Ibn Battoeta onthul sy wêreld
IN DIE jaar 1325 het ’n jong man uit Tangier, Marokko, vertrek op die eerste van ’n aantal reise wat hom na party van die mees afgeleë dele van die destyds bekende wêreld sou neem, insluitende China, Indië, Indonesië, Mali, Persië, Rusland, Sirië, Tanzanië, Turkye en al die Arabiese lande. Die man was Aboe Abdallah ibn Battoeta, en hy het sowat 120 700 kilometer gereis—’n ongeëwenaarde prestasie voor die era van stoomaandrywing.
Ibn Battoeta is al die reisiger van Islam en die grootste reisiger van premoderne tye genoem. Sy gedenkskrifte, wat geskryf is toe hy ná byna 30 jaar se reise finaal teruggekeer het huis toe, werp lig op baie fasette van die lewe en kultuur gedurende die 14de eeu, veral in die Middeleeuse Moslemwêreld.
Pelgrimstog na Mekka
Ibn Battoeta het uit Tangier vertrek om die heilige plekke te besoek en die hadj te doen, die Moslempelgrimstog na Mekka, wat vereis word van elke volwasse Moslem wat finansieel en fisies in staat is om te reis. Mekka lê sowat 4 800 kilometer oos van Tangier. Soos die meeste pelgrims het Ibn Battoeta om veiligheidsredes saam met karavane gereis wat hom sou help om sy bestemming te bereik.
Aangesien sy pa ’n qadi, of plaaslike regter, was, het Ibn Battoeta die opvoeding van ’n qadi ontvang, die beste wat Tangier kon bied. Toe sy medereisigers dit hoor, het hulle hom aangestel as hulle regter sodat hy gedurende die reis geskille kon beslis.
Na Aleksandrië, Kaïro en die Bo-Nyl
Die karavaan het al met die kus van Noord-Afrika langs na Egipte gereis. Hier het Ibn Battoeta Aleksandrië se beroemde vuurtoring—’n wonder van die Ou Wêreld—gesien, wat teen daardie tyd alreeds redelik bouvallig was. Kaïro, het hy gesê, was ’n stad met “’n magdom verskillende geboue, [’n stad van] ongeëwenaarde prag en luister, ’n plek waar almal wat kom en gaan, se paaie kruis, die stopplek van geringes en magtiges, wat heeltyd wemel van mense”. Hy het die bote, tuine, basaars, godsdiensgeboue en tradisies van hierdie groot stad baie bewonder. Soos later sy gebruik geword het, het hy in Egipte die ondersteuning van geestelikes, geleerdes en ander invloedryke mense probeer verkry en dit ook ontvang.
Van Kaïro af het hy al met die Nyl langs gereis na Bo-Egipte, en langs die pad het hy die gasvryheid geniet van geestelikes en kloosters sowel as losieshuise en kolleges wat van donasies afhanklik was—destyds iets algemeens in Moslemstede. Hy wou deur die woestyn na die Rooisee reis, na westelike Arabië seil en dan gaan na Medina, waar die moskee van die profeet Mohammed is, en na Mekka. Maar oorlog het sy weg versper, en daarom het hy na Kaïro teruggekeer.
’n Lang ompad
Ibn Battoeta was nog steeds vasbeslote om Medina en Mekka te besoek, en hy het dus noordwaarts gereis na Gasa, toe na Hebron en daarna na die plek waar Abraham, Isak en Jakob glo begrawe is. Op pad na Jerusalem en die Rotskoepel het hy by Betlehem aangedoen, waar hy gesien het hoe naamchristene Jesus se geboorteplek vereer.
Hierna het Ibn Battoeta noord gereis na Damaskus, waar hy deur vooraanstaande Moslemgeleerdes onderrig is en sy kwalifikasie as onderrigter verwerf het. Hy het gesê dat die stad se Omajjade-moskee die “luisterrykste” moskee in die wêreld is. Plaaslike basaars het juwele, lap, skryfbehoeftes, boeke en glasware verkoop, en notarisse het stalletjies gehad waar “vyf of ses getuies altyd beskikbaar was, sowel as iemand wat deur die qadi gemagtig is om huwelike te voltrek”. Trouens, terwyl Ibn Battoeta in Damaskus was, het hy getrou. Sy bruid was egter net een van talle vrouens en byvrouens wat so gou as wat hulle in sy verhaal verskyn, weer daaruit verdwyn.
In Damaskus het Ibn Battoeta by ander pelgrims aangesluit wat op pad was na Mekka. Langs die pad het sy groep by ’n fontein gekamp waar waterdraers buffelhuide gebruik het om groot waterbakke, of tenks, te maak. Hier het reisigers vir hulle kamele water geskep en hulle eie watersakke vol gemaak voordat hulle deur die woestyn getrek het. Uiteindelik het hy in Mekka aangekom. Dit was die eerste van sewe pelgrimstogte wat hy daarheen onderneem het. Die meeste pelgrims het huis toe gegaan nadat hulle hulle ritusse uitgevoer het. Maar nie Ibn Battoeta nie. Hy het na Bagdad vertrek “uit pure avontuurlustigheid”, sê een biograaf.
Die reisgier pak hom beet
In Bagdad, wat destyds die vernaamste stad van Islam was, is Ibn Battoeta baie beïndruk deur die openbare badhuise. “Elke badhuis het ’n groot aantal private badkamers”, het hy gesê, “waarvan elkeen ook ’n wasbak in die hoek het, met twee krane wat warm en koue water voorsien.” Deur die bemiddeling van ’n vriendelike generaal is die jong man aan die sultan, Aboe Sa’id, voorgestel. Ibn Battoeta is met kosbare geskenke daar weg—’n perd, ’n seremoniële kleed en ’n aanbevelingsbrief waarin die goewerneur van Bagdad gevra is om hom van kamele en voorraad te voorsien.
Toe het Ibn Battoeta na die Oos-Afrikaanse hawestede Mogadisjoe, Mombasa en Zanzibar geseil voordat hy na Arabië en tot in die Persiese Golf gereis het. Later het hy die mense, gebruike en produkte beskryf wat hy op sy reis gesien het—die gasvryheid wat aan handelaars bewys is in Somalië, kokosplantasies en mense wat betelneut kou in Jemen en pêrelduikery in die Persiese Golf. Daarna het hy met ’n wye draai gereis na Indië—hy het deur Egipte, Sirië en Anatolië (Turkye) gereis; die Swartsee oorgesteek; om die noordelike deel van die Kaspiese See gereis en toe af na wat vandag as Kazakstan, Oesbekistan, Afganistan en Pakistan bekend staan.
Van Indië na China
In Indië het Ibn Battoeta agt jaar lank vir die sultan van Delhi as qadi gedien. Omdat die sultan geweet het hoe lief Ibn Battoeta daarvoor is om te reis, het hy hom gestuur as ambassadeur na Togon-Temuer, die Mongoolse keiser van China. Met sy aankoms moes hy ’n diplomatieke geskenk oorhandig wat bestaan het uit “honderd opreggeteelde perde, honderd wit slawe, honderd dansende en singende Hindoemeisies, twaalfhonderd stukke lap van verskillende soorte, silwer- en goue kandelare en komme, brokaatkledingstukke, hoedjies, pylkokers, swaarde, handskoene met pêrelborduurwerk en vyftien eunugs”.
In die Suid-Indiese hawestad Kalikoet het Ibn Battoeta groot handelskepe gesien wat jonke genoem word en wat die roete bevaar het wat hy na China wou neem. Elke skip het tot 12 seile gehad, wat van gevlegte bamboes gemaak was, en het ’n bemanning gehad van tot 1 000—600 seemanne en 400 soldate. Die seemanne se gesinne het op die skip gebly, waar “hulle blaargroente, groente en gemmer in houttenks” gekweek het, het Ibn Battoeta gesê.
Weens skipbreuk kon Ibn Battoeta nie sy diplomatiese sending na China uitvoer nie. Hy het toe vir ’n Moslemheerser in die Maledive begin werk en was die eerste persoon wat die plaaslike gebruike aan die buitewêreld beskryf het. Hy het China uiteindelik wel bereik. En hoewel daar dinge was waarvan hy gehou het, was daar ook dinge wat sy godsdiensgevoel gekwets het. Die feit dat hy so min oor China geskryf het, het party laat twyfel of hy soveel daar gereis het as wat hy beweer het. Hy het moontlik net hawestede in die suide van China bereik.
Droewige nuus op pad huis toe
Toe Ibn Battoeta weer in Damaskus aangekom het, het hy uitgevind dat ’n seun wat hy sowat 20 jaar vroeër daar agtergelaat het, reeds 12 jaar tevore oorlede is en dat sy eie pa, wat in Tangier gewoon het, al 15 jaar dood is. Dit was al die jaar 1348, en die Swart Dood het die Midde-Ooste geteister. Trouens, Ibn Battoeta het gesê dat 21 000 mense elke dag in Kaïro gesterf het!
’n Jaar later het die 45-jarige reisiger in Marokko aangekom en uitgevind dat sy ma net ’n paar maande tevore aan die pes gesterf het. Toe hy daar weg is, was hy 21. Het 24 jaar se reise sy avontuurlus bevredig? Klaarblyklik nie, want hy was gou weer op pad na Spanje. Drie jaar later het hy sy laaste reis onderneem, wat hom geneem het na die Nigerrivier en Timboektoe, ’n stad in die Afrikaland wat nou as Mali bekend staan.
Gelas om sy gedenkskrifte te skryf
Nadat die sultan van Fes, Marokko, gehoor het van Ibn Battoeta se reise, het hy hom beveel om ’n geskrewe verslag vir die hof op te stel en hom ’n sekretaris, Ibn Djoezajj, gegee. Die voltooide werk het nie ’n wye verspreiding in Arabies geniet nie, en dit is eers in Westerse tale vertaal nadat Europese geleerdes die verslag in die 19de eeu herontdek het.
Ibn Djoezajj beskryf die verslag as ’n verkorte weergawe van die reisiger se diktee, maar die skrywer het die verslag klaarblyklik hier en daar verander. Nietemin bied die werk ons unieke insig in die lewe, handelsbedrywighede, gebruike, godsdienste en politiek van die lande wat Ibn Battoeta besoek het, veral dié van die Middeleeuse Islamitiese wêreld.
[Prent op bladsy 14]
’n Tekening deur Al-Wasiti, uit die 13de eeu, wat Middeleeuse Islamitiese pelgrims op ’n hadj uitbeeld
[Erkenning]
Scala/White Images/Art Resource, NY
[Prent op bladsy 16]
Die Katalaanse Atlas van 1375, wat ’n deel toon van die gebied waardeur Ibn Battoeta gereis het
[Erkenning]
Snark/Art Resource, NY