Hoe om jou kommunikasievermoë te verbeter
VIND jy dit gewoonlik maklik om met mense te gesels? Party mense raak angstig by die blote gedagte om ’n gesprek te voer, veral met iemand wat hulle nie ken nie. Sulke mense is moontlik skaam. Hulle wonder dalk: ‘Waaroor moet ek praat? Hoe kan ek die gesprek begin? Hoe kan ek dit aan die gang hou?’ Uitgaande mense vol selfvertroue is miskien geneig om ’n gesprek te oorheers. Vir hulle is die uitdaging dalk om ander aan die gesels te kry en om te leer om te luister wat hulle sê. Almal van ons, hetsy skaam of uitgaande, moet dus leer om gesprekke te voer.
Begin by die huis
As jy jou kommunikasievermoë wil verbeter, kan jy gerus by die huis begin. Opbouende gesprekke kan baie tot die geluk van ’n gesin bydra.
Die belangrikste sleutel tot sulke gesprekke is dat ons werklik vir mekaar moet omgee (Deut. 6:6, 7; Spr. 4:1-4). Wanneer ons vir mekaar omgee, kommunikeer ons, en ons luister wanneer die ander persoon iets wil sê. Nog ’n belangrike faktor is dat ons iets moet hê wat die moeite werd is om te sê. As ons ’n gereelde program van persoonlike Bybellees en -studie het, sal ons baie hê waaroor ons kan praat. Ons kan ook die boekie Ondersoek die Skrif elke dag gebruik om gesprekke te begin. Gedurende die dag het ons miskien ’n aangename ondervinding in die velddiens. Ons lees dalk iets wat leersaam of amusant is. Ons moet ’n gewoonte daarvan maak om tydens opbouende gesinsgesprekke oor hierdie dinge te praat. Dit sal ons ook help om met mense buite die gesinskring te praat.
Gesprekke met vreemdelinge
Baie mense huiwer om ’n gesprek te begin met iemand wat hulle nie ken nie. Maar weens Jehovah se Getuies se liefde vir God en vir hulle naaste wend hulle ’n opregte poging aan om te leer hoe om gesprekke te voer sodat hulle Bybelwaarhede aan ander kan oordra. Wat kan jou help om hierin te verbeter?
Die beginsel in Filippense 2:4 is nuttig. Ons word aangemoedig om “nie uit persoonlike belangstelling ’n oog op net [ons] eie sake [te] hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander”. Dink so daaraan: As jy die persoon nog nooit ontmoet het nie, beskou hy jou as ’n vreemdeling. Hoe kan jy hom op sy gemak laat voel? ’n Hartlike glimlag en ’n vriendelike groet sal help. Maar dit is nie al nie.
Jy het dalk sy gedagtes onderbreek. Sal hy gunstig reageer as jy jou gedagtes met hom probeer bespreek sonder om in ag te neem waaraan hy gedink het? Wat het Jesus gedoen toe hy ’n vrou by ’n put in Samaria ontmoet het? Sy het gedink aan die water wat sy moes skep. Jesus het dit gebruik om ’n gesprek met haar te begin, en hy het dit gou in ’n interessante geestelike bespreking verander.—Joh. 4:7-26.
As jy oplettend is, kan jy ook vasstel waaroor mense dink. Lyk die persoon gelukkig of hartseer? Is hy bejaard, moontlik siek? Sien jy tekens dat daar kinders in die huis is? Lyk dit of die persoon welgesteld is of dat hy sukkel om die lewensbenodigdhede te bekom? Toon versierings in die huis of die persoon se juweliersware dat godsdiens ’n rol in sy lewe speel? As jy hierdie dinge in gedagte hou wanneer jy iemand groet, sal hy jou moontlik as iemand beskou wat iets met hom in gemeen het.
Watter gevolgtrekking kan jy maak as jy nie die huisbewoner van aangesig tot aangesig ontmoet nie en jy moontlik net sy stem deur ’n geslote deur hoor? Die persoon lewe dalk in vrees. Kan jy daardie inligting gebruik om ’n gesprek deur die deur te begin?
Op party plekke kan ’n mens ’n gesprek met iemand aanknoop deur hom iets van jouself te vertel—jou agtergrond, waarom jy na sy deur toe gekom het, waarom jy in God glo, waarom jy die Bybel begin studeer het en hoe die Bybel jou gehelp het (Hand. 26:4-23). Dit moet natuurlik met goeie oordeel en met ’n duidelike doel in gedagte gedoen word. Dit kan die persoon weer beweeg om vir jou iets van homself te vertel en te sê hoe hy sake beskou.
In sommige kulture is dit gebruiklik om gasvryheid aan vreemdelinge te betoon. Mense nooi jou dalk sonder aarseling om in te kom en te sit. Wanneer jy gaan sit en vriendelik oor die welstand van die gesin verneem en mooi luister na wat hy sê, sal die huisbewoner moontlik met net soveel aandag luister na wat jy te sê het. Ander mense toon selfs meer belangstelling in besoekers, en daarom kan dit baie meer tyd neem om jou voor te stel. Sodoende vind hulle dalk uit dat hulle iets met jou in gemeen het. Dit kan tot ’n opbouende geestelike bespreking lei.
