Die Kwakers se “heilige eksperiment”
IN Julie 1656 het die skip Swallow, van Barbados in die Wes-Indiese eilande, anker gegooi in Boston, Massachusetts, in wat nou die Verenigde State van Amerika is. Richard Bellingham, die ondergoewerneur van die Massachusetts-kolonie, het beveel dat die passasiers Mary Fisher en Ann Austin aan boord gehou moet word. Daar is 100 boeke tussen hulle besittings gevind wat glo “verderflike, ketterse en godslasterlike leerstellings” bevat het.
Die boeke is op die markplein verbrand. Daarna is die vroue gevange geneem, kaal uitgetrek en ondersoek vir tekens van heksery. Hulle sel se venster is verseël, en die vroue is vyf weke lank in donkerte aangehou. Enigiemand wat dit gewaag het om met hulle te praat, kon ’n boete van vyf pond opgelê word. Uiteindelik is Mary Fisher en Ann Austin na Barbados teruggestuur.
’n Destydse kroniekskrywer het die magistrate gevra: “Waarom is dit dat die aankoms van twee vroue julle so bevrees gemaak het, asof ’n ontsaglike leër julle grense binnegeval het?” Hierdie twee “gevaarlike” vroue was in werklikheid die eerste Kwakersendelinge wat in Noord-Amerika aangekom het. Wie was die Kwakers, en waarom is hulle as ’n bedreiging beskou?
Die Genootskap van Vriende
Die Kwakers, of die Godsdiensgenootskap van Vriende, het in die 17de eeu in Engeland ontstaan. Die Vriende se stigter was George Fox (1624-91), ’n wewer se seun wat in die graafskap Leicester gebore is. Fox het beweer dat hy ’n bonatuurlike stem gehoor het en het daarna tot die gevolgtrekking gekom dat hy direk met God kon kommunikeer en geestelike verligting kon ontvang sonder ’n menslike middelaar. “Die tradisionele datum van die oorsprong van die Genootskap van Vriende is 1652”, sê die boek A Religious History of the American People.
Hoe het die Vriende die naam Kwakers gekry? Die naam Kwakers word afgelei van die Engelse werkwoord to quake, of om te bewe. Een naslaanboek sê dat hulle “voor oomblikke van goddelike openbaring aan die bewe gegaan het”. ’n Ander sê dat hulle “weens ’n ontsagwekkende bewustheid van die oneindige reinheid en grootsheid van God gebewe het”. Die Kwakers se doelwit was om godsdienswaarheid te vind en die eertydse Christelike geloof te laat herlewe.
Hulle het beweer dat hulle staatmaak op die heilige gees, die Bybelprofete, die apostels van Christus en ’n innerlike “lig”, of “stem”, van sogenaamde geestelike waarheid om hulle te lei. Daarom het vergaderinge hoofsaaklik bestaan uit tydperke van gemeenskaplike stilswye waartydens elke persoon God se leiding probeer vind het. Enigiemand wat ’n goddelike boodskap ontvang het, kon hardop praat.a
Kwakers het geglo in geregtigheid, onkreukbare eerlikheid, ’n eenvoudige lewenstyl en geweldloosheid. Hulle het ook geglo dat alle Christene, insluitende vroue, aan die bediening moet deelneem. Omdat hulle die gevestigde godsdiensorde uitgedaag het, prag en praal vermy het en beweer het dat hulle deur ’n innerlike stem en nie deur ’n geestelikeklas gelei word nie, het Kwakers vrees en agterdog gewek. Hulle sendingywer het mense die meeste gepla en het aanleiding gegee tot woede, aanvalle en amptelike ingryping.
In Engeland is Kwakers vervolg en in die tronk gegooi, en in Nieu-Engeland is hulle ook verdryf en selfs doodgemaak. Byvoorbeeld, tussen 1659 en 1661 is die sendelinge Mary Dyer, William Leddra, William Robinson en Marmaduke Stephenson in Boston gehang. Ander is geboei, gebrandmerk of gegesel. Party se ore is afgesny. ’n Man met die naam William Brend is 117 keer met ’n teertou op sy kaal rug geslaan. Ten spyte van sulke wreedheid het Kwakers egter in getal toegeneem.
William Penn en die “heilige eksperiment”
Sedert 1681 het die lewe van Kwakers in Noord-Amerika ’n verbasende wending geneem. William Penn (1644-1718), ’n jong Engelsman en bekeerling tot die Genootskap van Vriende, het ’n kolonie gestig wat op Kwakerideale gebaseer en deur Kwakers bestuur is en wat ’n “heilige eksperiment” in die staatkunde genoem is. Penn, ’n pasifis en die seun van ’n Britse admiraal, is self in die tronk gegooi omdat hy oor sy opvattings gepreek en geskryf het.
Die Engelse Kroon het ter betaling van skuld aan Penn se vader, ’n groot stuk land in Noord-Amerika vir Penn gegee. ’n Koninklike magtigingsbrief het aan die jong Penn byna onbeperkte beheer oor die nuwe kolonie gegee, wat Pennsilvanië, oftewel “Penn se woude”, genoem is, ter nagedagtenis aan admiraal Penn. Daar sou mense van alle gelowe godsdiensvryheid geniet.
Penn het eers sy neef William Markham na Amerika gestuur om as sy verteenwoordiger op te tree en die lojaliteit te verkry van die paar Europeërs binne die grense van die nuwe kolonie en om land by die Indiane te koop. In 1682 het Penn met die Delaware-rivier opgevaar en sy kolonie vir die eerste keer gesien. Hy het by Shackamaxon (nou Kensington, ’n deel van Philadelphia) ’n regverdige ooreenkoms met die Indiane aangegaan. Toe het hy, byna ’n kilometer vanaf Shackamaxon, ’n nuwe nedersetting uitgelê en dit Philadelphia genoem, wat “broederliefde” beteken. Dit het vinnig uitgebrei.
Penn het na Engeland teruggekeer en die nuwe kolonie geadverteer om mense aan te moedig om daarheen te trek. Hy het dit beskryf as ’n plek met goeie grond en mooi woude, ’n ontsagwekkende rivier, wilde diere en pelsdiere. Hy het belowe dat die nuwe regering godsdiensverdraagsaamheid en vreedsame naasbestaan sal bevorder. Almal was welkom—handelsmense, arm mense en idealiste wat graag wou bydra tot ’n goeie regering.
Die hoop om verligting te verkry van die sosiale en politieke euwels van Europa het Kwakers uit Engeland en Noord-Ierland gelok. Mennoniete en verwante groepe het van die Rynland in Europa gekom. Die eerste koloniste was meestal Kwakers, en Penn het kommentaar gelewer oor die kolonie se veelbelowende begin. Hy het in 1683 geskryf: “Twee algemene vergaderinge is gehou, . . . en ten minste sewentig wette is aangeneem sonder ’n enkele teenstem.” Maar die algemene gevoel van optimisme sou nie lank voortduur nie.
Die eksperiment misluk
Die grondwet van Penn se kolonie het aan almal gewetensvryheid verleen. Wanneer geweld dus nodig geag is om reg en orde te handhaaf, het die Kwakers se pasifisme ’n probleem geskep—een wat mettertyd al hoe groter geword het. Penn het eers die kwessie vermy deur verteenwoordigers aan te stel wat nie Kwakers was nie, om “van tyd tot tyd streng te wees met ons naaste”, soos hy dit gestel het. In 1689 het die moontlikheid van oorlog met Frankryk ’n verdere uitdaging vir die Kwakers gebied weens hulle gewetensbeswaar.
Die probleme is vererger toe hordes nuwe koloniste, waarvan die meeste nie Kwakers was nie, aangekom het en land van die Indiane afgeneem het. Namate die Kwakers dus ’n minderheid geword het, het verhoudinge met die Indiane al hoe vyandiger geword.
Die politieke mag van die Kwakers is ’n nekslag toegedien toe die goewerneur en sy raad in 1756 oorlog verklaar het op die Delaware- en Shawnee-stamme. In reaksie hierop het Kwakers hulle uit die regering onttrek, en hulle regeringstelsel het geëindig. So het Penn se “heilige eksperiment” in die staatkunde tot ’n einde gekom, omtrent 75 jaar nadat dit begin het.
Met verloop van tyd het die Kwakers se godsdiensywer ook afgeneem namate hulle al hoe ryker geword het. Die Kwaker Samuel Fothergill het gesê: “Aangesien [Kwakerkoloniste] nou ingestel was op die dinge van hierdie wêreld, kon hulle nie meer vir hulle kinders die beginsels leer wat hulle self vergeet het nie.” Mettertyd het sektes ook ontstaan.
Penn en sy volgelinge het dalk edele doelwitte gehad en tydelike sukses behaal; maar hulle het Jesus se leerstelling dat hy en sy dissipels “geen deel van die wêreld” is nie óf misverstaan óf verontagsaam (Johannes 17:16). In beginsel sal enige onderneming wat probeer om godsdiens met die politiek van die wêreld te vermeng dus nie deur God of sy Seun geseën word nie, ongeag watter goeie bedoelings dit het (Jakobus 4:4; 1 Johannes 5:19). Daarom kan dit nie sukses behaal nie.—Psalm 127:1.
[Voetnoot]
a Deesdae het baie Kwakerkerke ’n betaalde bedienaar wat dienste op ’n meer georganiseerde manier hou.
[Venster op bladsy 12]
“My Koninkryk Is Geen Deel Van Hierdie Wêreld Nie”
Waarom het Jesus hierdie woorde in Johannes 18:36 gesê? Die antwoord kom duidelik na vore wanneer ons verstaan wat God se Koninkryk is. God se Koninkryk, wat die hooftema van Jesus se lering was, is niks minder as ’n wêreldregering in die hande van Jesus Christus nie (Jesaja 9:6, 7; Lukas 4:43). Die Koninkryk sal nie deur middel van menslike regerings heers nie, maar sal dit verwyder en die aarde se enigste regering word (Daniël 2:44; 7:13, 14). Dít is waarvan Jesus gepraat het toe hy in die modelgebed gesê het: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:9, 10). Gehoorsame onderdane van hierdie Koninkryk sal ’n lewensgehalte geniet wat opregte mense, soos William Penn, nooit kon teweegbring nie—hulle sal volmaakte gesondheid geniet en vir ewig in ’n vreedsame, paradysagtige omgewing lewe.—Lukas 23:43; Openbaring 21:3, 4.
[[Prent op bladsy 10]
Kwakervergadering in Philadelphia, 1800’s
[[Prent op bladsy 11]
Die Kwaker Mary Dyer word in die Massachusettsbaai-kolonie na haar teregstelling gelei
[[Prent op bladsy 11]
Kwakers verlaat Engeland, 1600’s
[[Foto-erkenning op bladsy 11]
Bote: © North Wind Picture Archives; ooreenkoms: Brown Brothers
[[Prent op bladsy 11]
William Penn sluit ’n ooreenkoms met Indiane, 1682
[Erkenning]
Albei prente: © North Wind Picture Archives