Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 7/09 bl. 16-19
  • Albarracín—’n Baie besondere “arendsnes”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Albarracín—’n Baie besondere “arendsnes”
  • Ontwaak!—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Bron van voedsel en water
  • Voorspoed onder Moslemheerskappy
  • ’n Indrukwekkende silhoeët
  • Natuurskatte in die omgewing
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2009
  • Die Woord van God in Middeleeuse Spanje
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Katolieke pelgrimsreis—Gegrond op feite of mites?
    Ontwaak!—1991
  • Madrid—’n Hoofstad gebou vir ’n koning
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 7/09 bl. 16-19

Albarracín​—’n Baie besondere “arendsnes”

“Besoek een van die pragtigste dorpe in Spanje, besoek Albarracín.”—José Martínez Ruiz, ’n Spaanse skrywer wat ook as Azorín bekend staan, 1873-1967.

ALBARRACÍN is ’n unieke dorp. Wat maak dit besonders? Eerstens sy ligging, dan sy geskiedenis en laastens sy lieflike omgewing. Om hierdie redes het die Spaanse regering hierdie klein dorp in die provinsie Teruel in 1961 tot ’n nasionale monument verklaar. En in 2005 het ’n groep toeristeverteenwoordigers Albarracín gekies as “die pragtigste dorp in Spanje”.

Versteek in die berge van Sentraal-Spanje, lê Albarracín, ’n antieke dorp met sowat 1 000 inwoners. Dit word omring deur groen graslande wat deur etlike riviere van water voorsien word, en ’n bergreeks met dieselfde naam—Sierra de Albarracín.

’n Bron van voedsel en water

In antieke tye het die groot getalle wild in die omgewing van Albarracín mense hierheen gelok, en hulle grottekeninge toon dat hulle goeie kunstenaars en skerp waarnemers van die natuur was. Hulle het baie reusebulle en ander diere geteken met ’n wit pigment wat nog net in hierdie gebied gevind is. Geleerdes dink dat hierdie grotte, waarin tonele uit die daaglikse lewe uitgebeeld is, as vergaderplekke vir godsdiens- of sosiale geleenthede gebruik is.

Daar is vandag nog ’n oorvloed takbokke, wildevarke en kleinwild in die nabygeleë wildreservaat Montes Universales. En die Guadalaviar (Arabies vir “Wit Rivier”) is een van die beste forelriviere in Spanje.

In 133 v.G.J. het die Romeine die plaaslike Keltiberiese stamme onderwerp en etlike dorpe in die omgewing van Albarracín gevestig. In die eerste eeu G.J. het Romeinse ingenieurs ’n 18 kilometer lange akwaduk (1) aangelê. Dit word beskou as een van die mees komplekse Romeinse projekte van openbare werke in Spanje. Romeinse godsdiens het ook ’n blywende invloed op die dorp gehad. ’n Inskripsie op ’n Romeinse grafsteen wat in die dorp Albarracín gevind is, gee te kenne dat keiseraanbidding hier beoefen is.

Voorspoed onder Moslemheerskappy

Teen die negende eeu het die More die gebied oorgeneem, en daar word geglo dat die naam Albarracín afgelei is van die naam van die Moslems wat hulle hier kom vestig het, die Berber-stamgroep Banoe Razin. In die Middeleeue het More, Jode en naamchristene almal in wedersydse respek en verdraagsaamheid saamgelewe. Gevolglik was dit een van die voorspoedigste tydperke in Albarracín se geskiedenis.

Die vakmanne van Albarracín het pragtige voorwerpe gemaak, en daar was klaarblyklik ook groot vooruitgang in die geneeskunde. ’n Stel chirurgiese instrumente wat opgegrawe is, toon dat plaaslike chirurge selfs katarakoperasies gedoen het. Albarracín het tot die einde van die 12de eeu onder Moslembewind gebly, waarna dit onder Rooms-Katolieke heerskappy gekom het. Dit is noemenswaardig dat dít blykbaar die enigste keer in die geskiedenis van Spanje was dat so ’n politieke verandering vreedsaam plaasgevind het.

Hoe lyk Albarracín vandag? ’n Besoeker kan vandag nog deur ’n Middeleeuse stad wandel, aangesien geen nuwe dele bygevoeg is nie.

’n Indrukwekkende silhoeët

Die Spaanse filosoof José Ortega y Gasset (1883-1955) het Albarracín beskryf as “die stad waarvan die indrukwekkende silhoeët tot in die hoogtes strek”. Hierdie beskrywing is gepas, aangesien die dorp op ’n rotsbank sowat 1 200 meter bo seevlak geleë is en omring word deur ’n diep kloof, wat as ’n beskermende grag dien. Hierdie natuurlike vesting het die dorp deur die eeue heen beskerm en het aanleiding gegee tot Albarracín se bynaam Arendsnes.

Wanneer ’n besoeker deur die nou, geplaveide strate van die dorp loop, sal hy fassinerende argitektuur uit vervloë tye sien. ’n Paar van die beste voorbeelde is die Hoekbalkon, die Blou Huis (2), en die Julianeta-huis (3). Die laasgenoemde lyk amper asof dit ’n balanseertoertjie by die kruising van twee strate probeer uitvoer.

Huise uit daardie tydperk is van hout en pleister gemaak, materiale wat baie ligter is as klip—’n belangrike faktor as jy bo-op ’n heuwel bou. Die klein venstertjies met kantgordyne en ystertraliewerk (4) trek ook ’n besoeker se aandag. Die oorvleuelende daklyste, balkonne met houtsnywerk en ongewone deurkloppers, dikwels in die vorm van diere, maak die dorp selfs meer besonders.

Iemand wat maklik duiselig word, moet liewer nie afkyk wanneer hy by een van die hangende huise instap nie. Omdat die dorp op ’n rotsbank gebou is en bouplek beperk was, het party inwoners hulle huise op die rand van die krans gebou.

Op die heuwel waar die oorspronklike middelpunt van Albarracín vroeër was, troon ’n Moorse kasteel oor die dorp uit. Die Torre del Andador is deel van die oorspronklike muur wat die Arabiere in die tiende eeu opgerig het. Onder die geboue wat later opgerig is, is die Gotiese katedraal, wat uit die 16de eeu dateer, en die hoefystervormige stadsaal met sy kolonnades met geronde boë.

Natuurskatte in die omgewing

Vir natuurliefhebbers bied Albarracín selfs meer. Die omliggende bergreeks het ’n groot verskeidenheid ekosisteme, met ’n oorvloed flora en fauna. In die bosryke berge is daar pragtige fonteine en watervalle. En diegene wat hier kampeer, kan die asemrowende sterrenagte geniet.

Etlike gesinne wat Jehovah se Getuies is, woon in hierdie gebied. Die pragtige omgewing waarin hulle woon, herinner hulle aan die Bybel se belofte dat gehoorsame mense onder God se Koninkryk in ’n aardwye paradys sal lewe. Dit is die goeie nuus wat hulle aan hulle bure verkondig.—Psalm 98:7-9; Matteus 24:14.

Elke jaar loop meer as honderdduisend toeriste deur die nou strate van Albarracín. As jy ooit na Spanje toe kom, kan jy gerus hierdie unieke “arendsnes” besoek, wat in die berge versteek is.

[Venster/Prente op bladsy 18]

KUNSSKATTE WAT IN ALBARRACÍN ONTDEK IS

Silwer salfpotjie. Die Moorse koning Abdelmelik het hierdie potjie laat maak vir sy vrou Zahr, wat in Arabies “Blom” beteken. Goue graveerwerk daarop sê ten dele: “Ewige seën . . . , goddelike hulp en leiding na goedheid en geregtigheid.” Dit word beskou as een van die beste silwerskatte van die Spaans-Arabiese kuns.

Vis gekerf uit bergkristal. Die vis is versier met skubbe, ’n mond van silwer en vinne van goud. Dit is ook versier met pêrels en robyne. Volgens deskundiges is die graveerwerk so fyn dat een ambagsman dit nie in sy leeftyd sou kon voltooi het nie.

[Erkennings]

Potjie: Museo de Teruel. Foto Jorge Escudero; kristal: Sta. Ma de Albarracín Foundation

[Kaart op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

PORTUGAL

SPANJE

MADRID

Albarracín

[Prent op bladsy 17]

1 Akwaduk

[Prente op bladsy 18]

2 Blou Huis

3 Julianeta-huis

4 Ystertraliewerk

[Foto-erkenning op bladsy 17]

© Ioseba Egibar/age fotostock

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel