Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 7/09 bl. 14-16
  • Die luilekker lewe van ’n luidier

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die luilekker lewe van ’n luidier
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Tweetoon, drietoon, groen en koud
  • Hy geniet sy middagete tydsaam
  • Gemaak om onderstebo te lewe
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2009
  • Het ons die bewustheid van sonde verloor?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Wat weet jy van temperatuur?
    Ontwaak!—1991
  • Is daar “sewe doodsondes”?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 7/09 bl. 14-16

Die luilekker lewe van ’n luidier

“MAAK gou! Kry jou kamera!” het ek opgewonde vir my suster gesê toe ek ’n groen luidier op die oerwoudpaadjie voor my raaksien. Ons het gelag toe ons besef dat dit nie vir haar nodig was om haar te haas nie—die luidier is een van die wêreld se stadigste diere.

Om meer omtrent hierdie soogdier te leer, het ek Zoo Ave in La Garita de Alajuela, Costa Rica, besoek. Dit is meer as net ’n dieretuin; dit is ’n sentrum wat gestig is om inheemse diere te red, te rehabiliteer en in die natuur te hervestig. Daar het ek die bioloog Shirley Ramírez ontmoet, Zoo Ave se entoesiastiese navorsingsdirekteur. Sy het my geneem om die dieretuin se inwonende luidier, Pelota, te gaan ontmoet, wat in Spaans “bal” beteken. Soms rol luidiere hulle in werklikheid in ’n stywe bol op om te slaap. Pelota is ’n tweetoonluidier, so groot soos ’n klein hond, met ’n wollerige pels, ’n stompneus en groot, waterige bruin oë.

Uit my navorsing het ek geleer dat luidiere alleenlopers is en dat hulle ongeveer een maal per jaar aan een kleintjie geboorte gee. Die babaluidier klou vir die eerste vier tot ses weke aan sy ma vas totdat hy gespeen word, maar sal daarna moontlik nog vyf tot agt maande lank op haar maag ry. Gedurende hierdie tyd voer die ma haar baba sagte, maklik verteerbare blare met haar lippe. Later steek die baba sy poot uit om self blare te pluk terwyl hy heeltyd aan sy ma vasklou. Gedurende hulle tyd saam maak die ma ook seker dat haar kleintjie vertroud raak met die klein gebied wat sy tuiste sal word.

Tweetoon, drietoon, groen en koud

Ek het uitgevind dat die luidier wat ek in die oerwoud gesien het, ’n drietoonluidier was. Hy het ’n swart masker om sy oë gehad, ’n kort, dik stert, ’n pels van growwe hare, voorpote wat baie langer is as sy agterpote en ’n geelgoue kol tussen sy skouers. Hierdie soort luidier het nege nekwerwels, wat hom in staat stel om sy kop 270 grade te draai wanneer hy na sy gunstelingblare soek. Maar waarom het hy so ’n groen kleur? Shirley antwoord: “Daardie groenerige kleur is alge wat op die luidier se pels groei.”

In teenstelling met hulle drietonige neefs, met hulle lang voorpote, is die tweetoonluidiere se voor- en agterpote omtrent ewe lank. Hulle hare is lank, goudbruin en sag.

Die luidier bring sy dae hoog in die wouddak deur waar hy in die sonnetjie bak. Sy liggaamstemperatuur verander na gelang van die lugtemperatuur en kan wissel tussen 24 grade Celsius snags en 33 grade Celsius bedags—’n temperatuurwisseling wat groter is as dié van enige ander soogdier. Die luidier het so ’n lae spiermassa dat hy nie kan bewe om warm te bly nie. Wanneer hy slaap, rol hy hom dus dikwels op in ’n bol om hitteverlies te keer. Sy kort, fyn donshare dien as isolasie. En ja, die luidier kan 20 uur per dag slaap!

Hy geniet sy middagete tydsaam

Aangesien vertering liggaamshitte vereis vir bakteriewerking en gisting, gee die luidier se lae liggaamstemperatuur hom ’n ongelooflik stadige metabolisme. Blare kan tot ’n maand neem om deur die stadiums van vertering in die luidier se saamgestelde maag te gaan voordat dit na die dunderm gaan. Gedurende ’n reënseisoen met baie opeenvolgende koel dae, kan luidiere met ’n maag vol kos van die honger doodgaan. “Die son se hitte”, verduidelik Shirley, “is vir luidiere onontbeerlik vir vertering.”

Shirley voeg by: “As ’n dieretuinopsigter wat met die diere werk en hulle hokke skoonmaak, moet ek sê dat die beste ding omtrent luidiere vir my is dat hulle net een keer per week ontlasting het en urineer! Wanneer hulle dit doen, gaan hulle af grond toe, grawe ’n gat en begrawe hulle ontlasting. Dit is al wat hulle op die grond doen.”

Gemaak om onderstebo te lewe

Luidiere doen byna alle ander dinge—eet, slaap, paar en gee geboorte—terwyl hulle in bome hang. Dié klein soogdiere is vernuftig ontwerp deur hulle Skepper om in ’n onderstebo wêreld te lewe. Die dier hang aan sy vingers en tone, wat toegerus is met sewe sentimeter lange kloue wat om takke en rankplante sluit. Om te verhoed dat die luidier se vel sopnat word van die swaar tropiese reën, groei selfs sy hare onderstebo! Sy hare vorm ’n paadjie op sy maag en groei af om sy rug—net die teenoorgestelde van die hare van ander landdiere—wat die reën maklik laat afloop. Hoewel die luidier op die grond ongemaklik en lomp is, is hy bo in die takke die ene ontspanne grasie. Verbasend genoeg is die luidier ook ’n uitstekende swemmer!

Wat het ek nog omtrent hierdie rustige boombewoner geleer? Twee dinge staan uit. Eerstens het die luidier ’n verbasende vermoë om beserings en selfs gifdosisse te oorleef wat vir ander soogdiere dodelik sou wees. Ernstige wonde word gou gesond en raak selde ontsteek. ’n Beter begrip van die luidier se immuunstelsel sou dus nuttig wees vir mediese navorsing. En tweedens sal mense wat altyd aan die hardloop en onder druk is, dalk daarby baat vind as hulle, ten minste in ’n mate, die luidier se ontspanne pas en rustige geaardheid naboots.—Bygedra.

[Venster/Prente op bladsy 15]

DIE “VOLMAAKTE GASHEER”

Die groenerige kleur van die luidier se growwe pels word veroorsaak deur simbiotiese alge wat groei in groewe wat in die lengte van elkeen van die soogdier se buitenste hare afloop. Die luidier is die alge se gasheer, en die alge voorsien weer voedingstowwe wat die luidier deur sy vel absorbeer of inneem deur sy pels te lek. Die grysgroen kleur van die luidier laat hom net soos ’n klomp droë blare lyk wat aan ’n tak hang—die volmaakte oerwoudvermomming! En hoe langer ’n luidier lewe, hoe groener raak hy!

[Erkennings]

Regs bo: © Michael and Patricia Fogden; onder: © Jan Ševčík

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel