Jongmense vra
Hoe kan ek met my gesondheidsprobleem saamleef?
“DIE heerlikheid van jongmense is hulle krag”, sê Spreuke 20:29 (The Jerusalem Bible). As jy siek of gestremd is, meen jy dalk dat daardie teks nooit op jou van toepassing kan wees nie. Maar dit kan! Die feit is dat baie jongmense met gebreke en chroniese siektes al die grootste struikelblokke oorkom het. Ontwaak! het met vier sulke jongmense onderhoude gevoer.
Hiroki, in Japan, ly van geboorte af aan serebrale verlamming. “My nekspiere kan nie my kop regop hou nie, en my hande doen presies die teenoorgestelde van wat ek wil hê hulle moet doen”, sê hy. “Ek is heeltemal afhanklik van ander se hulp.”
Natalie en haar broer, James, in Suid-Afrika, is met ’n seldsame vorm van dwergisme gebore. Natalie het ook skoliose, ’n misvorming van die ruggraat. “Ek het al vier rugoperasies gehad”, sê sy, “en weens die kromming van my ruggraat is my longe swak.”
Timothy, in Brittanje, is met chroniesemoegheidsindroom gediagnoseer toe hy 17 jaar oud was. “In minder as twee maande”, sê hy, “het ek verander van ’n gesonde en aktiewe persoon tot iemand wat so swak is dat my bene my nie kon ondersteun nie.”
Danielle, in Australië, is op 19-jarige ouderdom met suikersiekte gediagnoseer. “Aangesien suikersiekte nie sigbaar is nie”, sê sy, “besef party mense nie hoe ernstig dit is nie. Die feit is dat suikersiekte my dood kan beteken.”
As jy aan die een of ander siekte ly of ’n gebrek het, sal jy Hiroki, Natalie, Timothy en Danielle se kommentare ongetwyfeld aanmoedigend vind. As jy goeie gesondheid geniet, sal hulle kommentare jou dalk help om meer simpatie te hê met dié wat met ’n gebrek of siekte worstel.
Ontwaak!: Wat vind jy die moeilikste omtrent jou toestand?
Natalie: Vir my is dit hoe mense reageer wanneer hulle my sien. Ek voel nooit op my gemak nie. Dit voel asof mense heeltyd na my kyk.
Danielle: Die grootste uitdaging van suikersiekte is om te weet wat om te eet, hoeveel om te eet en watter soorte kos om te beperk. As ek nie ’n gebalanseerde dieet volg nie, kan dit ’n bloedsuikertekort veroorsaak, wat tot ’n koma kan lei.
Hiroki: Ek het ’n rolstoel wat spesiaal vir my gemaak is, en ek bly sowat 15 uur per dag in dieselfde posisie. Ek slaap ook nie goed nie. Die geringste geluid maak my wakker.
Timothy: Aanvanklik was my grootste uitdaging om eenvoudig te aanvaar dat ek siek is. Ek het verleë gevoel oor my toestand.
Ontwaak!: Voor watter ander probleme kom jy te staan?
Danielle: Suikersiekte laat my baie moeg voel. Ek het meer slaap nodig as ander van my ouderdom. Dan is suikersiekte ook ’n chroniese siekte waarvoor daar geen genesing is nie.
Natalie: Die feit dat ek so kort is, is natuurlik vir my ’n probleem. Om alledaagse dinge te doen—soos om items op ’n winkelrak by te kom—is moeilik. Wanneer ek alleen inkopies doen, verg dit baie inspanning.
Timothy: Ek moet met voortdurende pyn saamleef, asook met tye van neerslagtigheid. Ek was baie aktief voordat ek siek geword het. Ek het ’n werk en ’n bestuurslisensie gehad. Ek het sport gespeel, soos sokker en muurbal. Nou sit ek in ’n rolstoel.
Hiroki: Ek het ’n spraakgebrek. Dit ontmoedig my, en ek knoop nie sommer gesprekke aan nie. Soms veroorsaak onwillekeurige handbewegings dat ek iemand per ongeluk raakslaan. Wanneer dit gebeur, kan ek weens my spraakprobleem nie eers sê: “Ek’s jammer” nie.
Ontwaak!: Wat het jou gehelp om met jou situasie saam te leef?
Danielle: Ek probeer om op die goeie dinge in my lewe te konsentreer. Ek het ’n wonderlike familie, liefdevolle vriende in die gemeente en bowenal Jehovah God as my steunpilaar. Ek probeer ook op hoogte bly met inligting oor hoe om suikersiekte onder beheer te hou. Ek aanvaar verantwoordelikheid vir my gesondheid en doen my bes om na myself om te sien.
Natalie: Gebed is ’n bron van krag. Ek probeer om my probleme een vir een aan te pak. Om besig te bly, help my om nie oor negatiewe dinge te tob nie. En ek het twee wonderlike ouers wat ek in my vertroue kan neem.