Sê nou daar is baie mense in jou omgewing wat ander tale praat? Hoe kan jy hierdie mense bereik? As jy selfs net leer om in sommige van daardie tale te groet, sal die mense besef dat jy in hulle belangstel. Dit kan tot ’n gesprek lei.
Hoe om ’n gesprek aan die gang te hou
As jy ’n gesprek aan die gang wil hou, moet jy belangstel in wat die ander persoon dink. Moedig hom aan om daaroor te praat as hy wil. Goed gekose vrae kan nuttig wees. Beskouingsvrae is die beste omdat dit gewoonlik nie net met ja of nee beantwoord kan word nie. Nadat jy byvoorbeeld ’n probleem gemeld het waaroor die plaaslike mense besorg is, kan jy vra: “Wat dink jy het tot hierdie situasie aanleiding gegee?” of “Wat dink jy is die oplossing?”
Wanneer jy ’n vraag vra, moet jy aandagtig na die antwoord luister. Toon jou opregte belangstelling deur ’n woord, ’n knik of ’n gebaar. Moet die persoon nie in die rede val nie. Luister met ’n oop gemoed na wat gesê word. “Wees [gou] om te hoor, stadig om te praat” (Jak. 1:19). Wanneer jy wel antwoord, moet jy toon dat jy werklik geluister het na wat gesê is.
Jy moet egter besef dat nie almal jou vrae gaan beantwoord nie. Sommige mense sal jou net verbaas aankyk of glimlag. Ander sal net ja of nee sê. Moenie gefrustreerd raak nie. Wees geduldig. Moet hulle nie forseer om te gesels nie. As die persoon bereid is om te luister, moet jy die geleentheid gebruik om opbouende skriftuurlike gedagtes te bespreek. Mettertyd sal die persoon jou dalk as ’n vriend begin beskou. Dan sal hy miskien meer bereid wees om met jou te gesels.
As jy met mense praat, moet jy ook aan toekomstige gesprekke dink. As iemand ’n paar vrae vra, kan jy sommige daarvan beantwoord, maar laat een of twee vir jou volgende besoek oorstaan. Bied aan om navorsing te doen, en vertel hom dan wat jy gevind het. As hy nie vrae vra nie, kan jy julle gesprek afsluit met ’n vraag waarin jy dink hy sal belangstel. Bied aan om dit tydens die volgende besoek te bespreek. In die boek Redenering uit die Skrif, die brosjure Wat vereis God van ons? en onlangse nommers van Die Wagtoring en Ontwaak! kan jy ’n skat van idees vind.
Met medegelowiges
Wanneer jy ’n ander Getuie van Jehovah vir die eerste keer ontmoet, neem jy die inisiatief om hom beter te leer ken? Of bly jy net stil? Liefde vir ons broers behoort ons te beweeg om hulle beter te wil ken (Joh. 13:35). Hoe kan jy begin? Jy kan eenvoudig sê wie jy is en vra wat die ander persoon se naam is. As jy hom vra hoe hy die waarheid geleer het, sal dit gewoonlik tot ’n interessante gesprek lei en julle help om mekaar te leer ken. Al klink dit vir jou of jy nie jou gedagtes vlot uitdruk nie, toon jou poging vir die ander persoon dat jy vir hom omgee, en dit is wat van belang is.
Wat kan tot ’n sinvolle gesprek met ’n lid van julle gemeente bydra? Toon opregte belangstelling in die persoon en sy gesin. Het die vergadering so pas geëindig? Praat oor gedagtes wat jy leersaam gevind het. Dit kan julle albei tot voordeel strek. Jy kan ’n interessante punt uit ’n onlangse nommer van Die Wagtoring of Ontwaak! meld. Dit moenie as ’n vertoon of ’n toets van kennis gedoen word nie. Doen dit met die doel om iets oor te dra wat jy baie geniet het. Julle kan oor ’n toespraak praat wat een van julle in die Teokratiese Bedieningskool het en gedagtes wissel oor hoe dit behartig kan word. Julle kan ook praat oor julle ondervindinge in die veldbediening.
Ons belangstelling in mense lei natuurlik dikwels tot gesprekke oor mense—die dinge wat hulle sê en doen. Daar is ook plek vir humor in ons gesprekke. Sal wat ons sê opbouend wees? As ons die raad van God se Woord ter harte neem en deur Goddelike liefde beweeg word, sal ons gesprekke beslis opbouend wees.—Spr. 16:27, 28; Ef. 4:25, 29; 5:3, 4; Jak. 1:26.
Voordat ons aan die veldbediening deelneem, berei ons voor. Berei gerus iets interessants voor waaroor jy met vriende kan gesels. Wanneer jy iets interessants lees of hoor, kan jy punte onthou wat jy vir ander wil vertel. Mettertyd sal jy ’n oorvloed dinge hê om van te kies. As jy dit doen, sal jy oor meer as net alledaagse dinge kan praat. Mag jou gesprekke bowenal toon hoe kosbaar God se Woord vir jou is!—Ps. 139:17.