm lande is ook uiters beperk, en ’n lewe van armoede is dikwels kinders se lot. Hierdie gebrek aan opvoeding word in geletterdheidsyfers weerspieël. Terwyl 7 van die 9 rykste lande geletterdheidsyfers van 100 persent het (die ander 2 het syfers van 96 en 97 persent), het die 18 armste lande geletterdheidsyfers wat wissel tussen 81 persent en 16 persent, en 10 daarvan is onder 50 persent.
Maar daar is ook nadele vir die inwoners van ryk lande. Terwyl diegene in arm lande dalk weens ’n gebrek aan voedsel ly, is al hoe meer mense wat in oorvloed lewe, besig om hulle as ’t ware dood te eet. Die boek Food Fight sê dat “ooretery wanvoeding vervang het as die wêreld se grootste voedselverwante probleem”. En die tydskrif The Atlantic Monthly sê: “Sowat negemiljoen Amerikaners ly tans aan ‘morbiede vetsug’; dit wil sê, hulle is ongeveer 45 kilogram of meer oorgewig, en in hierdie land lei gewigsverwante toestande elke jaar tot sowat 300 000 ontydige sterftes.” Dieselfde artikel sê dat ‘vetsug binnekort hongersnood sowel as aansteeklike siektes kan oortref as die wêreld se dringendste openbare gesondheidsprobleem’.a
Burgers van ryk lande het weliswaar ’n hoër lewenstandaard, maar terselfdertyd heg hulle moontlik meer waarde aan besittings as aan verhoudings, en daarom is dit vir hulle te belangrik om te hê en nie belangrik genoeg om te wees nie. Hulle is dan geneig om iemand se belangrikheid en waarde te meet aan sy werk, salaris of besittings, en nie aan sy kennis, wysheid, vermoëns of positiewe eienskappe nie.
’n Artikel in die Duitse weekblad Focus, met die titel “Wat van ’n bietjie minder?” het beklemtoon dat ’n eenvoudige lewe ’n mens gelukkig maak. Die artikel het gesê: “Ondanks die dramatiese toename in welvaart, is die meeste burgers van die Westerse wêreld nie nou gelukkiger as wat hulle dekades gelede was nie. . . . As iemand se lewe net om besittings draai, is dit waarskynliker dat hy ongelukkig sal wees.”
Die volmaakte balans
Ja, die feite toon dat hoewel albei wêrelde, ryk en arm, sekere positiewe aspekte het, hulle ook hulle donker kante het. Terwyl die wêreld van die armes dalk te eenvoudig is, kan die wêreld van die rykes te kompleks wees. Hoe nuttig sou dit tog wees as hierdie twee wêrelde by mekaar kon leer! Maar is dit realisties om te dink dat so ’n volmaakte balans ooit bereik kan word?
Uit ’n menslike oogpunt meen jy dalk dat hierdie doelwit, al is dit wenslik, eenvoudig nie deur mense bereik kan word nie. En die geskiedenis ondersteun jou mening. Nietemin is die situasie allesbehalwe hopeloos. Jy het moontlik die logiesste oplossing vir die probleem misgekyk. Wat kan dit wees?
[Voetnoot]
a Sien die Ontwaak! van 8 November 2004, bladsye 3-12.
[Lokteks op bladsy 6]
“Vetsug kan binnekort hongersnood sowel as aan- steeklike siektes oortref as die wêreld se dringendste openbare gesondheidsprobleem.”—The Atlantic Monthly
[Grafiek op bladsy 5]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Lande is alfabeties gerangskik
Nege Rykste Lande
Lewensverwagting vir mans (jare) Geletterdheid (%)
België
75,1 100
Kanada
76,4 96,6
Denemarke
74,9 100
Ysland
78,4 100
Japan
78,4 100
Luxemburg
74,9 100
Noorweë
76,5 100
Switserland
77,7 100
Verenigde State
74,4 95,5
Agtien Armste Lande
Lewensverwagting vir mans (jare) Geletterdheid (%)
Benin
50,4 37,5
Burkina Faso
43 23
Burundi
42,5 48,1
Tsjad
47 53,6
Kongo, Rep.
49 80,7
Etiopië
47,3 38,7
Guinee-Bissau
45,1 36,8
Madagaskar
53,8 80,2
Malawi
37,6 60,3
Mali
44,7 40,3
Mosambiek
38,9 43,8
Niger
42,3 15,7
Nigerië
50,9 64,1
Rwanda
45,3 67
Sierra Leone
40,3 36,3
Tanzanië
43,3 75,2
Jemen
59,2 46,4
Zambië
35,3 78
[Erkenning]
Bron: 2005 Britannica Book of the Year.
[Foto-erkenning op bladsy 4]
© Mark Henley/Panos Pictures