Timothy: Ek doen elke dag iets geesteliks, al is dit net vir ’n rukkie. Ek begin byvoorbeeld elke dag deur na die dagteks te kyk. Persoonlike Bybelstudie en gebed is vir my baie belangrik, veral wanneer ek ’n emosionele laagtepunt bereik.
Hiroki: Ek probeer om my nie te kwel oor dinge waaraan ek niks kan doen nie. Dit is net ’n mors van tyd. Ek doen eerder alles in my vermoë om myself geestelik op te bou en gebruik nie my toestand as ’n verskoning om nie die Bybel te bestudeer nie. Wanneer ek nie kan slaap nie, beskou ek dit as ’n geleentheid om te bid.—Sien Romeine 12:12.
Ontwaak!: Hoe moedig ander jou aan?
Hiroki: Die ouer manne prys my altyd vir die bietjie wat ek kan doen. Die broers en susters in die gemeente neem my ook saam met hulle na hulle herbesoeke en Bybelstudies.—Sien Romeine 12:10.
Danielle: Wat my moontlik die diepste raak, is wanneer die broers en susters in die gemeente my opreg prys. Dit laat my voel dat hulle my waardeer, en dit moedig my aan om te volhard.
Timothy: Daar is ’n bejaarde suster wat altyd ’n spesiale poging aanwend om by die vergaderinge met my te praat. Ouer manne en hulle vrouens het my ook al aangemoedig en praktiese raad gegee. Een ouer man, wat 84 jaar oud is, het my gehelp om bereikbare doelwitte te stel. ’n Bedieningskneg het my genooi om saam met hom in die bediening uit te gaan en het gereël dat ons gaan werk in ’n gebied wat gelyk is, waar ek my rolstoel kon gebruik.—Sien Psalm 55:22.
Natalie: Sodra ek in die Koninkryksaal instap, groet my geestelike broers en susters my met hartlike glimlagte. Die oueres het altyd ’n bemoedigende gedagte vir my, ondanks die feit dat hulle hulle eie probleme het.—Sien 2 Korintiërs 4:16, 17.
Ontwaak!: Wat help jou om ’n positiewe gesindheid te behou?
Hiroki: As een van Jehovah se Getuies assosieer ek met ’n organisasie van mense wat ’n helder hoop het. Die wete dat ek deel is daarvan, help my om positief te wees.—Sien 2 Kronieke 15:7.
Danielle: Ek dink oor die voorreg wat ek het om God se voorneme te verstaan. Daar is mense wat goeie gesondheid geniet, en tog is hulle nie so tevrede met hulle lewe soos ek met myne is nie.—Sien Spreuke 15:15.
Natalie: Dit is vir my belangrik om myself te omring met mense wat positief is. Dit is ook aanmoedigend om die ondervindinge van ander te lees wat Jehovah ten spyte van beproewinge dien. En elke keer wanneer ek na die Koninkryksaal toe gaan, weet ek dat ek versterk sal word en herinner sal word aan wat ’n voorreg dit is om een van Jehovah se Getuies te wees.—Sien Hebreërs 10:24, 25.
Timothy: Volgens 1 Korintiërs 10:13 sal Jehovah nie toelaat dat ons meer deurmaak as wat ons kan verdra nie. Ek sê vir myself: ‘As my Skepper daarvan oortuig is dat ek hierdie probleem die hoof kan bied, wie is ek om daarteen te stry?’
IETS OM OOR TE DINK
Hiroki en Timothy is albei in rolstoele. As jy in ’n soortgelyke situasie is, hoe kan hulle kommentare jou help om ’n positiewe gesindheid te behou?
Danielle sê: “Aangesien suikersiekte nie sigbaar is nie, besef party mense nie hoe ernstig dit is nie.” Ly jy ook aan ’n “onsigbare” siekte? Indien wel, watter lesse kan jy uit Danielle se woorde leer?
Natalie sê dat een van die grootste uitdagings waarvoor sy te staan kom, mense se reaksie is wanneer hulle haar sien. Hoe sou jy iemand soos Natalie op haar gemak laat voel? As jy ’n siekte of gebrek het wat jou soos Natalie laat voel, hoe kan jy haar positiewe gesindheid navolg?
Skryf die name van mense wat jy weet ’n gebrek het of aan ’n chroniese siekte ly, hieronder neer.
Wat kan jy doen om elkeen van hulle te ondersteun?
[Prent op bladsy 26]
Hiroki, 23 Japan
[Prent op bladsy 26]
Natalie, 20 Suid-Afrika
[Prent op bladsy 26]
Timothy, 20 Brittanje
[Prent op bladsy 26]
Danielle, 24 Australië