Die Lollarde, moedige Bybelpredikers
TOE John Wycliffea sterf, was sy vyande verheug. Hulle sou nie langer geteister word deur die probleme wat sy leerstellings geskep het nie. Hulle sou weer hulle houvas op die mense kon verstewig. Wycliffe se geskrifte en Bybelvertaling in Engels kon op die agtergrond geskuif word. Hoewel dit hulle hoop was, is dit nie verwesenlik nie. Sy volgelinge, die Lollarde, was meer vasbeslote as ooit om Wycliffe se werk aan die lewe te hou.
Die bynaam “Lollard” was nie onbekend nie, daar dit reeds in die 14de eeu in Nederland ontstaan het. Maar na Wycliffe se dood het hierdie naam werklik na vore gekom. Dit is afgelei uit die Middelnederlandse woord lullen (wat kom van die Engelse woord “lull”, wat oorspronklik beteken het om te sing, te neurie of te prewel), en beteken gevolglik ‘’n lower van God’. Die Middel-Engelse woord loller (verlatyns as lollardus), wat slaan op ’n ledige rondloper of leegleër, is met die gedagte van lof verwar. Dat die Lollarde glad nie ledig was nie, word getoon deur hulle vlytige verkondiging van God se Woord dwarsdeur Engeland.
Die tweede Wycliffe-Bybel
Wycliffe se vertaling van die Bybel het ’n aptyt vir die Skrif gewek wat versadig moes word. Die gebruik van hierdie vertaling vir predikingswerk het egter getoon dat die uitdrukkings daarin dikwels moeilik was om te verstaan. ’n Hersiening was nodig om die Bybel se boodskap in die taal van die gewone mense te kry. ’n Aantal van Wycliffe se volgelinge het met hierdie taak gehelp, en sy intiemste metgesel, John Purvey, het skynbaar die leiding gegee.
’n Voorwoord of proloog tot die tweede Wycliffe-weergawe sit party van die beginsels uiteen wat tydens die vertaling gevolg is. Die Latynse teks is nie voor die voet aanvaar nie, want die vertalers het besef dat foute en verdraaiings deur die eeue ingesluip het. Soveel ou uitgawes moontlik is versamel en vergelyk “om een Latynse Bybel te maak wat grotendeels betroubaar is; en om dan die teks met die kantaantekeninge opnuut te bestudeer”—’n metode wat in daardie dae so te sê ongekend was. In hulle soeke na ’n suiwerder Latynse teks het die vertalers ook probeer om die korrekte en juiste betekenis van moeilike woorde en uitdrukkings te kry, en om ’n begrip van die grammatika te verkry. Uiteindelik sou die vertaler “so duidelik moontlik by die sin” bly, waarna sy werk nagegaan en gekorrigeer is.—The English Hexapla, bl. 29.
Die produk was ’n Engelse vertaling waarin ’n poging aangewend is om die betekenis van die Latyn te behou terwyl die Engelse idioom gebruik is. ’n Aanduiding van die gewildheid van die hersiene uitgawe is die feit dat daar vandag vyf keer meer eksemplare van die tweede weergawe bestaan as van die eerste. Baie van die woorde en uitdrukkings is later in Tyndale se weergawe gebruik, en dus ook in die Authorized Version.
’n Eenvoudige vergelyking sal die verskil tussen die twee Wycliffe-vertalings toelig. ’n Moderne Engelse vertaling van Hebreërs 1:1, 2a lui: “God, who long ago spoke on many occasions and in many ways to our forefathers by means of the prophets, has at the end of these days spoken to us by means of a Son.” Die eerste Wycliffe-vertaling lui: “Manyfold and many maners sum tyme God spekinge to fadris in prophetis, at the laste in thes daies spak to us in the sone.” Let op die groter duidelikheid wat verkry is deur die gebruik van die Engelse idioom in die tweede Wycliffe-vertaling: “God, that spak sum tyme bi prophetis in many maneres to oure fadris, at the laste in these daies he hath spoke to us bi the sone.”—Our Bible and the Ancient Manuscripts.
Baie van die vroeë Engelse Bybels het ’n groot formaat en is ryklik versier, wat toon dat hulle deur die ryk en geleerde klasse gebruik is. Daar is egter ’n groot aantal van die latere Wycliffe-vertalings in klein formaat, met die woorde na aan mekaar en wat gemaak is vir gebruik deur gewone mense en moontlik om in ’n sak of kleed verberg te word. Die klein, eenvoudige formaat het dit goedkoop gemaak en was prakties op ’n tydstip toe die besit van ’n Bybel in die volkstaal ’n persoon in ’n gevaarlike posisie by magtige godsdiensowerhede geplaas het.
Landwye predikers
Die Lollard-predikers het hoofsaaklik te voet gereis en ’n groot staf gedra vir beskerming en om mee te loop. Hulle het hulle tot die plattelandse gebiede beperk omdat dit veiliger was. Wanneer hulle by ’n dorpie aangekom het, sou die ridder of landheer die mense bymekaar laat kom om te luister, dikwels in die buitelug, in landhuisies of skure, of in die hoofvertrek van ’n groter huis. ’n Klein verhandeling en ’n Bybel sou rondgestuur word, dikwels net een of twee boeke van die Bybel. Nadat die reisende prediker na die volgende dorpie vertrek het, sou hierdie geskrifte van een persoon na ’n ander aangegee word en is hulle gretig gelees en bespreek. By hierdie vergaderinge is daar nie alleen uit die Bybel gelees nie, maar was daar ook leeslesse sodat meer mense toegang tot die Skrif kon hê.
Hulle het hulle op die Bybel beroep vir steun van die dinge wat hulle geleer het. Toe hy die predikers opgelei het, het Wycliffe self klem gelê op gehoorsaamheid aan die eenvoudige instruksies wat Jesus gegee het toe hy die 70 dissipels uitgestuur het (Luk. 10:1-11). Die Lollarde moes op vriende staatmaak vir voedsel en slaapplek, en hulle was eenvoudig geklee, dikwels met ’n rooibruin mantel om hulle te onderskei. Baie van diegene wat God se Woord gehoor het, het dit aangeneem, en Lollardisme het van Oxford en Leicester deur die Middelland, die Walliese Grensgebied en Wes-Engeland versprei. Diegene wat in ’n sekere gebied gewoon het, kon dan studeer saam met ander wat graag wou leer.
Die volgende is ’n voorbeeld: “Nicolas Belward is ’n lid van dieselfde sekte en het ’n Nuwe Testament wat hy in Londen teen vier mark en veertig pennies gekoop het, en hy het die gemelde William Wright en Margery sy vrou geleer en ’n jaar lank aan hulle gearbei en die gemelde Nuwe Testament naarstig bestudeer.”—Foxe’s Acts and Monuments.
Gedurende die oorblywende jare van die 14de eeu het die Lollard-beweging aanhou groei, maar hulle het hoofsaaklik binne die Rooms-Katolieke Kerk gebly. Die stigting van ’n aparte liggaam was ongekend in daardie dae. Wycliffe het hom altyd daarvoor beywer om die Kerk van binne te bekeer, en sy volgelinge het ’n ruk lank sy doelwitte nagestreef. Maar namate die Lollarde se invloed in die land toegeneem het, het die geskille toegeneem. Die Lollard-predikers het nie die redenaarstakt aan die dag gelê wat in Wycliffe se geskrifte aangetref word nie. Hulle het pelgrimstogte, bygelowe, aflate, heiliges, heiligdomme en die gebruik van beelde onomwonde veroordeel. Mettertyd het sekere vooraanstaande Lollarde besef dat hulle nie langer in die Kerk kon bly nie. Dit het egter so ’n groot houvas gehad dat baie predikers, wanneer hulle gevang is, hulle nuwe opvattings verloën het uit vrees vir ekskommunikasie. Vervolging deur die owerhede het die beweging gedwing om ondergronds te werk te gaan.
In ’n poging om ’n permanenter en wetlike hervorming te bewerkstellig, is ’n manifes in 1395 aan die Parlement voorgelê waarin die hoofartikels van Lollard-leer uiteengesit is. Dit is ook teen die deure van die St. Paulus-Katedraal en ander belangrike kerke vasgenael. Die woedende biskoppe het koning Richard II versoek om op te tree. Hy het die leiers die skrik op die lyf geja en die Parlement het die petisie verwerp. Daarna het die biskoppe probeer om bepaalde dekrete te kry om die Lollarde te onderdruk.
Meer vervolging misluk
Aan die begin van die 15de eeu het die Lollarde nog steeds die steun geniet van invloedryke vriende wat hulle gehelp het om baie aanvalle af te weer. Maar die nuwe koning, Hendrik IV, was sy opgang aan die Roomse Kerk te danke. Hoewel sy vader, Jan van Gent, een van Wycliffe se getrouste vriende was, was Hendrik van Lancaster net die teenoorgestelde. In 1401 is ’n wet deur die Parlement aangeneem wat die biskoppe gemagtig het om ketters te verbrand.
Toe John Purvey in 1401 verhoor is, het hy sy geloof verloën. ’n Ander vername leier, William Sawtry, het egter geweier om afstand te doen van sy oortuiging dat die brood nog letterlike brood was nadat ’n priester dit geheilig het, en dat dit nie van substansie verander het nie. Nadat daar twee dae geredeneer is, het hy in Smithfield se veemark, Londen, op die brandstapel gesterf. Ondanks hierdie oorwinning het die aartsbiskop van Kantelberg, Thomas Arundel, nie oorhaastig te werk gegaan nie. Die Lollarde het nog baie steun in party graafskappe geniet, en die biskoppe in daardie gebiede het dit nie durf waag om die voortou in die vervolging te neem nie. Toe John Badby, ’n kleremaker van Evesham in Worcestershire, in 1410 op die brandstapel vasgebind is, het jong prins Hendrik persoonlik gekom om hom te probeer oorreed om van sy geloof afstand te doen. Op een stadium is die bondels weggetrek, maar al sy gepraat het niks gehelp nie. Die vuur is eindelik aangesteek. Toe die prins koning Hendrik V geword het, het hy besluit om sy vader se beleid te volg. Hy het ’n vername Lollard, sir John Oldcastle, laat vang omdat hy gemeen het dat so ’n voorbeeld baie sou help om die ketters die swye op te lê.
Toe Oldcastle daarin geslaag het om uit die Toring van Londen te ontsnap, het sy ondersteuners die wapen opgeneem om hom te verdedig. Dit was een van hulle grootste foute, want hulle het oorlog verwerp as iets wat strydig was met die beginsels van die Christelike godsdiens. Nadat hulle nie daarin geslaag het om die koning te Eltham, naby Londen, te ontvoer nie, het hulle na St. Giles’ Fields in Londen opgetrek om by ander groepe aan te sluit. Maar hulle is almal gevang of verslaan. Hoewel Oldcastle ontsnap het en drie jaar lank daarin geslaag het om sy vyande te ontduik, is hy eindelik in hegtenis geneem en het hy in 1417 op die brandstapel gesterf. Die Lollarde het nooit weer van wapengeweld gebruik gemaak of die politieke arena betree nie. Hoewel vervolging toegeneem het en nog baie Lollarde op die brandstapel gesterf het, kon dit nie hulle boodskap stuit nie. Selfs in Norfolk het dit soos ’n veldbrand versprei nadat die kruisvaarder-biskop Spencer gesterf het. Skole is geopen om mense te leer lees en skryf, en onwettige vergaderplekke het gefloreer.
Die gebruik van die Bybel was ’n hoofrede van die vervolging. ’n Vroeëre wet, wat in 1229 by die Konsilie van Toulouse aangeneem is, het leke verbied om enige eksemplaar van die Skrif in die volkstaal te besit, maar dit is nie juis in Engeland afgedwing nie. Maar ’n episkopaalse lisensie was glo nodig voordat ’n mens die Bybel kon begin vertaal. In 1408 het ’n Kantelbergvergadering bepaal dat geen deel van die Bybel vertaal moet word nie, en dat niemand “enige boek, pamflet of verhandeling wat nou onlangs in die tyd van John Wycliffe of sedertdien geskryf is . . . op straf van groter ekskommunikasie in die openbaar of privaat” mag lees nie. Dit is verder versterk in 1414 deur ’n wet wat persone wat die Skrif in Engels gelees het, strafbaar gemaak het. Hulle sou hulle grond, beeste, besittings en lewe verbeur.
Sekere plaaslike biskoppe, veral die in Somerset en Lincolnshire, het nog ander dekrete uitgevaardig. In Lincolnshire “is James Brewster aangekla omdat hy ’n sekere klein Bybelboek in Engels gehad het”. Agnes Ashford het ’n man “’n deel van die Bergpredikasie” geleer. Agnes moes voor ses biskoppe verskyn, en hulle het haar uitdruklik gewaarsku om nie hierdie dinge aan ander te leer nie, selfs nie eers aan haar kinders nie.
Wycliffe se leerstellings op die vasteland
Hoewel die gewone mense nie die Bybel openlik kon lees nie, kon ’n hoogwaardigheidsbekleër dit doen. Anne, koningin van Engeland en die vrou van Richard II, het ’n Latynse Bybel en een in haar eie taal, Boheems, gehad. Die huwelik in 1382 is goedgekeur deur haar broer, Koning Wenceslaus, wat gehandel het op raad van die pous, wat sy eie doel wou bereik, maar nie die gevolge voorsien het nie. Anne het eerlank te hore gekom van die geskrifte van Wycliffe en ’n paar van hulle bekom, asook die vier Evangelies in Engels. Omdat sy daarvan gehou het, het sy hom gesteun. Lede van die Praagse Hof wat haar besoek het, het van Wycliffe se werke teruggeneem na Boheme. Praag-Universiteit het ook geskakel met Oxford-Universiteit, wat Wycliffe steeds baie goedgesind was.
As gevolg van hierdie kontak het Johannes Hus die geskrifte van John Wycliffe gelees. Hy het sy opleiding aan Praag-Universiteit ontvang, en het later gevorder om rektor van die universiteit te word. In 1403 is ’n reeks besprekings oor Wycliffe se leerstellings gehou. Hulle is deur die owerhede veroordeel, maar Hus het voortgegaan om lesings daaroor te hou. In 1409 het pous Alexander V eindelik ’n pouslike bul uitgereik wat ’n ondersoek gelas het. Hus en sy volgelinge is geëkskommuniseer, en 200 boeke met Wycliffe se geskrifte is verbrand. Maar die hele Boheme was aan die brand met die werke van Hus en Wycliffe, en die koning het nie die pous gesteun nie. Toe die pous in 1410 gesterf het, en die aartsbiskop van Praag die volgende jaar, het Hus die blaaskans gebruik om sy predikingswerk voort te sit.
In ’n poging om ’n einde te maak aan die vernietigende pouslike skisma is die Konsilie van Konstanz in 1414 deur keiser Sigismund belê. Die onrusbarende uitwerking van Wycliffe se geskrifte was weer eens op die agenda. Die pousdom kon nou die gevolge waarneem in twee lande wat ver van mekaar geleë was, naamlik Engeland en Boheme. In 1415 is Hus veroordeel en het hy op die brandstapel gesterf ondanks die feit dat die keiser hom vrygeleide beloof het. Wycliffe is bestempel as die aanstigter van die kettery van daardie tydperk. Sy boeke moes verbrand word en sy oorskot moes opgegrawe word en uit ‘gewyde grond’ gewerp word. So ’n daad was so weersinwekkend vir twee opeenvolgende biskoppe van Lincoln dat dit eers in 1428 gedoen is. Wycliffe se oorskot is opgegrawe en verbrand, en sy as is oor die nabygeleë Swiftrivier gestrooi. Dit was natuurlik dat party iets simbolies in hierdie gemene daad sou sien: Net soos die water van die rivier sy as na die wye oseaan gedra het, het die leerstellings van Wycliffe dwarsdeur die wêreld versprei.
’n Huldeblyk van 1572 beeld Wycliffe uit as die een wat ’n vonkie veroorsaak, Hus as die een wat die kole aansteek en Luther as die een wat die brandende fakkel omhoog hou. Wycliffe het gestaltenis gegee aan baie van die idees en beginsels wat in die 16de eeu na vore gekom het toe die Hervorming ontslae geraak het van party van die tradisies en valse leerstellings wat tydens die Donker en Middeleeue posgevat het. Die Lollarde het hierdie tydperk oorleef. Toe Luther se geskrifte na Engeland geneem is, het die Lollard-leerstellings so daarmee ooreengestem dat hulle gemeentes met die nuwe beweging saamgesmelt het.
Geleidelik is die Bybel bevry van die boeie wat dit ’n geslote boek vir almal behalwe ’n paar begunstigde rykes gemaak het. Waardeer ons vandag die moed wat deur ons voorouers aan die dag gelê is? Hulle het die Bybel gekoester as ’n boek wat werd is om gelees en bestudeer te word—wat inderdaad hulle grond, vryheid en lewe werd is. Beteken daardie duur verworwe vryheid om die Skrif te bestudeer vir ons iets? Ons kan slegs sê dat dit vir ons iets beteken indien ons die Bybel bestudeer en ons lewende geloof betoon deur die waarhede daarin met ander te deel.
[Voetnoot]
a Kyk die artikel “John Wycliffe, Kampvegter vir die Bybel” in Die Wagtoring van 15 September 1980.
[Prent op bladsy 27]
Swift-rivier